Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As die HERE dan "die goeie" gee aan wie in opregtheid met Hom wandel, is die teenoorgestelde ook waar: dit gaan sleg wanneer ons van Hom wegdwaal. Maar Hy verhoor weer ons gebede wanneer ons terugkeer, soos Dawid dit ook ervaar het in Ps 86: "In die dag van my benoudheid roep ek U aan, want U verhoor my."
DE LA REY (15) (SLOT)
Hierdie boeiende vertelling van verskeie burgers se herinneringe onder genl De la Rey tydens die Tweede Vryheidsoorlog van 1899-1902 geskryf deur Ignatius Mocke kan gelees word by
VREDE
DIE Driejarige Oorlog het ten einde gesnel. Uit ’n gedugte weermag het die Republieke nou ’n handjievol bittereinders oorgehou wat met onversetlike vasberadenheid geveg het.
“Ons sal nie oorgee nie,” het Schalk van der Westhuizen aan Rudolf gesê, “ons sal hulle beveg, hier tussen die meerkatgate van Wes-Transvaal, tussen die bosrante van die laeveld, in die berge ... waar hulle ook al is. Ons sal aanhou totdat hulle moeg word. En dan sal ons ons land terugkry.”
Baie burgers het hierdie houding aangeneem. Honderde van hulle het alles in die stryd verloor waaraan hulle waarde geheg het: Vroue en kinders het hul lewens in die konsentrasiekampe verloor; hul eiendomme is verwoes en as hulle nog hul vryheid moes verloor, sou die stryd geen betekenis hê nie.
“Bowendien,” het baie van hulle gesê, “dis ’n gevaarlike lewe hierdie. Die gevaar is gedurig daar dat ons gevang of geskiet kan word; maar dit is tog ’n lekker lewe; vol afwisseling en vol avontuur. Ons het niks nodig nie, want Haar Majesteit sorg vir ons. As ons kos opraak, doen ons ’n bietjie verkenningswerk totdat ons ’n Engelse voorraadopslagplek kry; en dan gaan ons eenvoudig, oorrompel die bewakers, vat wat ons wil hê en vir ’n paar weke daarna lewe ons sorgvry. As ons klere opraak, vang ons ’n paar van Haar Majesteit se onderdane, trek hulle kaal uit en laat hulle begaan; ons stel nie in hulle belang nie, maar in hul klere.”
Maar vir Rudolf en andere wat ernstiger gesind was, wat nie dieselfde fatalistiese houding kon aanneem nie, was daar ander faktore wat oorweeg moes word:
Daar was die ontsettende kindersterfte in die konsentrasiekampe; die ontberings van die vroue, wat al hoe verskrikliker geword het. Hulle moes aan die toekoms dink. Hoe sou ’n volk, met sy jeug in die wieg vermoor, sy moeders wat in hul duisende aan blootstelling, honger, ontbering en ander naamlose ellendes beswyk het, kan hoop op ’n toekoms? Hoeveel jare, hoeveel eeue, sou dit duur voordat daardie volk weer uit sy nederlaag kon opstaan en sy plek onder die nasies inneem?
Dit was duidelik dat ook die Britse regering begin moeg word het vir hierdie stryd wat skynbaar nooit ’n einde sou kry nie. Met hul eerste groot deurbrake en die triomfantlike opmars daarna om die Boerehoofstede te verower, het hulle gemeen dat die stryd verby is. Nou sou dit net ’n kwessie wees van skoonmaak. Maar toe het De la Rey in die Noorde en De Wet in die suide op die voorgrond getree en die vyand ’n reeks onverwagte nederlae toegedien wat onsterflike eer aan die naam van die Boerevolk verleen en hul eie prestige onherstelbaar geskaad het.
Keer op keer is die opperbevel verander. Eers was dit Buller, toe lord Roberts, van Kandahar, van wie die Boere vrolik gesing het: “Lord Roberts van Kan-daar, is nie lord Roberts van Kan-hier... ”
En eindelik was dit lord Kitchener van Khartoem.
En telkens is ’n nuwe veldheer benoem wat “die kuns verstaan om guerrillaoorlog te voer. Hy sal De Wet op sy baadjie speel en De la Rey se baard vir horn uittrek.”
