Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Solank daar nog hoop is, is dit net 'n lafaard wat moed opgee; hoop is 'n droom wat altyd aanhou al is ons wakker want dit word gebore daar waar mens bo jou eie wanhoop uitstyg.
'N GOD VAN ORDE
Ds A.E. van den Berg
“En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hul woonplek vasgestel het” (Hand.17:26)
Paulus skryf aan die Korintiërs dat God nie ’n God van wanorde is nie, maar van orde. Derhalwe word dit wat met Hom te doen het aan ordelikheid gekenmerk: “Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan” (1:14:40). Ordelikheid onderskei 'n Christen-regering van 'n heiden-regering waar wanorde gereeld aan die dag is. Suid-Afrika is ’n sprekende voorbeeld hiervan.
Toe ons ’n Christen-grondwet gehad het, was daar orde. Toe dit afgebreek is, was wanorde onafwendbaar. Die hoë misdaad-syfer en verval getuig in geen onduidelike taal daarvan. 'n Christenvolk word nie van buite af vernietig nie; slegs as hy sy Bybelse beginsels prysgee en dan onafwendbaar sy geestelike krag verloor. Dit gaan nie of God aan 'n volk se kant is nie, maar of hulle aan sy kant is.
Bybelse beginsels is die enigste rots waarop 'n volk onwankelbaar kan staan. Om voorspoedig te wees, moet 'n volk aan God se beginsels vashou. Die Bybel het vir die vooruitgang van beskawing gesorg en is derhalwe ook 'n gids vir die toekoms.
Die Bybel leer dat God ’n God van orde is. Kyk hoe planmatig en ordelik die skepping verloop. Die eerste dag het God dag van nag geskei. Op die tweede dag het Hy die hemel en die aarde geskep. Op die derde dag plante en bome ens. Die refrein lui deurgaans “En God het gesê: Laat dit so en so wees… en dit was so”.
God se orde is die marsmusiek vir die mensdom.“Die Here kyk van die hemel af; Hy sien al die mensekinders. Uit sy woonplek aanskou Hy al die bewoners van die aarde. Hy wat die hart van hulle almal formeer, wat let op al hulle werke” (Ps.33:13-15). Ordelike mense geniet God se orde. Onordelikes verag dit.
God se orde wil mense ’n gehalte lewe laat geniet en is net moontlik as hulle in vrede met mekaar leef. Waar dit ontbreek, heers wanorde. God sorg vir vrede deur onder andere skeidingslyne tussen mense te stel. “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hul woonplek vasgestel het” Goeie grense maak goeie bure!
In Hand.17 staan Paulus op die Areopagus in Athene, ’n graniet-rots aan die voet van die Parthenon wat as 'n klip-verhoog vir wysgeers gedien het. Athene was destyds ’n mengelmoes van verskillende volke. Alexander die Grote het tevore ’n reënboognasie daar probeer vestig maar lelik misluk. Sy proefneming het lelik misluk omdat dit gou te bedompig in die parskuip van gedwonge saambestaan geword het.
Gedwonge volksvermenging is net so ongewens soos 'n gedwonge huwelik. 'n Reënboognasie huisves altyd 'n reënboog van booshede soos wat Alexander die Grote te laat agtergekom het. Hy is op jeugdige leeftyd vergiftig!
Toe Paulus in Athene kom, was die stad besig om te ontaard. Daar was nie goeie orde nie. Paulus het die geleentheid aangegryp om van Jesus te getuig en het die stadsbewoners op hul misgissing gewys – uiteenlopende volke kan hoogstens naasbestaan, maar nooit saambestaan nie. Grense bring vrede.
Satan haat grense omdat dit orde in 'n samelewing skep. Daarom stook hy wanorde sodat sy handlangers oor mense kan heers. Waar grense verwyder is, volg wanorde. Laat dit 'n les wees – wie met God se skeppingsorde peuter, betaal ’n duur prys!
Satan gebruik booswigte om God se orde in die wiele te ry. Die verhaal van die toring van Babel (Gen.11) is ’n treffende voorbeeld hiervan. Na die sondvloed kry Noag die opdrag om te vermeerder en oor die aarde te versprei. Nimrod, die booswig-koning van Babel staan dit teen. Met die bou van die toring sê hy vir God: “Ons sal nie versprei nie! Ons sal bymekaar bly. Geen grense vir ons nie!”
