Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
GOD PRAAT DEUR SIEKTE MET JOU
LUISTER NA SY STEM!
Siekte is 'n manier waarop God met sy kinders praat, sê Job in hoofstuk 33:19: "Hy spreek die mens aan met ernstige siekte."
Dit is nie 'n teken van God se onmag as iemand nie gesond word nie, maar die middel tot God se almagswerke, sodat ons vir Hom getuies kan wees; sodat ons weer kan besef, al word ek elke dag afgetakel, daar is niks wat my van God se liefde vir my kan skei nie.
Daar op jou siekbed kyk jy met nuwe oë na jou eie lewe, veral na die dinge wat jy nog so graag wil bereik; na die mense wat jy liefhet en geen waarborg het dat hulle môre nog by jou sal wees of jy by hulle nie. Dan besef jy elke minuut wat jy nog krag en tyd oorhet, moet maksimaal benut word omdat elke oomblik genadetyd is.
Jy besef ook weer dat jou lewe hier op aarde net 'n klein deeltjie van God se plan is, dat jou eintlike lewe nog voorlê, dié lewe wat vir jou by God wag. En dan word jy dankbaar om te lewe al sien jy uit om na Hom te vertrek.
Hierdie verhoog waar jy tydens siekte verkeer is meermale die podium van waar ons geloof aan die wêreld sigbaar word. Hierdie dinge werk soos die swart fluweel-agtergrond waarteen juweliers so graag hulle goud en diamante juweliersware uitstal – ons geloof behoort só te blink teen die donker agtergrond van siekte. God praat met jou deur jou siekte – luister na sy Stem!
LUTHER VOOR DIE RYKSDAG VAN WORMS
Lees volledig by Kultuurdagboek
KULTUURDAGBOEK 18 APRIL
Volledige inskrywings by Kultuurdagboek
Martin Luther gee beslag aan 'n nuwe bedeling in die Westerse Kerk en samelewing. Hy hervorm dit in die lig van die Skrif, wat hy as die enigste gesaghebbende openbaring van God aanvaar. Hierdie oorlewering in die Kerk en sy geskiedenis maak hy weer beslissend en kom in botsing met die oorlewering waarin die Pous vanuit Rome optree.
Op 18 April 1521 vel hy die beslissing voor die Ryksdag van Worms. Daar verskyn hy op las van die Pous voor die pasverkose keiser. Op weg is hy afgeraai om voort te gaan terwyl die pouslike gesant op verskeie plekke sy boeke laat verbrand het om hom af te skrik.
"Ek sal na Worms gaan," het hy volgehou, "al is daar ook soveel duiwels soos die dakpanne op die geboue!"
So staan hy op 17 April 1521 tereg in die oortuiging dat dit om Christus gaan, om die heil van die mens en die hoogste goed op aarde, om God se Woord.
Toe die pouslike gesant van hom eis om sy geskrifte sonder meer te herroep, vra hy tyd om daaroor te dink en te bid. Die volgende aand om sesuur antwoord hy die volk in die lig van brandende fakkels, eers in die taal van sy moeder, Duits, toe in die taal waaraan die Kerk vasgehou het om alle gelowiges sakramenteel te bedien, Latyn. Soos dit 'n Christen betaam, bely hy en vra om verskoning oor persoonlike belediging in dié werke wat hy gerig het teen bepaalde persone wat die Roomse tirannie verdedig. Bewus daarvan dat 'n mens kan dwaal, is hy bereid om sy opvattings oor die leer van Christus te laat toets. Maar dan moet dit uit die Woord van God geskied, want, so kom hy daartoe om te sê: "Deur die Woorde van die Skrif waarna ek verwys, is ek gebind in my gewete en gevange in die Woord van God." Hy waarsku die jong keiser om nie sy regering met 'n onregverdige daad te begin nie want dan sal God hom tot 'n val bring. In die rumoer wat losbars. word beweer dat hy sou afgesluit het asof hy gespreek het: "God help my, amen."
Die groot woord was uitgespreek. 'n Hervorming van die Kerk en samelewing volgens die Skrif kon nie gestuit word nie. Johannes Calvyn het daarin opgegaan. Nederland het sy gereformeerde of skriftuurlike benadering nagevolg en in 'n stryd van 80 jaar onafhanklik geword
Sy nedersetting aan die Kaap het op sy eie 'n inkleding daarvan in die kerk en volk gegee. God se Woord is vertaal in die Afrikaanse taal en is voorgehou as die enigste toetssteen vir kerk en staat.