Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hemelse Vader, ek het al so baie keer probeer om heilig te lewe maar ek kry dit nie reg nie. Soos Paulus moet ek bely dat ek graag die goeie wil doen. Vergewe my dat ek so lief is vir myself en so besig is met my eie dinge dat daar maar min tyd oorbly vir U en die mense wat my nodig het. Help my om heilig te lewe sodat ek sal doen wat U wil hê.
STRYD TEEN VREEMDE OORHEERSING (28)
LW Bienedell
Lees reeks by Stryd teen vreemde oorheersing
DAAR WaS POLITIEKE PARTYE IN DIE ZAR IN DIE TYD VAN PAUL KRUGER
25 September 1998
Die afgelope tyd word ’n ou misleidende argument onder sekere volksgenote versprei oor die politieke bedeling in die tydperk van pres Paul Kruger se regering voor die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog (1883-1899). In ’n onlangse dokument wat onder die naam “Volksoorsig” sonder enige aanduiding van die outeur versprei is, word hierdie ou misleiding weer hervat. Afrikaners word aangemoedig om hulself te wend tot “volkspolitiek” omdat politieke partye glo net ellende vir die volk gebring het. Die skrywer maak die stelling sonder enige uitsondering en sluit alle politieke partye in. Mnr. Jaap Marais, leier van die HNP, het ’n dokument saamgestel waarin die argumente in die “Volksoorsig” behandel word. In die stuk bespreek mnr. Marais die era van Paul Kruger as president van die ZAR en die misleiding in sommige argumente wat beweer dat daar algehele politieke “eenheid” was onder Afrikaners in daardie era.
OPE BRIEF
Die Naamlose Uitgewer Volksoorsig
Adres Onvermeld en Onbekend Prof/dr/mnr/me
WAS DAAR POLITIEKE PARTYE VOOR EN IN PRES KRUGER SE TYD?
Daar is lanklaas soveel politieke oppervlakkigheid kwytgeraak oor die betekenis en rol van politieke partye as volksverdelende magte en belemmerende faktore in die strewe na eenheid of eendrag, dan in ’n pamfletagtige publikasie, getiteld “Volksoorsig”, Jaargang 4, Uitgawe 4 van Augustus 1998, wat sonder enige aanduiding van uitgewer, of ander teken van herkoms, rondgang langs ’n geslote baan vind en derhalwe lyk na die mondstuk van ’n geheime of “vertroulike” organisasie.
Die “Uitgawe no 4” gaan hoofsaaklik oor die voorgenome 1999- verkiesing en is afwysend teen deelname daaraan, maar op ’n snaakse grondslag. Daar is geen beginselstandpunt teen deelname nie. En sommer vroeg in die betoog word aangeknoop by die KP se storie dat die volk moet verenig in ’n stembus-aksie vir selfbeskikking, wat egter met beslistheid teengestaan word. Maar dan word onmiddellik afgetak na ’n langgerekte betoog teen politieke partye se “verdelende rol”, met verwysing na die voormalige Boererepublieke, waarin daar dan ’n afwesigheid van politieke partye en gevolglik volkseenheid sou gewees het.
“In die tyd van die twee Boererepublieke”, lui dit, “was daar nie politieke partye nie; en daarom was die volk ook nie so ernstig verdeeld dat dit oorgespoel het na die kultuur en kerklike strukture nie”. (Nadruk toegevoeg). Dit is opmerklik dat die skrywer verdeeldheid erken, maar dan te kenne gee dat dit nie “so ernstig” was nie.
Dit is egter ’n slegte vergissing of ’n poging tot misleiding van sy lesers. Oor dié dinge is daar gesaghebbende getuienis, veral dr. J Albert Coetzee se Nasieskap en Politieke Groepering in Suid-Afrika. Hy haal ’n stuk uit Land en Volk in die agtien-negentigerjare aan, waarin dit gestel is “dat die Kruger- en konserwatiewe party (let wel: ‘party’) saamgestel is ‘uit de leden der enkel Gereformeerde en Hervormde kerk en de Hollanders. De Joubert- of Progressieve Party (weer eens: ‘party’) is hoofdzakelik samengesteld uit de leden der Vereenigde Kerk, Kaap Kolonisten, Vrystaters en gematigde Uitlanders (uitgenomen Hollanders)...”
Nie net kom die kerklike verdeeldheid onder Afrikaners uit die dae van die Boererepublieke nie, maar, anders as wat die skrywer van " Volksoorsig ” uit onkunde of met misleidende opset beweer, het kerklike en politieke verdeeldheid oorvleuel en mekaar wedersyds beïnvloed, soos uit bostaande aanhaling duidelik blyk.
