Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy jou BYBEL soos koek vir spesiale geleenthede gebruik, sal jy op 'n plek kom waar jy verhongerd staan omdat jy dit nie as Brood vir elke dag gebruik het nie.
DE LA REY (4)
Hierdie boeiende vertelling van verskeie burgers se herinneringe onder genl De la Rey tydens die Tweede Vryheidsoorlog van 1899-1902 geskryf deur Ignatius Mocke kan gelees word by
GUERRILLA-OORLOG EN KRIEKET (VERVOLG)
DIE storm het swart aan die lug bokant hulle gemaal, toe die kommando vertrek het in die rigting van die Engelse laer.
Rudolf sou bevel neem oor ’n afdeling burgers wat vanuit die oostelike flank die Britse laer sou aandurf. Hy is ’n verkenner, maar Van der Westhuizen het hom gewaarsku dat hy altyd en oral gereed moes wees om aan die eintlike veldslae deel te neem.
“Ons het min opgeleide offisiere en ons durf ons plig nie ontduik wanneer die Generaal ons dienste nodig het nie.”
Die aanvoerder van die betrokke afdeling het twee dae tevore in ’n skermutseling met die vyand gesneuwel en Rudolf het opdrag ontvang om die bevel oor te neem.
Die eerste reëndruppels het swaar neergeplof toe die kommando, ’n paar myl van die Engelse laer af, ingeruk het om die laaste bevel te ontvang.
Hulle moes die laer in verspreide orde nader, sodat die wag nie betyds die gedreun van die perdehoewe sou hoor nie. Die swaar weer en die geloei van die wind sou origens alle lawaai uitdoof. Die reën het al sterker geval, totdat dit emmersgewyse uit die bewolkte hemel op hulle neergestort het en toe het die bevel gekom:
“Storm!”
Hulle het styf teen die toom gejaag, om te verhoed dat die perde op die nat aarde gly, maar in die donker kon die burgers wat ver uitmekaar gejaag het, hul strydmakkers slegs vaag onderskei. Hulle was feitlik op die wag toe die kommando weer ’n punt gevorm en vas teen mekaar gery het.
Die wag se waarskuwende “halt” het te laat gekom:
Rudolf kon sien hoedat die voorste burger hom in die jaag neersabel en toe het die geweervuur begin knetter. Voor hulle, in die kamp, het honderde Engel se holderstebolder uit die tente gepeul en rigtingloos soos skape in die reën gehardloop.
Die toneel was byna spookagtig en die geskreeu om hulp, die hartverskeurende gepleit, die aanhoudende geblits van kleingewere, die oorverdowende geknal, het aan die gebeurtenis ’n byna helse aanskyn verleen. Rudolf het met opmekaargeknerste tande in die voorhoede van die kommando tussen die vyand ingejaag. Sy geweer was gedurig aan sy skouer en hy het geweet, met dieselfde bittere genoegdoening wat hy altyd in sulke omstandighede gevoel het, dat
elke koeël wat hy afvuur, dodelik raak is.
Die lawaai het in ’n crescendo van waansinnige geskreeu, geweervuur, gevloek en gesmeek bokant die gedreun van die weer uitgestyg en toe, eensklaps, was die slag verby.
De la Rey het sy manskappe beveel om op te hou skiet en uit die teenoorgestelde rigting het kommandant Henning en sy kommando hulle tegemoet gekom.
Die Engelse het oorgegee.
De la Rey het getref, met die snelheid van ’n leeu en sy prooi het magteloos voor horn gelê.
“Sê vir jou owerheid dit is soos die Boere oorlog maak. Nie met swartes wat weerlose vroue en kinders vermoor nie.”
“Julle kan gaan. Maar my waarskuwing bly: Solank daardie swart moordenaar op vrye voet is, so lank sal ek julle geen rus gee nie.”
DIE volgende middag het Rudolf by kaptein Schalk van der Westhuizen verlof gekry om tot die aand agtuur van die kommando af weg te bly.
Die bedwelming van die slag was nog in sy bloed en in sy verbeelding het hy nog die gekerm en die gevloek van gewondes en sterwendes gehoor toe Johanna hom voor die deur ontmoet.
Maar toe hy haar hande neem, het hy oor die drumpel van 'n ander wêreld getree. Uit die raserny, die verskrikking van die oorlog, in ’n sagte droomland waar hy met verwondering kon luister na die helder, juigende blydskap wat in sy hart ontwaak het.
