Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As ‘n seiljagvaarder nie weet waarheen hy vaar nie, is geen wind vir hom die regte wind nie. ‘n Gelowige volksleier weet egter presies waarheen hy gaan. Daarom maak hy die beste van die lewe deur die meeste daarvan te maak. Dis nie vir hom ‘n kleedrepetisie nie. Daarom leef hy elke dag voluit vir God en sy volk.
OU PRETORIA... (1)
...'n verhaal van die stad se Voortrekkerperiode
Dr. GUSTAV S. PRELLER
Lees reeks by Ou Pretoria
WAAR DIE TREKWAENS HUISTOE GEKOM HET.
1848, September.
Boomplaats se slag was verby en verlore. Byna al die waens van die Voortrekkers had Natal weer verlaat, terug oor Drakensberg, en oor die Vaalrivier, want Natal was van die Voortrekkers afgeneem.
En as daar toe iemand was, aan die bo-end van Groenkloof, naby waar Pretoria later uitgelê is, om dit waar te neem, dan sou hy, op ’n winderige Septemberagtermiddag ’n digte stofdamp aan die bo-end van Elandspoort kon gesien het, wat die aankoms aangedui het van ’n aantal tentwaens deur osse voortgetrek, met troepe beeste, bokke en skape daarby, wat langsaam die Elandspoort en Groenkloof afsukkel, na die "Fonteine” toe, soos Pretorianers dit vandag noem. En as ons waarnemer die waens getel het, sou hy tien gekry het, van dieselfde waentjies wat tien jaar tevore oor Drakensberg Natal ingetrek het.
By die Fonteine trek hulle verby ’n ou hartebees-opstalletjie van Lukas Bronkhorst; en laer af, op die plek waar ’n halwe eeu later die Oostelike spoorweg baangemaak het oor die Apiesrivier, was die opstalle van Gerhard Stephanus Bronkhorst, met sy skoonseun, Philip Karel Minnaar. Daarteenoor, op die linkerwal van die Apiesrivier, kon mens tussen en onder die bome die hartbeesthuisies onderskei van Veldkornet Andries van der Walt.
Dit was die enigste mensewonings wat daar te sien was tussen die berge, op die plek waar Pretoria later verrys het.
Die trek wat daar aankom was een van Voortrekkermense uit die Vrystaat en uit Ohrigstad, met 'n paar agterblyers uit Natal wat mekaar êrens op die Hoëveld getref, en saam hierheen gekom het, om te woon,—die Fouries, Smits, Minnaars, Vermeulens, van Rensburgs, Prinsloos en Pretoriusse. Die meeste van hulle het saam met genl. Andries Pretorius padgegee uit die toentertyd enigsins ongasvrye Vrystaat, waar die Engelse die mense vang, beboet vir enige iets onder die son, of in die gevangenis werp omdat hulle vir hul eie land veg.
Kootjie Vermeulen, ’n kommandant te Boomplaats, wat een van die voorste waens dryf, loop mank aan ’n skoot in die knieskyf, waaruit hy die stuk lood veertig jaar later eers laat uitsny het. Joseph Fourie kom ook reëlreg van Boomplaats se slagveld. Hy het hier nog ’n paar dae by die ander gebly, en toe vir hom die plaas Wildebeesthoek, agter Magaliesberg, waar dit warmer was, uitgesoek en aangelê.
Genl. Pretorius het die trekkie êrens aan Hennopsrivier laatstaan, om daarvandaan reguit na sy woonplaas aan Krokodilrivier te ry,—Grootplaats, een van die mooiste in die distrik, lekker beskut weggeduik in die hoek, tussen die samevloeiing van die Magalies- en die Krokodilriviere, tans geheel oorstroom deur die Hartebeestpoort meer.
’n Maand of drie vier tevore het hy hiervandaan weggery op aandrang van sy sterwende maar dapper vrou. Tans keer hy daar van Boomplaats af terug in ’n ledige woning. Sy vrou is dood. Hy was 'n voëlvryverklaarde man met £2,000 op sy kop. Maar die fut was daar daarom nog nie uit nie. Hy het sy beeste getel, en 2,000 stuks uitgeloof aan die man wat sir Harry Smith aan hom uitlewer!
’n Paar perderuiters, wat die trek in Groenkloof 'n endjie vooruit was, het hulle op Gerhard Bronkhorst se werf weer by die waens vervoeg om die drywers te beduie hoe hulle die ruie Apiesrivier ’n endjie ondertoe kon deurgaan.
Van sy oog af, naby waar Lukas Bronkhorst staan, tot by Gerhardus, stroom die Apiesriviertjie oop, ’n kristalheldere bronwater, wat hier en daar ’n diep kuil maak, maar laeraf ruig bewas is met vaarlands-wilker, soetdoring, wagenbietjie, buffelelpeer en ander geboomte, riet, palmiet en braambosse.
Die waens volg ’n smalle bospaadjie, al langs die rivier oopgekap, en vir omtrent 'n kwart myl gaan hulle onder ’n lowerdak deur, met aan weerskante ’n ondeurdringbare boskasie van brame, katbos en kreupelhout. Hulle trek die riviertjie oor, en sleep langs ’n skotige opdraende uit, tot op die rondte van ’n breëbult wat sag afglooi na die noorde toe, waar die riviertjie ’n draai maak om by Daspoort uit hierdie moot, tussen die twee rante, uit te kom. Hulle is tussen bontbos, en op ’n oopkol op die gelykte, nie te ver van die water af nie, word stilgehou, uitgespan en laergetrek, terwyl die veediere nog tot skemerdonker toe kon wei.
