Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wanneer ontvang 'n mens die ewige lewe? Hoe gebeur dit dat 'n mens daaraan deel kry? Die ewige lewe dui nie slegs ons voortbestaan ná die opstanding aan nie maar dui ook op die huidige terwyl ons nog op aarde is. In Johannes 5 verduidelik Jesus self dat ons nou al vrygespreek is en nie die oordeel ingaan soos diegene wat nie gered is nie en wie by die oordeelsdag veroordeel sal word. Selfs afgestorwenes sal dan uit hulle grafte opstaan en dié wat gered was sal reguit die ewige lewe ingaan maar die ongereddes sal dan voor God ter veroordeling staan.
HY IS NIE HIER NIE
Ds A.E. van den Berg
“En hy sê vir hulle: Moenie verskrik wees nie. Julle soek Jesus die Nasarener wat gekruisig is. Hy het opgestaan. Hy is nie hier nie....” (Mark.16:6).
Om die Bybellande te besoek is ʼn onvergeetlike ervaring en soveel plekke om te besoek, dat jy bang is om te gaan slaap en iets mis. ʼn Besoek aan die Tuingraf naby die Damaskuspoort in Jerusalem is beslis die hoogtepunt. ʼn Mens sien die skedelkoppie Golgota digby en ʼn entjie verder die Tuingraf waar Jesus deur Josef van Arimathéa en Nikodemus met die goedkeuring van die Romeinse owerheid na die kruisiging neergelê is.
Toeriste kan binne die graf ingaan. Dis ʼn kamer en word deur ʼn deur toegehou. Buite op die deur staan die volgende woorde: HY IS NIE HIER NIE WANT HY HET OPGESTAAN. Dit bring trane in die oë.
Dis goeie nuus dat Jesus nie daar is nie. Ek was egter in nog plekke waar Jesus ook nie is nie, maar beslis nie goeie nuus is nie! Een daarvan is die Petrus-kerk in die Vatikaanstad. Dis die grootste kerkgebou ter wêreld wat eeue gelede met bedrog geld gebou is. Die Roomse Kerk (RK) het ene Johan van Tetzel deur Europa gestuur om geld vir die bouwerk in te samel.
Om ʼn kerk te bou, is nie sonde nie solank as wat fondse op eerbare wyse bekom word. Dit was ongelukkig nie die geval met die kerk in Rome nie. Die RK glo aan ʼn vagevuur. Dis as jy sterf en nie reg vir die saligheid in die hiernamaals is nie. In die vagevuur word jy dan vir ʼn ruk lank rein gebrand om daarna die ewige heerlikheid te betree.
Hierdie vagevuur-periode kan op twee maniere verkort word. Eerstens deur in die kerk vir die ontslapene te gaan bid en tweedens deur ʼn som geld aan ʼn priester te gee om vir die ontslapene te help bid.
Van Tetzel het by Roomse lidmate aangedoen en op dramatiese wyse vertel hoe swaar hul ontslape geliefde in die vagevuur kry. God het dit glo goed gedink om as die naasbestaandes ʼn sekere bedrag geld aan die RK betaal, hulle daaruit bevry sal word om die ewige heerlikheid in te beweeg. Van Tetzel het mense selfs ʼn brief van die kerk as waarborg gegee en is aflaatbriewe genoem. Met hierdie geld is die Petrus-kerk in Rome gebou. Wat ʼn skande!
Dis ʼn skouspelagtige gebou van prag en praal en kruise met voorstellings van ʼn gekruisigde Jesus om elke hoek en draai te sien. So ook talle beeldhouwerke, skilderye fresko’s ens. Maar iets ontbreek – die opgestane Jesus. Geen wonder nie want hoe ontuis sou ʼn opgestane Jesus nie in so ʼn bose plek gevoel het nie!
Die RK het die hart van die Evangelie verloor nl. die opstanding. As Jesus nie opgestaan het nie, was ons geloof tevergeefs. Om uit die dood op te staan, was ʼn onmoontlike ding om aan te dink. As jy dood is, is jy dood, klaar en verby!
Daar is deesdae gereeld debatte oor die opstanding van Jesus in ontspoorde kerke. Talle teoloë bevraagteken dit openlik. Een ding waarvan gelowiges seker kan wees, is dat hul ook uit die dood sal opstaan. “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe” (Joh.11:25).
Die gelese gedeelte maak van sewe vroue by die graf melding; ʼn geseënde groepie wat Jesus baie liefgehad het. Hulle het aan die voet van die kruis oor Hom geween en op die Sondagoggend vroeg droefgeestig na sy graf gegaan om ʼn laaste eerbewys te betoon.
Dis wonderlik dat God dit so beskik het dat vroue die eerstes was wat Jesus opgestaan sou sien. Maar waarom vroue? Omdat hulle Hom waarskynlik die liefste gehad en ook vergifnis van sonde ontvang het. Maria Magdalena was bv. eers ʼn straatvrou. Luister wat sê Jesus van haar: “Daarom sê Ek vir jou: Haar sondes wat baie is, is vergewe, want sy het baie liefgehad”(Luk.7:47).
Op pad na die graf toe het die vroue voor ʼn probleem te staan gekom; wie sou vir hulle die klip voor die graf wegrol? Toe hulle egter daar kom, was dit weggerol met geen wagte in sig nie. By die ingang het ʼn jongman met ʼn lang wit kleed aan gesit. Dit was ʼn engel en hulle het hul moontlik boeglam geskrik omdat destyds geglo is dat as jy hemelwesens sien, jy moontlik kon sterf. Dink aan Jesaja se woorde: “ .... Wee my, want ek is verlore! Want ek is 'n mens met onrein lippe, en by 'n volk met onrein lippe woon ek. Ja, my oë het die Koning, die Here, gesien.”(Jes.6:5).
Nadat die engel met die vroue by die graf gepraat het, was hulle kalm. Hulle was geliefdes van die Here wat Hom selfs na sy dood nog net so liefgehad het. Die Bybel sê: liefde vir Hom dryf alle vrees uit.
Jesus het gesê dat Hy uit die dood sou opstaan. Hierdie vroue het aan die waarheid bly vashou. Wie aan die waarheid vasklou, het Jesus lief. Wie Hom nie liefhet nie, minag sy Woord. Dink maar net aan kerke se ontsondiging van homoseksualisme! “As julle My liefhet, bewaar my gebooie.... As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar” (Joh.14:15, 23). Baie kerke dop die toets van ʼn liefde vir Jesus!
Jesus is daar waar die waarheid van die Bybel verkondig word en gee pad uit kerke wat leuens verkondig. Daarom is daar kerke sonder Jesus. Argitektoniese wonders soos in Rome – leë doppe sonder die lewegewende Jesus. Dis soos ʼn aantreklike akteur wat in ʼn lykshuis lê – net voorkoms maar geen lewe nie.
Die vroue het met ongekende blydskap dat hul Verlosser leef in hul harte van die leë graf af terugkeer. Is jy ook bly oor Jesus se opstanding? Wat is daar na 2000 jaar om oor bly te wees? Dat Jesus se opstanding jou eie opstanding waarborg. Met Jesus se opstanding sien ons God instemmend knik – die prys wat Jesus aan die kruis betaal het, is genoegsaam vir elke sondaar wat hom tot Jesus as sy Verlosser bekeer.
Indien dit nie genoeg was en iets nog bygewerk moes word, sou God vir Jesus laat opstaan nie. En Hy het. Dis die beste bewys dat sondes vergewe is en dat ons ʼn genadige reg op ʼn ewige, salige hiernamaals het. En dit laat ons in vrede met God en ons naaste lewe.