Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As iemand jou 'n onreg aangedoen het en jy probeer hom terugkry – iets sleg aan hom terug wil doen – dan is jy besig om in te meng met God se genade en vergifnis. As jy die saak nie in liefde kan skik nie, gee dit in gebed vir die Here en laat Hy dit op sy tyd hanteer sonder om Hom voor te skryf hoe, want jy het nie van beter geweet nie – Hy sal.
GOEIE BEGEERTES
Hannes Ollewagen
1 Kon. 3:1-28
“Nou dan, Here my God, U het u kneg koning gemaak in my vader Dawid se plek; maar ek is ’n jong seun; ek weet nie om uit of in te gaan nie. En u kneg is midde onder u volk wat U verkies het, ’n groot volk wat nie getel of bereken kan word weens die menigte nie. Gee dus aan u kneg ’n opmerksame hart om reg te spreek oor u volk, om tussen goed en kwaad te onderskei, want wie sou hierdie talryke volk van U kan regeer? En dit was goed in die oë van die Here dat Salomo dit begeer het.” (:7-10).
Hierdie begeerte wat in die hart van Salomo was, was goed in die oë van die Here. Hierdie begeerte wat getuienis lewer van Salomo se liefde vir en toewyding aan God. Salomo begeer ’n opmerksame hart om sy verantwoordelikheid teenoor God sowel as sy volk na behore te kan nakom ten einde God te behaag. Salomo se liefde in hierdie saak word onderstreep in die algehele onbaatsugtigheid van hierdie versoek. “Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, ...”. (1 Kor. 13:4&5).
God bevestig die behae wat Hy in hierdie reine begeerte van Salomo het deur aan hom selfs daaraan seëninge toe te voeg wat hy nie eers gevra het nie. Hierdie begeerte van Salomo het gespruit nie alleen uit sy liefde vir God en sy volk nie, maar ook uit sy ingesteldheid van sy diensbaarheid aan God. Hierdie was nie ’n vleeslike begeerte wat Salomo bevredig wou hê met ’n gedagte dat God net gereedstaan met allerhande seëninge wat Hy op versoek van die mens moet uitdeel asof Hy die mens se dienskneg sou wees nie. Laasgenoemde ongelukkig ’n baie skewe siening wat gevorm word deur die prediking van voorspoedsteoloë. Hierdie begeerte van Salomo is gevorm deur sy suiwere ingesteldheid op sy diensbaarheid aan God in die posisie waarin God hom gestel het. “Nou dan, HERE my God, U het u kneg koning gemaak in my vader Dawid se plek;...” (1 Kon. 3:7). Hy beskou sy posisie nie as sy eie prestasie nie. Hy beskou dit nie as sy reg of iets wat hy verdien nie. Hy beskou dit as ’n besluit van God om hom as koning daar te stel en dat hy die verantwoordelikheid het om God in hierdie posisie as koning te dien. En vandaar – vanuit sy liefde vir God en toewyding in sy diensbaarheid aan Hom word hierdie kosbare begeerte gebore.
Hierdie begeerte van Salomo sowel as die ontstaan hiervan bring vir my ’n nuwe perspektief van Joh. 14:13&14 na vore. “En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.” Dit wat ons vra in diensbaarheid aan Hom sal Hy nie van ons weerhou nie. Dit beteken nie dat elke versoek wat maar afgesluit word met “in Jesus se Naam” toegestaan sal word nie, maar dit wat ons in sy Naam, onder sy gesag, in sy diens en volgens sy wil vra, sal toegestaan word. Ek dink aan die voorbeeld van Elía wat twee versoeke aan God gerig het wat in wese presies die teenoorgestelde was. Die een versoek was dat dit nie moes reën nie – en dit is toegestaan. En die ander versoek was later weer dat dit moes reën – en dit is ook toegestaan. En albei hierdie versoeke is in diensbaarheid aan God gebring en derhalwe het God hom verhoor. “Elía was ’n mens net soos ons, en hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie; en hy het weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy vrug laat uitspruit.” (Jak. 5:17&18). En is die woorde van onse Here Jesus Christus uit Joh. 11 nie in hierdie verband ook so betekenisvol nie? Wanneer Hy gaan om Lasarus uit die dood op te wek, stel Hy dat Hy weet dat God Hom altyd verhoor. En hoe dan anders met Hom wat in alles aan God die Vader diensbaar was! “...En Jesus het sy oë opgeslaan en gesê: Vader, Ek dank U dat U My verhoor het; en Ek het geweet dat U My altyd verhoor, maar ter wille van die skare wat rondom staan, het Ek dit gesê, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.” (Joh. 11:41&42).
Dink u dat God aan sy vyande hul bedes tot Hom sal toestaan? Hierdie vreemde vraag is egter van belang aangesien Satan ons verkeerde en vleeslike begeertes so maklik inspan om ons verhouding met God te vertroebel. Wanneer ons gedurig versoeke tot God rig wat uit ons vleeslike begeertes gebore word, sal dit onbeantwoord gelaat word. En hierdie toedrag van sake maak ’n mens maklik moedeloos of opstandig teenoor God. Laasgenoemde iets wat Satan graag sal aanwend om twyfel in ons harte te saai. “Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring. Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teenoor God is nie? Wie dan ’n vriend van die wêreld wil wees, word ’n vyand van God.” (Jak. 4:3&4). En so is die teenoorgestelde ook waar, naamlik dat ons gebede wat ons binne God se wil rig en wat beantwoord word tot versterking van ons geloof is en ons nader aan Hom bring.
Dit is dalk vir elkeen van ons nodig om die begeertes in ons harte opnuut te beoordeel ten einde vas te stel hoeveel daarvan ons eie vleeslike begeertes is wat ons eerder vroeër as later moet laat vaar en opnuut te fokus op ons diensbaarheid en liefde vir God wat ons harte sal vul met kosbare en reine begeertes wat nie sal teleurstel nie.
“As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry. Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees.” (Joh. 15:7&8).