Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar is een ding wat jy nooit moet vergeet nie: jy is uniek. Dit hang net van jouself af om iets moois en wonderliks van hierdie lewe te maak – die keuse is joune.
DIE AARDE HET GEBEWE! (9)
THELMA CILLIE
Die verhaal van Suid-Afrika se grootste aardbewing ooit - 1969 in die Ceresgebied.
Lees reeks by Die aarde het gebewe!
(Lees ook meer oor aardbewings by Aardbewings - teken van ons tyd)
DAAGLIKS HOOR ons nog staaltjies van hoe die mense in die rampgebied die nag van 29 September reageer het. So is daar die storie van Pollie, 'n vriendin, wat met 'n interessante boek in die bed geklim het nadat sy haar dogtertjie, Cornelie, wat die aand eienaardig genoeg, bang was, slaap gemaak het. Sy kon glad nie begryp waarom die kind nou juis bang was nie en het haar oor en oor verseker dat daar werklik niks is om voor te vrees nie. Haar man was na 'n raadsvergadering.
Nog verdiep in haar storie word sy later egter ru tot die werklikheid gedwing deur die ontsettende bewing en lawaai. Wat op aarde kon dit wees? Gode sy dank slaap die kind deur alles heen, wyl sy angstig gewonder het wat hulle huis kon getref het. Sy het egter nie daaraan gedink om na buite te gaan nie. Meteens het haar man aan die voordeur gehamer. Toe sy nou die deur wou oopmaak, het hulle tot hulle ontsteltenis gevind dat die deur geheel en al nie kon oop nie — 'n deel van die huis het blykbaar verskuif ! Soos 'n warrelwind het hy hom na die agterdeur gehaas, waar by gelukkig kon inkom. Hy het Pollie gebied om onmiddellik saam met die kinders na Touwsrivier te gaan en daar te gaan oornag. Hy self wou eers deur die dorp ry en kyk waar by kan help - hy sou later in die nag by hulle aansluit en sommer vir hulle klere saamneem.
So is die kleinspan toe wakker gemaak, in die motor gelaai, en daar trek Pollie Touwsrivier toe. Sy het egter op een of ander plek verkeerd gery en verdwaal ... met die gevolg dat haar man voor haar hul bestemming bereik het! Toe hulle mekaar nou uiteindelik gevind het, en by die hotel aangekom het, vind sy tot haar ontsteltenis dat sy nog al die tyd met haar skamele nagkleertjies aan, sit! Al genade was om toe maar in dié toestand by die hotel in te gaan! Op Touwsrivier het niemand nog geslaap nie; want selfs dáár is die bewing erg gevoel. Terwyl Pollie toe aanstap hotel toe, was sy haar salig onbewus van al die mense langs die hotel wat haar deur die venster beloer. Werklik dit was seker die eerste keer in Touwsrivier se hotelgeskiedenis, dat dame in die middel van die nag met haar nagklere klaar aangetrek, daar opdaag !
Toe sy nou na die nagrus wat eintlik ook geen rus was nie, opstaan, vind sy tussen die klomp klere wat manlief in oorblufte toestand saamgebring het nie eintlik iets geskik om aan te trek nie. Op die ou einde meen ek, was dit in 'n tennisrokkie waarmee sy die oggend huiswaarts gekeer het.
OP 'n stadium was ons drie families wat snags in die motorhuis geslaap het. Daar was ook nog ekstra beddens ingedra vir ingeval gaste ons sou besoek — wat dan ook dikwels gebeur het. John, Cecile en hulle drie kinders was ook van die wat hulle nagte by ons deurgebring het.
Menige dorpsmense het saans hulle weg gekies na plase se kant toe — waar dit niks minder gebeef het nie, maar die ruimte het mens tog veiliger laat voel.
