Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dié mense wat leef asof daar nie lewe ná die dood is nie, gaan niks wen as hulle reg is nie en alles verloor as hulle verkeerd is. Mense wat leef asof hulle aardse lewe hulle toekoms gaan beïnvloed, sal niks verloor as hulle verkeerd is nie, en alles wen indien hulle reg is.
DIE AARDE HET GEBEWE! (5)
THELMA CILLIE
Die verhaal van Suid-Afrika se grootste aardbewing ooit, in 1969 in die Ceresgebied
Lees reeks by Die aarde het gebewe!
(Lees ook meer oor aardbewings by Aardbewings - teken van ons tyd)
Tulbach, 'n klein skilderagtige ou dorpie in hierdie kontrei van ons sal seker nooit weer dieselfde wees nie. In 'n vlietende oomblik het die skudding die ou historiese opstalle só verinneweer dat die meeste seker gesloop sou moet word. 'n Mens kan nie anders as hartseer wees as jy die ontsettende verwoesting gadeslaan nie. Van Tulbagh se kant af kan die littekens wat die geweldige skudding op die lieflike ou Witzenberge gelaat het, ook waargeneem word. Geweldige skeure is uit die berge geruk toe duisende tonne rotse die berghange afgestort het.
Daar sal wel van die waardevolste historiese geboue op die dorp behoue bly maar dit sal 'n aardige bedraggie aan restourasiewerk kos. Eienaardig genoeg, het die kerk op Tulbagh bly staan – net die agterkant is beskadig. Die ou pastorie wat die trots van die dorp is, het ook bly staan, maar is geweldig beskadig. Die gemeente sou kort na die datum van die aardskudding die tweehonderdjarige bestaan van die pastorie vier en vir hierdie besondere geleentheid het die gemeente die mooi ou gebou laat opknap en 'n pragtige nuwe ringmuur volgens die oorspronklike patroon gebou. Ná die verwoesting moes die viering egter vir 'n onbepaalde tyd uitgestel word. Dié gebou wat die oudste bewoonde pastorie in die land is, is binne-in so verniel dat die pastorie-gesin 'n ander heenkome moes vind. Die gewel waarop die datum 1769 gestaan het, het in honderde stukkies oor die stoep gesaai gelê.
'n Toe pasverklaarde historiese monument, die Drosdy, die eerste in dié land van Waveren, is onherkenbaar verniel. Die ou gebou is in 1804 opgerig. Die erg gekraakte buitemure staan nog maar die meeste binnemure dreig om inmekaar te val. Die gewels is heeltemal tot niet, en diep gate is uit die mooi plankvloere geruk. Die kombuis was waarlik net 'n rommelhoop. Ook in hierdie geval is die skade aan die geboue wat van buite al reeds groot lyk, gewoonlik nog baie erger van binne. Gelukkig sou hierdie pragtige historiese erfstuk herbou word.
Die baba van mnr en mev Man Orfen, die gesin wat die Drosdy bewoon, is onder metersdik puin uitgegrawe maar behalwe vir skrape en kneusplekke het sy niks oorgekom nie!
In hierdie tyd het ons ook dikwels aan mnr NC Krone van die plaas Twee Jonge Gezellen, in die distrik Tulbagh gedink. Hulle pragtige Kaaps-Hollandse woonhuis is onherkenbaar verwoes. Hierdie lieflike ou gewelhuis is in die jaar 1719 gebou en reeds die afgelope 250 jaar getrou sy diens as herewoning gelewer. Gelukkig sou dié kultuurskat ook herbou word. Die ou historiese skoolgeboutjie op mnr Krone se plaas is ook daarmee heen. Dis 'n skooltjie waarin onder andere regter HA Fagan van sy skooldae deurgebring het. Alle kleurlinghuise op dié plaas is verwoes en Sara Solomons, 'n kleurlingvrou, het haar baba in die ramp verloor. Ons het groot meegevoel gehad met die gesinne wat kindertjies verloor het.
'n Groot damwal op hierdie plaas het ook meegegee en nagenoeg 60 miljoen gelling water is weggevoer. Ons dink ook aan die plaas La Rhone van mnr Andries du Toit, waar die 250 jaar-oue woning ook verwoes is.
