Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Is jou lewe donker?
“Kom, huis van Jakob en laat ons wandel in die lig van die Here!” (Jes.2:5)
WAAGHALSIGE AVONTURE (2)
Lees reeks by Kordaatstukke uit die 2eVryheidsoorlog
KOELBLOEDIGE PERDEBUITERY
Hierdie verhaal kom uit die boek Oorlogsavonture van genl. Wynand Malan, deur H.J.C. Pieterse.
Genl. De Wet se hooflaer het 'n paar dae by Schoemansdrif aan die Vaalrivier vertoef. Van hier uit het ons, d.w.s. sommige van Theron se verkenners, enkele hoogs avontuurlike uitstappies gedoen. Die eerste het so gekom.
In die buurt van Parys lê daar 'n rant, en die Engelse, wat aan die een kant van die rant gekampeer het, skiet sommer daar dwarsoor heen met hul kanonne. Dit was in daardie dae toe hul vernielsug en brandlus geen perk of paal geken het nie. Dis te begryp dat so 'n blinde bombardeerdery op die ou einde nie goed sou afloop nie. Toevallig is 'n huis getref. Die bom bars in die eetkamer en 'n twaalfjarige dogtertjie verloor die lewe.
Die burgers was diep geskok. Ons verontwaardiging was groot. Sulke laakbare strydmetodes moes 'n einde kry. Die Engelse generaal, of wie ook al verantwoordelik was vir hierdie gruweldaad, moes gestraf word. Hy moes voor 'n burgerkrygsraad gedaag en veroordeel word. So het ek oor die saak gevoel. Maar hoe om 'n Britse generaal voor 'n Boerekrygsraad te laat verskyn, was natuurlik geheel en al 'n ander saak. Nietemin, as 'n mens opgewonde en verontwaardig is, neem jy meestal vreemde en onverantwoordelike besluite.
Die gevolg was dat ek op my eentjie besluit om die Engelse bevelvoerende offisier tussen sy menigte Kakies agter die berg te gaan uithaal. Op een of ander manier sou ek die generaal se tent bereik. Kyk die generaal eers in die bek van my rewolwer vas, dan is ons oor die hond se stert. Dan stap ons twee gesels-gesels en ongeêrg tussen die niksvermoedende wagte deur, en dis laaste sien. Die gevare aan hierdie onderneming verbonde, het ek een vir een oorweeg. Hulle was natuurlik baie; maar op die ou einde het die hart die verstand oorreed. Deug die plan, goed. Misluk hy, nou wel, 'n mens is maar een dood skuldig.
Vir mense wat Kakie nie van naby leer ken het nie, mag die hele plan aan kranksinnigheid grens. Wat egter straks gaan gebeur, bevestig nie alleen die uitvoerbaarheid van 'n dergelike onderneming nie, maar behoort te dien om alle twyfel aan so 'n moontlikheid te laat verdwyn.
Nou moes hierdie waagstuk selfs vir komdt. Theron geheim gehou word, en op voorwendsel dat ons proviand nodig het, nogal vir 'n aanstaande verjaarsdagmaal, vra ons hom verlof om aan die Engelse laer 'n besoek te bring. Die Engelse het ons tog buitendien later van alles voorsien - klere, kos en ammunisie - ten minste ons moes maar self gaan vat van die groot voorrade van ou “Missies Kween", soos ons koningin Victoria deurgaans genoem het.
Omdat die besoek aan die Engelse kamp helder oordag moes geskied, het die avontuurlike onderneming al hoe gevaarliker begin lyk. Maar nie te wagte, nie te winne! Die waaghalse wat my vergesel, is: Manie Maritz (later generaal), George Meiring, John Neethling en ene Koekemoer - burgers wat nie 'n flenter vir gevaar omgegee het nie.
Om by die vyand uit te kom terwyl hulle ook die rant beset, moes ons onder om die punt van die rant gaan, al met die wapad langs. Die eerste plek wat ons op ons pad aandoen, is 'n afgeleë boerewoning. Hier is net 'n jong nooi en 'n getroude vrou. Ons gesels 'n rukkie, vra 'n paar vrae en ry voort. Skaars ry ons die punt van die rant om of ons sien 'n waentjie, vol gelaai en met agt muile voor, aankom. Twee Hotnots is by die waentjie, terwyl twee Kakies te perd op 'n afstand volg.
Ek sê aan Manie Maritz en Koekemoer om hulle doodluiters by die wa te voeg en toe te sien dat die twee ou bruines sommer regdeur steek na ons hooflaer toe. Met die twee Kakies sal ons drie nader kennis maak en wel weet om sonder veel gedoen oor die weg te kom sonder dat die twee volkies dadelik lont ruik. Die omgewing is natuurlik so vol Kakies dat hierdie naderende drommels sal aanneem dat ons ook Engelse is. Watter Boere sal helder oordag vir die pret die astrantheid hê om so naby die vyandelike magte te kom?
