Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As kerkleiers saam met die volksvyand begin plunder, is die dood in die pot! En die gevolg? Net die teenoorgestelde het gebeur – die kerk het nie mag oor die politiek verkry nie; politiek het besit van die kerk geneem!
OU PRETORIA... (3)
...'n verhaal van die stad se Voortrekkerperiode
Dr. GUSTAV S. PRELLER
Lees reeks by Ou Pretoria
'N GRIEKWA-STROOPTOG EN DIE STRAF
Enige tyd voor die Zulu-aanval het 'n bende Koranna-plunderaars daarin geslaag om 'n groot aantal van Mzilagazi se vee te buit; en gedurende die plunderseisoen volgende op Nhlela se aanval, verskyn daar in die buurte van emHlahlandlela ’n duisend berede Griekwas van Barend Barends uit die suide. Hulle het gebruik gemaak van die afwesigheid van die Matabele-leërs op plundertogte van hul eie in die Noorde, om Vaalrivier deur te trek, hulle waens agter Rhenosterkop te laat, en op Mzilagazi se veekrale in die Moot af te stuur, vanwaar hulle reuse kuddes beeste weggedryf het, sonder enige teenstand. Versigtig sluip hulle in die nag oor die Skurweberge, trek deur Daspoort, en slaag daarin om 10,000 stuks van Mzilagazi se beeste weg te dryf. Toe die Matabele-wagters die tyding aan die koning bring, was die Griekwas goed weg oor die hoogte, wat tans Pretoria se westelike dorpsgrens uitmaak, by Elandsfontein, waar in 1880 ’n geveg met die Engelse plaasgevind het. Hulle is oor daardie bult en af in die vallei aan die anderkant, waar hulle suid gedraai het, met die sware buit, om deur 'n natuurlike pas in die Witwatersberg te kom by Rhenosterkop.
Dit is nie maklik om 10,000 beeste aan te jaag nie, en toe die Basters oor die nek by Rhenosterkop was, en weer hul waens bereik, was hulle al twee dae en nagte in die saal, sodat ’n rus en ’n bietjie inwendige versterking voor die hand liggend was.
Hulle had ’n goeie twintig myl sowel as die berge tussen hulself en die regmatige eienaar van die beeste sodat David Davids, die aanvoerder van Barends se ruitery op hierdie plundertog, afsaal gekommandeer het.Hulle was hier weer by hul waens, by die samevloeiing van die Hennops- en Krokodilriviere, suid van Rhenosterkop, wat Harris beskryf as "spitskop wat mens van ver af kan sien," deel van die skrywer se plaas te Pelindaba. Die plek is ongeveer dertig myl wes van Pretoria, en die kop, wat mens duidelik kan onderskei, maak deel uit van die Skurweberg-reeks.
Die Griekwas het gereken dat hulle hier heeltemal veilig was, maar al was hulle ook nie volkome veilig nie, kon hulle dit onmoontlik langer uithou, en hulle het dus hul afgematte perde afgesaal en gekniehalter vir die nag, ’n aantal van die vetste beeste platgeskiet en begin braai en te smul. Nadat hul hulself urelang volgeprop het, het die Griekwas onder die komberse ingekruip en die slaap van doodmoeg mense geslaap.
Mzilagazi se leërs moes al lankal tuis gewees het, maar hulle plunder toe nog in Masjonaland, en hy was in die grootste moeilikheid. Maar nie te lank nie, of hy had weer so ’n impi bymekaar van ongeoefende soldate, meestal jong swartetjies en 'n paar ou kêrels, en hy los hulle agter die Griekwas aan. Op die oop spoor van die duisende beeste sluip hulle versigting oor die bulte, en gedurende die vroeë ure van die derde oggend ná die buitery, kom hulle op die Griekwas af waar hulle daar lê en slaap, en steek soetjies een na die ander dood. Toe die dag breek het daar so ’n paniek ontstaan dat baie van die oorblywendes geval het voor die gewere van hul eie maats. Van die duisend man het daar die vreeslike oggend slegs twee met hul lewens daarvan afgekom om die storie te gaan vertel aan die verouderde Barends en die groot aantal weduwees aan Vaalrivier.