“SUPER-SPIOEN”
Kaptein Schalk vd Westhuizen kyk die groepie jong burgers voor hom ondersoekend aan. Sy lewendige swart oë rus beurtelings op die agtal burgers wat swygend voor hom staan. Hy leun teen die skurwe stam van ’n groot doringboom wat met wye takke eensaam staan in die vaal uitgestrektheid van die Wes-Transvaalse vlakte.
Dit is laat in die middag. Oor die veld om hulle lê ’n grys dynserigheid en op die kaal veld en verder teen die bruin rante, staan die sonhitte trillend-wit.
Die middag is stikkendwarm.
Die Kaptein se oë dwaal met ’n sagte, geamuseerde uitdrukking in hul grys dieptes oor die penkoppe voor hom. Hier is manne wat weet om te ly, om die dood te trotseer, maar om in stilte hul doodsgevaarlike werk te verrig, sonder klag of angs. En as hulle bang is, dink hy glimlaggend, sou hulle te skaam. wees om dit te wys.
Nie een van hulle praat nie. Hul oë is aandagtig op hom gerig.
“Julle weet nou wat ek wil hê." se hy grimmig. “Dink na oor wat ek gesê het voordat julle handel.”
Kaptein Van der Westhuizen se verkennerskorps het al dikwels die dood trotseer saam met hul waaghalsige leier. Daar was nagte dat hulle meer as dit gedoen het: Dat hulle hul lewens roekeloos gewaag het. Blindelings, sonder om aan die gevolge te dink, het hulle al honderde kere die dood gaan soek. Hulle het doelbewus ingery in hinderlae wat die vyand vir hulle gestel het, om inligting in te win, of om die gegrondheid van die een of ander twyfelagtige rapport te toets. ’n Paar van hulle het al voor die vuurpeloton gestaan, met ’n donker doek voor hul oë; en hulle het gewag op die kort, skerp geblaf van die Lee Metfords wat hul lewens sou beëindig. Maar hul makkers was altyd daar, op die gestelde tyd, om hulle te ontset.
“In die eerste plek is julle trou verskuldig aan jul land,” het die Kaptein aan hulle gesê die dag toe hy die korps gevorm en sy agt vrywilligers byeengeroep het. “Maar daar is ook ’ n ander trou wat van julle vereis dat julle nie sal aarsel om te sterf as dit moet nie. En dit is jul trou aan jul makkers. Julle moet soos een man werk; elkeen vir almal. As een van julle makkers gevang of geskiet word, moet dit vir julle wees of dit julself is. Ek vra julle om werk te doen wat net so ondankbaar is as wat dit lewensgevaarlik is. Want julle sal in die gevaarlikste plekke moet indring; waar niemand behalwe ’n besetene sou waag om te gaan nie, daar moet julle inkruip. Die veiligheid van die Boeremagte hang van j ulle af. En as daar een van julle is wat verwag dat hy beroemd sal word, dat sy mense oor hom sal praat
soos hulle praat oor De Wet of De la Rey of Beyers, laat hom dan sy hoed vaten loop...”
Hulle het verstaan wat hy bedoel, sy agt verkenners en stilswyend het hulle sy voorwaardes aangeneem.
En in die agttien maande wat agter hulle lê, het hulle uitgevind dat die aanvoerder nie oordryf het daardie middag toe hy hulle vir die eerste keer bymekaar geroep het nie. Want die maande wat agter hulle lê, was 'n tyd van blinde waaghalsigheid. Donderstorms het oor hulle getrek en die snerpende winterwind het nagte lank deur murg en been gewaai. En altyd was die dood om hulle. Geen oomblik het hulle vrede of veiligheid geken nie. Die vyand was bewus van hul bedrywighede en het sy nette elke dag sorgvuldiger gespan om hulle te vang.
Maar kaptein Van der Westhuizen het hulle goed opgelei: Hy het niks aan die toeval oorgelaat nie.
“’n Dapper verkenner is alles goed en wel,” was sy leuse, “maar ’n onversigtige verkenner, hoe dapper hy ook al is, is ’n gevaar vir sy eie mense.”
So het dit gebeur dat hulle dikwels die dood in die oë gestaar het, maar hulle het dubbel seker gemaak dat dit hulle nie sou tref nie. Die kaptein het nooit met hulle gepraat oor hul wederwaardighede nie, maar hy het goed geweet dat geen dag verbygegaan het sonder dat
een van hulle op ’n byna wonderbaarlike manier uit die vyand se hande ontsnap het nie.