Onderwyl ek by die wa verbyry, skree ek soos wattergoedse offisier: "Boys, stick to the road!" Dit wil sê, moenie afdraai rant se kant toe nie. Gehoorsaam die volkies, dan loop hulle in 'n strik, want die posisie was nou as volg: die Engelse beset die rant. Tussen hierdie Engelse en hul hoofmag verder af loop die wapad deur waarlangs ons nou ry en die muilwa teëkom. Die wa kom dus van die laer af, ry deur die veld tot in die wapad, kom 'n ent met dieselfde pad, maar moet vroeër of later uit die pad draai ten einde rant se kant toe te steek. Dis hul voorneme. Swaai hulle dus nie uit nie, ry hulle natuurlik hul bestemming verby en kom by ons laer uit.
Maritz en Koekemoer ook nie links nie, voeg hulle by die wa, en van daardie oomblik af was die tatas se lot buitendien verseël: net die ontnugtering alleen het nog voorgelê. By die pret en praatjies sou ek ongelukkig nie by wees nie. En toe kom die Kakieruiters. Vlakvoor hulle hou ons stil en gesels in Engels of ons ou bekendes is. Voordat die twee oorblufte vente reg mooi besef wat aangaan, rig ek my rewolwer onheilspellend op hulle. Dit was twee baie verslae Engelse wat ons daarop aan Maritz en Koekemoer oorhandig. Vat hulle maar op die koop toe saam na die laer," sê ek. "Maar moet hulle nie vrylaat voor ons terugkeer nie."
Vroeg die middag bereik Maritz hulle De Wet se laer met die ryk buit, wat bestaan het uit allerhande soorte kos en lekkernye, eintlik bestem vir die Britse offisiere bo op die berg. Ek wil hê daardie here het vergeefs gesit en wag vir hul kos en baie lelike taal gepraat.
Wat my afspraak met komdt. Theron betref en sy verlof daartoe, was ons taak met hierdie heerlike buit mos afgehandel. Maar my eintlike taak, die gevangenisneming van die Britse generaal, moes nog uitgevoer word. Tot dusver het ek nog geen sterfling in my vertroue oor die saak geneem nie, en toe ek sê dat ons voortgaan na die Engelse se hooflaer toe, kon my twee maats nie raai wat ek dan nog wou gaan soek nie. Buitendien het ek my voorgeneem om die laer alleen binne te gaan, en nie ander se lewe op te offer nie. Kort voordat ons die Engelse kamp bereik, sal dit tyd genoeg wees om te praat, al sou ek dan ook nog swyg oor die eintlike doel van my sending.
Ryperde meer werd as 'n generaal
Onderwyl George Meiring, Johnnie Neetliling en ek 'n bietjie vinnig vorentoe aanstoot, kom ons bo op 'n rantjie uit. Reg voor ons uit lê 'n laagte. Aan die onderkant van hierdie laagte is 'n dam. Aan die oorkant van die laagte sien ons 'n menigte Engelse soldate wat verspreid lê en rus in die skaduwees van die bome. Van veel meer belang egter is 'n tweehonderd of meer eersteklas ryperde wat daar vlak voor ons in die laagte wei. A, nee a, het 'n Engelse koning dan nie eenmaal die waarde van 'n goeie strydros bo alle ander dinge gestel nie toe hy uitgeroep het: "A horse, a horse, my kingdom for a horse." Hy moes 'n perd regtig broodnodig gehad het, maar ek laat my dit nie vertel dat sy behoefte ooit groter kon gewees het as genl. De Wet se kommando's s'n nie.
Ek het toe ook so gaan reken: 'n Engelse generaal beteken baie, maar 'n perd meer, in die omstandighede natuurlik. Buitendien was daar ten minste 'n tweehonderd seker perde teenoor een baie onseker generaaltjie. En daarmee was dit voorlopig met die generaalvangery uit. "Laat ons die perde buit," sê ek.
Daar was heelparty Kakies. Hul ooglede was swaar, seker meestal toe, want dit was op die namiddag-uurtjie na etenstyd. 'n Soldaat mors nie sy tyd as hy hom uitstrek om te rus nie. Boonop het die son warm geskyn. Nee, ons kan dit maar gerus waag; die vyand sluimer in, reken ons.
