Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ware vreugde ontdek jy slegs deur die krag van gebed en die werking van die Heilige Gees.
MASKER AF, ANC (4)
Lauritz Strydom
lees reeks by MASKER AF, ANC
Die vlug
Die aand ná die klopjag in Rivonia word al die inwoners van Lilliesleaf in Johannesburg aangehou ingevolge die 90-dae- aanhoudingsbepaling. Dit is een van die spesiale magte wat die Suid-Afrikaanse Parlement aan sy minister van Justisie gegee het om die veelkoppige kommunistiese draak mee te kan beveg.
In die polisiesentrum Marshallplein bevind Arthur Goldreich en sy vrou hulle.
Ook in die selle by Marshallplein — ‘n vaal, verouderde rooi baksteengebou — is twee Indiër-aangehoudenes: Moosa Moolla en Abdullah Jasset.
Later ontvang Marshallplein ook ‘n vierde hooffiguur: Harold Wolpe, prokureur en vennoot van die latere aangeklaagde James Kantor, word naby die grens aangekeer. Wolpe het geskrik toe die Rivonia-klopjag uitlek. Hy het onmiddellik gepoog die land te verlaat...
Toe Wolpe ook na Marshallplein gebring word en daar wetsgedwonge huisvesting ontvang, is die vier mense byeen wat Suid-Afrika en die wêreld presies ‘n maand na die kloplag op Lilliesleaf met ‘n dramatiese ontsnapping kom verras.
Dramaties is die ontsnapping, en dramaties ook die lotgevalle van twee van hierdie vier...
In die vroeë oggendure van Sondag, 11 Augustus 1963 is luit Van Wyk waar hy hoort: rustig aan die slaap in sy huis in een van Johannesburg se noordelike voorstede. ‘n Oproep van luit Diederichs, ‘n kollega van die Veiligheidsafdeling, laat die telefoon vir Van Wyk wakker skel. Goldreich het ontsnap, is die ontstellende boodskap — Goldreich en Wolpe en Moolla en Jasset! In hierdie stadium van die ondersoek is die nuus van die ontsnapping veral vir die Veiligheidsafdeling se manne ontsettend. Hulle besef reeds — hoewel miskien nog nie ten volle nie —watter sleutelfiguur Goldreich in die kommuniste se bose konkelplan is. Dit is ‘n besef wat hulle nog nie ten volle met hul kollegas in die ander afdelings van die Suid-Afrikaanse Polisie kon deel nie.
Van Wyk skakel dadelik vir adjudant-offisier Dirker en reël dat ook ander lede van die Veiligheidsafdeling gewek word. Self haas hy hom na Marshallplein waar sers John Karpakis, wat by die aanklagkantoor in bevel is, hom vertel wat gebeur het. Sers Karpakis toon aan die offisier van die Veiligheidsafdeling ‘n stukkie yster: daarmee is die agttienjarige konstabel Johan Amoldus Greeff glo oor die kop bewusteloos geslaan. Konst Greeff het in die selle diens gedoen toe die ontsnapping plaasgevind het.
Toe luit Van Wyk en sy kollegas die stukkie yster sien, is hulle dit eens dat iets nie pluis is nie. Die stukkie potyster wat ‘n paar onse weeg, is darem te klein dat iemand maklik daarmee neergevel kan word...
Konst Greeff ontvang egter mediese hulp en kan nie dadelik gespreek word nie.
Die Veiligheidsafdeling se manne vertrek na die hoofkwartier in The Grays. Daar sluit twee ander speurders, luit Burger en adj-offisier Labuschagne, by hulle aan. Die twee het die jong konstabel na die lykhuiskantoor geneem waar ‘n dokter hom kon help.
Luit Van Wyk stel voor dat hulle Greeff so gou moontlik moet spreek. As hy die polisie wil bystaan, is daar ‘n sprankie kans dat die ontsnaptes weer aangekeer kan word. By die polisielykshuis deel ‘n geneesheer hom mee dat die jong konstabel ‘n effense swelsel aan sy agterkop vertoon. Hy glo nie Greeff kon bewusteloos gewees het nie...
Greeff word opgelaai en ry saam met luit Van Wyk, luit Burger en adj -offisier Labuschagne terug stad toe. Hulle besluit om by die Polisiekaserne te gaan koffie drink en daar speel Greeff oop kaarte.
Die jong Greeff het ‘n ongeluk gehad met ‘n vriend se motor en aan die vriend moes hy R100 aan skadevergoeding betaal, bieg hy.
Hierdie skielike geldprobleem kwel hom so dat hy, wat in die selle bekend was as “die outjie wat alyd lag,” stroef raak. Ook Arthur Goldreich het hierdie verandering by die seun gemerk, hom belangstellend na sy probleme uitgevra.