Die beddens het ons almal so gerangskik dat ons hoogstens twee tree moes gee om buite te kom! Die deure het ons wawyd oop laat staan, ten spyte van die koue. Menige nag as daar kwaai skuddings was, het meer as een geskree: “Moet ons hardloop of moet ons binne bly?"
Maar mensdom, so 'n deurmekaarslapery wens ek my ergste vyande nie toe nie. As een ophou snork, begin 'n ander een. As jy dit gelukkig tref en die snorkende tot swye het, huil een van die kinders jou weer wakker. As jy uiteindelik hoop die stilte is met jou, begin die aarde weer te rittel en beef en jy spekuleer met die gedagte of jy moet spring of nie. Meer as een nag het ek my dogtertjie Riana (6) gegryp uitgehardloop, om dan maar weer ewe gedwee terug te draai om in die bed te gaan klim en dan later uitgeput aan die slaap raak — met die hoop en geloof dat dit môenag tog beter sal gaan. Maar môrenag het tog niks beter gegaan nie. Die kinders wat “laasnag" nog net gehuil het, het nou ook gehoes — en nou moes die kinders nog weer hoesstroop ook kry. Soms, in haar deur-die-slaap-en-kalmeerpil-toestand, het die moeder ook sommer aan die verkeerde kind die hoesstroop ingegee! Doodseker dat haar kind die môre van sy verkoue genees sou wees, het die moeder dan weer dadelik gaan slaap — salig onbewus daarvan dat die gesonde een nou gedokter was!
En dan moes die ligte weer brand, want een van die kinders kon nie sonder lig slaap nie en ek kan weer nie met lig slaap nie! Dus maar waghou totdat almal slaap en self die kers, wat gevaarlik half onder die bed van een van die gaste staan, gaan doodblaas. Ek het ook een aand net betyds opgevlieg om die beddegoed van vlamme te red!
Hierdie toestand het omtrent twee weke so aangehou, en toe ons weer huis se kant toe versit het, het net Lila en Lizette nog saans by ons kom slaap. Aangesien hulle alleen is, het hulle nog nie die nodige moed gehad om na hulle eie huis terug te gaan nie.
DAAR word vertel van 'n sekere dame wat in die bad was met 'n nylonbroekie om haar hare gedraai — sy het die gewoonte gehad om te voorkom dat die warm wasem haar kapsel bederf. Nou ja, terwyl sy nog so rustig gebad het, het die aardbewing gekom en oorweldig deur skok, het sy net so nakend tot in die straat gehardloop. Die eerste motor wat verbygekom het, het sy gestop en gevra om saam te ry. “Maar ek en my familie is nou op pad om die dorp uit te ry," kom die bestuurder se antwoord uit die stikdonker. “Dit maak nie saak nie," het sy benoud geroep, “ek ry saam!" en sonder meer in die motor geklim. Toe hulle nou so 'n entjie gery het en sy oor die ergste skok gekom het, het sy so stadigaan besef in watter toestand sy is. Sy het so gevoel-voel oor haar liggaam — haar hande het kop se kant toe beweeg, en skielik het sy die broekie raakgevoel. Sy haal dit toe af en trek dit sonder enige seremonie aan om toe rustig verder te ry. Ons almal se denke was in so 'n vertraagde toestand deur skok dat ons werklik seker nie regtig raakgesien het as iemand kaal was nie...
Daar was die ander geval van 'n dametjie wat ook kaal uit die bad gevlug het. Toe hulle nou almal lam geskrik buite in die straat vergader, vra sy of een van die mans tog nie asseblief vir haar iets sal gaan haal om aan te trek nie. Net toe die man in die huis kom, was daar meteens weer 'n hewige bewing en die enigste ding wat hy toe raakgryp is 'n waslappie! Die verslae meisie vra toe aan hom wat hy nou reken sy met 'n waslap moet doen! “Hou dit voor jou gesig juffrou, dan weet ons ten minste nie wie jy is nie," het die antwoord van die ewe verskrikte jong man gekom ..!