Ek laat Johnnie Neethling as brandwag op die rantjie agter. Hy moes sy oë en ore oophou en ons waarsku. Ons het hier met 'n los afdeling Engelse te doen. Ander Kakies van die hoofmag afkomstig, kon te enige tyd opdaag, en as hulle agter die rant langs kom, sien ons hulle nie voordat dit te laat is nie, en daarom laat ek Neethling daar op die rant staan.
George Meiring en ek trek die stoute skoene aan en ry nader, op ons gemak, net asof die hele buurt met Kakies en perde en al aan ons behoort. Die volgende paar oomblikke sal ons wel leer wat om te doen. Voordat ons nog die perde bereik, kom daar ongelukkig 'n Kakie sommer so bloots op 'n perd aangery. Daar van ver af begin die kêrel al hardop gesels met ons oor sy perd wat hy nie kan kry nie. Hy stel ook sommer 'n boel vrae: of ons dan nie sy perd, wat so en so lyk, gesien het nie? Ons haal dadelik vryer asem. Hierdie kêrel het geen agterdog nie. Praat-praat kom hy nader. Ons sêniks, antwoord hom glad nie. Hy kom nog nader. Sy oë soek 'n besondere perd, nie vyande nie. Hy babbel voort. Nog sê ons niks. Eindelik hou hy sy perd in, vlakvoor my. Ons praat geen woord nie. Die stilte is spannend. Hy kyk op, kyk my vas in die oë - sy verbasing en skrik is oorweldigend. Glo maar om iets te sê ontsnap hom die vraag:
"And what the hell do you want?"
Lakoniek antwoord ek hom: "Yourself and these horses."
Weer stilte, meer spanning, ook vir ons. Sy oë dwaal van een rewolwer na die ander. Beangs kyk hy dan na my, dan na Meiring. Hy besef dis verby met hom. Voortaan gedra hy hom soos 'n lam.
Die eerste rondte het in ons guns uitgeval. Meer nog. Die teenwoordigheid van hierdie Kakie, ten opsigte van een en ander wat toevallig gesien het wat aangaan en hoe hul maat by ons kom aansluit het en saamry, kon dien om alle moontlike suspisie heeltemal te verban.
Aan 'n meer koelbloedige buitery, so helder oordag en in weerwil van die onmiddellike nabyheid van 'n gewapende mag, kon ek nooit weer deelneem nie.
Gestel dat dit ander se perde was wat toevallig daar gewei het, dan sou 'n mens hul gedrag nog kon kleinkry; maar dit is jou waarlik hul eie rydiere waarmee hulle straks moet voortry, en hulle merk nogtans geen onraad nie. Toe ons die heel buitenste perde aankeer, nog steeds begelei deur ons gevangene, was ons niks meer as 'n honderd tree van die naaste klompie Kakies af nie. Die wat nie geslaap het nie, lê die petalje natuurlik met oop oë en aanskou. Blykbaar, so moet ek dit aanneem, herken hulle hul maat, maar dat hy in geselskap van twee buiters, nogal Boere, daar rondry, kon hulle nooit droom nie. Daarvoor was die vermetelheid van die waagstuk darem te groot. Ek stel my in hul plek. Ek sou so geredeneer het: almal se werk is niemand se taak nie, en blykbaar meen die Kakies dat 'n verantwoordelike offisier aan die drie kerels opdrag gegee het om die perde 'n bietjie eenkant toe te jaag.
Toe moes ons weer 'n plan bedink om by die Swartes wat aangestel was om die perde op te pas, verby te kom. Met die Engelsman by ons was daar natuurlik minder gevaar dat die skepsels lont sou ruik, maar om die perde sonder meer weg te ja, sou nooit gaan nie. Daar moes 'n grondige rede voor wees, anders weier die skepsels straks. So het ek geredeneer.
Doodluiters kommandeer ek die Swartes dam toe. "Laat die perde dadelik suip. Jaag hulle water toe. Gou speel, gou speel." Ook die niksvermoedende skepsels gehoorsaam dadelik. Die vader alleen weet hoekom hulle geen agterdog gekry het nie. Die perde wei dan gedorie daar naby die dam; suip was vry! Buitendien, watter malligheid is dit die om los diere teen daardie ongewone uur van die dag spesiaal suipplek toe te jaag? Dit is maar net 'n goeie voorbeeld van hoe min 'n mens vir homself dink as hy altyd ander se bevele slaafs uitvoer en bowendien geen agterdog koester nie.
Uiterlik ewe kalm en op ons gemak word die perde na die dam se kant toe aangeja. Die Swartes help fluks. Hulle doen eintlik alles. Ons drie ry stadig agterna. By die Engelse heers daar intussen ongestoorde stilte en rus.