Weggekruip in 'n digte boskasie, het die twee oorlewende Griekwas ’n aanhoudende geweervuur onderhou totdat hulle ammunisie opgeraak het, en toe op die eerste perde gespring wat hulle in die hande kon kry, en gejaag vir hul lewens sodra dit lig genoeg was om te sien.
Mzilagazi het die toneel later te voet gaan bekyk, en, nadat hy die karkasse van sy vyande gesien het wat die veld in alle rigtings bedek, het hy gereken dat sy veragting van vuurwapens heeltemal geregverdig was, en sy blydskap, sê Harris, het g’n grense geken nie.
Harris het die toneel ses jaar later besoek, en sê dat die voet van die spitskop "’n ware Golgotha gelyk het, dig bestrooi met die verbleekte beendere van mense en perde, stukkende geweers en stukke van die waens.”
Robert Moffat, die Engelse sendeling, het Mzilagazi besoek in die onmiddellike nabyheid waar Pretoria later verrys het. Dit was in Desember 1830, enige tyd na die Zulu inval en omtrent ’n jaar voor die Griekwa bees-roof. Hy verskaf ’n belangwekkende beskrywing van die omgewing soos hy dit gesien het, en terloops ook van Mzilagazi se regeermetode. Die jaar tevore had hy besoek gehad van twee handelaars uit die suide, wat waarskynlik die eerste witmense was wat Mzilagazi te sien gekry het. Hy was begerig om meer te verneem van die witmense in die Suide, en het toe twee van sy voormanne afgestuur om ondersoek te gaan instel na die witman in Kuruman, destyds Moffat se stasie.
Aan hierdie Matabeles—destyds nog bekend as Montotoana,—is alle vriendelikheid bewys, en volgens Moffat was hulle verbaas oor alles wat hulle daar gesien het. Die godsdiensoefeninge en die sang het hulle geïnteresseer, terwyl die watervore, tuine en huise, en die smedery hulle nuuskierigheid gaande gemaak het. Hulle het ongeveer ’n maand gebly, en toe ontstaan daar moeilikheid oor hulle veilige terugreis na die Casjanberge. Daar het ’n gerug geloop dat die Betjuanastamme by wie hulle verby moes gaan op die terugreis, van plan was om hulle as spioene om die lewe te bring. Moffat was geneig om, met die oog op die oorlogsugtigheid van die Matabele, en die groot aantal inboorlingstamme wat hulle reeds vankant gemaak het, hierdie vrees ook so te voel, en hy het toe besluit om hulle self te vergesel so ver as tot by die vredeliewende ba-Hurutsi.
Hy het ’n wa vir hulle vervoer gehuur, sy eie ook geneem, en die hoofman Mokhatle van die ba-Hurutsi by Mosega (suid van die teenwoordige Zeerust) op die 19e November 1830 bereik. Hy sou hier omdraai maar die Matabele wou nie daarvan hoor nie, en het hom beweeg om hulle te vergesel tot by Mzilagazi. Mokhatle het besluit om gebruik te maak van die geleentheid en die veiligheid-eskorte van Moffat, om sy nuwe buurman, van wie se mag en oorloë hy meer gehoor het as wat hom aanstaan, (en wat die einste ba-Hurutsi binne enkele jare van Mosega sou verjaag), ’n besoek te bring.
Moffat het toegestem om so ver te gaan as emHlahlandlela, en hiervandaan het hulle in 'n oostelike rigting gereis, deur Swartruggens, en vervolgens langs die Hekpoortmoot op en oor Magaliesberg by Silkaatsnek.
Die land wat eers vaal was, het toe mooi geword, met "heuwels en valleie en bome van ryker loof,” se Moffat, "en talryke strome goeie water, wat almal na die Indiese oseaan vloei.” Die Witwatersrand, aan die noordekant waarvan hulle reis, is die waterskeiding, wat die Harts-, Mooi-, Klip-, en Suikerbosrand riviere na die Atlantiese oseaan, en die Marico-, Elands-, Krokodil- en Pienaars- riviere na die Limpopo en die Indiese oseaan stuur.
