Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Pyn, eensaamheid en angs dryf my na gebed met God. En wanneer ek bid, verdryf dit my pyn, eensaamheid en angs.
SCOTT NA DIE SUIDPOOL (6)
Scott se Ekspedisie na die Suidpool 1910 – 1913
Lees reeks by Scott na die Suidpool
Die manne het Veiligheidskamp op 1 Maart bereik en twee briefies van kaptein Scott daar gevind. Hy het hulle beveel om oor Kasteelrots na Hutpunt te gaan en hulle laat weet dat die see-ys aan die beweeg is. Die klimmery die volgende dag was baie interessant maar ook baie moeilik. Hulle was van 9 vm. tot elfuur die aand aan die beweeg. Eers het hulle oor die ys van die Ysbank tot aan die voet van die helling wat na die ysrif ten noorde van Kasteelrots lei, gegaan. Hier het hulle James Pigg op tou geslaan en ’n aantal ure daaraan bestee om ons toerusting en die slee teen die hang op te bring. Vir hierdie werk het hulle geen ysspore gehad nie, want dit was almal op Scott se eie slee. Dit was dus soms nodig om hande-viervoet en met behulp van hulle ski-stokke teen die hang op te trek. Dit was ’n buitengewone manier van doen, maar die enigste wat op die steiler blou ys sou deug. Hulle het die slee die een na die ander na boontoe gebring en toe met ’n bergklimmerstou afgegaan om James Pigg te help.
Dit was onmoontlik om die reis van vier myl oor die kante van die Ysbank na Hutpunt daaronder af te lê, want dit was reeds donker en ons wou die ramp vermy wat ’n vroeëre ekspedisie getref het toe ’n man sy lewe hierrond verloor het deur van een van die steil riwwe aan die westekant van die kaaprif wat by Hutpunt eindig, in die see af te stort.
Toe die manne gaan slaap het dit gesneeu en op 3 Maart, toe hulle opstaan, het dit nog gesneeu. ’n Halfmaanvormige skuiling is om James Pigg gebou en bedek met sy eie kombers en dié van Blossom en Blücher, was hy heeltemal warm. Destyds het hulle nog nie geweet van die ramp wat die ponies getref het nie en omdat hulle gemeen het dat kaptein Scott dalk onrustig kon wees as hy niks van hulle verneem nie, het Evans en Atkinson oor die ysriwwe van Kasteelrots na Hutpunt begin aanstap. Die wind het hard en baie koud gewaai maar dit was heerlik om op vaste ys te loop, sonder ’n slee wat ’n mens moes trek. Toe hulle die ou Discovery-hut eindelik teen etenstyd bereik het, het hulle Wilson, Meares en Gran daar aangetref. Hulle was baie mismoedig. Hulle het ons vertel dat Bowers en Cherry-Garrard op ’n ys-skots ronddrywe en dat die res van die geselskap na die rand van die Ysbank gegaan het om hulle te probeer red. Hulle kon die see ook sien. Dit het daar baie blou teen die uitgestrektheid van die wit ys uitgesien.
Op pad terug het hulle ’n plan bespreek en besluit om Keohane by die ponie te laat en ’n slee te neem en langs die ysrand van die Ysbank te reis. Ons sou Scott soek en by hom aansluit. Maar net voordat ons na die holte waar ons tent was, begin afsak, het ons ’n slee-geselskap op die Ysbank gesien. Toe hulle die kamp bereik was hulle baie bly veral toe hulle deur die teleskoop ses man sien. Dank die Vader! Almal was dus veilig. Hulle het die geselskap tegemoet gegaan en hulle om 8 nm. bereik op die plek waar hulle kamp opgeslaan het. Dit was ’n paar myl van Kaap Armitage, tussen twee ysrue wat groot, bevrore golwe gevorm het. Bowers het gesê dat, toe Scott se geselskap die ponies aan die rand van die Ysbank wou red, vergane ys en oop waterstroke die ramp veroorsaak het. Toe die ponies in die see gly was hy verplig om sy eie perdjie met ’n kielhouer dood te slaan, om te verseker dat een van die Orcas- of grampus-walvisse hom nie lewendig in die hande kry nie. Die enigste ponie wat gered is, was dié van kaptein Scott. Dit was een van die beste ponies wat hulle op daardie ekspedisie gehad het.
Die Ierse matrose het James Pigg bederf. Dit weet ons want toe ons Scott se sleevragte uiteindelik teen die heuwelkruin waar hulle kamp was, uitkry, het James Pigg die ander ponie nie verwelkom nie, maar instede daarvan by die nuweling se skuiling ingebreek, op hom gespring en hom geskop en in die rug gebyt.