Toe ons naby die dam kom, spring ons by en laat ek skielik die perde wegkeer na die punt van die rant waarop Neethling nog altyd wagstaan. Laasgenoemde besef die buit is nou veilig deur en kom onmiddellik by ons aansluit.
Terwyl ons oor die rantjie peil en anderkant begin afsak, raak ons allengs uit die vyand se gesig en begin die perde op 'n galop aandryf. Die onnosele skepsels, nou heeltemal uit die veld geslaan, raak heeltemal agter, stom van verbasing. Al het hulle ook nou omgespring en die Kakies gaan wakker skree, was alle kanse om ons agterna te sit, verspeel. Die koeël was deur die kerk. Hulle sit almal sonder ryperde!
Onderwyl ons vinnig voortgalop agter die perde aan, het ons die wêreld se pret met ons vriend, die Kakie, gehad. So in die ry het ons hom vertel dat volgens 'n proklamasie van genl. De Wet afkomstig, ons voortaan die reg verleen is om die laaste Kakie voor die voet dood te skiet wat ons betrap waar hulle huise afbrand, vroumense molesteer of ander gruwelikhede pleeg.
"Julle Kakies skiet mos blindweg oor die berg en 'n onskuldige meisiekind word dodelik getref. Julle skiet mos boerewonings plat en brand af sover as julle trek. Julle veg mos nie man teen man nie, maar teen vrouens en kinders en stomme diere."
Met opset is ons vreeslik verontwaardig, en dis wonderlik hoe 'n Kakie, as hy uit 'n dergelike verknorsing loskom, jou woorde wyd en syd vir waarheid gaan oorvertel. Dit is wat ons wil hê: die ander Kakies moet hoor en skrik.
Die gevangene weet niks van die dinge af nie; maar hy luister met belangstelling.
"Ja," sê ons, "jy mag wel van niks weet nie, maar die skuldige persoon sal ons ook nooit uitvind nie, en al sal ons ook, hoe sal ons hom tog ooit in die hande kry?"
"Juistement," beaam die Kakie dit, "dis net wat dit is." Met sy laaste gedagte, hoe simpatiek ook uitgespreek, was ons dit nie so roerend eens nie, en die katkisasie word voortgesit.
"Ja," sê ons, "terwyl 'n mens die skuldige persoon, soos jy ook sê, nooit sal betrap en straf nie, moet jy nou maar die gelag betaal. Ons het jou. Jy moet vir die skuldige instaan. Maak jou dus maar klaar om te sterwe!"
Ek het altyd 'n amper-teer plekkie vir die regte ou Tommie-tipe gehad. Sy hart lees jy op sy gesig. Hy steek niks weg nie, kan ook nie, maar vertel net wat hy weet. Hulle is die openhartigheid self. Daarby glo hy alles wat jy hom vertel. Hierdie man was geen uitsondering nie.
Arme kêrel, soos hy so bloots op sy perd sit, dag ek hy tuimel af van skrik en skok. Dis darem ook nie kinderspeletjies om so op 'n stywe galop die doodvonnis aan te hoor nie. Hy word doodsbleek. Niemand sê iets nie. Eindelik haal hy sy horlosie en 'n paar los sjielings uit sy sak en oorhandig dit aan my: "Neem dit maak vir jou present. Ek sal dit tog nie meer nodig kry nie."
Dis nou vir jou te sê! Nog mededeelsaam wees teenoor sy beuls. Hy maak geen verwyte nie, vra ook nie om genade nie.
"Nee, ou maat," sê ek, "hou maar jou besittinkies. Ek wil dit tog nie hê nie."
"Halt!" roep ek skielik. Ons hou in, die Tommie ook. "Klim af." Hy doen dit onder die besef dat sy einde baie naby is. Ons jaag sy perd vorentoe tussen die ander perde in. Intussen staan hy roerloos. Hy verwag die ergste. Eindelik, toe ons klaar was om weer te vertrek, praat ek weer: "Jy kan nou maar terug gaan na jou mense toe. Goeiedag!"
Maar ons dag die ou vriend kom iets oor van blydskap.
Bring vir 'n Boer 'n mooi perd en jy kan hom niks beter present gee nie. Toe ons dus die aand die hooflaer bereik met die windmaker-rydiere, was die blydskap baie groot. Die kommando's het oormekaar geval om van die perde in besit te kry. Die feesstemming het sy toppunt bereik toe ons aangesit het om van die lekkernye te geniet wat ons die more reeds met die muilwa vooruitgestuur het. Ek het wel nie in my doel geslaag om die Engelse generaal gevange te neem nie, maar die avonture van die dag was spannend genoeg om enige krygsman se hart te laat lekker voel.