Kostelik ook, is die stone van die man wat net die baadjie van sy slaappak aangehad het. Toe hy nou buite op straat kom na die skudding, vind hy hulle buurvrou in 'n vreeslike toestand van skok — sy huil en kerm histeries. Ewe beskermend sit hy sy arm om die tannie en probeer sy bes om haar te troos.
“Ag nee, liewe vader! wat gaan met jou aan," roep sy vrou later erg verontwaardig uit. „Niks nie," antwoord hy “ek troos maar net vir tannie."
“Wel, ek het op die aarde niks daarteen nie," antwoord vroutjie, “maar om liefdeswil, gaan trek tog eers jou slaapbroek aan — die hele straat staan vol mense . . ."
Die man se buurman oorkant die straat, het toe hy op straat verskyn, benoud besef dat hy nie sy valstande in het nie. Hy waag dit toe you weer binnetoe om sy tande te gaan haal — ongelukkig net betyds om 'n baksteen op sy kop te kry! So moes die bure toe die nag by die lig van 'n flitslig, eers ou Frikkie se wond verbind en hom later hospitaal toe neem.
Een ou dame het tereg opgemerk dat sy nog nooit by een geleentheid so baie mense sonder tande bymekaar gesien het nie! Almal het net gesorg dat hulle buite hulle huise in groepies bymekaar uitkom — en nie nog tyd gehad vir sulke nietige aardse dinge soos valstande insit nie .. .
Een van ons geneeshere was uitgeroep na 'n pasiënt wat soos ek verstaan het, met 'n kwaai griepaandoening in die bed was. Terwyl hy die man ondersoek, kom die aardbewing! Dokter en pasiënt het sonder enige waardigheid ligvoets deur die venster gespring — die geneesheer sonder sy tas en die pasiënt glo ek, sonder sy kwaal ..
'n Ander egpaar was hewig ontsteld toe hulle uit die bed geslinger word en het, gedagtig aan die sinkgate by Carltonville, net een allesoorheersende vrees gehad — dat die aarde plek-plek weggesak het! Hulle het hulle weg met stampe en stote in die stikkende duister na hulle voordeur gebaan, net om te vind dat hulle die deur glad nie kon oopkry nie. Ja, na geen kant toe kon hulle dit beweeg nie! Verbysterd het die man gestamel: “O! genade vrou, ons is klaar onder." Met 'n onbeskryflike verligting het hy later by nadere ondersoek ontdek dat die deur blykbaar verskuif het, en dat hy nog God sy dank, op moeder aarde was .. .
'n Geselskap het ná die skudding die Swaarmoedpas afgekom om nou te kom vasstel wat op Ceres aangaan. Hulle het die klomp liggies op die berge opgemerk (net voordat dit begin vlam het) en ontsteld het een uitgeroep: “Liewe vader, kyk die hele Ceres en omliggende gebiede het verdwyn! want ... is dit dan nou nie Kaapstad se liggies wat ons daar sien nie?" Dinge het eers vir hulle duidelik geword toe die berge meteens in ligte laaie staan .. .
Marie en Louis van Draaihoek, was al ewe rustig in die bed toe die onheilspellende gedruis en gekantel hulle oorval het. Toe sy wou opspring en hardloop, het haar man haar met alle geweld gekeer en aanhoudend gese: “Sjuut, sjuut vrou, lê net doodstil. Dit is 'n aardbewing, en ek het die flits by my!" So het hy almal toe vanuit sy kamer gekommandeer: “Sjuut, sjuut!" — kompleet soos 'n kat wat 'n muis bekruip, maar te geskok om oordeelkundig op te tree.
