Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dank God dat die toekoms van ons volk nie in die hande van heidene berus nie, maar in SYNE! Daarom gee ek op hierdie dag geen treë sonder Hom nie. Met Hom loop ek tot aan die uithoeke van die aarde!
GOD - DIE GROOTSTE GOED!
Hannes Ollewagen
Ps. 16:1-11
“Ek het tot die HERE gesê: U is my Here; vir my is daar geen goed bo U nie.” (:2).
Dawid – ’n man na aan God se hart. Hy was nie sondeloos of volmaak nie. Maar hierdie man was opreg. Sy liefde vir God was nie uit voorgee of alleen die belydenis van sy lippe nie. Sy verhouding met God was opreg en daarbenewens ook vir hom belangrik. Tewens, dit was vir hom dié belangrikste verhouding in sy lewe.
Hier in Psalm 16 lees ons waar Dawid uit eie beweging ’n gedig aan God skryf. Hy wil sy liefdesverklaring aan God neerpen om uiting te gee aan sy diepe liefde wat in hom is vir God. En in hierdie gedig stel Dawid dan duidelik dat daar vir hom in hierdie lewe niks beter as God is nie.
Dit is duidelik dat Hy die grootste begeerte van Dawid se hart is. Hierdie hartsbegeerte van Dawid laat my ook aan die woorde van koning Asaf uit Ps. 73 dink. “Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie. Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees; in die Here HERE het ek my toevlug gestel, om al u werke te vertel.” (Ps. 73:25 & 28).
Ons besef dan ook uit die progressie in hierdie gedig hoedat die liefde die grondslag van enige gesonde verhouding vorm. ’n Gesonde verhouding sonder liefde is nie moontlik nie. Voorgee sonder liefde is moontlik, maar nie ’n opregte, gesonde, hegte en intieme verhouding nie. Dawid stel in vers 2 dat daar vir hom geen goed bo God is nie. En in vers 4 onderstreep Dawid weer sy lojaliteit aan God en die volmaaktheid en volkomenheid van God in sy eie oë. “Die smarte van hulle wat ’n ander god met gawes vereer, sal menigvuldig wees; ek sal hulle drankoffers van bloed nie uitgiet en hulle name op my lippe nie neem nie.” (:4). Hy wil die name van afgode nie eers op sy lippe neem nie. Ja, waarom sou dit nodig wees vir iemand wat so ’n volkome en volkmaakte, heilige God dien om na ’n ander god uit te reik asof God deur iets aangevul behoort te word. Hy is volkome en genoegsaam.
Ons lees dan verder in verse 5 – 7 waarin Dawid erkenning aan God gee vir sy troue sorg. En dit is ook hierin duidelik dat Dawid se innige liefde vir God en sy bewondering vir Hom hom tot diepe dankbaarheid bring vir dit wat hy uit God se Hand ontvang. Hy trek nie vir een oomblik sy erfdeel in twyfel of vergelyk dit met dit wat ’n ander van Hom ontvang het nie, maar met kinderlike opregtheid openbaar hy sy nederige dankbaarheid aan God en beweeg vandaar verder na die belydenis van sy geloof en vertroue in God. Vertroue wat natuurlik die grootste kompliment is wat ’n mens aan ’n ander kan gee. En Dawid stel sy vertroue volkome op die HERE – wat ’n vorm van eerbied wat ons nie hier sien nie! “Ek stel die HERE altyddeur voor my; omdat Hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie.” (:8). Ek volg sy leiding en vertrou nie alleen sy wysheid en krag waarmee Hy my sal lei nie, maar ek vertrou ook sy integriteit (sover as ons menslik só daarna kan verwys) en sy goeie bedoeling waarmee Hy my lewe en toekoms sal rig en daarom dat Dawid dit met soveel vrymoedigheid in sy hand plaas.
Ons sien dan eindelik in verse 9 – 11 waar Dawid met oorgawe God ook met sy ewige saligheid vertrou – die belangrikste van alles in hierdie lewe aangesien dit ons ewige lewe hierna bepaal. En natuurlik die logiese gevolg, want as Dawid dan vir hierdie lewe op Hom vertrou en hoop, waarom nie ook vir die heil van die ewige lewe nie? In hierdie slotverse openbaar hy weer hoedat hy met ’n geruste hart God volkome en met die diepste en kosbaarste vertrou. En dit is net daar waar egte liefde is waar hierdie kosbare dinge gedeel word.
Ek wonder hoeveel van hierdie opregtheid en liefde nog vandag in ons Godsdiens oor is? En ek hoop dat hierdie opregte liefde van koning Dawid in sy verhouding met God vir ons die armoede van godsdienstigheid sonder ’n ware verhouding met God wat in liefde geanker is, sal onderstreep. Dit is nie vir geen rede dat Hy dit as die hoogste gebod van al die gebooie gestel het nie. “...Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod.” (Matt. 22:37&38). Sonder liefde sal daardie diepe bewondering vir Hom ontbreek. Sonder liefde sal daardie diepe en opregte vertroue in Hom nie ’n werklikheid wees nie. Sonder liefde sal Hy ten beste vir ons ’n groot en bewonderingswaardige Wese wees, maar nie in waarheid die grootste goed en God van ons lewe nie.