Ons harte gaan uit na so baie mense in hierdie kontrei wie se huise totaal verwoes is maar ons weet hulle sal weer opstaan en herbou, soos hulle voorouer voor hulle gedoen het.
Die ou Steinthal-sendingplaas is ernstig getref; twee kleurlingkinders het tragies gesterf toe al 25 arbeidershuise onherstelbaar beskadig en uitmekaar geruk is.
Die direkteur van die Steinthal-kinderhuis, ds HC van der Berg, het self 'n noue ontkoming gehad toe een van die mure van sy pastorie met 'n geweldige slag langs hom ingestort het. Van die bakstene het teen sy skouer geval. Die 262 kinders van dié kerk-tehuis het niks oorgekom tydens die ramp nie. Hulle koshuis en skoolgebou is egter ook vol gevaarlike baste geruk en al die kinders moes ook maar soos al die ander geteisterdes, die nag buite deurbring.
Die ligter aardtrillings wat met tussenposes ook nou nog gedurig daar voorgekom het, het almal en veral die kleurlinge, erg ontsenu.
Op feitlik elke groot horlosie in hierdie gebied, asook op die kerkhorlosies, het die tyd op vyf minute oor tien gaan staan. Voorwaar 'n uur wat ingebeitel is in elke inwoner van die rampgebied se geheue.
Die mense van Tulbagh het die eerste aand feitlik almal op die skoolplein saamgekom. Dié wat nie in hulle motors probeer slaap het nie, het om groot vure die gebeure bespreek. Al die mense in die rampgebied het in groepe, hulle eie besondere bymekaarkomplekkies gehad gedurende die groot skuddings.
Op 30 September het die manne van die weermag alreeds 400 tente op Tulbagh opgeslaan, op Wolseley 250 en op Ceres 100. Uiteindelik is daar sowat 3000 in die hele gebied opgeslaan. Al die reëlings het vlot verloop onder die bekwame leiding van brigadier J Fourie, bevelvoerder van die Kommandement Westelike-Provinsie.
Die landdroshof en kantore op Tulbagh is ook onveilig geag ná die ramp, en 'n reuse tent is voor die polisiekantoor opgerig om as tydelike kantoor vir die landdros en personeel te dien. Die tente wat vir sulke noodgevalle opgeslaan is, is so gou moontlik vervang deur tydelike opslaangeboue.
Op Wolseley het ons dit nie anders aangetref nie. Mense het verslae in die strate rondgedwaal en kon net soos ons, ook nie begryp wat regtig gebeur het nie.
Ons dink veral baie aan die besondere geval van Teresa. Sy is die dogtertjie van mnr en mev Lodewyk Botma. Hierdie sestienmaande-oue baba was vir meer as 'n uur onder klippe en boumateriaal begrawe. Mnr en mev Botma het die aand vroeg gaan slaap en tussen hulle beddens het hulle 'n grondbedjie vir Teresa gemaak. Twee ander dogters het in 'n ander kamer geslaap. Toe die geweld van die aardbewing tref, het mnr Botma eerste opgespring, en oomblikke daarna het die muur ingestort. Mense het uitgehardloop en familie het mekaar verdring. Meteens het dit tot hulle deurgedring dat daar nog mense in die huis is en hulle is dwarsdeur die stukkende mure om mev Botma uit die puin te bevry. Die twee dogters was in hulle kamer vasgevang, en Elsa het om hulp geroep terwyl die ander dogter Ina, bewusteloos was. Nadat hulle bevry is, is kunsmatige asemhaling op Ina toegepas en het sy weer bygekom.
Die hoop puin waaronder klein Teresa gelê het was so groot dat almal aanvanklik nie gedink het hulle kon haar red nie, maar die stadsklerk mnr C Kempen, het in die puin begin grawe en ander het hom toe gehelp. Uiteindelik is Teresa gevind. 'n Dokter het haar dadelik behandel. Die stof en sand is uit die mond en neusie gewas, en behalwe vir 'n skrapie langs haar mond het hierdie kindjie wat dood gewaan is, niks oorgekom nie.
Die vier-en-tagtig-jarige mnr Slabber van Wolseley was vir menige jongmens tot voorbeeld. Die oggendluggie was nog fris toe hy reeds begin het om rommel op te ruim rondom sy vernielde huis.