Toe die konstabel sy probleme teenoor Goldreich lug, is die baie simpatiek. Hy vra of hy ‘n telefoon mag gebruik en bel sy suster, die eggenote van dr Arenstein. Aan sy suster se Goldreich dat hy ‘n konstabel Greeff na haar sal stuur. Sy moet hom Rl00 gee...
Om te verseker dat mev Arenstein die konstabel sal eien, teken Goldreich sy naam in Greeff se polisiesakboekie. Later, toe Greeff verhoor word, het mev Arenstein erken dat sy aan haar broer se versoek gehoor gegee en die geld aan die jong konstabel oorhandig het.
Intussen raak die twee Indiërs, Moolla en Jasset, goed met Greeff bevriend. Hulle vlei hom, vertel hom dat hy darem nie soos ‘n gewone polisieman is nie. Hy is minstens vriendelik! Die Indiërs sê aan hom hulle weet sy salaris is nie besonders nie; hulle is vermoënde mense en sal hom darem graag wil vergoed vir sy vriendskap.
Hulle gee aan Greeff briefies wat hy by sekere Indiërwinkels moet toon. Hy doen dit, en word op die manier ‘n pak klere, ‘n das en ‘n paar skoene ryker. Die dag voor die ontsnapping word Greeff met die voorstel genader dat hy R4 000 kan ontvang indien hy die aangehoudenes Goldreich, Wolpe, Moolla en Jasset sou help ontsnap.
Vir Greeff is dit ‘n groot bedrag. Hy vra tyd om oor die voorstel te dink. Hoewel hy selde sterk drank gebruik, drink hy die volgende aand om hom te staal, ‘n hele paar drankies voordat hy weer Marshallplein toe gaan om hom vir diens aan te meld. Greeff het klaar besluit.
Hoe hy die beloofde geld sal kry, word deur die samesweerders beklink. Die konstabel moet ná die ontsnapping na die huis gaan van ene Chiba, ‘n Indiër wat voorheen saam met Moolla aangehou is. Vir Chiba moet hy ‘n pakkie grammofoonplate vra. Daardie pakkie sal die beloofde R4 000 bevat...
Later die aand bel Greeff na Chiba se huis. Chiba is nie daar nie. Hy is op Rustenburg, (toevallig ook konst Greeff se tuisdorp), deel Chiba se vader mee. Hy gee aan Greeff die telefoonnommer in die Bombay-gebou op Rustenburg waar hy Chiba sal kan vind.
Greeff wil sake beklink en skakel ‘n hooflynoproep na Rustenburg deur. Hy praat met Chiba en verstaan dat dié wel “die pakkie” sal oorhandig.
In die hof getuig Chiba later dat hy deur konst Greeff se oproep gewek is. Die konstabel het glo in raaisels gepraat en op ‘n geheimsinnige wyse van “parcels” en “records” gerep. Om van die man ontslae te raak, het hy maar gesê: “Dis orraait! Dis orraait!”
Daardie aand bring Harold Wolpe se vrou kos en versnaperings vir die aangehoudenes in Marshallplein se polisieselle. ‘n Besoek daardie tyd van die aand, omstreeks 10-uur, is reeds buitengewoon, maar Greeff laat dit nogtans toe. Mev Wolpe gebruik die geleentheid om met haar man te praat sonder dat Greeff na bewering weet wat bespreek word.
Met die oog op die ontsnapping is die aangehoudenes in een sel byeen. Greeff moes dit so reël.
Toe mev Wolpe weg is, beraadslaag die vier met die konstabel oor hoe hulle die ontsnapping kan reël.
Ongeveer eenuur die oggend bel ‘n vrou wat op Engels van Greeff vemeem: “Is hulle nog daar?” Sy sê glo ook aan hom dat hy nie oor die afrekening hoef te twyfel nie; sy geld kan hy by die afgesproke adres gaan haal.
Konstabel Greeff glo dis of mev Wolpe of mev Moolla wat gebel het. Maar hy weet ook nie... Moolla se vrou het altyd met hom Afrikaans gepraat.
‘n Halfuur na die oproep laat die jong konstabel vir Goldreich, Wolpe, Moolla en Jasset by die agterdeur van Marshallplein uit. Hulle is vry!
Greeff erken hy het hom daarna self ‘n hou teen die agterkop toegedien en eiehandig met ‘n stukkie venstertou vasgebind. Om sy vier “vriende” ‘n redelike wegkomkans te gun, wag Greeff ‘n goeie ruk voordat hy alarm maak...
Grefff gaan gewilliglik saam met die Veiligheidsmanne na Chiba se huis in die voorstad Fordsburg.
Sowat vyf en ‘n half uur het reeds verloop sedert die ontsnapping toe Greeff op die speurders se versoek die Indiër se huis binnegaan om sy “pakkie plate” te gaan opeis. Hy kom egter gou en onverrigtersake terug met die nuus dat net die pa daar is en dat dié geen kennis dra van ‘n pakkie grammofoonplate nie. Die ou man verwag sy seun egter later die dag van Rustenburg af.
