NUUTSTE BYDRAES

Gedagtes vir elke dag

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

Niemand is nog ooit vereer vir wat hy ontvang het nie, maar vir wat hy vir ander gedoen en gegee het.

GENERAAL KOOS DE LA REY

ONS EIE HELDE

Lees reeks by Ons eie helde

Dr JP Botha

Ek is op 22 Oktober 1847 op die plaas Doornfontein in die distrik Winburg gebore.  Toe ek ongeveer 'n jaar oud was, het my ouers na die plaas Welverdiend in die distrik Wolmaransstad verhuis.  Formele skoolonderrig was in daardie dae maar skaars, maar my goeie ouers het gesorg dat ek en ons ander kinders 'n goeie opvoeding ontvang.

In 1876 het ek, Jacobus Herculas de la Rey in die huwelik getree met Jacoba Elizabeth Greeff.  Sy was by almal bekend as "Nonnie".
Sy was 'n liewe en baie deugsame vrou, wat my deur my hele lewe heen, deur dik en dun, dwarsdeur die gevaarlike tye van die Engelse oorlog en daarna, bygestaan en onderskraag het.

As 'n jong avonturiër het ek op 18-jarige ouderdom in die Vrystaat gaan deelneem aan die tweede Basoeto-oorlog, toe alreeds in die hoedanigheid as veldkornet.  Dit was die begin van my kontak en saamleef met militêre aangeleenthede, want in 1876 was ek weer veldkornet in die oorlog teen Sekoekoenie en tydens die Eerste Vryheidsoorlog het ek vir generaal Piet Cronjé gehelp om die Engelse fort op Potchefstroom te beleër.  Ek het toe al gesien dat 'n beleg 'n nodelose tydverspilling kan wees.

Ek en Nonnie het in die jare voor die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog baie gelukkig met ons kinders op ons plaas, 'n entjie uit Lichtenburg gewoon.  Ek is in 1885 tot kommandant vir Lichtenburg gekies, maar het hierdie amp weer in 1893 neergelê toe ek lid van ons Republiek se Eerste Volksraad geword het.

Dit was 'n onrustige en spanningsvolle tydvak na die aanloop van die oorlog, waarin die geskree van die uitlanders teen ons regering daagliks opgeklink het en Jameson in 1896 'n mislukte poging aangewend het om die Republiek te verower, terwyl die dreigende oorlogswolke meedoënloos op ons gesigseinders al nader gerol het.

Tydens 'n noodvergadering van die volksraad was ek verbaas om waar te neem met watter geesdrif die meerderheid van die lede hulle ten gunste van 'n oorlogsverklaring teen Engeland uitspreek.  My standpunt was dat ons nie gereed was vir so 'n oorlog nie en alles moet probeer om dit af te wend.  Toe hulle my oor my standpunt kwalik neem en daarvan beskuldig dat ek dan onwillig sou wees om vir my land te veg, het ek geantwoord dat as daar oorlog kom, sal baie van hulle lankal gehensop het, terwyl ek nog sal voortveg.  Snaaks, hierdie voorspelling van my is later in 'n groot mate bewaarheid.

Die onvermydelike oorlog het op 11 Oktober 1899 uitgebreek en generaal PA Cronjé is benoem as opperbevelhebber van die wesfront en ek is aangestel as sy militêre adviseur.  Ek het uit die staanspoor besef watter groot militêre voordeel ons kon behaal indien alleen klein burgermagte by die verskillende punte gelaat word waar Engelse troepe saamgetrek het.  Ons hoofmag kon dan vinnig die aankomende vyand tegemoettrek en stuit.  Ek het vir generaal Cronjé aangeraai om net 300 man by Mafeking te laat om Baden-Powell in toom te hou en met sy hoof krygsmag voort te trek na Veertien Strome.

Hiervan wou Cronjé niks weet nie.  Hy wou die vyand in Mafeking vernietig en het geglo dat hy daarvoor 'n groot mag nodig het.  Blykbaar het hy gemeen dat hy nie my raad as militêre adviseur nodig het nie, want hy stel my toe aan as veggeneraal en beveel my om onmiddellik met 800 burgers in 'n suidwestelike rigting te vertrek om die 1 000 Engelse by Kraaipanstasie te gaan aanval en die treinspoor op te breek.

Ek het met my kommando reeds vroeg die middag van die 12e die spoorwegstasie en winkel by Kraaipan bereik, maar alles verlate aangetref.  Die troepe het die vorige dag na Mafeking teruggetrek.  Ons het die treinspoor opgebreek en die telegraaflyn geknip.

Daardie nag het 'n gepantserde trein vanaf Vryburg opgedaag en op die stukkende treinspoor ontspoor.  Ons het die trein en sy bemanning aangeval en oorrompel en 'n waardevolle buit gemaak wat bestaan het uit twee kanonne, 'n maxim, gewere en patrone en liddietbomme.  Ek het die buit en 28 blanke en 13 swart krygsgevangenes die volgende dag na generaal Cronjé gestuur en self weer met my kommando na Mafeking teruggekeer.  Die skermutseling by Kraaipan was die eerste botsing in die oorlog met die vyand, waardeur Mafeking van die suide afgesny is.

