Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar is soveel gapende afgronde elke dag op ons pad van heiligmaking – wat ons nie eers raaksien nie! Ons blindheid veroorsaak dat ons luidkeels teen die Vaderhand wat ons daar wegruk, protesteer.
DIE AARDE HET GEBEWE! (18)
THELMA CILLIE
Die verhaal van Suid-Afrika se grootste aardbewing ooit - 1969 in die Ceresgebied.
Lees reeks by Die aarde het gebewe!
(Lees ook meer oor aardbewings by Aardbewings - teken van ons tyd)
“Aardskokke is dus geen vreemde verskynsel in Suid-Afrika nie, selfs hewiges. Skuddings van katastrofiese aard ken ons egter nie. Die patroon van voorkoms in Suid-Afrika is ook rond en bont. As iemand dus vanweë 'n aardbewing van een deel van die land na 'n ander verhuis, vergroot hy net sy kanse om dit weer in sy leeftyd te ondervind. Al uitweg is gevolglik om dit te aanvaar as 'n natuurramp nes ander natuurrampe, en om vrees daarvoor te temper met verkryging van kennis daaromtrent...”
BAIE bergbrande het weer ontstaan. Sommige van die brande het 'n week lank aangehou voordat hulle uitgewoed was, en die dynserige rookmantel wat oor die gebied gehang het, het ons van vooraf aan weer treurig gestem.
En tog, by al die teleurstellings, skyn dit dié keer asof ons die skuddings baie beter kon deurstaan as die vorige. Ons weet nou immers wat dit is wat ons tref, en ons is nie so rigtingloos en verdwaasd nie. Ons weet ook van al die skemas wat ingestel is om te help en dit troos baie.
In die dorpe gaan die bouery voort. Dit timmer en werskaf van vroeg in die môre tot laat in die aand, en te midde van al die murasies en teleurstellings, werk almal wat saamstaan met ywer en doen getrou hul deel. Ons bewonder werklik mekaar se moed en geloof .. .
DIE MENSE wat die kragtoevoer moes herstel het, het weer onverpoosd gewerk, en ons is hulle innig dankbaar vir die vermoeiende werk wat hulle met soveel ywer, in sulke moeilike omstandighede verrig het.
Die daaglikse Bybelteks wat Die Burger plaas, het my op 16 April getref. Prediker 3:11 — ,,Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd." Vir my persoonlik het dit 'n boodskap gebring wat ek so verstaan het: Die Here wil hierdie deeltjie van ons land seker 'n bietjie verander en mooier maak, op sy tyd — en ek hoop ons sal die nodige genade ontvang om te wag en te kyk en te verstaan wat sy Plan is.
ONMIDDELLIK ná die aardskok op 14 April, het die regering weer hulp en bystand beloof. Ons is innig dankbaar vir die hulp en opregte belangstelling wat ons weer eens van oor die hele land ontvang het. Dit is nie dat ons bejammer wil wees nie. 0! nee, ons wil net weet die mense dink aan ons —dit gee tog die nodige krag vir die aanhou en uithou.
Hierdie skudding het 'n groter gebied getref as die een op 29 September 1969. Die hele Wes-Kaapland het dit gevoel, asook sommige Karoodorpe — tot sover weg as Bloemfontein en Durban.
Ek troos myself op hierdie stadium met die kennis dat die aardbewing wat in1809 in die Kaap voorgekom het, vir meer as 18 maande lank met trillings opgevolg is. As ons nou almal net sover kan kom om die dinge as onvermydelik to aanvaar, sal dit stukke beter gaan.
Baie mense is nou weer terug in die veiliger tente, want ons stem almal saam dat as ons net ons nagrus ten volle kan geniet, ons weer die volgende dag met nuwe moed kan tegemoet gaan.
Die Minister van Binnelandse Sake, mnr. Lourens Muller L.V. vir die gebied, was die nag van 14 April op Ceres en het ná die skudding opgemerk dat die ervaring hom 'n beter besef gegee het van die ontberinge wat die mense in die gebied moes ly.