Konstabel Greeff het nou ‘n ingewing. Chiba is op Rustenburg, en die twee Indiér-aangehoudenes wat hy daardie nanag help ontsnap het, het vroeër teenoor hom laat blyk dat hulle familie in dié Bosvelddorp het. Sou minstens Moolla en Jasset nie daarheen gevlug het nie?
Twee motors vol speurders vertrek dadelik na Rustenburg waar hulle die Bombay-gebou omsingel. Chiba is egter reeds weg.
By sy tuiskoms in Johannesburg hoor Chiba vir die eerste keer dat die gort gaar is. Familie het van Rustenburg af gebel en gewaarsku dat die Veiligheidsafdeling op sy spoor is. Hy moet vlug, is hy aangeraai...
Chiba het ‘n hele paar dae weggekruip. Sy verduideliking dat hy niks geweet het van Goldreich en sy kamerade se onderhandelings met die jong konstabel nie, word deur die polisie aanvaar toe hy weer sy verskyning maak.
Onderwyl die luitenant en die ander Veiligheidsmanne op hul Rustenburgse kuiertjie is, voer sersant Kennedy en sers Erasmus luit Van Wyk se opdrag uit dat die eggenotes van Wolpe en Moolla vir ondervraging aangehou word.
Toe luit Van Wyk omstreeks eenuur die middag van Rustenburg af terugkeer, word die twee vrouens afsonderlik ondervra.
Hierdie ondervraging lewer ook sy interessante rookskermpie op. Onderwyl dit mev Wolpe se beurt is, vra sy verlof om ‘n verpleegster tuis te skakel om reëlings in verband met haar kinders te tref.
Na aanleiding van hierdie telefoonoproep kom daar berigte en gerugte dat mev Wolpe deur die polisie aangerand is en dat haar lewe in gevaar verkeer. Die bewerings is skokkend en ‘n senior landdros word aangewys om dit te ondersoek. Mev Wolpe doen egter ‘n verklaring dat sy nooit deur die polisie aangerand is nie. Hierdie tussenspel bring egter die Johannesburgse prokureur James Kantor (wat later tot na die beëindiging van die Staat se saak saam met die nege ander beskuldigdes aangekla staan) opnuut op die toneel. Hy is die broer van mev Wolpe — en vlugteling, Harold Wolpe, se swaer en vennoot. Na Kantor luit Van Wyk later meedeel, was hy by die Hartbeespoortdam op sy plasie “Dar-Es-Salaam” toe die verpleegster hom bel en hom inlig oor die gevare waarin sy suster verkeer. Kantor meld hom glo dieselfde aand nog by die speurders aan om uit te vind wat gaande sou wees.
Die soektog na Goldreich, Wolpe en die twee Indiërs duur intussen onverpoos voort. Hulle het sonder spoor verdwyn, maar wavragte inligting bereik die polisie, wat daarvan oortuig raak dat die ondergrondse elemente ‘n belangrike rol speel in die fabrisering van ‘n groot deel van daardie “inligting”. So word verwarring immers geskep.
Enkele oproepers is ronduit aan die ontsnaptes se kant. Hulle verwens die polisie-offisiere, noem Goldreich en Wolpe “helde” en spreek die hoop uit dat die polisie hulle nooit sal opspoor nie. Tog is daar honderde ander burgers wat die polisie sukses toewens, wat hul goeie wense of telefonies of persoonlik oordra.
Baie van die inligting kom dan ook van mense wat eerlik glo dat hulle die ontsnaptes gesien het. Hierdie inligting word getrou opgevolg, maar die eerste wat daar weer van Goldreich en sy kamerade gehoor word, is dat Goldreich en Wolpe, vermom in die gewaad van twee priesters, in Swaziland aankom. Daar geniet hulle die gasviyheid van eerw Charles Hooper.
In Swaziland stel Goldreich hom bekend as eerw Shippon en word vlugteling Wolpe aangespreek as eerw Mitchell.
Hoe het hulle in die natuurmooi landjie aangekom? Die speurders stel later vas dat ‘n onbekende persoon by ‘n Randse handelaar meer as R12 000 kontant vir ‘n rooi Ford betaal het. By die ondertekening van die registrasiedokumente is op die een plek C Hooper geteken en op ‘n ander L Hooper. Albei die handtekeninge blyk vals te wees.
Die ontsnapping is ooglopend goed georganiseer. By die woonstel in Mountain View, naas Travallyn en Lilliesleaf, die ondermyners se ander wegkruippplekke, vind die polisie later stukke swart materiaal waarvan priestersklere gemaak kan word.
Die rooi Ford staan nog lank sonder baas in Swaziland. Eers in Junie 1964 laat Wolpe die rooi wa vanuit Londen deur ‘n prokureur as sy eiendom opeis. Die motor word verkoop en die opbrengs daarvan aan Wolpe uitbetaal...
Vervolg...