Teen die eenkant van die wa-kring word 'n ruime takkraal geslaan, want hier moes hulle op hul hoede wees teen mense-vyande sowel as roofdiere, en hier sou hulle almal ’n tydlank staan.
Teen donker brand daar verskeie vure in die laer, waarby die vroue, deur hulle bediendes bygestaan, die aandete berei.
Die laertjie slaap die eerste nag daar, naastenby op die plek waar teenswoordig kleur en geur van eie en vreemde in Burgerspark met mekaar wedywer.
Oorkant Apiesrivier, na die ooste toe was, behalwe die reeds genoemdes, die naaste mense op Garstfontein, anderkant die teenwoordige Buiteklub, waar Andries Beetge gewoon het. Ondertoe af, naby die teenwoordige Dieretuin, het gestaan Jan du Preez, wat later opgetrek het om naby van der Walt te kom. Meer na die noorde, net duskant die rantjie, amper in Daspoort, het Piet Smit en sy familie gewoon, wat ook familie het by die pas aangekome trek.
Maria Jacoba Minnaar, gebore Bronkhorst, een van die jonger vroue van die trek, was 'n bruidjie van ‘n maand of twee, en een van die eerste vroue wat die bekoorlike Elandspoort vallei aanskou het.
’n Sjarmante oue dame, met 'n gesig deurrimpel van die plooie van menige harde ontbering en diepe verdriet, toe skrywer hiervan haar in 1915 besoek het, het sy nogeens die dinge van die veelbewoë ou dae deurleef, en ’n aandoenlike verhaal gedaan van al die soet en suur wat hulle beleef het terwille van ’n nuwe land. Dan kon die ou gesig by wyle bly word en somber, met ’n peinsende glimlag, wyl die herinneringe aan die trek by die tuiskoms in Elandspoort, mekaar verdring in die geheue, en die begrypende blou oë, omstraal met ’n netwerk van lyntjies, fyn soos kant, het meegeglimlag. Die fynbewerktuigde en welsprekende hande, met spitsaflopende vingers, moes onmiddellik die aandag trek, en laat dink hoe mooi hulle eenmaal moes gewees het, want toe het dit nog die oog bekoor met die lig en skadu van oue ivoor.
Toe hulle haar ’n paar jaar later te ruste gelê het, het iemand daar, by die geopende graf gesê:
"Maria Bronkhorst het nagte van angs en dae van smart deurgemaak, om ons land te help opbou en bewoonbaar maak vir ’n nakomende Afrikanergeslag.”
Daardie bloedige slag by Vechtkop, in die Vrystaat, was nog maar twaalf jaar agter haar rug toe hulle hier intrek. Sy was daar ’n dogtertjie van nege jaar, wat gehelp het om die geweers te laai en dit uit te was, toe Kalipi, Mzilagazi se veggeneraal, hom met 6,000 van sy beste krygers teen die brose ou walaertjie op die oopveld gestort het. Dit was ’n benoude dag, want slegs 36 man het daar gestaan teen die Matabele horde. Met die Liebenbergmoord oorkant Vaalrivier, is haar broertjie, Rudolph, met 'n paar ander kinders, waaronder ’n dogtertjie, deur die Matabele gevang en weggevoer, en nooit weer het hulle van die kinders gehoor nie.
"Slegs die opgesaalde perd van my broer het ons weer teruggekry,” vertel Maria. "Met ’n assegaaisteek in die boud, het die arme dier ’n paar dae ná die moord in ons laertjie ingestrompel gekom, en voor my moeder se tentdeur gaan staan. Nooit sal ek die hartverskeurende skouspel vergeet nie. Ons het ons arms om die troue dier se nek geslaan, en dit uitgeskrei in ons verdriet.”
Al hul vee het die vyand na Vechtkop weggevoer, sodat Potgieter hom nie kon verroer nie. Terwyl die manne met ander werk besig was het van die seuns jukkies gemaak met rieme, en die lyke van die Matabeles ’n end weggesleep van die laer af; maar die mense moes nog byna twee weke op die plek bly staan tot hulp opgedaag het van die Barolong kaptein, Maroko.
Die Bronkhorstse het Retief Nataltoe gevolg, en al die tonele van dood en verwoesting, wat hulle daar gewag het, deurgemaak. Ná 1842, toe die Engelse Natal van hulle afgeneem het, het hulle Drakensberg weer oorgetrek, en 'n tydlank gewoon langs Mooirivier, maar naderhand na Elandspoort getrek. Toe Potgieter na Ohrigstad trek, het die Bronkhorstse en Minnaars saamgetrek, (1845), en daar het Maria haar vader en ander verwantes aan die koors verloor.
Hulle het teruggetrek na Elandspoort toe, waar haar oom, Lukas nog gewoon het, en ook die familie van haar man, want hierdie mense het geweier om Potgieter te volg.
"Waar kry ons weer so’n mooi water,” het hulle gevra aan diegene wat aangehou het dat hulle ook moes kom, "en waar kry ons weer sulke goeie grond?”
Hulle het 'n watervoor uitgehaal, en 'n deel van Apiesrivier op hulle landerye in die poort gebring. Hulle was gelukkig en tevrede. Die aarde het ryklik voortgebring, en die wêreld rondom het gewemel van die wild. Die name wat hierdie voorste mense aan hulle plase in die omgewing gegee het, wys dit duidelik aan.
Bronkhorst en die ander was erg bly toe hulle verneem dat Maria en haar weduwee moeder onder die nuwe trekkers was, en dat hulle van plan was om die ou aanleg weer op te neem, onderkant Lukas. Daar het hulle toe ook gaan woon, in ’n kliphuisie wat Maria haar vader daar gebou het, onderwyl haar ywerige man aanstonds ’n begin gemaak het met hul eie huis.
Vervolg...