Mense het teen hierdie tyd, kalmer geword, en die aardbewing by verskillende name genoem. Opmerkings soos die volgende is dikwels gehoor: “Die ‘ding' stamp darem vandag weer baie", of “die ‘besigheid' was darem laasnag weer lewendig"! of “die ‘tokkelossie' loop weer". Hoe dit ook al sy, nou na meer as tien maande “loop die ‘tokkelossie' nog steeds."
DIT IS nou al die einde van Augustus 1970. Bykans 'n jaar is verby sedert die groot aardskok van 29 September, 1969 ons getref het, en ons kry nog af en toe onverwagse en redelike harde stampe! Soveel so, dat ou Toes my ou bediende nou een oggend met so 'n onverwagse skok, grootoog uit die huis gehardloop het en verskrik uitgeroep het: “Onse genade, dit was darem weer 'n gewellige skittinkie, né nôi?" — Nou ja, so staan sake nou. Ons besef maar alte goed dat ou moederaarde in hierdie kontrei nog nie sy lê gekry het nie.
Mense is nábyna 'n jaar nog steeds besig met die oprigting van tydelike huise. As tydelike huise nou nog nie klaar is nie, watter lang wagtyd lênog voor die deur, voordat die permanente wonings klaar gebou is?
Ons het ook 'n nuwe probleem. Al die bouers wat van ander plekke ingekom het bied groter salarisse vir die werksmense aan — of hulle nou bekwaam is al dan nie. Die gevolg is dat gevestigde ondernemings en boere in die gebied met 'n minimum arbeiders sit — en dit met ons vrugteseisoen om die draai.
Ons gaan egter the moed verloor nie want ons weet waar ons Hulp is.
DAAGLIKS doen stories die rondte van mense wat wil wegtrek, en vir my lyk dit asof mense wat juis nou uit die gebied wegtrek, dit net om twee redes doen. Die eerste is weens vrees. Miskien vrees vir die dood, nou ja, die dood kan ons nie ontvlug nie. En soos God bepaal het, so sal ons sterf, ons kan dit nie vryspring nie. En wie sê die dood tref ons nie juis op ons vlugtog nie?
Die tweede rede, voel ek is moontlik uit gemaksug. En, ek bedoel dit nie in die slegste sin van die woord nie, maar die mens het miskien te gewoond geword aan gemak, aan geriewe en hul mooi huise; en ons is nie bereid om 'n klompie van ons jare op te offer en weer 'n gemeenskap te help opbou nie. Sommige mense redeneer seker, waarom sou hulle dit ook nou doen as hulle op ander stil plekke 'n betrekking en 'n gerieflike huis kan bekom?
Maar wie weet, dalk word hierdie jare van heropbou nog die kosbaarste van ons lewe. Ons wat agterbly sê nietemin “voorspoed" aan alle mense wat hier weggaan weens die aardbewings, en ons sê ook ‘baie, baie dankie en welkom’aan die nuwe mense wat nieteenstaande alle ongerief en ontberings tog hierheen gekom het om ons te kom help om die lewe weer sy normale gang te laat gaan.
'n Baie spesiale dankwoord wil ons ook aan alle onderwysers en onderwyseresse rig, wat onder die moeilike omstandighede hier gebly het, asook die wat intussen hier aangestel is. Ons weet dat die omstandighede waaronder hulle werk, baie moeilik is, maar ons is dankbaar dat hulle kans sien en gewillig is om ons kinders te onderrig — dit gaan nie ongemerk verby nie.
EK KAN nie nalaat om ook van die ontberings van Tant Babs-hulle te vertel nie. Ná sewe maande van sukkel in 'n enkele kamer, het hulle besluit om maar liewer na die Strand, waar hulle 'n huis het, te verhuis. Toe hulle nou begin inpak besef hulle eers in watter erg vernielde toestand hulle meubels is. Op 'n oggend het ons by haar en haar skoondogter Marina aangekom — elkeen met 'n skropborsel besig om meubels skoon te maak. Die twee was later onder trane oor die onbegonne taak.
