Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Op hierdie laaste dag van die ou jaar wonder mense soms hoe hulle die nuwe jaar moet aanpak. Gelowiges doen dit sonder vrees – eerder met opgewondenheid en afwagting om te sien hoedat die Here ons gaan lei en bewaar. Want God het 'n verbond met sy kinders: Hy sal ons bewaar maar ons moet gehoorsaam wees. Omdat ons Hom verwag in sy wederkoms, leef ons ook in hoop en verwagting op die komende saligheid en vrees ons nie die toekoms nie; Hy is getrou!
BROKKIES UIT DIE BOEK –OUMANSLAND (1)
)
Die damwal is maklik vyftien meter hoog. Dis sterk gebou, met steunstutte elke vyf meter. Altesaam is daar nege stutmure en in die middel loop ‘n stel steil trappe op tot bokant die wal, waar daar ‘n pypreling gebou is vir beskerming. Die wal is nie sigbaar vanwaar die ander wag nie, maar is anderkant twee uitstulpings van die berg. Hierdie voetstukke van die berg is sowat twee honderd meter uitmekaar, maar loop stadig en geleidelik na bo.
“Is julle twee fiks en vinnig?”
“Oom gaan nie doen wat ek dink jy gaan doen nie?”
“Ek weet nie wat jy dink ek gaan doen nie, maar ek weet wat ek gaan probeer. Dit hang alles af van die dikte van die wal, hoe sterk hy gebou is, hoeveel beton daar per vierkante meter is, hoeveel staalversterking binne is. Sit vir my die vier pyle hier langs my, en dan gaan staan jy en Daphne so halfpad teen die bult op. Sodra, en as dit werk, maak julle dat julle so vinnig moontlik wegkom – nie stroom-af nie, hy sal julle inhaal. Gaan berg-op”.
“Sal dit makliker wees as ek vir Oom help laai?”
“Dit sal, natuurlik, maar nie nodig nie”.
“Sal Oom my wys wat om te doen?”
“Ai, ou seun, ja. Maar as ek sê hardloop, dan doen julle dit, verstaan jy?”
“Ja Oom”.
“Belowe?”
“Ek belowe”.
“Oom Amos?”
“Ja?”
“Daardie klomp boere gaan woedend wees as hulle terugkom”.
*
Hulle kon net sowel aanbeweeg het. Hulle kon die klompie bo-op die berg met rus gelaat het en ‘n makliker prooi gaan soek het, maar hulle het nie. Dis asof die stukkie vernislagie wat die afgelope honderd jaar oor hulle ‘n stukkie beskawing was, weggeskuur is. Miskien is dit die wete dat dinge nie verloop het soos wat hulle verwag het, soos die leiers aan hulle belowe het nie, miskien sou dit ook nie saak gemaak het nie. Mskien was dit woede, miskien hongerte, miskien haat, miskien vrees vir iemand anders as jy, soos die wit wolwe uit die trop verjaag of verskeur word. Of dalk net die diepe besef dat die klompie daar bo steeds die mislukking van ‘n Afrika versimboliseer. Uiteindelik maak dit nie saak nie.
Die getalle het deur die nag aangegroei. Dis baie moeilik om te bepaal hoeveel daar is, siende dat sommige in die diep gras gaan sit het, onder bome gewag het en ander is net buite sig in die natuurlike kontoere en slote. Amos se skatting van tussen negentig- en ‘n honderd duisend is nie ver uit nie. Die hele veld lyk asof dit aan die beweeg is.
“Julle besef dat net ‘n wonderwerk ons nou kan red, nê?”
“Dan bid ons vir een”.
*
Dis jare laas vandat Rambo Bob ‘n RPG-buis oor sy skouer gehad het. Toe was hy nog majoor Amos Burger en dit was ‘n ander tydvak. ‘n Tyd toe jy nog kon veg met hoop op ‘n beter Suid-Afrika. Voordat die politici hulle kom uitverkoop het. Maar dit help nie nou om te verwyt of kwaad te wees vir stiksinige mense uit die verlede nie. Hy het werk om te doen.
Sommige van die nuwer weergawes het teleskopiese visiere op, maar die een wat hy het, dateer uit die tagtiger-jare. Die voorste visier is bloot ‘n skraal pennetjie wat binne ‘n beskermring sit. Die agterste een is ‘n ruwe gaatjie. Die ding is nooit ontwerp om hoogs-akkuraat te wees nie, maar het eerder staatgemaak op die uiters goed-ontwerpte plofkop. Natuurlik is dit gemaak om pantser aan te durf en Amos is nie seker wat dit aan die beton gaan doen nie. Nogtans vat hy korrel op ‘n denkbeeldige kol so vier meter van onder af en elf van bo af. Die damwal sou uiteraard aan die onderkant dikker wees, en geleidelik dunner na bo. Dit laat vir Amos met ‘n konundrum. As hy te laag skiet, sal die wal miskien nie meegee nie, maar as hy te hoog vat, is daar nie genoeg water wat vrygelaat word nie. Hy huiwer ‘n oomblik en dan trek hy los. Die vuurpylaangedrewe granaat vlieg reguit en sekuur na waar hy gemik het en tref die wal met ‘n ontsaglike knalgeluid. As die rook en stof bedaar, is daar ‘n duidelike swart kol op die wal, waar die buitekantste stukke beton afgeskiet is, maar dit lyk tog nie na baie skade nie. Remus laai die tweede projektiel en dit tref presies op dieselfde plek. Dan die derde en uiteindelik die vierde. Amos laat sak die pyp en kyk moedeloos na die damwal. Wie ookal dit gebou het, het dit nie effentjies gedoen nie. Vir ‘n hele paar minute staan hy en Remus kyk na die kol teen die wal.
