Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dank God dat die toekoms van ons volk nie in die hande van heidene berus nie, maar in SYNE! Daarom gee ek op hierdie dag geen treë sonder Hom nie. Met Hom loop ek tot aan die uithoeke van die aarde!
BROKKIES UIT DIE BOEK – DROOMLAND (3)
Oorloë tussen nasies kan verskillende oorsake hê, soos ekspansionisme, dit wil sê grensverbreding, kolonialisering (al word dit nie meer so genoem nie) magsug, ekonomiese verval of druk, selfverdediging, soeke na grondstowwe en natuurlik politieke verskille.
Burgeroorloë is anders. Natuurlik is daar politieke redes, interne wrywing, verval van stelsels, onderdrukking, maar daar kom ook faktore by soos aanhitsing, regeringsvergrype en diskriminasie. Behalwe vir die heersende oorlog in Oos-Europa wat nie-verklaard is nie, is die meeste oorloë tussen verskillende lande verklaarde ooroë. Burgeroorloë is feitlik deurgaans – met enkele uitsonderings – ook uiteraard onverklaard.
Dikwels is die oorsaak daarvan interne wrywing wat vir baie lank smeul, totdat dit plek-plek begin opvlam en in baie gevalle waar ‘n korrupte regering omver gewerp word en daar nie net tussen die bestaande regering en die ongelukkiges gewapende konflik ontstaan nie, maar ook tussen verskillende burgerlike groepe.
Die Franse Rewolusie was in wese niks minder as ‘n burgeroorlog tussen die adelstand en die “bourgeoisie”, die burgerlikes, nie.
In Amerika was die rede vir een van die bloedigste oorloë ooit ‘n moreel-etiese een, naamlik die afskaffing van slawerny. Natuurlik was daar ook redes agter die redes, soos die reg op onafhanklikheid waarop die suidelike state aangedring het.
Die Spaanse Burgeroorlog was as gevolg van ernstige sosio-ekonomiese probleme, soos armoede en ongelykheid. Die hoofrede was egter die mislukking om mekaar se regte en menings te respekteer.
Onlangs, in die Bosniese oorlog, is Bosnië verdeel in twee selfregerende entiteite, naamlik die Bosniese-Serwiese Republiek en die Moslem-Kroasiese Federasie, losweg verbind deur ‘n sentrale regering. In Augustus 1995 het die Kroasiese leër die areas in Serwië, onder Serwiese beheer, bestorm en duisende moes vlug. Binnekort was Bosnië en Serwië ten volle onafhanklik. Dit sou ook nie verkeerd wees om godsdiensverskille as rede aan te voer nie. Die burgeroorlog duur vir jare en die burgers veg om blote oorlewing.
In Rwanda het die burgeroorlog ontstaan as gevolg van ‘n gedurige dispuut tussen die Hutu en Tutsi-groepe binne die Rwandese bevolking. Min mense onthou dat daar ‘n maatskaplike rewolusie was in 1959-1962, wat ‘n vreemde regeringvorm tot gevolg gehad het, naamlik ‘n Tutsi monargie wat vervang is deur ‘n Hutu-beheerde Republiek, wat tot gevolg gehad het dat daar teen die Tutsis gediskrimineer is en 360 000 het na die buiteland gevlug.
Vanaf Oktober 1990 is ‘n volskaalse burgeroorlog van stapel gestuur, toe die RPF die noord-ooste van Rwanda binnegeval het. Die gevolg was ‘n poging tot etniese suiwering, wat tot gevolg gehad het dat binne ‘n honderd dae is tussen 800 000 en 1000 000 Tutsi’s en gematigde Hutu’s uitgemoor is. Die mees basiese rede was etniese verskille.
Elke denkende mens wat hierdie geskiedkundige gebeure sou raaklees, sal sien dat feitlike elke tendens wat tot burgeroorlog gelei het, in Suid-Afrika aanwesig is.