Ná 'n paar maande in die Strand, het hulle egter besluit: “Ons gaan terug Ceres toe." Ons is bly dat hulle weer terug is in ons gemeenskap en ons hoop van die ander mense wat weens omstandighede verkies het, of gedwing was om ons te verlaat, sal ook weer terugkom.
Op 25 April 1970 het in die Byvoegsel tot Die Burger 'n insiggewende artikel verskyn, wat ek graag hier aanhaal.
Hierdie artikel is geskryf deur dr. A. E. Schoch, lektor in geologie aan die Universiteit van Stellenbosch. Dit lui onder andere so:
“Aardskokke is dus geen vreemde verskynsel in Suid-Afrika nie, selfs hewiges. Skuddings van katastrofiese aard ken ons egter nie. Die patroon van voorkoms in Suid-Afrika is ook rond en bont. As iemand dus vanweë 'n aardbewing van een deel van die land na 'n ander verhuis, vergroot hy net sy kanse om dit weer in sy leeftyd te ondervind. Al uitweg is gevolglik om dit te aanvaar as 'n natuurramp nes ander natuurrampe, en om vrees daarvoor te temper met verkryging van kennis daaromtrent. Aan een eienskap van die aardbewings sal niemand seker ooit gewoond word nie, naamlik die skielikheid en die onverwagsheid ; voorskokke ten spyt."
Mnr. Schoch noem ook die volgende aardbewings wat in ons land voorgekom het — plek en tyd:
Plek Tyd (Mercalli-waarde, by episentrum)
Zoeloeland 10 Feb. 1938 V
Bethlehem 1 Maart 1940 V
Mosambiek 19 Mei 1940 VII
Aberdeen 13 Okt. 1940 V
Tzaneen 10 Nov. 1940 VI
Namakwaland 23 Okt. 1941
Port Shepstone 1 Nov. 1942 VII
Prieska (Doringberge) 24 Nov. 1943 V
Beaufort-Wes 28 Aug. 1944 V
Vryheid 17 Sept. 1944 V
Ladybrand 12 Nov. 1944 V
Mnr. Schoch vertel ook in die artikel van 'n interessante stukkie leesstof. Dit is 'n bulletin van die geologiese opname, beskikbaar by: Die Staatsdrukker, Pretoria teen 10c, en opgestel deur dr. L. J. Krige en B. D. Maree onder die titel; “Aardbewings in Suid-Afrika."
Van een onbeskryflike gewaarwording het ek ook in hierdie tyd bewus geword, en dit is die wonder van lig! Nog nooit in my lewe was daglig vir my so wonderlik as juis nou nie. Nadat ek met baie mense gepraat het, het ek gevind dat hulle dieselfde ondervind het. Ons almal voel maar half benoud en beangs as dit donker word en slaaptyd nader kom. Ná ons ondervindings bly die nag maar 'n verskrikking. Ons is dit almal roerend eens dat dit wonderlik is as die dag elke oggend skoon en suiwer aanbreek. Dit is asof die daglig 'n nuwe boodskap bring: kyk, dit bly nie donker nie, ná elke nag, kom weer 'n dag. Ek dink ons moet 'n loflied maak oor die wonder van daglig.
Na hierdie hewige aardbewings het sommige koerantberigte ons mense, veral bejaardes en kinders in die rampgebied, soms geweldig ontstel. Ons sal oordeelkundige bedagsaamheid ten opsigte van persberigte, altyd opreg waardeer.
DIE KLEURLINGE en baie blankes het ná die tweede aardbewing, meer as ooit tevore geglo dat die aardbewings te doen het met die Amerikaanse maansendings. Juis toe die drama van die mislukte maansending van Apollo 13 in die ruim afgespeel het, het die aardskok van 14 April ons getref!
