Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wees nie haastig in jou gees om jou te vererg nie, want ergernis rus in die boesem van die dwase – Prediker 7:9
DIE AARDE HET GEBEWE! (4)
THELMA CILLIE
Die verhaal van Suid-Afrika se grootste aardbewing ooit in 1969 in die Ceresgebied.
Lees reeks by Die aarde het gebewe!
(Lees ook meer oor aardbewings by Aardbewings - teken van ons tyd)
Toe die aardbewing ons gebied getref het, het die vallende rotsblokke ons waterpype, uit die dam in die berg, op verskillende plekke gebreek. As die sluise nie gou toegedraai sou word nie sou die dorp se watervoorraad alles uitloop. Vier mans met moed van staal het gelukkig besluit om hierdie moeilike tog aan te pak en te midde van gevaarlike, rollende rotse, het hulle tot by die dam geklim en ons watervoorraad gered. Hulle was mnre M Steenkamp, I Bothma, C Theron en 'n besoeker van elders, mnr Piet van der Walt.
Een van die mans het daarna vertel dat hy in sy ganse lewe nog nooit so gebid het nie. Hy het vertel dat die vallende rotse soos vuurpyle getrek het, met 'n vlammestreep agterna. Die mense van Ceres sal hierdie helde altyd onthou en dankbeer wees teenoor hulle. Dit is wonderlik om sulke manne van durf en daad in ons gemeenskap te kon hê – manne wat ten spyte van lewensgevaar vir niks sal stuit om te red wat kosbaar en onontbeerlik vir die voortbestaan van hul medemense is nie. Dis naastediens in sy hoogste vorm.
Die munisipale raad was in sitting op Ceres toe die aarde daardie aand begin bewe het. 'n Paar van die verdwaasde mans kon nie gou genoeg by die naaste deur kom nie terwyl ander dit weer beter geag het om onder die tafel te koes! So spoedig moontlik het elkeen egter koers gekies na sy eie huis en angstig gewonder hoe dit met sy vrou en kinders gesteld was.
Dr Reinach, ons burgemeester, wat in sy geskokte toetand, in hierdie stadium, soos ander gedink het dat die dorp gebombardeer word, het sy familie beveel om onmiddellik almal in die huis te gaan en nie hulle koppe daaruit te steek nie. Hyself sou gaan ondersoek instel oor hoedanig die dorp getref is. Petro, sy vrou, het toe met die rewolwer in haar hand, stelling ingeneem op die bed – met al die kinders veilig agter haar –gereed om 'n hele regiment te trotseer!
Jan, 'n vriend wat toevallig by hulle aan huis was sou hulle nou beskerm terwyl dr Reinach sy rondte in die dorp gedoen het. Jan se moed het hom egter begin begewe en Petro het besef sy sal haar beskermheer eers 'n kalmeermiddel moet toedien! Die enigste wat byderhand was, was hoofpynpille en sy het hom dit ingejaag. Later het Jan droogweg opgemerk dat hy op daardie tydstip baie banger vir die 'moordtuig' in die onbedrewe vrou se hande was as vir die aardbewing self.
Dr Reinach het intussen besef wat gebeur het en is haastig na die telefoonsentrale om Koos, wat aan die voet van Matroosberg woon, op te bel. Koos sou dr Reinach se boodskap na Touwsrivier deurneem sodat hulle van daar af kon laat weet wat ons getref het – want alle telefoonverbinding deur Michellspas was afgesny deur vallende rotse.
Terug op straat het hy verneem dat iemand 'n boodskap deurgekry het na Kaapstad en alle moontlike ambulanse ontbied het na Kaapstad om met 'ongevalle' behulpsaam te kom wees. Dr Reinach het dadelik besef dat hierdie foutiewe boodskap stopgesit moes word want daar was toe reeds min of meer vasgestel dat daar genadiglik amper geen ongevalle was nie. Omdat daar toe geen ander weg oop was nie het hyself sy lewe deur Michellspas gewaag om die boodskap reg te stel. Hy het per motor sy weg deur rotse en klippe wat oor die pad gesaai gelê het gebaan, en daarin geslaag om Wolseley te breik. Dit was ook net betyds om met Kaapstad in verbinding te tree en die foutiewe boodskap reg te stel.
Op Wolseley het hy 'n paar Jodinne wat daardie aand daar 'n vergadering bygewoon het en nie kon terugkom na Ceres nie, aangetref. Hy het hulle saam met hom gebring en Ceres weer veilig bereik. Hierdie man het saam met baie ander feitlik die hele nag deur die dorp beweeg om behulpsaam te wees. Eers teen die oggendure kon hulle gaan rus – totaal uitgeput.