Generaal Cronjé se krygsraad het op 17 Oktober besluit om my met die kommando's Lichtenburg en Wolmaransstad na Vryburg te laat opruk.  Drie dae daarna was ek reeds op pad met 1 200 man, twee Krupps en een bom-maxim en na 'n moeilike tog deur 'n droë streek, het ek Vryburg die oggend van 21 Oktober binnegetrek en die Vierkleur gehys.  Die plek was feitlik verlate want die Engelse garnisoen het betyds na Kimberley gevlug.

Van Vryburg af is ek met my kommando verder suidwaarts af na Taungs en daarvandaan na Warrenton.  Die Engelse garnisoene van hierdie plekke het almal in Kimberley gaan veiligheid soek.  By ons aankoms in Kimberley het ek by die Vrystaatse magte onder hoofkommandant Wessels aangesluit, om met my kommando aan die dorp se westekant stelling in te neem in die beleëring van die plek.  Na 'n paar skermutselings en pogings om hierdie Engelse vesting deur bombardering tot oorgawe te dwing, het ek daarvoor keelvol geraak, want ek het geweet dit lei tot niks en is op sy beste maar net 'n verkwisting van kosbare tyd en van ammunisie.  Die Engelse was besig om met 'n oorweldigende mag uit die suide aan te ruk met die doel om Kimberley te kom ontset en dit sou veel beter wees om hulle tegemoet te trek en te probeer stuit, as om by Kimberley te sit en wag dat kolonel Kekewich en sy garnisoen moes oorgee.  Daarom het ek met 600 man op 22 Desember suidwaarts beweeg in die rigting van die Oranjerivier.

Toe ek 'n dag later by Graspan aanland, het lord Methuen met sy 10 000 soldate pas slag gelewer teen kommandant Jacobus Prinsloo se Vrystaters te Belmont in 'n nagaanval en die onervare Prinsloo en sy burgers teruggedryf.  Omdat Prinsloo voor die groot oormag moes wyk, het die Engelse die geveg by Belmont as 'n groot oorwinning vir hulself beskou en blykbaar hul verlies van 100 gesneuweldes en 200 gewondes van geen belang geag nie.

Ek het die bevel oorgeneem oor ons gesamentlike burgermag hier in die suide, wat nou uit ongeveer 2 000 man bestaan het.  Methuen het gedink dat hy hier by Graspan met net 400 Boere te doen het, toe hy met sy groot mag na Kimberley probeer aanstoot.  My burgers het sy pad versper in stellings teen 'n koppie wat hy eers sou moes verower voordat hulle kon verder trek.  Ons het sy honderde voetgangers wat die koppie moes storm, aan 'n moordende Mauservuur onderwerp, maar uiteindelik moes ons die wyk neem, want die oormag was te groot en ons koppie is letterlik deur die Engelse kanonne aan die brand geskiet.

Die geveg hier by Graspan het die Engelse 'n verlies van 200 dooies en gewondes gekos.  Ek was nie met die verloop van hierdie slag tevrede nie.  Die Engelse was nou op pad na die Modderrivier en die laaste geskikte verdedigingstellings wat ons kon beman om hulle te keer, was 'n rantereeks by Magersfontein, maar net 20 kilometer vanaf Kimberley.  Maar toe ek die terrein daar ondersoek, het ek besef dat ons tot dusver weens verkeerde krygstaktiek misluk het om die vyand te stuit.  Ons het altyd die hoogste koppies en rantjies beset waarvandaan ons die aankomende vyand op die vlakte aangedurf het en gewoonlik 'n betreklik sigbare skyf gevorm het vir hul  artillerie-  en kleingeweervuur.  Toe ek die hoë walle van die droë rivierbedding by die samevloeiing van die Modder- en Rietriviere bemerk, het ek besef watter uitstekende stellings dit sou wees indien ons manskappe hul hier op die vlakte in en voor die rivier ingrawe en die vyand verras, want hulle sou maar weer soos gewoonlik ons daar oorkant in die ruie koppe verwag.

Intussen het generaal Cronjé met die kommando Potchefstroom hier by ons aangeland, nadat president Kruger hom beveel het om Mafeking te verlaat en ons te kom help.  Hy het my voorbereidsels vir die komende botsing met die Engelse maar bra wantrouig gadegeslaan.  Ons het besluit dat ek en Prinsloo met ons manne die stellings al langs en in die rivier sal beman en generaal Cronjé het ingestem om met sy kommando buite om te beweeg om te verhoed dat die vyand ons omvleuel en insluit.