Uit Die Burger van 23 April haal ons die volgende berig aan: “Mnr. Du Plessis en 'n aantal kleurling-arbeiders was die aand om nege-uur in die Michellspas op pad terug na Piketberg. Net toe hulle op die plek kom waar die treinspoor oor die pad gaan, het hulle iets belewe wat min mense ooit beskore was.
“Mnr. Du Plessis vertel dat hulle op 'n draai in die pas was toe die rotse skielik soos besete goed lewe begin kry en met bokspringe teen die berghelling begin afrol, bo-oor die pad tot in die dieptes van die kloof.
“Een van die tamaai rotse het hom net gemis, die tree-plank van sy vragmotor getref en met 'n donderende slag teen die agterwiel vasgeslaan.
“Dit was 'n bestiering dat die vragmotor nie oor die afgrond gestamp is nie. Toe hy dit op die rand van die pad tot stilstand bring, was die volkies agter op die bak asvaal van die skrik.
“Teen dié tyd was die hele omgewing helder verlig van vure wat oral uitgeslaan het. Soos die rotse met 'n geknetter en gedonder teen mekaar gebots het, het vuurtonge in die lug geskiet. In die helder lig het mnr. Du Plessis-hulle 'n trop bobbejane gesien wat holderstebolder oor die pad na die veiligheid van die rivier gevlug het. Verder vorentoe was 'n motor tussen vallende rotse vasgekeer — met 'n man en 'n vrou binne-in. Terwyl hy nog versteend in sy kajuit bly sit het, het mnr. Du Plessis gesien dat die vrou uitspring en teen die berghang uithardloop. Toe was alles ook verby.
“Ná die vreeswekkende oomblikke waarin die wêreld geskud het, was net die reuk van kruitdampe oor, en die lig van vure wat tot op die hoogste pieke gebrand het. Die verskrikte arbeiders het die rotse uit die pad begin rol en mnr. Du Plessis, erg geskok, kon sy reis voortsit."
DIT WAS tydens die herfs dat ek bedags, wanneer ek deur die strate gery het om my kinders skool toe te neem, gesien het hoe die beskadigde huise een na die ander platgestoot word. Massiewe stootskrapers het met 'n paar onsimpatieke bewegings die mure omgestoot en net die hope klippe en bakstene agtergelaat. Ek het daaraan gedink dat die onpersoonlike hope grond, eens op 'n tyd gesellige wonings was — waar die inwoners ook lief en leed gedeel het. Herinnerings aan ou inwoners wat ons reeds lank gelede vooruitgegaan het, is nou in die afbreekproses finaal uitgewis. Om die prentjie nog droewiger te maak het die blare ook nou al meer en meer geval. Die gedagte dat dit spoedig winter sou wees, het die vooruitsig nog droewiger gemaak — kaal bome langs verlate strate en oop ruimtes waar eens gesellige wonings gestaan het.
Op Tulbagh hoor ons het ene mnr. Norman van Gordonsbaai met die sloping van geboue gehelp. Hierdie man het dit op sy eie koste gedoen en ons is almal dankbaar vir hulp soos hierdie. Ons glo dat die Vader Self elke mens vir sy hulp en bystand sal vergoed.
Ek plaas graag hierdie pragtige briefie uit die dankbare hart van mev. J. C. van Niekerk, 'n inwoonster van Ceres, Bergsigstraat 18.
Hierdie briefie het ook in Die Burger verskyn:
“Vergun my asseblief om langs hierdie weg 'n woordjie van dank te rig aan ons regering.Vir eers vir die hulp in die vorm van tente wat so gou tot ons beskikking was ná die aardbewing van 29 September. Vir die weermagmanne wat so fluks gehelp het om die tente op te slaan en, waar nodig, selfs huisraad te help ronddra, ook dankie. Byna ses maande lank leef ons gesinnetjie toe in 'n tent, woonwa en 'n stuk kombuis — toe kon ons intrek in ons tydelike huisie.