Intussen het die regering manne van die Suid-Afrikaanse weermag, onder aanvoering van brigadier J Fourie, bevelvoerder van die Kommandement Westelike-Provinsie, beskikbaar gestel om te kom help in die rampgebied. Hierdie manne het dadelik die tente wat beskikbaar gestel is begin opslaan want honderde families was dakloos. Die weermagmanne het ook gehelp om meubels en ander dinge uit geboue te verwyder, en dit was voorwaar nie 'n maklike taak onder die moeilike en gevaarlike omstandighede nie.
'n Rampkomitee met dr Reinach as voorsitter is byeengeroep. Die lede van hierdie komitee het hulleself vir geen oomblik gespaar nie en hulle was werklik dag en nag tot die gemeenskap se beskikking. Hulle het hulp verleen waar hulle kon.
Die bergplek van meubels het 'n probleem geword. Baie huise moes ontruim word en die mense het nie geweet wat om met hulle meubels en ander besittings aan te vang nie. Uiteindelik is die meeste van die meubels by die sentrale pakstuur en die landbousaal opgeberg. Vir dae aaneen het vragmotors en trekkers met sleepwaens aan, gehelp om mense se meubels te karwei, want dit sou vir 'n geruime tyd geberg moes word. Alhoewel elke gesin later 'n opslaanhuis sou bekom, sou dit nie genoeg ruimte bied vir al die meubels en persoonlik besittings nie.
Teen die einde van die week het al my familie weer vertrek na hulle huise toe. Sommige was merkbaar verlig om afskeid te neem van ons wankelrige aarde –veral Wilna was baie dankbaar om na haar kinders in Windhoek terug te keer. Sy het dit daar beslis veiliger geag as op Ceres.
Ons het nou daagliks werklik ons bes probeer om die lewe weer normaal aan te durf, maar dit was nie maklik nie want skielik het ons nou belang verloor in baie dinge. Ons het meteens in hierdie onsekere tyd besef hoe nietig die tydelike dinge werklik is. Ons het nou geen behae daarin gevind of dit noodsaaklik geag om ons verkrummelde huise aan die kant te maak of te verfraai met blomme en so meer nie. Dit was asof ons vroue werklik niks kon vind wat van enige besondere belang was nie. Alle mense was dwalend en lusteloos, en ons het almal oor 'n knaende honger of dors gekla – ons monde het net droog gebly. Die mans het intussen probeer om so normaal moontlik met die boerdery en ander werksaamhede voort te gaan.
Woensdagaand was ons krag weer aangeskakel. Mensig, maar ons was bly want nou kon diegene wat nog huise het se huishoudelike sake tog weer min of meer normaal voortgaan. Almal wat enigsins kon, het mense wie se huise tot niet was, gehuisves. Ons dink met liefde en dankbaarheid aan daardie manne wat feitlik dag en nag gewerk het om ons elektriese kragtoevoer so gou moontlik te herstel.
Onsself het nou gedurende die dag weer 'n deel van ons beskadigde huis bewoon maar dit was nog nie behoorlik donker nie, dan het ons al weer na die motorhuis versit – gewapen met flesse vol koffie en flitse. Van die kinders wat oor die ergste skok gekom het, het hierdie buite-slapery avontuurlik gevind. Hulle het pret gemaak en vir konsertjies geoefen om ons ouer mense mee te vermaak.
Baie mense het in hierdie tyd altyd met hulle klere aan gaan slaap, en baie vroue se handsakke met noodsaaklik medisyne en dokumente daarin, het pal voor die bed gestaan. Al die mans het êrens 'n bietjie kontant weggesteek wat hulle in 'n noodgeval net gou kon vat en laat spaander! Wanneer die ligte in die aand uitgedoof is wou die slaap ook maar nie kom nie. Die helfte van die nag het ons – en ek glo baie ander ook – uit pure vrees, wakker gelê om dan genadiglik teen dagbreek van skone uitputting aan die slaap te raak.