Politieke verdeeldheid in die Noorde het al begin met die Andries H Potgieter- Andries Pretorius-onenigheid. Coetzee noem dit “’n Oostelike teen ’n Westelike” party, laasgenoemde met ’n sterker neiging tot afskeiding van Britse gesag teenoor die Oostelikes se denkbeeld van selfbestuur onder Britse gesag. Die latere Volksraadparty rondom J J Burgers het hom met Potgieter vereenselwig.
Nog later is die verskille voortgesit deur die nakomelinge van die twee Voortrekkerleiers. En die Volksraadparty se sentrale figuur het ’n sekere Bührman geword. Na die tweede Potgieter se dood het Stephanus Schoeman die toonaangewende man in die groep geword, en die Lydenburg-republiek het met die toedoen van die Volksraadparty tot stand gekom as gevolg van die politieke verdeeldheid. En die verdeeldheid het so verskerp dat daar wapengeweld uitgebreek het tussen “die staatsleer” van Kruger en “die Volksleer” van Schoeman.
Dat sekere Afrikaners, soos in “Volksoorsig ”, politieke oordele uitspreek wat nie net die historiese werklikheid misken nie, maar dit ook verdraai om ’n debatspuntjie te wen, is laakbaar in ’n tyd soos dié waarin daar reeds ’n oorvloed van misleiding en verwarring is.
Die name van die lede en ondersteuners van die Piet Joubert-party teen die Kruger-party is belangwekkend. Coetzee verstrek hulle nie in sy werk nie, maar C T Gordon in The Growth of Boer Opposition to Kruger 1890-95 verstrek ’n taamlike lys, waaronder (die latere genl) Lukas Meyer, Jan F Celliers (die digter), Schalk Burger (later waarnemende president), Louis Esselen, (die latere genl) Louis Botha, en na 1893 ook (die latere genl) J H de la Rey. En soos bekend was Eugene Marais as redakteur van Land en Volk aan die kant van hierdie groep, wat as die Progressiewe Party bekend gestaan het. Teen 1893 was so wat een-derde van die Volksraad Progressiewe Party-manne. Die verdeeldheid was eintlik tussen ’n konserwatiewe en ’n liberale groep, waarvan die spore regdeur die latere politieke geskiedenis loop.
Wat mense op ’n dwaalspoor plaas en sulke misvattings laat maak, soos: “Party-politieke organisasies het nooit bestaan in die ou Boererepublieke nie”, is dat Kruger nie “’n party” gehad het nie nadat hy president geword het. Hy het dit nie nodig gehad nie, want die staat was die politieke instrument waardeur hy gewerk het. Maar as hy byvoorbeeld in 1893 die verkiesing sou verloor het wat hy met minder as 900 teen Joubert gewen en dus in opposisie tot Joubert sou beiand het, sou Kruger uiteraard, net soos Joubert- hulle verplig gewees het om ’n politieke party op die been te bring, al sou dit nie as “’n party” bekend gestaan het nie.
Dit is nie nodig dat ’n politieke party die woord “party” as deel van sy naam moet hê nie. Die Nasionale Party kon net sowel die Nasionale Front of die Nasionale Bond geheet het. En die Suid-Afrikaanse Party van genl Botha en Smuts kon net sowel die Suid-Afrikaanse Eenheidsbeweging gewees het. Eweneens kon die Nasionale Party die Hertzog-party geheet het teen die Botha-party.
Dit is ’n illusie dat politieke partye verdeeldheid veroorsaak. Politieke partye ontstaan op verdeeldhede wat reeds tot stand gekom het oor wesenlike strydvrae weens verskillende uitgangspunte, beginsels en beskouings van toonaangewende openbare figure, soos die Kruger-Joubert-stryd alle tekens toon.
Let wel: (In ’n volgende aflewering sal bewerings behandel word, soos byvoorbeeld “Politieke partye wat dink hulle kan ’n volk tot hegte eenheid lei, leef in ’n droomwereld”; en:”Die Boerevolk moet herenig word buite die politieke arena... en: “Dit is immers politieke partye wat veroorsaak het dat die Boerevolk sy vryheid in sy eie land verloor het”; en: “Wat het politici verrig in die afgelope vier jaar? Niks. Net mooi niks”. (Die klem op “die afgelope vier jaar” is natuurlik belangrik)...)
JA Marais Leier van die HNP