Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Aan Jesus behoort alle mag oor lewe en dood omdat Hy God is! Daarom kan diegene wat aan Hom behoort, nooit in ‘n skaakmatsituasie beland nie. Die Koning van alle konings maak altyd die laaste skuif!
PW BOTHA DEUR DIE OË VAN JAAP MARAIS
Die skrywer van hierdie artikel, Piet Meiring, het hom destyds aan verskeie biografieë van eerste ministers en ander politici gewaag. As oud-joernalis het hy 35 jaar lank die geleentheid gehad om die aksie in die binnekringe mee te maak. Hy het ook mnr Jaap Marais in 1985 genader om dié se siening en wedervaringe in die Parlement oor PW Botha wat toe as 'argitek van die nuwe Suid-Afrika' bekend gestaan het, neer te pen. Meiring skryf soos volg:
Ek het met mnr Jaap Marais, leier van die HNP oor mnr Botha gesels, maar hy het om moeite te spaar, sy opmerkings in verband met sy verhouding met mnr PW Botha vir my op skrif gestel. Daaruit haal ek die volgende aan:
"Mnr PW Botha se pad en myne het nie dikwels gekruis nie. Daar was nooit 'n danige verhouding tussen ons nie maar dan was daar ook van my kant geen persoonlike antipatie teenoor hom nie. In die Volksraad was hy 'n debatteerder na wie mens kon luister. Sy krag in debat was nie 'n fyn geweefde redenasie nie, maar meestal 'n soort stampende logika wat weinig gevoel vir teenstandpunt getoon het. By geleentheid het hierdie ongevoeligheid buite perke geraak, soos toe hy die destydse VP uit die bloute bygeloop het met die beskuldiging van 'Boerehaat', waardeur die debat dan op 'n syspoor geplaas is."
Mnr Marais vertel dat hy teenwoordig was toe mnr Botha vroeg in Junie 1965, as Minister van Kleurlingsake, deur mnr Japie Basson gedwing is om 'n duidelike standpunt in te neem oor Kleurling-verteenwoordiging in die Volksraad. Mnr Basson wou weet waarom Kleurlinge nie deur Kleurlinge in die Parlement verteenwoordig kon word nie, waarop mnr Botha geantwoord het: "As jy die Kleurling hier toelaat, moet jy ook die Indiër en Bantoe toelaat." Hy het bygevoeg: "As jy hier skeiding afbreek, moet jy ook op sosiale en residensiële vlak afbreek."
Mnr Marais het gevalle van mnr Botha se opvlieëndheid opgenoem, soos toe John Vorster op 'n Dinsdag vroeg in 1968 'n mosie van vertroue van sy koukus gevra het "omdat hy deur sekere Nasionaliste gewantrou word." Dit was toe dat PW Botha as Kaapse leier gesê het: "Kaapland sal die Eerste Minister se rug dek." Mnr Marais vertel dat mnr Ben Schoeman dit dadelik as 'n skimp opgeneem het en hy het gesê: "Teen wie wil mnr Botha die Eerste Minister se rug dek? Dis nie nodig dat almal kom bieg hoe lojaal hulle teenoor mnr Vorster is nie."
Mnr Marais vertel dat mnr Botha ná afloop van die koukusvergadering op mnr Schoeman afgestorm het met die krasste en beledigendste taal. Hy het trillend van verontwaardiging mnr Schoeman 'n "siniele ou man" genoem. "Ek sal jou afbreek in hierdie koukus," het Botha gedreig.
Mnr Marais sê dat sy pad twee maal met dié van mnr Botha gekruis het. Die eerste maal was toe hy nog Minister van Kleurlingsake en Gemeenskapsbou was en toe daar nog net een koukusgroep vir albei departemente was. "Ek het in die koukus twee afsonderlike groepe bepleit maar mnr Botha en sy ondersteuners wou dit nie hê nie. In die debat het dr Verwoerd ten gunste van my standpunt ingeneem.
"Die ander keer was meer dramaties," het mnr Marais voortgegaan. "Dit was in Maart 1969 toe 'n voortgesette debat in die koukus gevoer is oor die verdelende rol wat veral die Afrikaanse Sondagkoerante speel. Mnr Jan Haak het 'n mosie van vertroue in die Eerste Minister, mnr Vorster, voorgestel waarop ek 'n amendement voorgestel het om die rol van die koerante te veroordeel. Die voorsitter het my amendement op so 'n wyse tot stemming gebring dat dit nie anders as afgestem kon word nie. Toe die mosie van vertroue daarop aan die beurt kom, het ek hardop gesê dat ek buite stemming gaan bly. Dr Albert Hertzog het by my gestaan. Daarop het die voorsitter van die koukus, mnr Paul Sauer, gesê dat diegene wat teen die mosie van vertroue is, moet opstaan. Dr Hertzog en mnre Cas Greyling, Willie Marais, Daan van der Merwe en Louis Stofberg het saam met my opgestaan.
Mnr Marais vervolg: "Dit was Louis se daad wat die daaropvolgende ontploffing veroorsaak het. PW was buite homself dat 'n Kaaplander hom by die Transvalers skaar. 'Ek sal daardie mannetjiie vernietig,' het hy hardop gesê. Ná die vergadering het hy op Louis afgestorm en hom toegevoeg: 'Ek sal jou ophang in jou kiesafdeling. Ek sal met jou werk.' "
Mnr Marais vertel dat sy pad weer dié van mnr Botha ná die skeuring van die NP in 1969, gekruis het. Hy sê hy was bewus dat die Veiligheidspolisie teen hom en sy mense gebruik word, waarvoor hy bevestiging van 'n hoë offisier (en latere Kommissaris van Polisie) gekry het, met dié erkenning dat sy spore gevolg word elke keer as hy van Kaapstad na Pretoria reis. Mnr Marais sê dat hy hierdie saak die volgende jaar in die wantrouedebat geopper het. Hy het uit 'n dokument voorgelees waarin gesê is dat die meeluuistering sal voortgaan soos in die verlede. Dit was tóé dat mnr Botha met 'n tussenwerpsel terugkap: "Indien die agbare lid 'n voorspraak vir terroriste in hierdie raad wil wees, kan hy dit wees."
"Dit was die begin van 'n koor teen my asof ek staatsveiligheid in gevaar stel." vertel mnr Marais. "Mnr Vorster het die kroon gespan met die opmerking dat ek nou verplig is om geheime te openbaar wat die terroriste teen die seuns van Suid-Afrika kan help."
Mnr Marais onthou dat hy na aanleiding hiervan in die Hooggeregshof aangekla en skuldig bevind is maar dat sy appèl teen die skuldigbevinding deur die Appèlhof gehandhaaf is. Die uitspraak was dat hy niks geopenbaar het wat nie algemene kennis was nie.
Ten slotte herinner mnr Marais daaraan dat die Staat tydens die Inligtingskandaal erken het dat die HNP-hoofkantoor se telefoongesprekke afgeluister word. Daarop is 'n eis van skadevergoeding teen mnr PW Botha ingestel, wat betaal is sonder dat die saak tot verhoor gekom het!
Dit is algemeen bekend dat mnr Botha en mnr Marais mekaar nooit kon vind nie – nie juis vreemd vir mense wat mekaar nie gesoek het nie...