Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Nadat God sy eie taak as Skepper uitgevoer het, het Hy ook die rusdag geskep. Ons is veronderstel om heeltemal van ons werke te rus, nie net liggaamlik nie maar ook geestelik, sodat God ín ons kan werk.
DIE AARDE HET GEBEWE! (7)
THELMA CILLIE
Die verhaal van Suid-Afrika se grootste aardbewing ooit - 1969 in die Ceresgebied.
Lees reeks by Die aarde het gebewe!
(Lees ook meer oor aardbewings by Aardbewings - teken van ons tyd)
So teen Saterdag die 4e Oktober, het Malan besluit dat ons almal heeltemal verspot is om in al die ongerief en koue nog in die motorhuis te slaap. Ons het dus weer opgepak en versigtig huis se kant toe versit. Ons het egter net so agerlangs gebly – waar ons gou sou kon uitglip, ingeval...
Ons hele denke is in hierdie dae oorheers deur die begrip van "ingeval". Van voor af aan het ek nou weer onrustig geslaap maar my hele familie het gedink dit is wonderlik dat ek so 'n slegte slaper is! Op dié manier het hulle geweet staan ek brandwag en dat hulle dus maar rustig kon slaap! Sondagnag het ons weer 'n paar harde skuddings beleef en Malan het weer verskeie kere vir ons koffie met so 'n bietjie brandewyn daarin gemaak!
Maandagnag 6 Oktober, het ons weer 'n geweldige bewing gehad en ons huis het nog meer gebars. Terwyl ons almal bewend op die toegeboude agterstoep gesit het - die deel is 'n platdak en redelik veilig – het daar weer motors uit die dorp uit aangejaag gekom na ons toe. Na 'n kalmeerdrankie – hetsy koffie of iets 'anders' – het party mense weer teruggery dorp toe terwyl ander sommer die nag op die werf in hulle motors gesit en slaap het. Sommige het by ons oorgebly en sommer twee-twee in die beddens waaruit ons so pas gevlug het, gekruip, terwyl ek en Malan onsself op 'n klein enkelbedjie vir die res van die nag tuisgemaak het. Van slaap was daar egter geen sprake nie.
Die Dinsdag het ons weer die ganse dag aan huisskoonmaak en kluite uitvee bestee en ons het weer met mening teruggetrek na die motorhuis, wat wonderbaarlik nog geen noemenswaardige krake gehad het nie.
Hoe lief ek ook al vir my bad was, het ek dit in hierdie dae nooit alleen in die badkamer gewaag as dit begin donker word nie. Nee, ons het almal ewe liefderik saam na die badkamer gegaan en daar so op 'n ry gewag totdat elkeen sy beurt gehad het. Die eens so heerlike tydsame baddery het plek gemaak vir net inspring en uitspring – met die nodige was hier en daar want ai, wat tog gemaak as 'n groot skudding jou in die bad oorval! Daar het alreeds so baie mense onklaar getrap in dié verband.
Na verloop van nog 'n week of twee het ons maar weer na die huis teruggetrek, en ons grootste tydverdryf was om ook die lotgevalle van ander mense om ons te bespreek. Onsself kon nog net altyd van dankbaarheid getuig want ons huis, hoewel baie beskadig, het nog bly staan. Ons het nog die volle gebruik van al ons geriewe gehad en ons harte het uitgegaan na diegene wat werklik onder haglike omstandighede die mas moes probeer opkom.
Toe daar met die oprigting van tydelike huise begin is, het my man 'n stuk grond vir 'n onbepaalde tyd aan die munisipaliteit van Ceres beskikbaar gestel vir dié doel. Die nuwe tydelike dorpie het gou die naam van Oosterlig gekry, en die tydelike geboue het soos paddastoele verrys. Gesinne sou hier woon totdat hulle eie huise mettertyd herbou is.
Mense van die omliggende dorpe was so aangegryp deur ons verliese en ontberinge dat 'n ywerige klomp vroue saamgespan het en honderde en honderde ponde meel in die heerlikste beskuit verbak het en dit in die rampdorpe kom uitdeel het. Dit was nou geheel en al nie weens 'n voedseltekort nie – dit was sommer net 'n lieflike gebaar van hulle kant om te wys dat hulle werklik aan ons dink. Dit was voorwaar wonderlik om te sien en te ondervind, dat selfs in dié gejaagde lewe van vandag, daar vriende is wat bereid is om werklik nog soveel op te offer vir hulle naaste. Hierdie opregte liefdesbewyse wat 'n mens van jou medemens ontvang het, stuur 'n onbeskryflike geluksalige gewaarwording deur my – dit is soos 'n sagte, snoesige mantel wat behaaglik om 'n koue liggaam gevou word.