In Suid-Afrika het al bogenoemde redes dan ook tot ‘n klimaks gekom. ‘n Nie-verklaarde burgeroorlog het ontstaan in 1976 met die sogenaamde “Jeugonluste” (hoe het die joernaliste geweet waar om te wag daarvoor om net op die regte oomblik ‘n foto kon neem van die dooie Hector Petersen?) wat gewoed het tot 1994, waar die Nasionale Party ‘n bloedlose oorgawe gemaak het aan die ANC.
Hierdie oorlog het nooit opgehou nie, maar het bloot ‘n regeringsgesteunde laegraad burgeruitwissing tot gevolg gehad, waar die blankes stelselmatig verontreg is, die slagoffers was van plaas en dorpsmoorde, marteling en verkragting.
Staatsbeheerde entiteite is doelbewus leeggestroop van infrastruktuur, geld en kundigheid. Waar die regering nie kon waag om ‘n Marxistiese bewind te verklaar nie, is die breë bevolking stelselmatig verarm, van staatshulp afhanklik gemaak met meer as 18 miljoen mense uit ‘n bevolking van 60 miljoen, (later sou dit styg tot 28 miljoen) wat van maatskaplike toelae afhanklik is, wette gepromulgeer is om op elke terrein die bevolking afhanklik te maak van die onbeholpe magshebbers, hulle stelselmatig te ontwapen, verarm en protesterende stemme stil te maak.
Hulle, die ANC, het egter twee dinge nie in ag geneem nie, naamlik die menslike faktor, waar hulle te doene gekry het met die verwoede wesenlikheid van die Boere, wat vir elke dekade van hulle bestaan geveg het teen oorheersing en nooit afgeskrik was deur ‘n oormag of beter wapentuig nie.
Die tweede was hulle eie onbevoegdheid, wat hulleself ontmagtig het met ‘n regering wat nie meer die goedkeuring van die swart bevolking weggedra het nie, die polisiediens verswelg het met onbekwaamheid, die weermag ontman het met onopgeleide senior offisiere en gedemoraliseerde soldate en helaas ‘n regstelsel wat in disrespek verval het met onder andere die Openbare Beskermer wat onbevoeg is en die regterpresident wat onregmatig by verskeie sake ingemeng het om politici te beskerm.
Daar was dus geen verwering teen massaopstande toe SASSA nie meer sy verantwoordelikheid kon nakom nie, miljoene verhonger het, Eskom, ten spyte van die Hoof Uitvoerende Beampte en Hoof Operasionele Beampte se ywer uiteindelik in ‘n massa-ineenstorting verval het, met die kragnetwerk wat eenvoudig uitgeskakel het.
Hierdie val van Eskom is nie net te wyte aan jare se leegstroop nie, maar ook vanweë doelbewuste sabotasie.
*
Onbewustelik, en sonder sy toedoen, lééf Abel die droom van menige jongman – en selfs nie so jonk nie – om deur die omgewing te swerf met ‘n beeldskone jong vrou naby hom, ‘n puik geweer in die hand en ‘n jonkheid, aangevuur deur ‘n sterk, fikse liggaam, ‘n geleerdheid agter die rug en ‘n blink toekoms wat anderkant hierdie tyd vir hom sal aanbreek.
Dis in ‘n groot mate die vervulling van ‘n man se behoefte aan ‘n mooi vrou, opwinding, jagtersinstink, die begeerte om gewapend die vyand aan te durf, die ekstase wat noodwendig daarmee gepaardgaan en met gevaar, die kans om jou eie toekoms uit chaos te smee.
“Het jy al aan ‘n plan gedink?”
“Om te oorleef, of om wraak te neem?”
“So jy dink ook aan vergelding?”
“Natuurlik! Maar kom ons noem dit iets anders, soos ‘regsteling’, of ‘geregtigheid’.”
“Is jy goed met daardie lang geweer?”
“Ek weet nie. Ek was goed met ‘n oop-visiergeweer, maar hierdie een het ek nog nooit gebruik nie. Dit was my pa s’n, wat hy gedurende diensplig gebruik het en nooit teruggegee het nie.”
