Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Here, gee dat ons kinders verby ons as ouers sal kyk en saam met ons 'n hemelse Vader sal raaksien wat 'n Herder is vir sy kudde en hulle lei na waters waar rus is.
EGTE STAAL
GOD BETAAL GOED
Hierdie wonderbaarlike ondervinding het in die vroeë Christelike lewe van C D Hedstrom plaasgevind. Hy het ‘n vooraanstaande Christelike sakeman in Chicago geword en mens kan maar net die Here dank vir die getuienis van so 'n man:
Op ‘n dag het ‘n dame die skoenwinkel waar ek werksaam was, binnegekom en skoene aangepas. Sy het op ‘n paar besluit, en toe ek haar die pakkie oorhandig, vra sy my watter nommer dit is. “Nommer 8, “ het ek gesê, waarop sy met ergernis sê dat sy nie so’n groot nommer dra nie.
“Wel, watter nommer dra u dan?” wou ek weet, en haar antwoord was: “Nommer 5.” “ Wel, ek kan u ‘n nommer vyf gee," het ek gesê, maar sy het geweier en wou dit nie neem nie. “Hulle pas mooi,” het sy gesê, “en hulle is die styl waarvan ek hou, maar onthou, jong man, ek dra nie so ’n nommer soos daardie nie.”
Sy het uitgestap en my daar laat staan met die pakkie skoene in my hand, en net op daardie oomblik kom die baas daar in.
“Wat makeer? Kon jy haar nie help nie?” het hy gevra. Ek het hom vertel wat plaasgevind het, en toe vra hy waarom ek haar nie liewer vertel het dat dit ‘n nommer vyf was nie.
“Omdat ek ‘n Christen is en nie leuens kan vertel nie.”
“Dan is jy nou afgedank!” het hy uitgeroep. “Ons kan nie gebruik maak van mense wat nie soms ‘n leuen kan vertel ten einde iets te verkoop nie.”
Die trane het oor my wange geloop terwyl ek hom vertel van ‘n siek moeder wat van elke sent van my salaris afhanklik was, en hom gevra het of ek bo na die voorraadkamer kon teruggaan en weer as voorraadklerk kon werk.
“ Ja, ek sal jou toelaat om daar te werk, maar jy sal met jou vorige klein salaris tevrede moet wees.”
Dit was een van die treurigste dae van my lewe. Tot vandag toe werk dit nog soos ‘n soort van nagmerrie as ek terugdink aan daardie hartverskeurende oomblik toe ek my verkoopboek oor die toonbank oorhandig, terwyl al die ander klerke my in hierdie oomblik van ongenade staan en aankyk, sommige met ‘n uitdrukking van genoeë op hulle gesigte.
Toe ek by die boekafdeling verbyloop, val my oë op ‘n advertensie van Sheldon se nuwe boek: “In sy voetstappe, of wat sou Jesus doen?” Ek het geweet wat Jesus sou gedoen het. Hy het dikwels in die berg tot sy Vader gaan bid, dus het ek besluit om dit ook te doen. Ek het met die hysbak na die boonste verdieping gegaan, die deur van die voorraadkamer agter my gesluit en daardie namiddag op my knieë met God geworstel. Ek het met God geredeneer dat dit per slot van rekening nie betaal nie. Hier het ek probeer om eers die koninkryk van God te soek, maar daardeur my werk verloor. Dit het nie betaal om ‘n Christen te wees nie. As ek die duiwel gedien het, sou ek my werk behou het, en so meer.
Maar voordat ek van my knieë opgestaan het, was daar oorwinnng in my siel en het ek aan God gesê: “Ek verstaan dit nie, maar ek glo u beloftes is waar. Ek sal U vertrou, alhoewel ek dit nie nou kan sien nie.”
Die wandeling huis toe daardie dag was baie somber. Ek het by die agterdeur ingegaan, saggies by die kombuis en by moeder verbygeloop na my kamer en die deur agter my toegemaak.
Moeder het dit vreemd gevind ek haar nie soos gewoonlik gegroet het nie en agter my aangekom. Sy wou weet of ek siek was, of ek iets makeer het, of ek my werk verloor het. Ek het al die vrae probeer ontwyk, maar op die ou einde het ek haar meegedeel wat daar plaasgevind het. Sonder om ‘n oomblik te aarsel, het sy gesê: “Kom ons kniel hier neer en bid.”
Nooit sal ek daardie oomblik van gebed vergeet nie. Moeder het met haar liefdevolle arms om my geslaan, daardie arms wat my, toe ek klein was, so teer rondgedra het; en daardie hande wat hard en vereelt geraak het in haar sorg vir my, het my betraande gesig aangeraak terwyl sy bid:
“Here God ek dank U vir my seun wat ek met my hele hart bemin, en vir die liefde wat hy vir hierdie onwaardige moeder bewys deur vroeg op te staan en elke oggend en aand daardie myle te stap. En nou het hy daardie werk waarmee hy so gelukkig was, verloor. Maar Here Jesus, ons kan sonder botter op ons brood klaarkom en minder vleis eet, solank as my seun net vir Jesus liefhet.”