Die allervreeslikste bangmaakstories het in hierdie dae in die rampgebied die rondte gedoen – oor hoe die aarde sou oopskeur en die hele gebied daarin sou wegsak van oorstromings wat sou kom en die hele kontrei in mere sou omskep! Ek dink niemand het regtig die dinge geglo nie maar nou ja, 'n mens is nou maar eenmaal mens, en as dit nou aand word en jy alleen wakker lê terwyl die res van die land al lekker slaap, kom daar allerhande vrese in jou gedagtes op. Terwyl jy in die donker oor al die dinge lê en wonder het die duiwel hom ook gerieflik kom tuismaak op jou kopkussing en die ou bangmaakstories weer oor en oor in jou reeds oorspanne gemoed gefluister. 'n Mens het dan gewonder of jy nie dalk soms met die duiwel moet saamstem nie! Hy het reeds sommige van dié naarhede met soveel oortuiging vertel, terwyl alles in die nag reeds so skrikwekkend en vreesaanjaend is – met die gedurige stampgeluide onder jou, en die dreuning in die verte. Maar, wanneer dit dag geword het, het ek tog geweet my twyfel was sommer verspot en was ek bly oor die son wat weer tot 'n nuwe boodskap van 'moedhou' bygedra het.
Die nagte het maar onrustig gebly. Met elke harde skudding wat die gebied weer getref het, het ons na buite gehardloop om dan maar weer bedtoe te gaan nadat ons 'n bietjie boeretroos geniet het. Elke nag as daar harde skuddings was het ons gehoor hoe die mense met motors uit die dorp ry om liewer buite in die veld te gaan oornag. Die mense hier op Ceres het almal na 'n sekere plek op die Theronsbergpad uitgery om in hulle motors daar te oornag en dié plek het gou-gou die naam van "Bangbroeklaagte" gekry.
Sommige mense het nou uit die rampgebied begin trek. Daar was gelukkig nie baie van hulle nie en ander is weer 'toevallig' verplaas, het ons verneem. Wat my persoonlik die ongelukkigste gemaak het was die algehele rigtingloosheid van ons mense. Ons kon absoluut niks gedaan kry nie. Net die allernoodsaaklikste werk is gedoen. Ons het maar net altyddeur gedagtes gewissel oor die gebeure, en bangmaakstories het aan die orde van die dag gebly. Elke aand het die mense wat gereeld van die dorp af by ons kom slaap het, hier aangekom en die vreeslikste stories vertel wat hulle nou weer daardie dag gehoor het. Tot die datums van erger rampe is voorspel! Wanneer hulle dan gesien het dat ons maar swaar byt aan hierdie stories, het hulle gou vertel dat dié of dáárdie geoloog dan so sou gesê het. Dié "geoloë" het natuurlik net in die mense se verbeelding bestaan en ek het meer as een dag gewens dat hierdie doemprofete in hegtenis geneem en aangekla moes word want niemand se senuwees kon ekstra laste dra nie – en dit nog sulke onnodiges! Hierdie gekkestories het veral die kinders geweldig ontstel.
Andrew het nog permanent in die motor geslaap. Geen mooipraat of enige redenasies kon hom van plan laat verander nie. Bedags het hy buite gebly en sy voet nie in die huis gesit nie. Sy kos moes buite bedien word en hy het hom buite by 'n kraan gewas. As dit aand word het hy met flits en sy Bybel in die motor geklim, en nadat hy klaar geëet het – sy kos moes na die motor geneem word – het hy in flitslig sy Bybel gelees. Die motor moes ook op 'n sekere plek wat hyself aangewys het, geparkeer word – weg van geboue, op 'n veiliger plek sodat alles net reg is om te vertrek ingeval iets sou gebeur. Hy het presies drie weke lank in die motor geslaap.
Wat 'n genade tog dat die aardbewing gedurende die skoolvakansie plaasgevind het want sommige van die koshuise was baie erg beskadig en dit sou beslis rampspoedig gewees het as daar kinders in was. Die skole in die gebied het vir die vierde kwartaal 'n week ná die ander skole heropen om die kinders 'n kans te gee om eers oor die ergste skok te kom. Daar is ook dadelik begin met die oprigting van sink-en-hout vertrekke op die koshuispersele in die rampgebied – sodat die kinders darem ten minste veilig en gerus kon slaap.
Op die skoolterreine self, is baie tente opgeslaan wat moes dien as klaskamers. Later is ook opslaanhuise op die persele opgerig om te dien as klaskamers aangesien tente darem te ongerieflik was. Die skoolgeboue in die hele rampgebied was geweldig beskadig deur die aardbewing.
Volgende keer iets oor Tulbach, 'n klein skilderagtige ou dorpie in dieselfde kontrei wat ná hierdie ramp nie maklik weer dieselfde sou wees nie...