“O, wat 'n genot was dit nie na ses maande se ontberings nie! Ek het weer elektrisiteit en kan my wasmasjien gebruik pleks van gebukkend oor die bad my wasgoed te was. Ek kan my kos op 'n groot stoof kook en nie in die versengende hitte van die somer op die woonwa se gasstofie nie.
“Toe kom die aardskudding van Dinsdag en na dié groot skrik kan ek in my asbeshuisie veilig gaan slaap en voel ek net om te sê baie dankie dat ons Regering ons so bystaan .. . en gaan ek my kruisie met dankbare hart op 22 April op die regte plek maak."
So glo ek, het menige dankbare inwoner in die gebied gevoel oor die hulp en bystand wat van owerheidsweë gekom het.
ONS HOND is doodbang vir donderweer, geweerskote en die klap van 'n sweep. As een van die gevare dreig, kies hy koers huis toe en gaan lê onder die eerste bed. Nou het die vrees vir die aardbewing nog bygekom. Die dreunings van die aardbewings maak die stomme hond se senuwees gedaan, en dit is nou net hier waar my moeilikheid weer begin. Ek weet nooit mooi, vir watter soort vrees die hond in die huis kom skuil nie. Die ou duiwel wil maar altyd dat dit nou weer 'n aardbewing is wat die hond vroegtydig aanvoel!
So het dit weer een nag gebeur dat die hond aanhoudend aan die deur kom hap en kermgeluide maak. Ons het hom laat inkom, maar hy het onrustig gebly. Hy het heen en weer in die huis geloop en allerhande ontstellende geluide gemaak. En ek het vas geglo dat daar weer 'n verskriklike aardbewing aan die kom was. Ek het so in die stilligheid planne beraam oor hoe ek sou spring, en wat ek sou gryp. Vrees het weer sy lang klam vingers om my nek geslaan en ek was geweldig bang. Ek moet my dogtertjie ook nog gryp, het ek gedink . . . en sê nou, as ons na die motor wil vlug het die motorhuis se dak dalk daarop ingeval? het ek getwyfel.
Ek was later so gespanne soos 'n staalveer en die geringste geluidjie het my nog meer onrustig gemaak. Ek dink nog hoe ek ook moet onthou om 'n kussing op my kop te sit, ingeval iets op my kop sou val as ek moet uithardloop!
Die hond het my byna gek gemaak.
Moeg van spanning en totaal uitgeput, het ek later 'n sterk wind hoor opkom en omtrent 'n halfuur later, die onmiskenbare plofgeluide van die eerste reëndruppels wat op die dak val. Dit het harder en harder geword, totdat 'n hemelse bui uitgesak het — soos net die ou Boland kan - en 'n groot dankbaarheid het die vrees in my hart verdring. Malan het angstig na my geroep om te hoor of ek wakker is, sodat ons die wonder van die langverwagte reën saam kon geniet. Hy was salig onbewus daarvan dat ek reeds die helfte van die nag wakker gelê het met angs as my enigste metgesel.
Ek vergewe gewilliglik ons ou hond sy optrede! Hy het ons maar net op sy opregte honde-manier kom vertel dat reën oppad is, na die onrusbarende droogte wat in hierdie gebied geheers het.
Hoe dankbaar was ons nie oor die wonderlike uitkoms van die reën nie!
Niemand het nou regtig meer omgegee vir die ongerief van lekkende huise nie, want 'n nuwe belofte het voor die deur gelê. Ons kon nou ploeg en saai en plant, want die reën het gekom en daarom kan ons weer ons hoop op 'n belowende oes vestig.
As ons waarlik ontvanklik sou wees vir die leed en verliese wat al in ander wêrelddele veroorsaak is deur aardbewings, kan ons nie anders as om dankbaar te wees dat ons land nog so selde geteister is nie.