“Is dit nie onwettig nie?”
“Dit was.”
“Watse werk het jou pa gedoen?”
“Hy was ‘n mediese dokter.”
“En jy?”
“Ek is ‘n meganiese ingenieur, maar ek het nog nie gewerk nie.”
“Ek was skaars klaar met skool.”
Die twee loop ‘n hele ruk in stilte.
Nala gaan staan skielik stil.
“Wag! Hoor daar…”
Abel hoor dit ook nou, die geluid van die geskuifel en klap van baie voete op die teer. Hy loop voor Nala uit, versigtig, om nie gesien te word nie, totdat hulle op die hoek van die straat kom, naby die aansluiting van die hoofpad. Wat hulle sien is amper te veel om in te neem – duisende en duisende mense is aan die beweeg. Hulle vul die pad vanaf die skouer daarvan, weerskante van die teer, tot by die ander skouer.
Hulle loop soos mense wat tot die dood toe moeg of moedeloos is, stadig, meedoënloos; manne, vroue, kinders, oumense, babas in die arm of op die rug. Byna elkeen dra bagasie van een of ander aard, wat wissel van rugsakke, reistasse, inkopiesakke en selfs swart asbliksakke wat oor die linkerskouer gegooi is. Oral is knopkieries, grawe, tuinvurke, stokke, pangas en ander wapens te sien, maar geen vuurwapens nie. In elk geval nie opsigtelik nie.
Skielik is daar beweging – nee, eerder paniek – as die meeste vroue begin gil, hulle bagasie laat val en kante toe skarrel.
“Wat…?”
Dan sien hulle die rede. ‘n Viertal bakkies kom aangejaag vanaf die Weste. Geen normale mens sou teen hierdie spoed tussen mense injaag nie, maar dis duidelik dat die drywers van hierdie voertuie hulle nie steur aan enigiets normaal of sosiaal-aanvaarbaar nie.
Bokant die geraas van bande en enjins, ratte wat knars in gemartelde ratkaste, die geskreeu van die mense wat nou nie meer loop nie, maar paniekerig weghardloop en die pad oopmaak soos ‘n spruit wat verby ‘n eilandjie loop, klink die klap en knetter van semi en vol-outomatiese vuurwapens.
Sommige manne skiet bo-oor die kajuite van die bakkies, ander hang langs die kante van die bak uit en skiet sonder inagneming van wie of wat tussen die skare in, hetsy man, vrou of kind.
Die voorste voertuig kom met skreeuende, gepynigde bande tot stilstand. Die manne agterop spring af en skiet uit die heup, met monde wat oophang van opwinding, totdat die magasyne leeg is. Die pad is gesaai van lyke en gewonde mense wat stil lê, kreun en skreeu van pyn en om hulp. Die aanvallers steur hulle nie daaraan nie, maar skop hier en daar iemand uit die blote magsverheerliking wat dit meebring. ‘n Skoot of wat klap nog af en toe as iemand uit hulle lyding gehelp word, of sommer net.
Sommer net.
Die bagasie word oopgemaak, sakke oopgeskeur en uitgegooi op die genadelose, warm teer. Met tone en vingerpunte word alles deursoek vir enige waardevolle items. As hulle daarmee klaar is, kom die liggame aan die beurt. Horlosies, ringe, kettings, beursies, gordels, skoene, kos, drinkgoed – enigiets wat op daardie oomblik as waardevol beskou word, word aan hulle eie nekke en gewrigte gehang. Die res word argeloos agterop die bakkies gegooi.
Die enjins brul aan die gang en met bande wat skreeu en adrenalien-aangejaagde gille wat klink uit die aanvallers se kele, jaag hulle verder aan. Daar is niks soos die oorwinning van ‘n veldslag (al was die vyand grootliks ongewapen) om ‘n man goed te laat voel nie.
Een van die voorbokke is ‘n blanke man en hy het ‘n rooi vroue kerkhoed op, met ‘n wit band.