Toe alles nou effe bedaar het, het hulle dit versigtig uit die bed gewaag om dinge te ondersoek. Hulle was egter nie lank besig met die ondersoek nie, toe die motors uit die dorp op 'n streep begin opdaag. Aangesien hulle omtrent so twaalf myl uit die dorp bly, het baie mense dit daar veiliger geag. Onse Marie moes toe net bontstaan om alle gaste te hanteer. Party het bietjie brandewyn nodig gehad en ander weer pille. Die meeste families het ook hulle deur-die-wind geskrikte bediendes saamgebring. Later het die ander pastoriemoeder van Ceres ook met haar paar weke-oue baba daar opgedaag. Ds. Oosthuizen was ook tydens die groot aardskudding in Pretoria vir 'n kongres.
Die volgende more was die werf van Draaihoek in rep en roer en oral waar jy kyk het tente gestaan. Net gou het die plekkie soos 'n nagmaal van ouds gelyk. Hierdie deurmekaar kampery het 'n hele rukkie aangehou voordat elkeen weer genoeg moed bymekaar geskraap het om dorp se kant toe te beweeg .
Ons bure, Willem en sy gade Truida, was al ver in droomland toe die aardbewing hulle met geweld wakker geskud het. Versteen van skrik kon hulle nie 'n woord uiter nie. Toe Willem nou eindelik sy spraak teruggekry het en agterkom dat by darem nog kan beweeg, het by aan sy vrou gesê hy reken dat dit 'n aardbewing is. Sy ontstelde vrou het gewonder of dit nie 'n bomaanval was nie, want “wat se ontploffings hoor ons dan kort-kort?" Toe hulle nou later venster se kant toe staan om te loer wat aangaan, sien hulle dat die berge aan die brand is . . . Ontstelde familie en vriende wat in die dorp woon, het ook gou-gou begin opdaag...
Toe Willem nou besef hoe beskadig die geboue is en die werklik ontsettende krag van die aardskok eers tot hom deurgedring het, het by verseg om weer in die huis te slaap. Hy en sy familie het vir maande buite in 'n tent geslaap en gelukkig het Dirk, 'n onderwyser, en sy vrou Linda met hulle twee kindertjies Andriesa en Lulu, ook saam met hulle in 'n tent en 'n karavaan gekamp. Dirk-hulle se huis was ook onherstelbaar beskadig en moes gesloop word. By 'n geleentbeid het die einste Willem gese: “Nee kyk mense, ek het nog nooit in al my lewe gedink dat 'n mens so 'n vrees vir jou huis kan he nie. En die sê ek nou vir julle, 'n mens wat nie 'n heilige ontsag vir hierdie bewings het nie, is waaragtig nie 'n mens nie!"...
Joey, 'n ander vriendin, vertel hoe sy haar man vasgegryp het. “Jong," vertel sy opgewonde, ,dit was darem die vreeslikste nag van my lewe. Ek sit op die bed en ek klou my ou man vas vir al wat ek kan en ons druk mekaar en ons vergewe mekaar alles en ons belowe om nooit weer vir mekaar kwaad te word nie en ons doen alles wat ons kon en toe soen ons mekaar !"
Hierna het hulle oor die omgevalle en verskuifde meubels, gekruiploop na hulle voordeur toe. Toe hulle daar kom, het hulle gevind dat die sleutel uitgeskud het! Arme ou Joey moes toe op haar knieë rondkruip, op soek na die sleutel. Eindelik het sy dit heeltemal aan die teenoorgestelde kant van die vertrek gekry, en wat 'n verligting was dit tog nie toe hulle uiteindelik buite op straat kom - weg van die huis wat so aanhoudend bewe en kantel! Dieselfde vrou het die dag gaan besoek aflê by bure. Nadat sy die huis goed deurgekyk het, het sy opgemerk: “Nee wat jong, ek sien sommer ons het darem baie groter as julle geskrik, want ons het baie meer barste in ons huis !"