Dir Engelse was salig onbewus van ons teenwoordigheid hier by die Modderrivier, of ook genoem Tweeriviere.  Lord Methuen het sy duisende tommies beloof dat as hulle fluks aanstoot na Kimberley toe, kan hulle Dinsdagmôre, 28 November hulle ontbyt onder die skaduryke bome langs die Modderrivier gaan geniet.

Ons ingegraafde stellings het oor ongeveer 10 kilometer langs die rivier gelê.  Toe die vyand binne trefafstand kom, het ons op hulle begin vuur.  Hulle was seker onder die indruk dat dit maar net 'n paar verdwaalde skote van 'n vlugtende Boerepatrollie was, want die groot massa voetgangers het maar nog nader geskuif.  Toe het die vernietigende vuur van ons Mausers en die gebulder van ons kanonne hulle tot stilstand geruk en na skuiling laat soek wat gladnie volop was nie.

Die verwoede geveg het die heel voormiddag voortgeduur.  Ek het agter ons stellings heen en weer gery om ons burgers aan te spoor.  My seun Adriaan was by my.  In die middag bars daar 'n bom bokant ons en ruk ons altwee grond toe.  'n Skerf daarvan het my 'n pynlike wond in my skouer besorg, maar my seun is noodlottig getref.  Ek het hom na die hospitaal te Jacobsdal vervoer, waar hy in my arms gesterf het.  So 'n gebeurtenis skeur diep in die hart van 'n ouer.

Onderwyl ek besig was om die dag daarna my kind op Jacobsdal te begrawe, het generaal Cronjé, wat gedurende die slag geen vinger verroer het om ons in die geveg te ondersteun nie, bevel gegee dat ons stellings hier by Tweeriviere ontruim moes word en dat ons hele burgermag na Magersfontein moes terugval.  Hieroor was ek baie teleurgesteld.  Ons het lord Methuen se magte by Modderrivier 'n gedugte neerlaag besorg en hom teruggedryf.  Waarom moes ons uitstekende stellings ontruim word, waarvandaan ons die vyand nog verder kon terugslaan?  Lord Methuen het 'n verlies van bykans 500 gesneuweldes en gewondes gely, terwyl ons s'n maar ongeveer 50 beloop het.

Generaal Cronjé het ons kommando's na Magersfontein laat terugtrek met die doel om hulle in die nabygeleë rantjies in te grawe en die Engelse hier op hulle pad na Kimberley in te wag.  Toe hy weier om van hierdie plan af te sien en op my raadgewing ons stellings op die vlakte onderkant die rante in te rig, het ek vir president Steyn gevra om ons te kom besoek.  Hy het gekom en die saak ondersoek en toe vir Cronjé beveel om my plan uit te voer.

Ek kon toe die nodige voorbereidsels tref vir die komende botsing met Methuen se hordes en het 'n aantal verskansings laat grawe aan die voet van 'n reeks rantjies en die kop by Magersfontein, naby die spoorlyn waarlangs die groot Engelse mag moes beweeg.  Ons verskansings het oor 'n goeie 20 kilometer afstand gestrek, om die gevaar van oorvleueling deur die vyand te verhoed.

Methuen het blykbaar die les wat ek hom by Tweeriviere geleer het, al weer klaar vergeet, want hy het die Boere weer in die rante verwag en nie hier onder op die vlakte nie.  Toe hy sy groot en lomp opmars in die nag op 10 Desember by Modderrivier begin, het dit kwaai begin reën.  Ons het geweet hoe lief die Engelse vir nagmarse was en die burgers in die skanse was gereed, maar nie so erg deur die stortreën ontwrig as wat dit met die Engelse was wat moeisaam en druipnat in die donker deur die modder aangeploeter gekom het nie.

Toe hul voorste kolonne 'n gerieflike trefafstand bereik, het die geklingel van blikke wat ons daar oral aan doringdrade geheg het, vir ons die sein verskaf om die geveg te begin.  Daar het  'n inferno van dodelike Mauservuur op hulle losgebars wat dood en verderf onder die digte massa soldate begin saai het. Dié wat nie getref is nie, het platgeval en kon nie vorentoe af agtertoe beweeg nie en die ergste vir hulle was dat hulle geen Boer kon sien om teen terug te veg nie.  Selfs toe dit lig word, was ons stellings nog so goed verskuil en die burgers in die verskansings so doeltreffend beskut, dat ons ongevalle betreklik laag gebly het.

Die verbete geveg het die heel dag aangehou.  Die Engelse het naderhand in so 'n mate van hul verwarring herstel, dat hulle met stormlope wanhopige aanvalle op ons stellings gemaak het, maar kon ons nie daaruit verdryf nie.  Ons artillerie het die heeldag geswyg, maar teen halfses die middag het ons die Engelse kavallerie begin bombardeer.  Toe moes hulle besef het dat hulle die slag verloor het, want Methuen het sy troepe buite bereik van ons kanonvuur teruggetrek en die volgende oggend het sy verslae en verslane mag na hulle kamp aan die Modderrivier teruggekeer, met 'n verlies van oor die 1 000 manskappe aan gesneuweldes, gewondes en vermistes.  Ons eie verliese in hierdie groot slag was ook hoog, want 65 van ons dapper burgers het gesneuwel en 150 van hulle was gewond.  Dit was vir die Engelse 'n swart week.

