Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die grootste wonder van lyding is NIE om juis daarvan verlos te raak nie maar om God daarin raak te sien en in Hom jou antwoord te vind.
JOHANNES VD WALT - DIE MENS (9)
Lees reeks by Johannes van der Walt - Nasionalis en Boer
SWAARGEWIGKAMPI0EN VAN DIE BRITSE RYK
Ná sy terugkeer in sy vaderland het Johannes nog aan baie stoeigevegte deelgeneem. Sy terugkeer was in die begin van die historiese Voortrekkereeufeesjaar, toe die Boere weer hul baard laat groei het — tot ergernis vir baie ander mense. Johannes het sy baard ook laat groei; wanneer hy in die stoeikryt verskyn het, het sy Boerebaard saam met hom verskyn.
Van die gevegte waaraan hy sedert sy terugkeer deelgeneem het, is daar een wat ons meer in besonderhede wil deurgee.
Op dié dag toe Johannes met die "Pretoria" in Kaapstad aangekom het, het die "Duilio" swaargewigkampioenstoeier van die Britse Ryk en Australië geland — George Pencheff. Nadat hy aan wal gestap het, het Pencheff die hoop uitgespreek om teen Johannes van der Walt te stoei: "Hoe ek sal vaar, weet ek nie," het hy gesê, "maar ek sal van my beste lewer om nie een van die twee titels wat ek het, te verloor nie." Op 11 April het Johannes voor 'n groot skare in die Wanderers teen George Pencheff opgetree om die Britse Rykstitel en die goue gordel wat deur die Transvaalse Nasionale Sportklub aan die wenner uitgeloof is.
Van begin tot einde was daar nooit 'n dooierige oomblik in die titaniese botsing tussen die twee reuse van die stoeikryt nie. Die eerste paar minute van die aanvangsrondte was wel gekenmerk deur versigtige optrede aan die kant van albei stoeiers, maar toe hulle eers mooi op stryk was, het dit soms so vinnig gegaan dat dit vir die toeskouer moeilik was om al die grepe noukeurig te volg. Die een oomblik was dit Johannes wat in 'n moeilike greep beland het, maar dan weer het 'n teengreep soos blits gevolg en moes Pencheff spartel om sy skouers van die mat te hou.
Soos verwag kan word, het die eerste rondte mooi gelyk geëindig met albei slegs vir enkele oomblikke op die mat. Johannes het sy teenstander een of twee maal vasgevat, maar Pencheff het homself gou losgewoel.
In die eerste paar minute van die tweede rondte was dit die besoeker wat aangeval het. Hy het Johannes tweemaal in 'n spalkgreep gevang en alles in sy vermoë gedoen om die bloedsomloop in sy linkerarm stop te sit. Johannes het hom egter eindelik weggeskop en toe met 'n vinnige beweging 'n geweldige hamerslot toege pas. Hy het Pencheff se arm agter sy rug beetgekry, die bloedsomloop met sy been verhinder en die gewrig met albei sy hande neergedruk. Die Australiër het letterlik gekreun van die pyn en die skeidsregter het horn telkens gevra of hy toegee. Pencheff was heeltemal magteloos en sy gelaatstrekke was verwronge van die pyn wat hy moes verduur, maar hy het hardnekkig geweier om in te gee — totdat die klok hom eindelik gered het. Sy helpers het gedurende die pouse hard gespook om die arm weer reg te kry. Die derde rondte was een van die mooiste van die hele geveg. Grepe het die een na die ander gevolg, maar nooit het die twee van ruwe stoei gebruik gemaak nie. Johannes is in Pencheff se gevaarlike lyfskêr gevang, maar het losgekom en op sy beurt 'n beengreep toegepas.
In die vierde rondte het albei van die volstruisskop gebruik gemaak — maar dit het nie op iets besonders uitgeloop nie. Teen die einde van die rondte is Johannes in 'n folterende kortarmskêrgreep vasgegryp.
En toe kom die verrassende vyfde rondte. Johannes is 'n paar maal in die kryt rondgeslinger, maar juis toe Pencheff horn van agter byloop met die doel om 'n greep toe te pas, het hy skielik neergebuk en die Australiër se been gegryp. Laasgenoemde het andermaal gekrul van die pyn, maar hy het daarin geslaag om los te kom. Johannes het weer probeer om hierdie greep toe te pas, maar sy teenstander was nou te veel op sy hoede; skielik het hy Johannes se arms vasgevat, horn bolmakisie laat slaan en sy skouers na die mat gedwing. Johannes was in so 'n posisie dat hy horn nie kon loswoel nie, en Pencheff het daarin geslaag om die eerste val aan te teken. Die toeskouers was lamgeslaan van verbasing, want die Australiër se teengreep het so vinnig gekom, dat baie min van hulle in staat was om dit te volg.