Dit is die soort moeder om te hê!
Twee jaar later is die baas op diefstal betrap en in die pad gesteek. Iemand moes dadelik in sy plek aangestel word totdat ‘n permanente aanstelling gedoen kon word. Sonder dat ek iets van die saak geweet het, is ek na die kantoor ontbied en daar het die hoofbestuurder my gevra: “Is jou naam Bennie?”
“ Ja, Meneer.”
“ Hoe oud is jy?”
“ Negentien,” het ek gesê.
“ Hoe lank is jy al in hierdie kontrei?”
“ Sewe jaar,” was my antwoord.
“ Al ooit in die pad gesteek?”
“ Ja, twee maal.” (Ek het gedink hy gaan my vir die derde keer uitskop).
“ Eenmaal omdat ek nie op Sondag wou werk nie, en die ander keer omdat ek nie ‘n leuen wou vertel in verband met die nommer van ‘n skoen nie.”
Hy het my hand gevat en ek sien nog die glimlag op sy gelaat.
“Ek hou van jou, jong man,”
Toe vertel hy my wat daar plaasgevind het.
“ Jy is te jonk vir so’n verantwoordelike posisie, en buitendien het jy nie die behoorlike opleiding gehad nie, maar ek hou van jou durf en beginselvastheid. Ek sal jou ‘n maand op die proef stel, of tot ek die regte bestuurder vind. Kom môre af in jou beste pak klere en wit hemp en boordjie, want van môre af sal jy bestuurder van die skoenafdeling wees.
Hier was ek, die jongste skoenkoper wat Staatstraat ooit gehad het, aan die hoof van sowat honderd en twintig klerke. Hierdie pos het ek sowat twee jaar beklee, maar as gevolg van oorwerk en aandstudies om my as ‘n uitvoerende amptenaar te bekwaam, het ek ‘n ernstige kwaal opgedoen wat dit vir my nodig gemaak het om binnenshuise werk te laat vaar. Toe die beamptes van hierdie groot inrigting daarvan hoor, het hulle dit vir my moontlik gemaak om ‘n buitemuurse werk te kry by ‘n bekende groothandelsaak, en wel met dieselfde salaris wat ek as koper en bestuurder ontvang het.
Toe ek die pos as handelsreisiger aanvaar het, het ek by die Gideons aangesluit en op ‘n Sondag het ek by geleentheid van ‘n aanddiens onder leiding van hierdie beroemde organisasie van Christelike handelsreisigers my storie vertel.
* * *
Vyf en twintig jaar later was twee dames in my winkel besig om skoene aan te pas toe een van hulle my vra watter nommer dit was. Toe ek haar die nommer noem, het die ouere van die twee gelag. Op my vraag waarom sy lag, het sy my vertel dat sy nooit in ‘n skoenwinkel kom nie, of sy dink aan ‘n voorval jare gelede toe sy in ‘n diens ‘n jong man hoor vertel het hoe hy sy werk as verkoper verloor het omdat hy nie oor die nommer van ‘n paar skoene wou lieg nie.
“Onthou u die naam van daardie kêrel? “ het ek gevra.
“Nee, ek het dikwels gewens dat ek dit geweet het, want ek wil so graag weet wat van hom geword het.”
Ek het haar nog ‘n paar vrae omtrent die kêrel gevra – hoe hy gelyk het en so meer, en toe reguit gevra: “Sou u hom graag wou ontmoet?”
“Alte seker, want ek wil so graag weet wat God sou doen met so ‘n persoon.”
“Wel, mevrou, hier is hy.”
Hierdie ouerige dame het my met verbasing aangekyk, veral ook miskien omdat sy al baie jare ‘n kliënt van my was; en toe, sonder om haar aan die ander mense in die winkel te steur, het sy haar bril afgehaal, en terwyl sy haar trane afvee, het sy haar hart in danksegging voor God uitgestort:
“Here God, U weet dat ek, vandat ek hierdie man se getuienis gehoor het, elke dag vir hom gebid het, en U het my gebed verhoor. U het hom selfs meer geseën as waarvoor ek gewaag het om te bid. Hier besit hy twee pragtige winkels, ‘n gawe gesin en huis, en hy is gelukkig in diens van die Koning. Dit is beslis voordelig om ‘n Christen te wees.”
My vriende, hier was een van God se heiliges wat vir my ingetree het, en God het haar gebed verhoor.
Laat my u iets vertel: Gestel dat daar geen hel was om te vermy en geen hemel om te verkry nie. Gestel dat die graf die einde van alles was, dan hou ek nog vol dat die Christelike lewe die beste lewe is om te lei, want God betaal goed, hier sowel as in die hiernamaals.