'n Week ná die aardbewing het ons met kommer opgemerk dat daar beslis 'n storm aan die broei is. Die lug het onheilspellend donker en betrokke geraak, met spierwit wolke hier en daar. Die wind het meteens opgekom en binne enkele oomblikke stormsterkte bereik; wat gevolg is deur verskriklike harde reënbuie. Ons het gevrees vir hael en het mekaar magteloos aangekyk. Woorde was nou oorbodig want ons kon sien wat gaan gebeur, en spoedig is ons vrees bewaarheid. Dit het begin hael! En in 'n ommesientjie het die haelkorrels wit op die aarde gelê.
Die kinders het later uitgelate na buite gehardloop, die hael wat dik gelê het, versamel en sneeumanne daarvan gemaak. Dit was vir hulle 'n ongekende heerlikheid en hulle het die genotvolle speletjie ten volle geniet – salig onbewus daarvan dat dit nog 'n ontsettende ramp was wat ons boeregemeenskap getref het.
Terwyl die haelstorm uitgesak het, was Malan by mnr Pikkie Mouton, die bestuurder van die sentrale pakskuur. Hulle het die storm deur een van die vensters dopgehou, en terwyl die storm hom uitwoed, was al woorde wat die verslae mnr Mouton kon uiter: 'Liewe Vader, dít ook nog?"
Nieteenstaande ons eie verlies aan 'n belowende vrugte-oes, het ons maar alte goed besef hoe haglik die toestande is waarin die tentbewoners hulself nou bevind het.
Alles was papnat gereën en om sake nog hagliker te maak, het party tente ook nog gelek; en dit was bitter, bitter koud. Sneeu het op die berge gelê en moeders het tevergeefs probeer om hulle kinders droog en warm te hou maar dit was 'n onbegonne taak. Mense wat stapels koerante bewaar het met die berigte oor die aardbewings daarin, was nou verplig om dit maar te gebruik om al die pappery en gemors op te droog.
Mense het mekaar net waar hul kon gehelp om droë slaapplek te verskaf en selfs mense wie se huise nog ná die aardbewing woonbaar was, het nou gevind dat dit lek.
Die Rooikruis het ook nou ingespring en dit hulle taak gemaak om die mense behulpsaam te wees – wees – hulle was dag en nag beskikbaar om tot diens te wees. Selfs die stadsaal is in 'n slaaplokaal omskep. In die meeste gevalle het mense egter probeer om by hulle besittings te bly, hoe ongerieflik dit ookal was.
Mev Coetzee, 'n predikantsvrou, het gereël dat warm sop aan baie mense bedien word en het haarself met oorgawe in dié dae gegee om die nood van andere te verlig – en dit nadat hulle self so swaar getref is. Die pastorie was ook tot niet en hulle moes self van tydelike verblyf gebruik maak. Mev Coetzee wat tydens die aardbewing alleen met haar bejaarde moeder en Saartjie hul bediende tuis was terwyl dominee in Pretoria vir die kongres was, het verdwaas ná die skudding besluit om dadelik na Huis Maudie Kriel, die tehuis vir bejaardes, te gaan maar wat nou met Ouma gemaak? Sy het toe vir Ouma in haar eie bed gesit en vir Saartjie, die bruin bediende wat inslaap, aangesê om agter Ouma in die bed te klim. Met 'n laaste vermaning: "Saartjie, jy moet styf teen die ounooi lê, en as dit weer so skud, trek net julle koppe toe. Ek gaan net gou kyk hoe dit met die ou mense gaan," is sy toe daar weg. Toe mev Coetzee buite kom en ander van haar reëlings vertel, het hulle haar haastig oorreed om gou vir Ouma-hulle te gaan haal en hulle liewer in die motor te laat sit. Eindelik is sy toe weg om haar liefdesdienste aan die oues van dae te gaan bewys.
Waarlik die Here het aan elkeen krag na kruis gegee – dit het ons elke oomblik opnuut belewe in dié krisistye.
Vervolg...