Dit was egter die keerpunt in die geveg. Vanaf die lui van die klok vir die sesde rondte het Johannes deurgaans op die aanval gebly en Pencheff moes verdedig so al wat hy kon.
In die sewende rondte het Johannes vir Pencheff vasgedruk. Pencheff het horn stormgeloop, maar Johannes was reg vir die Australiër en 'n volmaakte volstruisskop het horn laat terugsteier; voordat hy kon herstel was die Afrikaner op horn en druk horn vas. Dit was nadat slegs 'n minuut of wat van die rondte verloop het.
Nou was hulle gelyk. Daar was nog een rondte oor. Nou het dit soos weerlig gegaan. Die twee het mekaar verwoed bygedam en in 'n geweldige stormloop in die middel van die kryt gebots. Die slag was so geweldig dat albei skoon katswink was. Johannes was die eerste om tot herstel te kom; hy het horn dadelik op Pencheff se uitgestrekte liggaam gewerp en horn vir die volle telling neergehou. Hulle was albei so kapot, dat die skeidsregter hulle van mekaar moes trek en hul bystanders hulle na hul hoeke moes help.
Dit was 'n uiters spannende geveg. Voortdurend was daar dawerende toejuigings. Toe Johannes die oorwinnende val aanteken, was daar aan die gejuig geen einde nie. Toe die goue gordel om die oorwinnaar gehang word, het die skare die kryt bestorm en minute aaneen gejuig. Gedagtig aan die mooi vertoning van die verloorder, het die skare horn egter ook drie hoera's gegee. Johannes het self ook oorgestap en sy moedige teenstander se hand geskud.
As gevolg van hierdie oorwinning, wat as een van die skitterendste van sy loopbaan aangeskryf staan, was Johannes van der Walt nou die swaargewigkamspioenstoeier van die Britse Ryk.
'n Struikelblok het egter op sy pad gelê — Earl McCready. die Kanadese kampioen, wat as die derde-beste stoeier in die wêreld beskou is in 'n ranglys opgestel deur Nat Fleischer, redakteur van "The King", 'n gesaghebbende Amerikaanse tydskrif. Op 26 November 1938 moes Johannes die Rykstitel aan McCready afstaan met 2 toegeevalle teen 0. Johannes het na aanleiding van hierdie geveg verklaar: Ek onderskat McCready hoegenaamd nie, maar as nog het hy geen drukvalle teen my aangeteken nie, en die twee toegeevalle was grootliks daaraan te wyte dat ek niks met my linkerarm kon uitvoer nie. Die gevolg was dat ek verplig was om toe te gee sodra hy my in sy seekatgreep gevang het, 'n greep wat hy maklik kon toepas weens my onvermoë om. my arm te beweeg." Daarom wou hy graag 'n tweede geveg met McCready hê. Hierdie geveg het op 1 April 1939 plaasgevind. In die eerste vier rondtes was sake taamlik gelyk, maar in die vyfde het McCready vir Johannes met 'n geweldige lyfgooi na die mat gedwing en hom vasgedruk.
Die sesde rondte het teen 'n vinniger vaart afgesit en op een stadium het albei deur die toue geval. In 'n poging om sake gelyk te maak, het Johannes steeds op die aanval gebly. Hy het McCready in 'n pynlike toongreep gevang, maar is deur die toue geskop; hy was skaars terug of hy het McCready in 'n armslot vasgevat. Laasgenoemde moes heelwat pyn verduur, maar het geweier om toe te gee en Johannes moes hom met elmboogstampe en volstruisskoppe toetakel om hom tot onderwerping te probeer dwing. McCready het egter aangehou tot die einde van die geveg aangekondig is met 1 val teen 0. Die aankondiging dat die tyd van die wedstryd verstryk het, was sy redding want, toe die klok lui, het hy inmekaargesak. Johannes het toe deur die aankondiger 'n uitdaging aan McCready gerig om met hom in ‘n stoeigeveg te tree sonder tydsbeperking — 'n "deur-geveg" — om die Rykstitel. McCready het die uitdaging nie aangeneem nie. Nie een van die gevegte met McCready het om die goue gordel gegaan wat daarna in Johannes se besit gebly het.
Vervolg...