Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar is wel redes waarom Suid-Afrikaners die afgelope paar jaar met lang gesigte loop, maar daar is rede om ook te glimlag – God is in beheer van alle omstandighede. Daarom kan ons saam met die digter in Psalm 42 sê: Hoop op God, want ek sal Hom nog loof – die verlossing van my aangesig en my God! Dit is moontlik om God se vriendelike aangesig te ontmoet en sy glimlag oor ons te voel skyn, dan sal óns aangesigte ook verhelder!
VOLKSREGERING (17)
BOTSINGS BY GEBREK AAN APARTHEID
Lees reeks by VOLKSREGERING
Natuurlik – Doelmatig
Beskrywing van die enigste regverdige politieke bedeling
vir enige volk, hetsy klein in getalle of groot
Dirk Denker
Denkwyses, gewoontes en gebruike van een volk verskil dikwels in 'n groot mate van 'n ander volk wat tot gevolg het dat misverstande kan ontstaan. Wat as beleefd by een volk beskou word kan by die ander volk as afkeuringswaardige gedrag beoordeel word. Dit gebeur veral waar die agtergrond, kultuur en afkoms van die volke drasties verskil.
Handelinge, gebare en woorde kan as 'n vuurhoutjie in 'n kruitvat dien as dit vernederend, agterdogtig en kwaadwillig begryp word sonder dat dit die bedoeling was. Een persoon kan stilbly om so te probeer om 'n geskilpunt te ontlont terwyl die ander dit as erkenning van oortreding kan opvat. Een kan met twee hande 'n geskenk ontvang om dankbaarheid te wys terwyl die ander dink dit is hebsug. Een kan reguit praat en reguit vrae stel, terwyl die ander dit as ondiplomaties en onbeskof beskou. Ander kan diplomatiese en versigtige antwoorde as ontwykend waarneem.
Een kan na 'n verduideliking vra of die ander dit verstaan en hy sal ja sê al verstaan hy nie, maar probeer om waardigheid te behou en te vermy wat as teëspraak beskou kan word. Een dink die ander moet eerste groet, terwyl die ander uit respek wag dat die ander eerste groet. Die een dink 'n vrou moet toegelaat word om eerste by 'n deur in te gaan, die ander dink hy moet eerste ingaan ingeval daar 'n ongemaklikheid anderkant die deur kan wees. So kan daar oneindige nietige verskille wees wat groot onmin veroorsaak sonder dat dit die bedoeling is.
Almal kan tog nie 'n hele paar tale bemeester nie. Vir die gewone man is dit meestal moeilik om homself duidelik in selfs 'n tweede taal uit te druk, daarom ontstaan 'n taalstryd om sommige tale te misken. Die minderheid se taal en kultuur word as minderwaardig afgemaak, want die meerderheid se stemme tel wanneer besluite geneem word. In wie se taal word samesprekings gevoer en besluite geneem? Dit is immers bedrieglike demokrasie! Weer 'n bewys dat goeie demokrasie (redelikheid) nie in getalle lê nie, maar in regverdigheid.
Nadat 'n nasie tot stand gekom het, is dit 'n afgebakende volk wat nie verder vorming nodig het nie omdat dit reeds bestaan. Dit kan wel aangevul word deur immigrante uit stamlande wat hulle met die gevormde volk se kultuur, taal en volkseie vereenselwig. Vermenging met volke met 'n heeltemal ander kultuur en afkoms, veroorsaak twis en laat gevestigde volke verdwyn.
Teenstanders van apartheid begryp die begrip nie of hou integrasie kwaadwilliglik en vals voor as 'n versekering van rus en vrede net om hulle standpunt te probeer regverdig. Geleidelike afbreek van regte vind plaas met 'n toesmeerdery van geweld en korrupsie deur die meerderheidregering in beheer. Hulle wil skuldiges nie aan die man bring nie omdat dit ongunstig vir hulle aansien is. Desperate verdedigingspogings word aangewend om kunsmatig 'n front van billikheid en regverdigheid voor te hou.
Diegene wat teen apartheid gekant is, hou onderhandeling voor as die oplossing vir probleme wat hulle nie kan hanteer nie, maar vertel nie dat onderhandeling noodwendig toegewing en afwyking van beginsels deur die minderheid behels nie. Die meerderheid hou steeds die meerderheidstem en gebruik dit om hulle eie saak eensydig in te stem. Daarom is onderhandeling 'n openlike klug wat ondemokraties is. Apartheidmistasters dink nie regtig nie. Hulle maak gewoonlik stellings wat oppervlakkig goed klink, maar wat vele nadele inhou waaraan gedink moet word, tog weier hulle om dit te beredeneer omdat hulle nie daartoe in staat is nie. Hulle begryp nie werklik wat apartheid is nie.
Met wensdenkery en na willekeur pas hulle hul ideologie in op onwaarskynlikhede en noem dit sonder meer waarskynlikhede. Byvoorbeeld, gratis skool– en universiteitsopleiding word asof vanselfsprekend sonder verduideliking in die vooruitsig gestel. 'n Ander onwaarskynlikheid is om ervare boere se grond gratis aan sogenaamde benadeeldes wat leke is, te onderverdeel sodat hulle voordeel kan trek terwyl hulle nie opgelei is nie. So ontwyk hulle die werklikheid van menswees en poog om wesenlike geskiedkundige en volkekundige aangeleenthede buite rekening te laat. Enigiemand kan 'n vals teorie na sy eie begeerte vorm en dit met allerlei kunsgrepe verwring.
Van beginselvastes word verwag om beginseltoegewings te maak, terwyl die vrydenkers self nie toegewings maak nie, maar slegs eise stel. Toegewings kan nie teruggetrek word nie. Die praktyk wys duidelik uit dat vrydenkers 'n hekel aan orde het. Elkeen mag doen wat hy of sy wil. Regsinniges mag nie eise stel nie, maar moet afsien van alle begrensing. Hulle mag nie kies om eie openbare geriewe of eie strande of eie verenigings te hê nie, maar vrydenkers is nie tevrede met hul eie rasgemengde plekke nie. Dit moet op almal afgedwing word. Waar is dan die reg op eie keuse en eie beginsels?
Om te verdedig is swak redevoering. Byvoorbeeld, 'n eis dat Afrikaans by universiteite of skole afgeskaf moet word, moet nie verdedig word nie, maar begroet word met die stelling dat dit slegs regverdig is dat alle studente in hulle eie taal onderrig ontvang. Moedertaalonderrig vir almal moet die teeneis wees met die klem daarop dat die ander party die reg het om hulle eie taal te bevorder. Kyk net watter betekenis en voordele so 'n feitelike benadering inhou.