Daar was 'n sekere tannie wat vas geglo het dat sy eendag aan beroerte sou beswyk en die aardbewing vang haar toe ook terwyl sy bad. “Liewe vader," het sy benoud gedink “hier kom die beroerte nou waarvoor ek my hele lewe gevrees het!" Gou-gou het sy die bad se prop uitgetrek “want" het dit deur haar brein geffits, “ek wil darem nou nie as ek die aanval gekry het, nog verdrink ook nie!" Wat was haar verbasing en verligting groot, toe die bewing bietjie tot bedaring gekom het en sy vind dat sy nog blakend gesond is en glad nie eens lam is soos sy aanvanklik gemeen het nie...
En wat dan van die ou vriend wie se seun se nooi by hulle gekuier het? Die betrokke dametjie was ook net pas in die bad toe die aarde begin dreun en bewe. Sy het dadelik uit die bad gespring en verskrik uitgehardloop — net so kaal in die gang af! Onse vriend het ook net toevallig in die dieselfde rigting aangehardloop gekom en het later drogies opgemerk: “Gits ek wou nog die pop bekyk maar toe gaan die ligte ongelukkig uit."
Dieselfde vriend het hom later op 'n stywe draffie op straat bevind. “Waarheen gaan jy?" het een in die verbygaan aan hom geskree. “Ek weet nie," het onse vriend geantwoord, “almal hardloop dan en nou draf ek ook maar saam . ."
'n Sekere baie waardige dame, wat alleen in 'n groot huis gewoon het, het elke aand na, die aardbewing, uitgery na 'n plaas. Dan het sy sommer so in die motor op die werf geslaap. Haar bed was permanent agter in haar motor opgemaak. Die vensterruite maak sy dan toe, om sodoende lekker privaat te kan wees. Genoemde dame is ook ontsettend bang vir donderweer en die slapery op die plaas was alles goed en wel tot die swaarweer gekom het. Toe sy nou een aand weer koers kry na haar slaapplek toe, begin dit meteens te donder en te blits net toe sy uit die dorp ry! Sy draai onmiddellik om en gaan na Paulus en Mollie, met wie sy baie van haar lief en leed deel. “Kyk Paulus," sê sy aan hom “nou verstaan ek nie meer die weë van die Here nie. Hy maak nou my paaie na alkante toe. Ry ek dorp-uit, donder en blits dit so dat ek kan ineenstort en bly ek in die dorp dan bewe die aarde so dat my senuwees wil ingee. Sê jy nou vir my wat moet ek doen." Die betrokke nag het sy toe maar by Paulus-hulle oornag, en van slaap was daar vanselfsprekend min sprake .. .
By 'n ander geleentheid het sy koers gevat Prince Alfred's Hamlet toe. Daar slaap sy toe ook op die werf in die motor. Maar o wee ! die motor rittel en skud die nag allervreesliks! Met die grootste angs en benoudheid het sy die lang nag deurgeworstel — en so bitter alleen in die motor gevoel! Die volgende oggend vra sy vir die baas van die plaas of hulle ook die nag die skuddings gevoel het. Die plaasmense was baie verbaas want hulle het weer gereken dat dit 'n betreklike stil nag was. By verdere ondersoek vind hulle toe dat dit 'n ou hansvark was wat die nag sy ou logge liggaam teen die motor staan en skuur het, om van sy knaende gejeuk ontslae te raak...
Daar is kleurlinge in hierdie kontrei, wat vas glo dat die aardbewing regstreeks in verband staan met die sending van Apollo 12 na die maan. Hulle glo dat die grond wat van die maan gekom het êrens neergesit is en die grond het dan nou volgens hulle, begin groei en groei — met sulke geweldige wortels, dat dit die aarde begin losskud het! Hulle glo ook dat dit nie sal ophou skud voordat die grond weer veilig op die maan teruggesit word nie. Niks, absoluut niks kan hulle van hierdie stone laat afsien nie.. . Koekie my kok, het met stomme verbasing teenoor my opgemerk: “Weet kleinnooi, die heel snaaksste van die besigheid vir my is, dat die bome nie almal uitgeval het nie ..."