President Steyn, wat altyd volkome op hoogte was met die verwikkelinge op veral die Vrystaatse slagvelde, het besluit dat die onbekwame kommandant Jacobus Prinsloo vervang moes word.  Hy het vir waarnemende kommandant Christiaan de Wet uit Natal ontbied en hom aangestel as veggeneraal.  Dit het beteken dat ek en De Wet nou albei onder gesag van generaal  PA Cronjé gestaan het.  Ons het vir hom gevra om ons toe te laat om met 'n mag van 1 500 man suidwaarts te gaan in die rigting van Hopetown en De Aar  om Methuen se spoorwegverbindings te gaan opbreek.  Daarvan wou hy natuurlik weer niks hoor nie.  Hy het verkies om met ons groot Boeremag, wat toe om en by die 7 000 burgers getel het, passief by Magersfontein te bly sit.

President Steyn het my gevra om na Colesberg te gaan, waar generaal French die kommando's van die onbekwame generaal Hendrik Schoeman en Piet de Wet in die noute gehad het.  Ek moes vir Schoeman gaan vervang.  Voor my vertrek het ek aan generaal Cronjé gesê dat sy groot laer op 'n uiters gevaarlike plek gestaan het, waar die Engelse hom maklik kon omsingel en aan flenters skiet.  Soos al die ander kere het hy hom aan my waarskuwing natuurlik ook nie gesteur nie.

Hier in die Noord-Kaap het ons die Engelse goed opdraande gegee, maar nie daarin geslaag om vyandelike versterkings uit die Vrystaat suidwaarts te lok nie.  Toe lord Roberts al sy magte in die omgewing van Magersfontein begin konsentreer en vir generaal Cronjé by Paardenberg omsingel, het president Steyn gevra dat ek met 'n 1 000 man na Bloemfontein moes kom.  'n Rukkie na my aankoms aldaar, het ons van die ramp verneem wat ons getref het, toe generaal Cronjé met 4 000 burgers by Paardenberg op 27 Februarie 1900 oorgegee het.

Hierna het ons Boereweerstand in duie gestort.  Bloemfontein is ingeneem en die vyand was op pad na Johannesburg en Pretoria.

President Kruger het my na Pretoria ontbied en my na Mafeking gestuur om te kyk of daar nie nog iets te redde was nie.  Ek het die passiewe generaal Snyman, wat vanaf November 1899 vir generaal Cronjé met die beleg van die dorp opgevolg het, nog net so daadloos-getrou op sy pos aangetref  waar hy met sy 1 500 burgers van Rustenburg en Marico met eindelose geduld gesit en wag het dat Baden-Powell en sy vasgekeerde garnisoen moes oorgee.  Ek het vir hom gesê sy groot laer is in gevaar om plat geskiet te word wanneer die Engelse mag onder kolonel Mahon uit die suide opdaag en saamsluit met dié van kolonel Plumer uit Rhodesië.  Maar hy het hom, nes sy voorganger, nie aan my gesteur nie.

Ek het die volgende dag met sy burgers, wat feitlik nog heeltemal krygs-onervare was, die vyand langs die Moloporivier ingewag en die heeldag deur teëgehou.  Hulle het egter daardie nag die dorp binnegetrek en die oggend van 17 Mei 1900 Snyman se laer gebombardeer, wat 'n holderstebolder vlugtery afgegee het.

Na die inname van Johannesburg het ek en generaal Botha en die ander offisiere besluit om nie Pretoria te verdedig en te laat stukkend skiet nie.  Na 'n paar skermutselings met die vyand het lord Roberts ons hoofstad triomfantelik binnegetrek en hom daar gerieflik tuisgemaak.  Onmiddellik na die ineenstorting van ons magte het swart stropers feitlik die hele republiek oorstroom en begin plunder en roof.  Dit het veroorsaak dat die burgers wat reeds hulle wapens neergelê het, weer by ons verstrooide kommando's kom aansluit het.

Lord Methuen het Lichtenburg sy hoofkwartier gemaak en met sy onbeskofte tommies, saam met swart roofbendes, die lewe van my liewe vrou op ons nabygeleë plaas vergal.  Hy het haar uiteindelik beveel om die plaas te verlaat.  Daarna het sy met ons ses kinders agtien maande lank met behulp van twee getroue bediendes in die veld rondgeswerf en daarin geslaag om uit die hande van die Engelse te bly.