So het elke dorp in die rampgebied sy eie verhale van moed en ontkomings en sy eie leed gehad. Een ding is egter seker – al is die storie ook wát en al was die leed ook hóé bitter – ook Wolseley sou opstaan en alles weer herbou.
Prince Alfred's Hamlet is ook nie gespaar nie. Oral het die streep van verwoesting gelê. Die plase agter die Witzenberge het kwaai deurgeloop. Selfs splinternuwe huise het op die grond gelê en sou weer herbou moes word. In hierdie omgewing het een kleurlingvrou ook onder die puin die lewe gelaat.
Op een plaas het 'n rots wat later op min of meer 60 ton in gewig geskat is, teen die berhang afgerol en binne een van die appelboorde tot stilstand gekom. Die rots het sy baan gevolg tussen twee rye bome deur en nie één boom is uit sy plek gestamp nie! Die eienaar van die plaas was in die bad tydens die aardskok, en die stomme man het so groot geskrik dat hy eers twee weke daarná vir die eerste keer dit weer in 'n badkamer hier op die dorp gewaag het. En toe moes 'n vriend nog by hom waghou terwyl hy bad!
Hulp het van oral na die rampgebied ingestroom Die weermag het onmiddellik die dienste van 20 swaar voertuie, 7 helikopters en 230 manne tot ons beskikking gestel. Die helikopters het gehelp om die waternood wat op Ceres ontstaan het te verlig, en ook op Wolseley was hulle behulpsaam in dié verband. Die helikopters was gebruik om swaar pype na die berge te vervoer waar die beskadigde waterpype vervang is.
My gedagtes en meegevoel gaan veral uit na die kleurlingvrou, Lily Krieling. Haar driejarige dogtertjie Gertrude, het agter haar gelê en slaap toe 'n swaar balk van die huis in Steinthal waar hulle gekuier het, afgeval en hulle vasgepen het. Die kind het onder haar ma beland en stadig gelê en versmoor terwyl Lily weens die knellende gewig van die balk nie kon roer nie. Albei haar bene is vergruis en sy is later per ambulans na die Paarlse hospitaal vervoer.
Met geen watertoevoer in sommige van die geteisterde dorpe weens die beskadigde waterpype het die mense hulle in 'n uiters onbenydenswaardige toestand bevind. Ons dink hier veral ook aan die probleme van winkeleienaars, aptekers, ensomeer. In meer as een winkel was daar chaos op die vloere. 'n Mengsel van deurmekaar kleure en geure het mekaar verdring. Dit was tamatiesous, Worcestersous, ingemaakte strope en ingemaakte vrugte, koeldranke, olies, asyn en wat dies meer sy – een glibberige gemors. En dit moes skoon – sonder water!
In die apteke het dit nie anders gegaan nie en allerhande soorte medisyne, pille, skoonheidsmiddels en lekkerruikolies se houers het flenters op die vloer gelê. Die inhoud het 'n eie mengsel gevorm – 'n bietjie van hierdie mengsel kon dalk sekere kwale genees het!
In die bottelstore het al die 'voggies' wat op die rakke gestaan het nou onbruikbaar op die vloer gelê. Dié toestand glo ek, het seker menige liefhebber daarvan treurig gestem...
'n Waterkar het 'n paar keer op 'n dag deur die dorp gery om in die ergste behoeftes te probeer voorsien. Ons het in hierdie tyd by huis Maudie Kriel ingeloer, en het ons verstom aan die ongerief wat die oues van dae sonder water moes deurmaak. Kan 'n mens jou voorstel hoe ontwrig hulle was sonder water in die pype in die toilette en badkamers? Menige oue van dae moes ook nog 'n paar keer op 'n dag op 'n 'stelletjie' gehelp word. Die matrone en haar helpers het voorwaar in dié waterlose dae nie 'n maklike taak gehad nie.
Ons het opnuut die kosbaarheid van water besef, en dit het ons ernstig aan die gebiede laat dink waar water altyd as 'n kosbare artikel beskou word – en daar altyd suinig mee gewerk moes word.
Aardskokke is amper landswyd gevoel... vervolg