En nou, terwyl sy swart oë vraend op hulle gerig is, sien hy net die stroewe gesigte voor hom. Maar hy weet dat agter die kalm uiterlike, storms van teenstrydige gevoel woed.
“Die man wat bereid is om die werk te doen,” sê hy kalm, “moet goed verstaan dat hy dag na dag met die dood sal moet speel. Selfs die lewe van ’n gewone verkenner soos julle nou is, is ’n roekelose waagspel. Hierdie werk,” hy lig sy hand in ’n kenmerkende gebaar om die woorde te beklemtoon, “is nog gevaarliker.”
Daar is nog geen uitdrukking op die gesigte voor hom nie.
“Julle kêrels is almal ewe dapper,” gaan hy voort, “altans, julle het almal bewys dat julle nie van jul pligte sal terugdeins nie. Ons wil nie ’n keuse maak nie. Maar ek vra nou ’n vrywilliger om die plek van Willie de Vos te vul.”
Hy spreek die naam met ’n sagtheid uit, asof ’n teerheid oor sy gemoed kom.
“Hy was 'n onverskrokke man,” sê hy, asof hy met homself praat, “en dit sou ’n eer wees vir enigeen van julle om sy werk te hervat waar dit onderbreek is.”
Die agt verkenners lees sy gedagtes. Hulle weet maar alte goed wat met De Vos gebeur het.
Nege maande gelede het hy as ’n gewone verkenner diens onder kaptein Van der Westhuizen aanvaar en toe is die waaghalsige spioenasiestelsel van “binneste” verkennersposte in die lewe geroep. Vir dié werk was ’n man nodig wat dinge sou moes waag waaraan ’n gewone
verkenner nooit sou dink nie. Hierdie “super-spioen” moes indring in die hoogste militêre kringe van die vyand, om sodoende die allergeheimste krygsplanne uit te vis. Hy sou gereeld verslag moes uitbring oor die bewegings of bestemmings van vyandelike ammunisiekonvooie, geheime staatsdokumente probeer onderskep, die toekomstige krygsbeleid of plan van optrede van die vyand uit die mees outentieke bronne probeer vasstel en gedurig, deur onverskrokke verkeer met die hoogste vyandelik militêre bevel, probeer uitvind of daar nie met die opperbevel van die Boeremagte geheul word nie. Sy identiteit was bekend aan slegs die hoogste bevelvoerders van die Boeremagte en dit is so sorgvuldig verbloem dat selfde Rudolf en sy medeverkenners maar gister na De Vos se dood verneem het dat hy die “onbekende spioen” van die kommando was. De Vos het sy werk met skitterende bekwaamheid verrig. Nege maande lank het deur hom lewensbelangrike inligting uit die vyandelike kamp die Boere-aanvoerders bereik. Etlike male is groot vyandelike ammunisievoorrade buitgemaak met die inligting wat hy beskikbaar gestel het; treine met vuurwapens is onderskep, sodat hele Boerekommando’s weer van krygstuig voorsien kon word.
Die bewegings van berugte “national scouts” is deur sy onvermoeide ywer aan die lig gebring en talle van die verraaiers is gevange geneem en summier tereggestel; dit was ook deur sy optrede dat die lewens van honderde vroue en kinders gered is, want hy het die Boerekommando’s keer op keer op die hoogte gestel van die aanwesigheid van swart bendes wat uit was op moord en plundertogte.
’n Paar dae gelede is Willie de Vos, onderwyl hy in die uniform van ’n Engelse offisier van hoë rang, spioenasiewerk onder die vyand gedoen het, onverwags herken deur ’n Boere-offisier wat oorgeloop het. Hy het ’n wanhopige poging aangewend om te ontvlug, maar die vyand het hom gevang, voor ’n krygsraad ter dood veroordeel en onmiddellik laat fusilleer.
Sy werk moes voortgesit word, want hy was ’n onmisbare en lewensbelangrike skakel tussen die Wes-Transvaalse republikeinse magte.
“Daar is nog een ding waarop ek jul aandag moet vestig,” sê kaptein Van der Westhuizen, “nog ’n gevaar waaraan die man wat onderneem om hierdie werk te doen, homself sal blootstel. Dit is nie buite die perke van moontlikheid dat so ’n spioen deur sy eie mense geskiet kan word nie. Hy mag geen eieningspapiere dra nie en dus is daar geen hoop om sy identiteit te bewys ingeval hy miskien deur Boere gevang word nie. Julle weet dat al die kommando’s opdrag ontvang het om af te handel met verraaiers en ’n Boer in ’n Britse offersiersuniform, met geen bewyse van sy goeie trou nie, loop gevaar om sy lewe op hierdie manier te verloor.”