“Wat nou Oom?”
“Nou weet die oom nie meer nie, Boet. Nou gaan ons terug en kry ons mense. Dit wil sê, jou maats”.
“En wat van die ander, dié aan die anderkant van die berg?”
“Wat kan ons doen? Ons kan help skiet, maar as dit tyd is, moet ons eerder padgee”.
Amos en Remus begin terugloop na waar Daphne wag, halfad teen die berg uit. Dan sien hy dat sy haar hande soos ‘n tregter tee haar mond hou.
“Kyk Oom, kyk!”
Sy wys angstig na die damwal. Amos en Remus kyk om en sien dat ‘n straal so dik soos ‘n man se gewrig uit die middel van die kol kom waar die pyle getref het. Dan verskyn daar ‘n kraak wat van links onder na regs bo begin oopmaak. Dit lyk asof dit ‘n ewigheid vat, maar dan klap Amos vir Remus agter die blad.
“Kom, Remus, ons moet hardloop!”
*
Flip kyk op toe hy die eerste slag hoor. Dis nie baie ver van hulle af nie, miskien so ‘n kilometer en ‘n half. Die knal is hard en eggo teen die vallei op en teen die kranse vas.
“Wat was dit?”
“Hel, ek sou kon sweer dis ‘n kanon of RPG, maar waar sou dit vandaan kom? Hierdie lot hier onder sou so iets al lankal gebruik het, as hulle een gehad het”.
Net daarna kom die twee, derde en vierde ontploffing. Dan is dit stil, behalwe vir die onrustigheid wat deur die skare onder hulle begin beweeg. Die mense is op hulle hoede na die twee bakkies wat ontplof het, maar is ook nie seker wat om te doen, of waar dit vandaan kom nie. Daar is ‘n effense beweging onder hulle weg van die oorsprong van die knalle af, maar, as niks verder gebeur nie, kom ook dit tot stilstand.
“Wat nou, Maans? Wat sou jy dink was dit?”
“Ek weet nie. Al wat ek weet is dat ons hierdie klomp hier onder moet dophou.
*
Amos en Remus hardloop uit die vallei. Daar is ‘n stadige, maar duidelike gekraak van die wal se kant af. Daphne skreeu vir hulle om gou te maak, buk af en gryp haar knieë vas met albei hande, uit pure benoudheid. Amos waag dit om om te kyk. Die kraak in die wal het nou ‘n skeur geword en ‘n lang, vertikale strook water spuit onder die druk van duisende tonne deur die wal. Dan val ‘n hele betonblok uit die kant en die straal word ‘n stroom. Dit slaan teen die onderkant van die spruit vas en golf daarna boontoe. Die spruit, wat ‘n minuut gelede nog ‘n vredeliewende stroompie was, is nou ‘n rasende, dreunende massa wat alles in sy pad verswelg. Remus kyk ook om in die hardloop en struikel oor ‘n groterige klip. Los grond en klippe gly onder sy voete en hy neig om af te gly na die water toe. Skielik gryp ‘n sterk hand sy kraag, tel hom amper op en so hardloop die twee na veilige grond. Amos het die RPG pyp laat val en sy sterk bene en ratse voete vind maklik hulle pad op boontoe. Daphne het intussen besef dat sy nie buite gevaar is nie en het omgespring om hoër te hardloop. Skielik is dit asof die massa water sy hoogetpunt bereik het en stabiliseer net ‘n paar meter onder hulle.
*
Flip, Maans, Dawie en die ander kyk op as hulle die dreuning hoor. Eers voel dit asof die hele berg begin sidder en dan is daar die geluid van iets, amper soos ‘n trein wat aangestoom kom. Die spruitjie, honderde meter onder hulle, begin voller loop en oomblikke daarna kom die golf aangedreun. Dit slaan teen die oorkantste koppie vas, amper soos ‘n kar wat te vinnig deur ‘n draai kom en dit op die nippertjie weer op die pad kry. Die golf is baie meters hoog en soos Newton se tweede wet bepaal, kry dit spoed en momentum vanaf die honderde duisende ton water wat vanaf die vol dam se oppervlak dit vorentoe druk. Dit raas sò erg, dat hulle skaars die gille en krete van die massas mense hoor wat meegesleur, rondgeslinger, onder die water ingedruk word, sodat hulle longe bars en bewusteloos raak in die chaos.
Uiteindelik is dit op sy hoogtepunt en die water, wat nie naby hulle gekom het, hier bo in die berg nie, begin sak. Amper soos ‘n bad wat leegloop, eers stadig, maar dan al vinniger, bedaar die woede van die water en dit loop weg. Nie heeltemal nie, maar die spruit wat eers letterlik net ‘n enkeldiep stroompie was, is nou ‘n rivier. Na tien minute begin die oppervlak sak en dit raak weer net kniediep. Maar dis soos ‘n groot besem wat alles weggevoer het. Selfs van die grootste bome is stroom-af gesleur, bosse, gras, alles. Mense ook.
“Wat het nou gebeur?”
“Daardie wonderwerk waarvoor ons gebid het? Ek dink ons het dit sopas gesien gebeur”.