Een van die boere vra aan 'n ou kleurlingvrou hoe dit tog die nag van die aardbewing by hulle gegaan het: “Ai my baas," antwoord sy, “ons sit nog so ewe rustig in onse huisie toe beginne die tafel miteens te loop - toe kom die stoele agterna en toe ons weer sien, toe kom die potjie onder die kooi yt - kompliet of hy voetjies aanhet! ..."
Daar word hier by ons rond, vertel van die verslae groepie kleurlinge wat die nag van 29 September na die plaaswoning gegaan het en hulle baas gevra het wat se goed dan so vreeslik laag oor die huis vlieg dat die aarde eintlik beef! Die baas wat ook geen verklaring gehad het nie, het almal aangeraai om maar liewer weer die veiligheid van hulle beddens op te soek, soos hy trouens self ook van plan was om te doen. Hy het pas sy 1e gekry of 'n hewige gerommel en gedreun het weer begin. “Steek jou kop onder die kussing vrou," het hy geskreeu “die ding vlieg darem nou d. . . laag...!"
Ons het ook later verneem dat die Swartes die hele nag godsdienstige liedere gesing het — veral “Nearer my God to thee". 'n Ou Swarte in Kaapstad, so vertel hulle, het die aand nadat hulle die skok ook daar gevoel het, sy kispak aangetrek en sy koffer gepak. Hy het sy maats gegroet en die pad gevat. Toe hulle ewe verbaas aan hom vra waarheen hy dan nou op pad is, het hy geantwoord dat hy nou maar stasie toe gaan om die eerste trein na die Transkei te neem, want hy verkies om by sy vrou en kinders dood te gaan. Nadat sy maats hom oortuig het dat dit net 'n aardbewing was en dat alles seker verby is, het by sy koffer weer begin uitpak en gese: “All right, I'll give God another chance".
Ons weet van 'n tannie wat vas geglo het dat die aardbewing die oordeelsdag was! Sy het sonder meer haar man aangesê om dadelik sy nuwe pak klere aan te trek en sy self het haar nuwe borsrok en beste klere aangetrek. Toe gaan lê die twee oues weer ewe plegtig op die bed. “Kyk ou man," sê sy toe, “as dit nou wel die oordeelsdag is, moet ons darem ten minste netjies gevind word . . . !"
'n Ou egpaar het gereed gemaak om te gaan slaap. Die ou oom draai egter nog 'n bietjie rond en die tannie besluit toe om maar solank te gaan bad. Toe die aardskok kom, hardloop die ou oom val-val na die kamer — maar vind geen spoor van sy vrou nie. “Ja," sê hy hardop, “die Bybel sê mos op dié dag sal een aangeneem word, en een afgewys word! My dierbare ou vrou was darem werklik 'n goeie mens. Sy is aangeneem, en hier staan ek nou alleen."
“Toe maar jong," antwoord die ewe ontstelde tannie uit die badkamer, “ek is nog by jou.. . ."
Iets wat baie, baie opmerklik was gedurende hierdie tyd, was dat mense wat normaalweg nie veel te doen gehad het met mekaar nie, nou skielik direk van mekaar afhanklik geword het. So was daar om nou maar een geval te noem, mevrou X wat haar ou buurman nie voor haar oe kon verdra nie. Toe sy nou die nag al strompelende uit haar vallende huis probeer kom, wie staan hier om haar te help? niemand anders nie as die gehate buurman, wat haar nou 'n vriendelike hand reik. Baie mense wat vir jare in kwaaivriendskap geleef het, het die saak nou afgemaak en baie mense kan getuig dat daar etlike sulke gevalle was. Ons hoop net die nuutgevonde verdraagsaamheid en goeie voornemens sal vir altyd voortduur .. .