Hy breek ’n oomblik af en kyk sy verkenners afwagtend aan.
“Julle verstaan nou goed,” se hy kortaf, “as een van julle bereid is om die werk te onderneem, sal hy ’n groot slag vir die vryheid kan slaan. Laat hom vanaand sy opwagting by my doen. Van my kant gee ek die waarborg dat alles sal geskied in ’n gees van die allerstrengste geheimhouding. Nie eens sy medeverkenners, nie eens julle, sal weet wie in De Vos se plek benoem word nie.”
DAARDIE aand om agtuur het Rudolf Naudé na verkennerskaptein Van der Westhuizen se tent gestap.
Die offisier het hom dadelik binnegelaat.
“Ek het my kom aanmeld vir die werk, Kaptein.”
“Mooi, Naudé. Generaal De la Rey meen self dat jy die regte man is.”
Hy kyk Rudolf goedkeurend aan.
“Vier van die ander het ook gekom,” sê hy trots. “Julle is dapper kêrels. Maar ek dink jy is die beste man. Jy besit die nodige ondervinding en jou kennis van die Engelse se gewoontes is voldoende. Bowendien praat jy Engels soos ’n regte rooinek.”
Dit was al laat in die nag toe Rudolf die Kaptein se tent verlaat het.
Hy het sy eerste opdrag as “super-spioen” in sy sak gehad: ’n Bevel wat onmiddellik uitgevoer moes word. Kaptein van derWesthuizen het berig ontvang dat “Scout X,” die berugte swart moordenaar, in die omtrek is en dat hy voorbereid moes wees.
“Ek sal jou verantwoordelik hou, Van der Westhuizen,” het sy hoof gesê, “as hierdie vuilgoed nie gevang en geskiet word nie. Ek het die Engelse al herhaaldelik gewaarsku om !n einde te maak aan sy gruweldade, maar hulle steur hulle eenvoudig nie aan my nie. Stuur jou beste verkenner uit om te probeer uitvis waar die ellendeling hom skuilhou.”
“Hy is so geslepe soos die houtjie van die galg, Naudé,” het Van der Westhuizen gesé. “Dit sal ’n godsbestiering wees as jy op sy spoor kom. Jy weet,” daar kom ’n trek van weemoed oor sy gesig, “dit was De Vos se grootste begeerte om die vuilgoed self te vang. Hy het ses maande lank probeer, maar sonder sukses. En nou sal sy wens nooit vervul word nie.”
’n Swaar stilswye hang ’n oomblik tussen die twee manne.
“Kaptein,” se Rudolf kalm, “ek gaan kragte met hom meet. Miskien kan ek Willie de Vos se heldewerk voltooi.”
“Mag die Here dit gee, ou seun. Daar rus baie onskuldige bloed op die ellendeling se hande en as ons hom nie aan die hiele kan lê nie, sal hy nog baie verwoesting en dood onder ons mense saai.”
Op ’n eensame plaas in die omtrek van Lichtenburg het op dieselfde nag ’n waghond hard begin blaf buite op die werf. Binne-in die huis het ’n ou man onrustig uit sy slaap wakker geword.
“Lenie,” roep hy hees, “waarom blaf die honde?”
“Seker maar jakkalse, Pa,” het sy gerusstellend probeer antwoord, maar die ondertoon van angs in haar stem het hom nie ontgaan nie.
Haar man is met die uitbreek van die oorlog kommando toe en sy en haar vier kinders moes alleen agterbly, hul enigste beskerming was haar bejaarde vader wat te oud en sieklik was vir militêre diens.
Versigtig staan sy uit haar bed op en stap na die venster. Sy laat haar blik oor die maanverligte veld buite gaan, maar daar is geen roering nie.
Die waghond blaf nou aanhoudend en dit is duidelik dat hynader aan die huis kom.
Meteens ruk die vrou se hart van angs in haar binneste:
Duskant die spruit, ’n paar honderd tree van die plaaswoning, sien sy vier swart gestaltes uit die bosse te voorskyn kom, spoedig gevolg deur ander. Hulle praat opgewonde, onderwyl hulle na die huis aangestap kom.