Ons het nou met ons nuutsaamgestelde kommando's ons krygstaktiek by die veranderde oorlogsomstandighede aangepas, deur die Engelse by goedgekose strategiese plekke aan te val en groot skade te berokken.  Een van die eerste geleenthede daartoe was by Silkaatsnek in die Magaliesberg, waar ons kolonel Roberts met sy Lincolnshire Regiment aangeval het.  Nadat die geveg die heel dag geduur het, het sy agt oorblywende offisiere en 200 manskappe oorgegee.  Die res was almal dood en gewond.  Saam met twee kanonne het ons 'n aantal perde, muile, waens en karre gebuit.

Ek het ook vir kolonel Baden-Powell met sy Rhodesian Volunteers en BSA Police, wat na die ontset van Mafeking die dorpe Zeerust, Lichtenburg en Rustenburg moes gaan beset, só lekker rondgejaag en kopseer besorg, dat hy vir lord Roberts gevra het om hom toe te laat om met sy 1 500 troepe in Rustenburg te bly, met die argument dat 'n hele paar duisend Boere hom daar sou beleër en gevolglik nie Roberts se hoofkwartier in Pretoria sou bedreig nie!  Die "held" van Mafeking het nie vir ons op die oop veld kans gesien nie.

Op 25 Julie het 'n afdeling van ons kommando onder veldkornet Roelf van Tonder by Rooipoeierspruit aan die Selonsrivier, met 200 Australiërs slaags geraak en hulle 'n verlies van 120 man besorg en 'n buit van 100 goeie perde gemaak.  Kort daarna, op 4 Augustus, het ek kolonel Hore se kamp op Swartruggens gaan aanval, met die doel om weer goeie perde te buit.  Toe ons sy kamp omsingel, merk ek dat daar vir hom hulp uit die rigting van Zeerust aan die opdaag was.  Dit was generaal Carrington wat met meer as 1 000 man Hore wou kom ontset.  Ek het hom met net 75 man, wat ek in twee groepe verdeel het, van die kante af  laat bestook en so die skrik op die lyf geja dat hy met sy groot mag omgespring en vreesbevange op die vlug geslaan het na sy kamp langs die
Maricorivier.  Maar ons het op hulle hakke gebly.  Hulle het die kamp aan die brand gesteek en met groot spoed verder na Zeerust gevlug.  Ek het nooit weer verder van Carrington gehoor nie.

Daarna het ek kolonel Plumer, wat met 'n groot  Kersfees-konvooi op pad was na Rustenburg, by Buffelspoort aangeval en 120 volgelaaide waens afgeneem.  'n Paar dae later, op 10 Desember 1900, het ons weer vir generaal Clements by Nooitgedacht in die Magaliesberg 'n afgedankste loesing gegee en 70 waens buitgemaak, 200 tente, kanonammunisie en Leemetfordpatrone, 400 perde, 300 muile en 500 osse.  Daar het ongeveer 400 tommies gesneuwel en ons het 306 gevange geneem.

Die oorlog het 'n stadium bereik waar ons eintlik nie meer geweet het wat ons met die Engelse krygsgevangenes moes aanvang nie.  Daarom het die gewoonte ontwikkel om hulle maar goed "uit te skud" en weer te laat loop.  Die probleem dat ons Mauserammunisie na 'n volle jaar van oorlogvoering opgeraak het, het ons oorkom deur genoeg Leemetfordgewere en patrone van die vyand te buit en hulle met hul eie wapens te beveg.

Aan die begin van 1901 was dit moeilik om te sê wie nou eintlik die baas van ons land was.  Lord Roberts se gesag het net sover gestrek as tot waar sy groot kanonne kon bykom.  Hy kon nie waag om kleinerige patrollies uit te stuur nie, want ons het hulle gewoonlik geheel en al uitgewis.  Uit desperaatheid het die vyand nou begin om ons land te verwoes.  Lord Methuen het vanaf Klerksdorp langs Schoonspruit af na Ventersdorp beweeg en alle woonhuise aan die brand gesteek en alles wat op die plase aangetref is, weggevoer en vernietig.  Saam met hierdie verskroeide aarde-beleid het hulle nou ook begin met die oprigting van hul blokhuislinies in 'n poging om ons kommando's se beweeglikheid aan bande te lê.  Hulle het nie daarin geslaag nie, maar die wegvoering van ons hawelose vroue en kinders na konsentrasiekampe, nadat ons tuistes almal vernietig is, het ons vegtende burgers almal diep in die hart gegryp.  Kitchener wou met sulke laakbare maatreëls ons weerstand breek en dwing om oor te gee.  Maar dit het ons net meer vasberade gemaak om die stryd tot die bitter einde voort te sit.

Maar hier teen die middel van 1901 het die haglike oorlogsgeteisterde toetande in ons republieke die Transvaalse regering te velde genoop om aan die Vrystaat te skryf of ons nie maar met die Engelse sal onderhandel in 'n poging om die oorlog te beëindig nie.  Ons het op die plaas Waterval in die Standertonse distrik bymekaar gekom en die saak bespreek.  Generaal Smuts wou hê ons moet met die Engelse vrede sluit en die oorlog weer oor 15 of 20 jaar hervat.  Generaal Botha het gesê onafhanklikheid kan ons vergeet en ons moet met die Engelse onderhandel, maar ek en president Steyn en generaal De Wet en generaal Hertzog was nie bereid om tou op te gooi nie en het die ander beweeg om die vyand saam met ons met alle middele en vermoëns waaroor ons nog beskik het, te beveg.

