Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoe lyk jou lewe vanoggend? Is jy in ’n doodloopstraat? ’n Doodloopstraat is natuurlik die beste straat om ’n U-draai in te maak; so ook in die lewe. Dink maar aan die verlore seun wat tussen die varke in ’n doodloopstraat beland en toe die U-draai in sy lewe gemaak het, terug na sy vaderhuis.
1901: PRESIDENT PAUL KRUGER SE VROU, GEZINA
KULTUURDAGBOEK 20 JULIE
Lees volledig by Kultuurdagboek
Met Gezina Kruger se afsterwe op hierdie dag het sy pres Kruger diep bewoë en verslae in ballingskap agtergelaat. Meer as 55 jaar lank het sy hom as troue lewensmaat in voor- en teëspoed bygestaan.
Gezina Susanna Frederika Wilhelmina du Plessis is gebore op 6 Mei 1831 en maak as kind die Groot Trek mee in die Potgietertrek.
As jong seun het Paul Kruger haar, 'n niggie van sy eerste vrou, geken en na die dood van sy eerste vrou is hy met Gezina in Januarie 1846 getroud. Uit hulle huwelik is sestien kinders gebore.
Gezina het jare lank met swak gesondheid gesukkel en etlike kere by die dood omgedraai.
Toe Kruger in 1877 na Europa moes vertrek om teen die anneksasie van Transvaal beswaar te maak moes hy haar siek op Boekenhoutfontein agterlaat. Weens sy toenemende politieke bedrywighede het Kruger in 1881 besluit om permanent in Pretoria te gaan woon.
In 1883 word hy vir die eerste keer tot president verkies. Ten spyte hiervan het die Krugergesin hulle natuurlike en eenvoudige huislike lewe voortgesit.
As boerevrou hou Gezina melkkoeie aan op hulle groot erf in Kerkstraat en kry hulle al hul lewensbenodigdhede van hulle plaas af.
Aan haar man se toenemende openbare bedrywighede het sy nie deelgeneem nie. Sy verskyn op geen foto waar die President in die openbaar verskyn nie.
As tipiese Afrikanervrou van die negentiende eeu het sy dit as haar eerste plig gevoel om vir haar man 'n rustige en warme huislike lewe te skep en 'n goeie moeder vir hulle groot gesin te wees. Sy was 'n knap huisvrou en bekend vir haar pragtige fyn naaldwerk. Volgens getuienis van tydgenote was sy 'n sagte mens, beskeie, vriendelik en altyd bereid tot opoffering.
Vir die President was sy 'n steunpilaar, en hy was afhanklik van haar toegewyde versorging. Op portrette waar sy in deftige boeredrag as Presidentsvrou verskyn is haar houding rustig en kalm, die blik in die helder oë onbevrees.
Gezina Kruger was diep godsdienstig en gelowig. Saam met die President besoek sy gereeld die Gereformeerde Kerk in Kerkstraat waar hulle kerkstoele vandag nog bewaar word.
Soos vir talle Afrikanervroue in hierdie jare help haar geloof haar deur moeilike tye en kry sy krag om beproewinge te verduur en te berus.
Kort voor haar dood was haar laaste boodskap aan haar man dat hy sy vertroue in God moet stel. As Presidentsvrou het sy ook die smart en ontwrigting van die Engelse Oorlog beleef. Vol kommer het sy die verloop van die oorlog saam met die President gevolg. Vier van haar seuns, vyf skoonseuns en 33 kleinseuns was op kommando. Saam met duisende ander Afrikanervroue in hierdie jare, in konsentrasiekampe of vlugtend in die veld, het sy die smart beleef van mans en seuns wat gesneuwel het of gevange geneem is.
Toe pres Kruger op 29 Mei 1900 in ballingskap vertrek kon sy hom weens swak gesondheid nie vergesel nie. Dit moes 'n bitter afskeidsuur gewees het met die wete dat hulle mekaar waarskynlik nooit weer sou sien nie.
Op 20 Julie 1901 het Gezina sag en berustend heengegaan. Sy was 'n voorbeeld van die tipiese Afrikanervrou van daardie eeu, gevorm en gestaal deur die patriargale pionierslewe – vroue wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie, bekwaam en selfstandig.
In haar loop ook soos 'n goue draad dié dinge wat die Afrikanervrou van die negentiende eeu as kultuurdraer gekenmerk het: haar geloof en nasietrots wat sy as vanselfsprekend aanvaar en uitgeleef het.