"Die ganse land skyn eenmaal 'n digte bevolking te gedra het, maar dit was sedert die invalle van die Mantatees en die skrik van die Matabele, die woning van wilde diere en giftige reptiele, waar leeus ronddwaal asof hulle wis hoe daar niemand was om hulle te keer nie, en astrant geword het deur die gewoonte om hul te versadig op mensvlees, ten gevolge die verwoestende oorloë, wat hier vir enige jare gewoed het.
”Vyf dae na ons vertrek van die ba-Hurutsi het ons die eerste buitepos van die Matabele bereik. Die streek waardeur ons tans getrek het was langs ’n heuwelreeks wat byna oos en suidoos geloop het, terwyl die land na die noorde en ooste toe meer gelyk geword het, en mooi besaai was met klein berg spitskoppies, aan die voet waarvan die bouvalle van ontelbare statte, sommige van verbasende omvang. Menige uur het ek peinsend in hierdie tonele van verwoesting rondgeloop, en my gedagtes laat teruggaan na die tyd toe hierdie verlate wonings gewemel het van lewe en pret en toe berg en dal weergalm het met heidense plesier. Daarvan is niks meer oor nie, dan alleen vervalle mure en hope klippe en vuilgoed, wat ’n skuilplek bied aan wild en aan die leeu. Soms kom mens 'n stat teen, waarvan die vernaamste krale tans gebruik word deur die beeste van die woeste oorwinnaars.
"Deurdat ek Matabeles by my had het ek dit moeilik gevind om plaaslike inligting te verkry van die verstrooide en tans vernederde inboorlinge wat ons af en toe teengekom het, wat in hulle teenwoordigheid gebeef het, en dit nie gewaag het om ’n bevredigende antwoord te gee in die teenwoordigheid van die manne, tans hulle meesters, wat hulle regeer met ’n ysterroede.
"In hierdie omgewing”,— hulle reis toe in die nabyheid van Wolhuterskop agter Magaliesberg,— "is ons weer drie dae opgehou deur die reën, wat in strome neergekom het, totdat die laagtes weergalm het met die gedruis van riviere en watervalle. Alle soorte plantegroei was buitengewoon weelderig, en grote hoeveelhede koring het daar wild gegroei tussen die bouvalle van die statte. Eindelik het ons verder gegaan, maar slegs met moeite, ten gevolge die geaardheid van die grond. Die gelyktes was papnat, en die swart, turfagtige klei so klouerig dat elke wiel verstop geraak het in vaste massa, amper te taai om daar af te kry. Ons moes sorg dat ons op die hoërgeleë grond kom, waar die aarde meer sandering en vas was. Dit het ons reggekry ten koste van soveel arbeid en tyd, dat ons teen sononder uitgespan het na ’n korte maar erg moeilike skof.”
Hottentotte het die twee waens gedryf, en wis deur ervaring dat hulle moes wegbly uit die turfgrond. Hulle het derhalwe na die hoër veld van Magaliesberg se bulte getrek, maar daar moes hulle weer die menigte van spoelslote en dongas deurgaan, wat deur die slagreëns veroorsaak is.
’n Ouerige man, Jacobus Hendrik Arnoldus Engelbrecht, wat tesame met Ras die beroemde waband-kanonne gemaak het, het aan skrywer vertel dat hy op Bokfontein gewoon het, naby Wolhuterskop, gedurende die vroeë sewentiger jare, en dat iedereen in daardie omgewing hul eie koffie geplant en suiker geproduseer het, dat hulle katoen gekweek en al die rys voortgebring het wat hulle vir eie gebruik nodig had. Hulle reënval, het hy verseker, was aanhoudend, en het van agt tot tien dae geduur, tien of twaalf maal in die jaar. Die reën was sag en deurdingend. Toe hy ’n ou man van 92 geword het, het hy weer hierdie tonele van sy jeug besoek, (1932), en sy vriende kon dit nouliks glo. Spruitfontein, waarvan hy vertel dat dit die rysvelde oorvloei het, was gedurende verskeie jare heeltemaal opgedroog, en niemand wat daar toe gewoon het wis iets van die bewerking van rys agter Magaliesberg nie.
Moffat se beskrywing van die weerstoestande van ’n veertig jaar vroeër, skyn Engelbrecht heeltemal te bevestig.
Vervolg...