Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
"Ek wil juig en bly wees in u goedertierenheid, omdat U my ellende aangesien, my siel in die benoudhede geken het en my nie oorgelewer het in die hand van die vyand nie; U het my voete op vrye grond laat staan." Soos Dawid dit in Ps 31 uitjubel, so seker sal die Afrikanervolk se benoudheid ook verbygaan en sal hy weer sy voete op vrye grond laat staan!
FW DE KLERK, SY 'KERKLEIERS', EN BELHAR
Jeanette Koekemoer
"Soos die pogings om Belhar tot stand te bring in 1982 begin het, begin FW de Klerk se politieke loopbaan ook in 1982, kort voor die onrus in die land ter sprake word. Op 14 September 1989 word De Klerk Staatspresident toe hy sy eie regeringsleier, P.W. Botha, deur middel van 'n staatsgreep vervang. Dat hy vroeër as minister van Nasionale Onderwys die beleid van aparte ontwikkeling en 'n uitgesproke konserwatiewe siening sonder sprake van hervorming gehandhaaf het, vorm sterk kontras met sy latere handeling, reeds lank voor sy presidentskap, oor Suid-Afrika se 'hervorming', terroriste se vrylaat, en as president die land aan hulle oorgee – waarvoor hy van die Internasionale Geldmag die Nobelprys vir vrede plus R45 miljoen ontvang het."
Die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke (WGK) is in 1982 in Ottawa deur Boesak oorreed om die “pseudo-evangelie” apartheid as kettery en sonde te verklaar. Die sinodesitting van die NG Sendingkerk (NGSK) het in Oktober dieselfde jaar plaasgevind. 'n Drukgroep onder leiding van Boesak het dieselfde strategie gevolg waarmee die WGK oorreed is om apartheid as kettery en sonde te verklaar – die voorstel is weer aanvaar.
Die sinode het daarop besluit 'n protesskrif moet opgestel word om gestalte aan die besluit te gee.
Dit spreek vanself dat die protesskrif noodwendig so bewoord moes word dat apartheid as sonde uitgebeeld word. Belhar het 'n simbool van die stryd teen apartheid geword. Die Kerk se optrede het noodwendig die persepsie by die gewone mens geskep dat gewelddadige verset teen apartheid op Bybelse grondslag geregverdig is.Dit is opvallend dat pogings om Belhar tot stand te bring in 1982 begin het in dieselfde tydperk toe beplanning gedoen is om 'n organisasie op die been te bring wat die massas teen die Regering kon mobiliseer. In 1983 is die United Democratic Front (UDF) gestig waarin Allan Boesak, Beyers Naudé en ander sg geestelike leiers 'n leidende rol gespeel het. Die oogmerk van die UDF was om die massas te mobiliseer om grootskaalse burgerlike ongehoorsaamheid en verset aan te wakker om " die Regering tot 'n val te bring" – wat nie met geweld kon gebeur nie agv 'n uiters weerbare polisiemag. Die UDF is as ‘n verbode organisasie verklaar. Nuwe kanale is gevind om die onrus aan te help maar die polisie het onrusstokers bly arressteer – en dié is telkens losgelaat...
Landwye onrus het die regering daartoe gebring om op 20 Julie 1985 'n noodtoestand in sekere gebiede te verklaar nadat ook Goldberg op 28 Februarie 1985 vrygelaat is. Talle politieke aktiviste wat die onrus en geweld aangestook het, is weer aangehou. Ná ‘n paar maande het die onrus bedaar en die aktiviste is weer vrygelaat - inderdaad onverklaarbaar as daar nie 'n verskuilde agenda vir die vrylatings was nie. Geweld het dadelik weer opgevlam en op 12 Julie 1986 is nog ‘n landwye noodtoestand afgekondig – maar: Mbeki word op 5 November 1987 vrygelaat, Sisulu, Kathrada, Mhlaba, Motsoaledi, Mlangeni, Oscar Mpetha en Jeff Masemola almal op 15 Oktober 1989, en op 11 Februarie 1990 laat FW de Klerk ook vir Mandela uit die tronk. Al dié vrylatings te midde van landwye geweld wat telkens bedaar wanneer 'n bekwame polisiemag sorg dat die aktiviste agter tralies kom...
Soos die pogings om Belhar tot stand te bring in 1982 begin het, begin FW de Klerk se politieke loopbaan ook in 1982, kort voor die onrus in die land ter sprake word. Op 14 September 1989 word De Klerk Staatspresident toe hy sy eie regeringsleier, P.W. Botha, deur middel van 'n staatsgreep vervang. Dat hy vroeër as minister van Nasionale Onderwys die beleid van aparte ontwikkeling en 'n uitgesproke konserwatiewe siening sonder sprake van hervorming gehandhaaf het, vorm sterk kontras met sy latere handeling, reeds lank voor sy presidentskap, oor Suid-Afrika se 'hervorming', terroriste se vrylaat, en as president die land aan hulle oorgee – waarvoor hy van die Internasionale Geldmag die Nobelprys vir vrede plus R45 miljoen ontvang het.
Die inhoud van De Klerk se samesprekings met Allan Boesak as voorsitter van die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke, Desmond Tutu, Anglikaanse Aartsbiskop van Kaapstad, Frank Chikane, hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke en ander sg kerkleiers, was deurlopend dat Suid-Afrika vordering moet maak op die pad van hervorming. Boesak het by geleentheid gesê dat die voordeel van die gesprekke met De Klerk uit die oogpunt van die kerke is dat hulle dit eens met De Klerk is oor "belangrike sake". Ná sulke samesprekings het die mobilisering van die massas opnuut gevolg. Burgerlike ongehoorsaamheid is landwyd met Beyers Naudè, Allan Boesak en ander kerkleiers van die SARK, aangehits. Die parallel van De Klerk se politieke loopbaan en die onrusgeteisterde land wat deur De Klerk 'gered' word, is opvallend.
Ondanks verbete pogings deur leidende teoloë in die NGK en VGKSA om Belhar van sy politieke mantel te stroop, is dit ironies dat dieselfde teoloë die ongeregtighede van apartheid ophaal wanneer hulle van die Belhar praat, maar nooit van die gruweldade van die ANC/SAKP-alliansie nie. Op 4 Februarie 1991 het die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasse-aangeleenthede 'n persverklaring uitgereik waarin die uitvoerende direkteur, mnr. John Kane-Berman, onder meer die volgende stelling gemaak het: “Christian leadership in South Africa has helped to legitimate violence as an instrument of liberation."
Flagrante leuens wat tydens die WVK-verhore oor die skending van menseregte oor die Veiligheidstak van die Polisiemag vertel is, is die wêreld ingestuur. Ná 'n lang hofstryd, wat lede van die Veiligheidstak teen die WVK gevoer het om hulle reg te handhaaf om die waarheid aan die kaak te stel, het vyf regters van die Appèlhof eenparig in die guns van die betrokke lede beslis maar dit is nooit in enige verhoor van die Komitee vir die Skending van Menseregte toegepas nie. Desmond Tutu en Alex Boraine het die verrigtinge só gemanipuleer dat die riglyne telkens omseil is.
Die leuens wat opgedis is, het ook onkundige en goedgelowige predikante mislei. Hulle het weer onkundige lidmate beïnvloed. En vandag word die politieke protesskrif met sy rewolusionêre oorsprong aan kerke opgedring as 'n 'belydenisskrif'!
Hiermee dan die Belhar gestroop van sy 'Christelike' mantel en sy politieke agenda ontbloot sodat elke kerkganger sal weet waarmee hy te make het.