Nimrod word in Gen.10 die eerste geweldenaar op die aarde genoem. Geweld en wanorde is stal-maats waar God se orde verag word. Let op die geskiedenis; baie lande wat God eens geëer en kultuur-grense gehandhaaf het, het in wanorde verval toe hierdie grense afgebreek is.
Mense het reeds vroeg geleer dat grense onderlinge vrede bring. Abraham en Lot se huishoudings het by geleentheid gebots. “Toe sê Abram vir Lot: Laat daar tog geen twis wees tussen my en jou…. ons is mos broers” (Gen.13:8). Toe hulle van mekaar skei, was daar onmiddellik vrede. Twee families in een huis deug nie. Nee, elkeen in sy eie huis. Nie saambestaan nie, maar naasbestaan!
Ongeveer 500 jaar later skryf Moses op bevel van God hieroor. Die opskrif van Deut.32 lui: “Die lied wat Moses op bevel van God voorgedra het.” Vers 8 lui: “ Toe die Allerhoogste aan die nasies ’n erfdeel gegee het, toe Hy die mensekinders van mekaar geskei het, het Hy die grense van die volke vasgestel”. God het baie ernstig met Israel gepraat en sy heilige orde vir 'n vreedsame lewe herbevestig – nie 'n Babelse mense-eenheid nie, maar ’n God verheerlikte afsonderlikheid.
Jesus sê in Joh.10:16: “Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, ’n hulle sal na my stem luister en dit sal wees een kudde, een herder”. Dis nie nodig om die heining te verwyder om vir jou bure lief te wees nie.
Toe Moses die lied in Deut.32 voorgedra het, was Israel op die punt om Kanaän binne te gaan; 'n land wat ’n kookpot van duiwelskunste en allerlei gruwels was. Israel kon maklik in hierdie kookpot van onheil beland en deel van ’n heidense staatsbeleid word. Daarvoor sou Israel haar eiesoortigheid moes prysgee en deel van ’n potjiekos volkesamestelling word. God se orde moes verdwyn!
In Hand.17:27 staan iets belangrik: “ ...sodat hulle die Here sou soek”. Afsonderlike nasies (nasionalisme) soek God. Saamgeflanste nasies (internasionalisme) soek die mens. Let op internasionale klubs – alles draai om die mens. Geeneen van hulle is Christus-gesentreerd nie. Internasionalisme vereer die mens en word dikwels die voorland vir wanorde. Paulus waarsku die Atheners baie ernstig daarteen.
Ongelukkig het internasionalisme die kerk van die laaste dae binnegedring en word ekumenisme genoem; “striving towards church unity” – presies wat die Antichris wil hê! Talle kerke het al in hierdie strik getrap en die goeie orde wat jare lank in hul midde geheers het ter wille van internasionale kerklike aanvaarding laat vaar.
Dit is die mooi naam van vernuwing gegee om die indruk van geestelike vooruitgang te skep terwyl dit in werklikheid tot ontwrigting gelei het. Die grootste verdeeldheid word mos altyd in huise gevind wat in hulself verdeel is. So ook in kerke. Die Gees van God kan nooit werk waar verdeeldheid heers nie.
Satan het al talle eens rustige groen weivelde in twis-arenas verander wat kuddes uitmekaar laat spat het. Dit het in ons land gebeur waar die staatkundige opset onverstaanbaar en die kerklik opset onverklaarbaar geword het.
God wou nooit gehad het dat Suid-Afrika 'n smeltpot word waarin alle rasse moes verdwyn nie. Dit moet eerder 'n mosaïek van verskillende volke met verskillende kulture wees wat God saam dien; verskillende stalle; onder een Herder verenig soos Jesus dit so duidelik in Joh.10 stel.
Die erkenning van veelvolkigheid – God se skeppingsorde en gevolglik die enigste oplossing op 'n vasteland waar mense se waardes grootliks van mekaar verskil. Al is ons almal in dieselfde bak geknie, is ons nie almal in dieselfde oond gebak nie. Gevolglik bedreig rasseskeiding geen wêreldvrede nie, maar bevorder dit eerder. Moet jou nooit vir jou Bybelse beginsels skaam of iemand laat wonder waar jy in hierdie heiden-bewind aan die suidpunt van Afrika staan nie. Hou aan jou Bybelse beginsels vas soos 'n drenkeling aan 'n plank!