’n Waansinnige angs pak die vrou by die venster beet. Dit is duidelik dat dit swartes is. Onseker en handewringend staan sy ’n oomblik besluiteloos.
Sy stap na die voorhuis en neem die ou Lee Metford wat haar man vir haar nagelaat het, van die kapstok af.
Op dieselfde oomblik verskyn die ou man agter haar in die deur.
“Wat is dit, my kind?” vra hy sag.
Sy draai om en as hy die naakte angs in haar oë sien, sê hy: “God sal ons help. Moenie bang wees nie.”
Op dieselfde oomblik word hard aan die agterdeur gehamer. ’n Skel gevloek begin en dan 'n aanhoudende gestamp teen die houtdeur.
Meteens hoor die vrou hoedat die planke kraak en meegee. Die ou man neem die geweer uit haar hand en wag.
’n Oomblik later bars ’n groot swartman die huis binne. Hy het ’n uniform aan en op sy arm lê drie geel strepe wat sy rang aandui. Die vrou se beangste oë gaan oor die wrede gesig, die oë wat op skrefies na toe is en die dik lippe.
“Jy het seker al van my gehoor, Boervrou?” sê die barbaar bars. “Ek is Scout X. Vra die Engelse!”
’n Benoude angs styg na haar keel. Wie het nog nie van die onmens gehoor nie?
Hy beskou die ou man ’n oomblik spottend en dan, met ’n blitsvinnige beweging dat dit hulle totaal verbysterd laat, pluk hy !n rewolwer uit sy sak en vuur. Die ou man sak geluidloos vooroor, met drie koeëls deur sy liggaam. Nog twee keer vuur die vuilis in die lewelose gestalte op die vloer. Die geweer het kletterend op die vloer geval en voordat die vrou kon buk om dit op te tel, het die moordenaar sy swaar beslaande stewel daarop geplaas.
Nou wend hy hom tot sy helpers.
“Kyk of daar kinders in die kamer is,” sê hy, ''en bring hulle uit:'
Hy slaan geen ag op die histeriese gesmeek van die vrou wat nou op haar knieë voor hom staan nie.
“Bring hulle en maak gou.”
Die bevel klink onverbiddelik en koud in die doodse stilte wat oor die huis hang.
’n Oomblik later word twee jong seuntjies huilend die voorhuis binnegesleep en agter hulle volg twee ouer dogtertjies, spraakloos, maar met gesigte wit en oë vol smekende angs.
“Maak haar op die stoel vas" sê die swart vuilgoed aan een van sy trawante.
Die vrou het haar tevergeefs teëgesit: Binne ’n paar minute was sy magteloos aan die stoel vasgebind, met ’n vuil sakdoek in haar mond geprop.
En in die uur daarna is haar siel gefolter totdat ’n genadige kranksinnigheid oor haar gekom en alle bewustheid van die verskrikking wat sy aanskou het, uit haar gedagte geban het. Die morestêr het al hoog aan die hemel gesit en die rooidag het vlak bo die bulte aan die
ooste gestaan, toe die verwoester en sy bende die huis verlaat.
Rudolf het haar in die stoel gevind, die middag daarna. Daar was geen gedagte in haar leë, wildstarende oë nie. Sweet het klam oor haar voorhoof gelê.
Op die vloer voor haar het die lyke van die vier kinders opmekaar gelê. Die twee dogtertjies se koppe was verbrysel deur kieries en die oudste seuntjie het dertig koeëlwonde deur sy liggaam gehad. Maar wat Rudolf met onuitspreeklike ontsetting vervul het, was die posisie
van die jongste seuntjie se lyk. Hy het onder op die vloer gele, met agt koeëlgate deur die een arm; die skouer van die ander arm was verbrysel, maar dit was duidelik dat hy nog ure na die moorde gelewe het: Hy het half onder die ander uitgekruip in ’n laaste, wanhopige poging om sy moeder te bereik...
Rudolf het die voorval sonder verwyl aan kaptein Van der Westhuizen gerapporteer.
Daardie aand het generaal De la Rey hom laat roep. Die swart oë het onheilspellend gesmeul, die sterk hande was in ystere greep in mekaar geklem.
“Naudé,” het hy sag gesê, “ek verwag nie die onmoontlike van julle nie. Maar ek eis die uitlewering van daardie swart vuilgoed. En dit moet gou gebeur!”
Die opdrag was kort, maar toe Rudolf buite kom, het hy beset dat hy dit sal moes uitvoer: Daar is geen ander uitweg nie...
Vervolg...