Op 5 Maart het hulle almal na Hutpunt vertrek, nadat hulle eers vir Atkinson met die goeie nuus dat geen van die manne hul lewens verloor het nie, vooruitgestuur het. Wilson en sy geselskap het hulle naby Kasteelrots ontmoet en die ponies binnegelei terwyl ons die gelaaide slee met die ski-helling na Hutpunt laat afgly het. Die sleevragte het bestaan uit ponietuie, tente en sleetoerusting, met genoeg voer vir veertien dae. Dit was ’n aangename toboganrit en kaptein Scott was veel meer bedrewe met die beheer van ’n slee oor ’n glipperige helling as enige van die manne.
Hulle het gou geleer om oor skynbaar onbegaanbare hellings te klim en kon die steilste heuwels en die glipperigste hellings uitsukkel. Hulle goeie ysspore het hier baie handig te pas gekom.
Maartmaand en die eerste helfte van April 1911 was die onvoordeligste en die minste bevredigende deel van die ekspedisie. Dit was aan die lang, onvermydelike gewag by Hutpunt te wyte, want hulle kon die vyftien myl tussen hulle en Kaap Evans nie aflê voordat daar nie see-ys gevorm het wat sterk genoeg sou wees nie. Anders kon dit dalk losruk en met hulle noordwaarts na die Ross-see dryf. Keer op keer het die see tot ’n dikte van ’n voet of meer bevries en keer op keer het hulle hulle gereed gemaak om na Kaap Evans te vertrek, maar as die dag van die vertrek dan aanbreek, het die ys weer opgebreek en weggedrywe. By Hutpunt was hulle egter, tesame met die twee hondespanne en die twee oorblywende ponies veilig gehuisves, alhoewel hulle ’n ietwat primitiewe bestaan op robbevleis wat hulle hoofgereg was, moes voer.
Teen die einde van die eerste week in Maart het hulle die veranda wat aan drie kante van die ou magnetiese hut gestrek het, in skuilings vir die honde en die ponies verander. Twee binnekompartemente is met waterdigte skotte wat van biskuitkiste vervaardig is, afgeskort. ’n Kombuistafel is aanmekaar geprakseer en van petrolblikke en afvalyster is ’n betroubare stoof opgerig. Hierdie kunswerke is deur Oates en Meares verrig. ’n Kort tydjie het hulle met hout in die stoof vuurgemaak, maar eerlank is dit met robbespek vervang en die hitte wat die brandende vet afgegee het, was groot genoeg vir die gaarmaak van die kos wat beskikbaar was, en kon hulle ook die hut op die manier verwarm.
Om die stoof was banke gebou waarop hulle kon sit en eet, en twee slaapruimtes is uitgesoek en met velt uitgevoer. ’n Hoeveelheid velt is deur Scott of deur Shackleton se geselskap daar gelaat. Uit die ashoop buite het die "Ou Soldaat” (Oates) en Meares ’n aantal vuurstene en ’n stoofpyp opgediep en van toe af is hulle van die groot ongemak van verstikkende rook telkens as ’n vuur aangesteek word, bevry. ’n Skerm wat deur die Discovery daar gelaat is, is deur ‘n aantal van hulle om die slaap- en kookruimte opgerig, en hoewel hulle maar min weelde-artikels soos suiker en meelblom gehad het, het hulle altyd genoeg goeie eenvoudige kos gehad.
Op 14 Maart het Griffith Taylor, Debenham, Wright en onderoffisier Evans aangekom.
Taylor se geselskap is op 27 Januarie, ná die vertrek van die geselskap wat die opslagplekke moes lê, deur die Terra Nova aan wal gesit. Hulle moes ’n geologiese opname maak. Tydens hul reis het hulle oor die Ferrargletser gegaan en toe met ’n nuwe gletser wat Scott na Taylor vernoem het, afgekom en in Droë Vallei afgedaal. Hierdie naam is gegee omdat die vallei heeltemal sonder sneeu was. Taylor en sy manne het oor ’n diep varswatermeer wat vier myl lank was, gereis. Slegs die oppervlakte was bevrore. Hierdie meer was vol alge. Die gruis onder ’n belowende kalkklipstreek wat ryk aan granaatstene was, is gewas op soek na goud, maar slegs magnetiet is gevind. Nadat Taylor die gletserstreek ten weste van Kaap Evans deeglik ondersoek het, het sy geselskap teruggedraai en suidwaarts getrek om die Koettlitz-gletser te ondersoek. Scott het seeman Evans opsetlik saam met hierdie geselskap geoloë gestuur. Met sy gewone bedagsaamheid het Scott gemeen dat Evans se ervaring van sleereise vir Taylor en sy maats van onskatbare waarde sou wees.