Hier volg 'n uittreksel uit 'n artikel wat op 4 Oktober 1969 in Die Burger verskyn het. Die getalle by elke land aangegee is die aantal mense wat omgekom het tydens die aardbewing in die betrokke lande:
1920 in China 180,000 mense.
1923 in Japan 143,000 mense.
1902 in Martinique 30,000 (na aardskudding en uitbarst van die vulkaan Pelee.)
1908 in Sicilie 77,000 mense op dieselfde manier
1915 in Sentraal-Italie 30,000 mense op dieselfde manier 1932 in China 70,000 mense op dieselfde manier. 1935 in Indie 60,000 mense
1939 in Chili 30,000 mense
1939 in Turkye 23,000 mense
1960 in Marokko 12,000 met vloedgolf en aardbewing. 1962 in Persie 11,000 mense.
1968 in Persid 20,000 mense
Hulle is almal “kleintjies" teen die wêreld se grootste bewingramp wat in die jaar 1556 altesame 830,000 Chinese laat sterf het.
En dit is maar net 'n klompie grotes. Hoeveel kleintjies is daar nie waarin minder as duisend mense gesterf het nie. Nee, Suid-Afrika is voorwaar gelukkig . .
Die aardbewing wat aan die begin van Junie 1970 in Peru voorgekom het, het 'n dodetal wat die 40,000 kerf oorskry het veroorsaak. Mense is ná hierdie aardbewing begrawe onder lawines; duisende het verdrink as gevolg van oorstromings en ander is weer dood aan siektes aangesien hulle uit radeloosheid besoedelde water begin drink het. Nagenoeg 200,000 mense is in die ontsettende ramp dakloos gelaat en moes bittere koue trotseer. Geen mens kon hom werklik indink in die verskriklike tragedie nie.
Ons lees ook in Die Burger van 4 Junie van verskeie groot massasterftes van mense:
“In China het in die jaar 1887 na raming 900,000 mense omgekom nadat die Hwang-ho-rivier oorstroom het.
“Op 8 Oktober, 1881 het 'n sikloonwind en reënstorms Haiphong in Noord-Vietnam 300,000 lewens geëis — byna net soveel as wat die Amerikaners tot dusver in die Vietnamese oorlog doodgeskiet of gewond het.
“Van Februarie 1877 tot September 1878 het 9,500,000 mense in Noord-China van honger gesterf.
“Die Swart-dood (pestilensies) van 1347 tot 1351 het die lewe van 75 miljoen mense geëis. Die wêreldwye griepepidemie van 1918 het 21,640,000 lewens geëis.
“Ons het die ontsetting van die vloedramp in Oos Pakistan, wat tydens November 1970 voorgekom het, nog vars in die geheue. Amptelike berigte lui dat meer as 500,000 mense in hierdie vloedgolf gesterf het, en nie-amptelik word geskat dat die dodetal miskien 2,000,000 kan oorskry."
As ons van al hierdie verskriklike dinge hoor, en ons luister na die kleinlike murmurering en ontevredenheid van ons eie mense in hierdie rampgebied, oor tydelike verliese, verstout ek my om te sê dat ons die woordjie ,dankbaarheid" in sy volle betekenis heeltemal verloor het, op die pad van voorspoed en gemaksugtigheid.
Ek dink ons moet die betekenis van die woordjie weer gaan soek — en gou ook. Ons moet weer leer om werklik dankbaar te wees sodat ons die werklike betekenisvolle dinge in die lewe kan waardeer. Ons moet weer leer om ons seëninge te tel.
Wie is ons, hier aan die Suidpunt van Afrika, dat ons nie ook deur so 'n ramp getref mag word nie? — wat is ons miskien beter as ander? Ons is tog deel van een groot Skeppingsplan.
Kom laat ons, ons in alle ootmoedigheid al laer buig voor die Almag van God, en ons hande in volle oorgawe in sy Hand lê. Laat ons in vaste vertroue die onbekende pad verder bewandel, want “Hy maak selfs die duisterste duisternis weer lig."
Vervolg...