Kort daarna het ek op 30 September 1901 so 'n geleentheid aangegryp toe ek met my kommando 'n verbete aanval gemaak het op die kamp van twee Engelse kolonnes onder Kekewich en  Fetherstonhaugh, te Moedwil, langs die Selonsrivier.  Ons het nie met hierdie slag 'n groot buit gemaak nie, maar meer as die helfte van die vyand se perde en 161 offisiere en manskappe is buite aksie gestel.

Lord Kitchener het op 7 Augustus 1901 'n proklamasie uitgevaardig  waarin hy ons vegtende burgers wat nie wil oorgee nie, met verbanning dreig.  Daarop het ek as kommandant-generaal van ons westelike gebiede ook 'n proklamasie opgestel en by ons verskillende kommando's laat sirkuleer.  Daarin het ek ons burgers bemoedig en teen Kitchener se dreigemente gewaarsku.

Die vyand het nie net alleen pogings aangewend om ons vegtende burgers om te haal om die wapens neer te lê deur allerlei valse beloftes van beskerming wat hulle daarna op hulle plase sou geniet nie, maar het ook probeer om ons offisiere om te koop om ons van die oorlog te onttrek.  Ek is 'n jaarlikse som van £10 000 aangebied  indien ek die stryd sou gewonne gee!  Dit het my verbaas dat die vyand kon dink dat my Afrikanerhart, my liefde en trou aan my land en my Boerevolk vir geld verkwansel kon word.

Ons het voortgegaan om die Engelse meer as kopseer te besorg met ons verrassingsaanvalle op kwesbare punte.  Op 25 Februarie 1902 het ek by Ysterspruit, tussen Wolmaransstad en Klerksdorp 'n baie waardevolle konvooi verower.  My onverwagte aanval in die nanag het die spul heeltemal onklaar betrap en toe dit lig word, was daar reeds 178 van hulle dood en gewond.  Ons het weer baie perde en muile gebuit en was weer 'n halfmiljoen ammunisierondtes ryker.  Die 500 gevangenes het ek maar die volgende dag weer laat loop.

Die kwaai knou wat hierdie afdeling van lord Methuen se kolonnes by Ysterspruit gekry het, het hom briesend vir my gemaak.  Ek het geweet hy gaan minstens 'n poging aanwend om sy verlore  ammunisie terug te wen en daarom het ek met my kommando noordwaarts uitgewyk in die rigting van die Maricorivier.  Methuen het my met 1 300 troepe agternagesit, vergesel van 'n lang tou osse- en muilwaens, met die doel om my voor te keer en in te sluit.  Toe hy laat die middag op 7 Maart 1902 met sy lomp konvooi vanaf Tweebos begin beweeg, het ek hom verras deur skielik van agter aan te val.  Dit het dadelik weer 'n groot warboel veroorsaak en toe my ruiters 'n rukkie daarna sy flank al skietende bestorm, het die slagting so vinnig toegeneem dat hulle die witvlag moes hys en oorgee.

Hier by Tweebos het ek die Engelse hul grootste neerlaag besorg sedert die aanvang van die guerillafase van die oorlog.  Daar was ongeveer 200 gesneuweldes en gewondes en ons het oor die 600 krygsgevangenes geneem.  Methuen self was swaar gewond.

Toe ek hierdie hoogaangeskrewe, bekwame offisier daar hulpeloos sien lê, onderwyl die Engelse ambulansdokter en ons s'n besig was om hom te versorg, het ek daaraan gedink hoe ek feitlik vir die hele duur van die oorlog vanaf Kimberley en Modderrivier se dae 'n verbete stryd teen hom en sy oormag moes voer, hoe hy hier in Wes-Transvaal aanhoudende pogings aangewend het om my en my kommando's te oorrompel en uit te wis, hoe hy met geesdrif en toewyding uitvoering aan Kitchener se opdrag gegee het om ons huise en plase af te brand en te verwoes en hoe hy sonder enige menslikheid in hom ons vroue en kinders laat vang en in die Engelse moordkampe laat instop het.  Ek het nou 'n skone geleentheid gehad om wraak te neem, maar ek het nie.  Ek het hom in sy eie waentjie na Klerksdorp gestuur, sodat hy daar van sy eie mense die beste mediese behandeling kon ontvang.