Taylor en sy geselskap het wonderlike kaarte geteken en het oor ’n wonderlike hoeveelheid name beskik wat hulle aan die bergpieke, die rotspunte en die poele gegee het, ten einde beter in staat te wees om die betreklike liggings van die dinge wat hulle gesien het, te onthou. Griffith Taylor kon dinge wonderlik beskrywe en sy boek oor die Suidpool, The Silver Lining, bevat ’n aantal mooi anekdotes en vertellings.
Volgens Taylor se kaart is die Koettlitz-gletser op die plek waar dit op die Groot Ysbank uitvloei minstens tien myl breed. Die geselskap het ’n aansienlike afstand aan die noordekant van die gletser gereis en sketse geteken, opmetings gedoen, foto’s geneem en breedvoerige aantekeninge oor die omgewing se geologiese en fisiografiese toestande gemaak. Dit kan beslis beweer word dat geen Suidpoolekspedisie nog ooit met geoloë en natuurkundiges gereis het wat beter gebruik van die tyd wat hulle tot hulle beskikking gehad het, gemaak het nie. Dit geld veral vir die veldwerk.
Hierdie geselskap het met hul ondersoeke voortgegaan totdat hulle besef het dat hulle, terwille van hul eie veiligheid, van die Koettlitz-gletser sal moet teruggaan voordat die winter aanbreek. Hul terugreis het langs die rand van die byna onbegaanbare yspunt wat een van die wondere van die Suidpoolstreek is, gegaan. Hulle reis het ook oor buitengewone en moeilike ysvelde gegaan wat selfs die ervare sleeman, Evans, verbaas het. Hulle laaste skof was langs die rand van die Groot Ysbank en so het hulle Hutpunt op 14 Maart bereik.
Ons was nou sestien in hierdie oorvol hut. Die son was kwalik nog bokant die gesigseinder en die storms was so erg dat die skuim dikwels oor die hutjie gespat het, terwyl wonderlike bevrore skuimriwwe orals in die laer dele van die kus gevorm is. Sneeustorms was daar genoeg en die manne het die koue ook gevoel, want dit was selde dat daar geen wind was nie. Party van hulle het na die groter geriewe van die hut op Kaap Evans begin uitsien. Dag vir dag en uur na uur het die een of ander van die manne na die heuweltjie met die klein houtkruis wat ter herinnering aan seeman Vince van die Discovery daar opgerig is, geklim om die toestand van die ys waar te neem.
Die winter was vinnig besig om nader te kom en die wrede donkerpers nagskaduwees het die natuurlike somberheid van Hutpunt en omgewing verder verhoog. Van hulle almal het Wilson die meeste by ons besoek hier gebaat. Ten spyte van die swak lig en vingers wat byna bevrore was, het hy daarin geslaag om ’n verbasende versameling sketse bymekaar te kry, sketse wat die herfstonele naby hierdie hoek van Ross-eiland uitgebeeld het.
Hoe onheilspellend en meedoënloos het die westelike berge daar nie uitgesien nie, hoe koud en ongenaakbaar was die heuwelrûe nie, en hoe asgrys die sombere ysgordels wat hierdie droewige, bevrore landstreek omsoom.
In die oorvol hut kon ’n mens natuurlik nooit privaat wees nie, en dit was dikwels ’n verligting om in die aand na ’n beskutte hoekie weg te dwaal en oor die see-engte uit te kyk. Die skakerings en die kleure van die skemering was droewig mooi, maar die stilte was aaklig. Telkens as die wind gaan lê, het die ligte nuwe ys gevorm, en elke asemstootjie van die wind het dit laat kraak en dit opgekarring. Die strominge en die getystrome het hierdie yspannekoeke heen en weer oor die see-engte gevoer, totdat die weer stil en koud genoeg was om hulle saam te heg totdat hulle ysskotse gevorm het, wat op hul beurt weer in groot wit ysvelde vasgeys het wat sterk genoeg was om die vragte te dra. ’n Mens het dikwels vol vertroue gaan slaap, oortuig dat ’n reis tenminste tot by Gletsertong oor die bevrore see moontlik sou wees, maar in die more sien alles daar weer anders uit en sien ’n mens geen ys hoegenaamd wat in die see ronddrywe nie. Nadat Taylor se geselskap so ’n bietjie gerus het, het hulle hul lot saam met ons ingewerp en soms ritte oor die stil Ysbank tot by Hoekkamp gemaak, om sleevragte voedsel by die voorrade wat reeds daar geberg was, te voeg. Dit sou dien as voorbereiding vir die sleereis na die suide waarop gehoop was en op die uiteindelike sege gevestig was.
Vervolg...