Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoop is nie om te sê die wêreld is goed en reg soos hy is nie. Dis nie om maar tevrede te wees met dinge wat verkeerd is nie. Hoop is om te bly glo dat God iets beters vir ons bedoel het – en óns moet daaraan meewerk.
VOLKSREGERING (46)
Dirk Denker
Lees reeks by VOLKSREGERING
Natuurlik – Doelmatig
Beskrywing van die enigste regverdige politieke bedeling
vir enige volk, hetsy klein in getalle of groot
DIE AFRIKANER
Die betekenis van woorde soos demokrasie, onderskeiding, minderhede, kultuur, taal, godsdiens en so meer, is al soveel kere vanuit verskillende hoeke bespreek en beredeneer dat leesstof daaroor algemeen beskikbaar is. Ongelukkig gebruik geleerdes dikwels hoogdrawende taal wat moeilik verstaanbaar is. In net een artikel het ek op woorde en uitdrukkings afgekom soos pedagogiek-leksikons, asook wysgerige antropologie, logiserings, fenomenologiese en eksistensiële denke, diagnostiese verband, antisipasie, vitalisering, aktualisering, kontemporêre, en so meer, terwyl daar pragtige beskrywende 'gewone' woorde bestaan soos eietydse vir kontemporêre. Betekenis van die begrip demokrasie word verkeerdelik van volkvryheid tot humaniteit vervals.
Beskrywende leesstof oor wie die Afrikaner (Afrikanervolk) is, is nie so algemeen nie. Hier volg 'n poging om mee te help.
Die beginsels wat die Afrikaner sterk bewus gemaak het van sy persoonlikheid as 'n volk, berus onder andere op die stryd vir 'n eie taal, eie kultuur, eie godsdiens, eiesoortige onderwys, 'n eie politieke siening, ekonomiese ontwikkeling. Hy beleef sy worsteling om homself te wees teen verengelsing, afvalligheid en uitwissing waarmee ons tans sluipend bekruip word.
Volgens prof J P Oberholzer is Afrikaner saamvoegend vir dié mense wat op grond van 'n gemeenskaplike afkoms, taal, geskiedenis en tradisie, kultuur en bodemgebondenheid, 'n volk met eie kenmerke geword het en wat bekend staan as die Afrikanervolk. Kragtens sy afkoms en sy keuse is hierdie volk blank, en naas natuurlike aanwas het persone wat hulle uit vrye keuse by hom gevoeg het en deur hom aanvaar is, sy getalle steeds aangevul.
Sedert sy ontstaan moes die Afrikaner die woestyn op al die gemelde gebiede deurworstel, die verhouding tussen voorsienigheid en geskiedenis handhaaf, sy eie aard naas en teenoor ander volke filosofies en Bybels verdedig, alles terwyl hy terselfdertyd sy eie lewe as volk uit eie reg misgun word. Dit alles teen die vyandige weerstand van magtige heersers en kulture. Die hede van die Afrikaner is dié van 'n bedreigde volk omdat sy blote bestaan aanstoot gee. Die Afrikanervolk maak nie aanspraak op onsterflikheid of voorkeurbehandeling deur die Allerhoogste nie, maar daar is geen rede waarom hy sy eie aard en eie volkskap goedsmoeds moet prysgee nie.
Die Afrikaner beskou saamwerk met 'n volkvreemde regering ter wille van gedwee politieke dienstigheid in 'n politieke eenheidbestel as lafhartig en verloëning. Dit is 'n versaking van eie beginsels en eie aard. Geen eerlike en beginselvaste Afrikaner vereenselwig hom vryuit met oorheersing deur volkvreemdes net om gunste te probeer verkry nie. Hiervan moet die beriggewers (pers en radio) kennis neem en besluit by wie hulle wil staan, by volkgenote of by die vreemde regering. Volkgenote gaan die beriggewers begin verwerp soos hulle sommige eetplekke, banke en ander besighede verwerp.
Die Afrikaner swig nie voor die versoeking van die wêreldlike nie en is trots om 'n Afrikaner te wees. Hy is ook geen oorheerser of onderdrukker nie, maar is ook niemand se slaaf nie. Hy verander nie sy eie aard wat hy van sy voorouers geërf het nie en eer sy ouers en voorouers vir wat hulle uit vaste beginsels gedoen het. Dit was gedoen met onverbloemde eerlikheid en was oorwoë beslissings waarin die nageslag moet glo en wat die Afrikaner sy kinders van kleins af leer. Inagneming van ander is 'n kenmerk van apartheiddenkers.
GEESTESKRAG
Geestelike sterkte van 'n volk is veel meer werd as getalle–, weermag– of materiële sterkte. Geestelike sterkte is opgesluit in kultuur (geestesgoedere) wat alleen voortbestaan indien alle volkgenote dit deur meelewing aan hulle kinders oordra. Kultuur bring dissipline, verantwoordelikheid, vasberadenheid en voorspoed – 'n waarheidbesef.
Ons voorouers het verengelsing van die Kaapkolonie oorwin omdat hulle geestelik sterk gestaan het. Dit was mans en vroue wat geestelike sterkte en wilskrag getoon het toe hulle na die verraderlike moorde op Piet Retief en sy manne ten spyte van hulle klein getalle onderneem het om daardie moorde te wreek. Hulle het met geesteskrag by Bloedrivier opgetrek.
Wie sou dink dat skaars meer as 400 Voortrekkermans 'n digbeboste wêreld met diep klowe met ossewaens sou intrek om teen tussen 15 000 en 30 000 Zoeloes te veg en te dink dat hulle kon wen? Die Zoeloes se volle mag was ongeveer 34 000 sterk en hulle was bekend as nagvegters. Die Voortrekkers het met geestelike sterkte ferm gestaan en tog steeds ordentlik en beskaafd opgetree met die wete dat God sou help.
Dit was geestelike sterkte wat die Afrikanervolk so vinnig (1902 tot 1910) tot 'n selfstandige regering laat kom het. Geestelike sterkte het ons volkleiers en ons tot volle onafhanklikheid in 'n republiek gelei. So het ons voorgeslag deurgedruk om 'n eie taal te skep, ons godsdiens te handhaaf, en ons lewenswyse vry te hou van onaanvaarbare invloede.