Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die dood is die kleedkamer waar gelowiges vir die ewigheid aantrek; dis nie ʼn punt nie, maar eerder ʼn komma in die verhaal van ons lewe. Dank God daarvoor!
VOLG HOM NA SOOS GELIEFDE KINDERS
Hannes Ollewagen
Efés. 5:1-21
“WEES dan navolgers van God soos geliefde kinders;en wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as 'n gawe en offer aan God tot 'n lieflike geur.” (:1&2).
Die HERE rig in hierdie brief van Paulus aan die Efésiërs om ons aandag op twee sake te vestig. Ten eerste word ons gemaan om God soos geliefde kinders na te volg. Hierdie opdrag wat vir ons daarop wys dat God veel meer van ons verwag as om net te probeer om die “minimum vereistes” van die wet slaafs na te kom. Ons moet Hom navolg soos geliefde kinders. Benewens ons gehoorsaamheid, is die gesindheid waarmee ons Hom dien ook van groot belang. Navolgers soos geliefde kinders.
Kinders in ’n gesonde verhouding met hul ouers het vir hul ouers groot ontsag en ook ’n groot bewondering. Hulle aanvaar die gerusstelling van hul ouers met dieselfde vertroue as hul vermaning en teregwysing. Dit is vir kinders ’n uitgemaakte saak dat hul ouers hul belang op die hart dra en hulle vertrou hul daarom ten volle. En die HERE verwag dit ook van ons as sy kinders. Ons moet Hom gehoorsaam, nie ’n slaafse gehoorsaamheid om ander mense te beïndruk omdat ons gemeenskap of samelewing dit verwag nie. Hierdie gehoorsaamheid moet spruit uit ons liefde en eerbied vir ons hemelse Vader.
Ons lees in Mal. 1:6-8 waar God juis met sy volk twis oor hul gebrek aan eerbied vir Hom. Alhoewel hulle “gehoorsaam” was deur die offers aan Hom te bring soos in die wet voorgeskryf, het die aard van hierdie offers (“gehoorsaamheid”) getuig van die gebrek aan eerbied vir Hom. En hierdie gedrag het Hom geensins behaag nie. “’n Seun eer die vader, en ’n kneg sy heer. As Ek dan ’n Vader is, waar is my eer? En as Ek ’n Heer is, waar is die vrees vir My? sê die HERE van die leërskare aan julle, o priesters, wat my Naam verag! Maar julle sê: Waardeur het ons u Naam verag? Julle bring spys wat verontreinig is, op my altaar, en dan vra julle: Waardeur het ons U verontreinig? Deurdat julle sê: Die tafel van die HERE is veragtelik. En as julle ’n blinde dier bring om te offer, is dit geen kwaad nie! En as julle ’n lam of ’n siek dier bring, is dit geen kwaad nie! Bring dit tog vir jou goewerneur! Sal hy ’n welgevalle aan jou hê of jou goedgesind wees? sê die HERE van die leërskare.”
Ons word dan ten tweede beveel om in liefde met God te wandel. Dit sluit aan by die eerste vermaning en benadruk verder die verwagting van God dat ons Hom met die regte gesindheid moet dien. ’n Slaafse nakoming van die wette van God sonder die regte gesindheid van liefde en opregtheid is nie die ware Godsdiens nie. Die Fariseërs en skrifgeleerdes het dit ook reggekry om slaafs die wette van God na te kom, maar die liefde het by hulle ontbreek. En ons weet dat daar geen goeie verhouding tussen hulle en Christus bestaan het nie.
“TOE het Jesus die skare en sy dissipels toegespreek en gesê: Die skrifgeleerdes en die Fariseërs sit op die stoel van Moses. Alles wat hulle dan vir julle mag sê om te onderhou, onderhou en doen dit; maar volgens hulle werke moet julle nie doen nie, want hulle praat en doen nie. En hulle doen al hul werke om deur die mense gesien te word, ... Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle ná: die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat.” (Matt. 23:1-3, 5, 23.).
Paulus verwys na die toewyding van Christus wat Homself ter wille van ons volkome oorgegee het. Daar was geen offer vir Hom te groot of te kosbaar om te bring nie. Hy was tot elke prys bereid om te offer wat van Hom gevra word – selfs sy eie lewe. Hierdie offers is gebring omdat sy liefde vir God die Vader so volkome was. En hierdie liefde en toewyding is wat God ook in die lewe van sy kinders wil sien. Hierdie vermaning vind ons ook in Romeine 12:1. “EK vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle redelike godsdiens.” Ons redelike Godsdiens – die opoffering van onsself aan God. Daardie dinge wat ons nie bereid is om aan Hom te offer nie is strydig met die eis van die eerste gebod. “En Jesus antwoord hom: Die eerste van al die gebooie is: Hoor Israel, die Here, onse God, is ’n enige Here; en jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag. Dit is die eerste gebod.” (Mark. 12:29&30).
Mag hierdie vermaning ons ook tot ondersoek van ons gesindheid teenoor God bring en ons harte na Hom as ons liefdevolle Vader rig. En mag ons daarna streef om Hom nie te dien met die tyd of ywer wat oorbly in ons lewe nadat ons ons eie planne en begeertes nagejaag het nie, maar Hom die hoogste in ons lewe stel en Hom met volle toewyding dien en Hom soos geliefde kinders navolg.