Die slag van Tweebos was die laaste groot militêre maneuver wat ek teen die vyand onderneem het.  Wel het generaal Kemp, een van my ondergeskikte offisiere, op 11 April 1902 heeltemal onnodig 'n groot Engelse mag te Rooiwal gaan aanval, wat met 'n groot ongevallelys vir ons geëindig het.  Ek was op daardie tydstip in Pretoria om saam met ander offisiere met Kitchener oor vrede te beraadslaag.  Daarna het ons met 60 volksverteenwoordigers te Vereeniging die onderhandelinge verder gevoer, wat uiteindelik op 31 Mei 1902 tot die onvermydelike Vrede van Vereeniging gelei het.

Tydens ons beraadslagings op Vereeniging het ek en generaal De Wet en verskeie ander offisiere gepleit dat ons moes voortveg en nie met die vyand onderhandel nie.  Generaal Botha het ons egter omgehaal met die belofte dat  by die eerste geleentheid waar Engeland weer in 'n Europese oorlog betrokke raak, ons ons vryheid weer sal terugvat.  Toe Engeland in 1914 teen Duitsland oorlog verklaar, het ons gedink dat die wonderlike geleentheid waarna ons toe al twaalf jaar lank uitgesien het uiteindelik aangebreek het.  Ons sou met Botha aan die spits sonder slag of stoot of bloedvergieting nou ons republieke se verlore vryheid weer herwin.  Toe ek met hom en Jan Smuts daaroor praat, het ek met skok en teleurstelling ontdek dat my twee ou vriende van die Tweede Vryheidsoorlog se dryfkrag nie meer Afrikanernasionalisme was nie, maar om ten alle koste die belange van ons eertydse veroweraar te ondersteun en te bevorder.  Louis Botha het ons Unie-parlement 'n besluit laat neem om tot die Europese oorlog toe te tree as bondgenoot van Engeland, deur Duits-Suidwes-Afrika te gaan aanval en te verower.

Hiermee kon ek my nie vereenselwig nie.  Duitsland was ons nog nooit vyandiggesind nie, en waarom moes ons onnodig vreemde gebied gaan verower?  Ek het besef dat dit sonder die regering se steun nie meer moontlik sou wees om die Vierkleur te hys nie.  Maar daar was 'n gewapende rebellie aan die broei.  Generaal Beyers het uit protes teen Botha en Smuts se oorlogsverklaring teen Suidwes, as hoof van die Unie se verdedigingsmag bedank.  Smuts het krygswet afgekondig en daardeur die moontlikheid van 'n volksopstand bevorder.

Ek het na die parlementsitting in Kaapstad per trein na Johannesburg gereis.  Generaal Beyers het my na Pretoria laat haal en ek en hy sou die aand van 15 September per motor na Potchefstroom afreis.  Die regering was blykbaar onder die indruk dat ek met behulp van die weermag op Potchefstroom ons republiek weer gaan herstel, want ek het te hore gekom dat ek fyn dopgehou word.

Ek en Beyers is die aand deur twee padblokkades, waar ons die bestuurder van die motor laat deurry het sonder om stil te hou.  Die versperrings was glo om die berugte Foster-bende vas te trek.  By die derde een te Langlaagte het die polisie begin skiet toe ons deurry en ek is noodlottig getref.  Ek het in my vriend, Christiaan Beyers se arms gesterf.  My begrafnis het vyf dae later te Lichtenburg plaasgevind, waar die gemoedere hoog geloop het.  Die rebellie het kort daarna momentum gekry, maar is spoedig deur Botha en Smuts  se doeltreffende weermag onderdruk.

Daarmee is die verwesenliking van ons vryheidsideaal wat ons die vorige twaalf jaar met vertroue bly koester het, die nek ingeslaan.  Ek het nie bly leef om met pyn in die hart hierdie ramp ook nog te ervaar nie.  Maar die almagtige God wat oor die lotgevalle van nasies beslis, het vir my geteisterde  Boerevolk 'n halfeeu vorentoe 'n groter en vryer republiek beskik as dié twee waarvoor ek en my mede vryheidstryders drie jaar lank so hard moes veg.  My taak was afgedaan.

Opsoek na inligting?

  • BOEKE TE KOOP

    Die Engelse oorlog was alles behalwe die sg. "gentleman's war" soos sommige Britse skrywers dit genoem het. Lees meer oor die boek VRYHEIDSVEGTERS, outeur Gustav Norval, by Vryheidsvegters .

     

    In ‘n nuwe boek deur die geskiedskrywer Gustav Norval, getiteld Onskuldige bloed: Britse oorlogsmisdade 1899-1902, word skokkende feite oor beweerde Britse oorlogsmisdade tydens die ABO onthul. Lees meer hieroor by Onskuldige Bloed. 

     

    Hierdie geïllustreerde A4-groote 300-bladsy boek deur EJG Norval, vertel die verhaal van die gevegte tussen Boer en Brit in die 1840’s die drie verwoestende ba-Soetoe oorloë in die Oos-Vrystaat tussen 1858 en 1867, en nog meer. Lees daaroor by In Die Smeltkroes .