MENSE wat op troppe bobbejane afgekom het in die verskrikking, vertel dat baie van die diere erg vermink was soos die vallende rotse hulle beseer het. Baie van hierdie bobbejane het weggetrek na ander dele en het eers lank daarna weer teruggekom.
EIENAARS van drankwinkels het bevestig dat hulle nog nooit so baie drank verkoop het as in hierdie beproewende tyd nie. Ek glo werklik nie daar het mense verslaaf geraak nie, maar die meeste mense het net eenvoudig iets nodig gehad as dit aand word — sells mense wat normaalweg nie hulle monde aan sterk drank gesit het nie. Ook kalmeerpille was gou uitverkoop in die gebied en voorrade moes haastig aangevul word. Baie mense het egter 'n drankie bo slaappille verkies — 'n slaappil kan jou dalk te vas laat slaap wanner jy lankal moes gevlug het...!
OMDAT die jong dienspligtiges van die weermag in hierdie dae so baie vir ons beteken het, het baie mense hulle dank betuig deur een of ander eetdingetjie vir hulle te berei. 'n Klompie van ons het een aand vir hulle 'n braaivleis aangebied. En ai, het die mannetjies dit nie geniet nie. Om vir ons dankie te sê het hulle gou-gou 'n konsertjie onder mekaar gereël en met samesang het dit 'n genotvolle aandjie geword om nog lank te onthou. Hierdie jong manne se ouers kan met reg trots wees op hierdie seuns van die Republiek van Suid-Afrika. Hierdie tydjie van hulle opleiding in die rampgebied was voorwaar nie maklik nie...
Ek wil graag op hierdie stadium noem dat, ten spyte van ons ongerief, teleurstellings en ontberings, ons tog opreg dankbaar is dat hierdie ramp nie een van ons groot stede getref het nie. Dit sou 'n ontsettende chaos afgegee het. Om aan so baie dakloses herberg te verskaf sou voorwaar geen maklike taak gewees het nie — gedagtig aan die ontsettende verwarring wat daar alreeds in 'n klein plattelandse gemeenskap, soos ons s'n, geheers het.
Ons hoor daagliks stories uit ander provinsies, dat ons sommer onnodig bang is, dat ons die ontsetting van die aardbewing aandik en dat mense op die Rand feitlik daagliks sulke aardbewings kry en niks daarvan dink nie! Al wat ek hierop kan antwoord, is dat ek nie my ergste vyand so 'n angswekkende ondervinding toewens nie. En as die spotters en ongelowiges oor óns toestand, ooit eendag so 'n aardbewing van dieselfde intensiteit mag belewe, sal hulle ons volle simpatie hê.
DIE EERSTE Sondag na die aardbewing, was ons predikante weer tuis en almal het op die rugbyveld saamgekom vir 'n erediens in die opelug. Op daardie stadium kon ons dit nog nie met veiligheid in enige geboue waag nie en alhoewel ons kerksaal nog bruikbaar was, het vrees elke mens toe nog volkome beheers. Verskillende leraars van Ceres-distrik het besielende boodskappe gebring en hierdie betrokke Sondag het ds. Coetzee 'n inspirerende boodskap gelewer, na aanleiding van die volgende teks: Jesaja 29 vers 6 :”Vanwee die Here van die Leerskare sal jy in genade besoek word, met donder en aardbewing en groot gedruis, wind en storm en die vlam van 'n verterende vuur." Op ander dorpe in die rampgebied is ook by verskillende geleenthede, opelugdienste gehou.
SO omtrent 'n maand na die aardbewing van 29 September, het die meeste mense darem al weer na hulle huise begin terugtrek. Die meeste van die huise wat nog gestaan het, was vol barste, maar dit was darem nog nie lewensgevaarlik the. Ons het so gaandeweg probeer om ons vrese te oorwin, maar een ding is seker: ons het maar ligvoets deur ons huise beweeg — elke oomblik gereed om uit te spring!
Vervolg...