     
  • BYBEL 1933/53-druk nou gratis

    Gelofteland is dankbaar om aan al ons lesers die 1933/53-uitgawe van die Bybel gratis te voorsien. Al wat u hoef te doen is om 'n e-pos na

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    te stuur met die versoek om die Bybel te ontvang, en ons sal dit aan u stuur.

     

    _____________________

     

     Laserskywe in stelle van 10 te koop

    VRYHEIDSBEDIENING

    Ds. Andre van den Berg werk sedert November 1990 weekliks met volksgenote in die gevangenis in Pretoria-Sentraal. Hy bied ʼn reeks laserskywe teen R200 (posgeld uitgesluit) per stel van 10 aan. Die opbrengs van hierdie verkope gaan vir Gevangenisbediening.

    Dit handel oor aktuele onderwerpe soos:

    1. Die lewe hiernamaals.
    2. Word verantwoordelik oud.
    3. Die pad na die ewigheid.
    4. Bied beproewing die hoof.
    5. Raad vir tieners.
    6. Gelowige kinderopvoeding.
    7. Oorwin depressie.
    8. Kikker jou huwelik op .
    9. Alle mense is nie gelyk nie.
    10. Homoseksualisme - ʼn gruwel vir God.

    Bestel by:

    E-pos: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    Sel: 074 967 5187

    Bankbesonderhede:

    ABSA

    VRYHEIDSBEDIENING

    9062088855

    _______________

     

    Skryf in vir die gratis e-blad OORSIG EN REPLIEK

    'n Blad wat dmv verduidelikende agtergrond by die kern van ons volk se
    stryd uitkom.

    Kontak die redakteur by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    Lees ons gereelde uittreksels daaruit hier op Gelofteland by OORSIG EN REPLIEK

    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________ 
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.

    Hierdie boek uit die pen van ds AE van den Berg, het in gedrukte vorm verskyn.  Dit bring helder perspektief oor rasseverskille en natuurlike skeiding wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte wat landsburgers van geestelike denke sal laat verander en van onregte en gewaande vryheid sal bevry.

    Sinvolle besluite in die lig van God se Woord, en onophoudelik gebed dat bevryding spoedig verwesenlik word, is noodsaaklik. Politiek is erns en harde werk wat wet en orde handhaaf en durf nie in eerlose hande gelaat te word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel.

    U kan hierdie boek bestel by ds A E van den Berg

    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com

    Prys: R50-00

     
  •                                                                        ______________

     

    BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    'n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD

    _______________

    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

                                                                           ________________

     

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    of skakel hom by 074 967 5187

    ________________

    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel


    _________________

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
  •  

    DIE CHARISMATIESE GEVAAR
    Mense word so maklik deur dwaalleringe mislei. In hierdie boek word talle kwelvrae beantwoord.

VERGADERING-

PROSEDURES

(GRATIS)

Daar is min mense wat nog die waarde van 'n ordelike byeenkoms bedink en kan uitvoer. Sonder hierdie kennis en orde en gedissiplineerde toepassing daarvan sal 'n byeenkoms in wanorde verval en die doel van die vergadering nie bereik word nie. Die boekie kom handig te pas in alle omstandighede waar 'n vergadering van persone plaasvind, ongeag die sakelys of doel van die byeenkoms.

Klik hier om die boekie wat u op hoogte kan bring van korrekte vergaderingprosedures, gratis af te laai. Indien u van Windows 10 gebruik maak sal die inhoud outomaties onder die lêer "Downloads" geberg word en kan dit daar gehaal en gebêre word waar ookal dit maklik gevind kan word.

 

GRATIS E-BOEKE EN VERSBUNDELS OM AF TE LAAI:

 

As God volke aan hul eie lot oorlaat

Die waarheid oor ons volk en die Nuwe SA

Volksverraad geskryf deur adv. P.J. Pretorius

'n Oorblyfsel... deur genade alleen

Christen-Teokratiese Separatisme

Verse van Verset

Vreedsame Naasbestaan = Afsonderlike Ontwikkeling

No Ships in the Harbour

Ons heilsverhaal in die Ou Testament

Daniel

Evolusie - kan ek dit glo?

Petrus, die rots

Romeo en Juliet

Ester

Apokriewe - By modderpoele of suiwer fonteine?

Midsomernagdroom - Shakespeare in Afrikaans

Die Openbaring van Henog

Die Derde Tempel

Macbeth - Shakespeare in Afrikaans

Met ryperd en mauser

Goue strate het nie stof nie

Derdepoort

Die Laaste Pous

Josef

Rut

Drie Eeue van Onreg

Ons Geskiedenis

Engelse skandvlekke

Voortrekker-Pioniers in Oos-Transvaal

_______________

 

 

1919: VRYHEIDSDEPUTASIE KEER TERUG

1800: GRAAFF- REINETSE REBELLE GEVONNIS

1917: OOM JAPIE HELPMEKAAR

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

                                                                         __________________

 

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES

(Lees by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

                                                                         __________________                                                                  

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 1761 gaste aanlyn