Dag na dag het die gerugte die rondte gedoen dat dit nou uiteindelik klaarpraat is met die Leeu van Wes-Transvaal en die vlieënde Boer van die Vrystaat; eers het die Engelse publiek hierdie gerugte geglo; maar na gelang hulle vervang is deur nuwe en soortgelyke gerugte, het hulle begin wonder of die gerugte op stuk van sake nie maar gerugte is nie; later het hulle selfs die gek daarmee begin skeer; koerante het spotprente geplaas; in die een het ’n swerm bye ’n leeu oor die vlakte gejaag; die leeu het radeloos na die “hinderlike” diertjies gekap met sy groot pote, maar hy kon hulle maar nie afskud nie, veral aangesien die swerm hom in ’n baie kwesbare plek van agter betakel het. Onderaan was die woorde: “De la Rey plagues the British Lion.” Op ’n ander het ’n hand De Wet en sy Boere uit ’n omsingeling opgelig en hulle veilig agter ’n rantjie neergeplaas, terwyl die Engelse feesvier oor hul “vangs.” Die spottende onderskrif was: “De Wet is caught.”
Die gerugte het aangehou en De la Rey het al hoe harder geslaan. De Wet is elke week of so gevange geneem, maar elke dag het hy die vyand met sy vlieënde kolonnes aangedurf en hom op sy baadjie gespeel.
Dit was duidelik dat die republiek se magte nog lank teen die vyandelike oormag staande kon bly, as dit moes.
Maar die vyandelike regering was self in ’n swak posisie omdat hy die oorlog op so ’n onhandige wyse gevoer het. Hy sou nou toeskietliker wees as later wanneer die weerstand van die burgermagte miskien geheel en al gebreek is.
Die gerugte van vrede het nou openliker geword. Die burgers het dit dag na dag bespreek; oral wanneer die kommando rus gekry het, het hulle geredeneer oor die wenslikheid daarvan:
“Liewers aanhou tot in die oneindige. As hulle ons land het, sal ons hom nooit weer terugkry nie.”
“As ons nou vrede maak, kan ons ordentlike terme eis!”
“Maar ons vryheid sal verlore wees.”
“Ons sal selfregering kry!”
“Ja, maar altyd onder ’n regering wat met Engeland saamwerk. Altyd onder manne wat eerste aan Moeder Engeland sal dink en nooit aan Suid-Afrika nie.”
“Ons sal tog eendag weer vry word. Geen Ryk kan vir ewig bestaan nie.”
“Vir ewig nie, dit is waar. Maar wat sal van ons volk oorbly as ons nog tweehonderd jaar onder die Britte moet buig?”
En so het die argumente aangehou, dag na dag.
Rudolf kon die billikheid van albei standpunte insien. Enersyds was dit waar dat vrede solank die Boeremagte nog nie gebreek is nie, minstens ’n eervolle vrede sou wees; andersyds was daar geen twyfel nie dat Engeland die republieke onder kroonkolonieregering sou plaas, selfs al word die goud ook aan hom afgestaan. Tienduisende van die soldate wat nou in die land veg, sal hulle mettertyd hier vestig; hulle sal die Afrikaner in sy eie land op die agtergrond skuif; self die staatsdiensbetrekkings beklee, hul eie taal verhef tot landstaal en die kommersialisasie van die landsbronne oorlaat aan die vreemdes wat altyd, soos hiënas, op hul hakke volg om op die buit te aas. Rudolf het hierdie dinge besef, met ’n loodswaar gevoel in sy hart, maar in die moeilike onsekerheid wat dit in hom aangewakker het, het hy besluit dat hy hom sal laat lei deur sy Generaal.
“Ek was gehoorsaam aan hom in die gevaarlikste oomblikke; op sy bevel het ek my lewe in die weegskaal geplaas. Ek het hom deur die oorlog gevolg; ek sal hom volg in die vrede ...”
Generaal Koos de la Rey, die gevreesde krygsman, was net so groot in die vrede as wat hy in die oorlog was.
Ook nou het hy ver gekyk, die toekoms in; ook nou was hy die denker wat sy blik gevestig het op die jare wat voorlê.
Ook nou was hy die onverskrokke, wat sou staan en val by sy oortuigings.
Rudolf sou dikwels in sy later lewe met ontroering terugdink aan die laaste toespraak wat hy generaal De la Rey hoor lewer het.
Nog nooit het hy die sterk, aristokratiese gesig so eerbiedwaardig gesien as by daardie geleentheid nie. Die voorhoof, die skerp, reguitstarende oë, die ferm mond, wat hy in die donker jare van gevaar wat nou verby was, leer ken en aanbid het, het nog dieselfde magtige vertroue weerspieël. Hier was ’n man wat die oorlogshel nie kon breek nie; wat geen oorlog sou kon breek nie; hier was ’n leier wat nooit die knie sou buig nie; hulle kon sy land vat, sy volk tydelik onderwerp, maar in sy siel sou hy altyd die opperste sinnebeeld van die Boerevolk bly: Die ewige vrye, die man wat nooit ’n kneg kan wees nie.
In sy woorde was dieselfde gloed, die besieling, wat duisende burgers onverskrokke laat storm het deur ’n vernietigende hel van geweervuur. Almal het aandagtig geluister. In hom was die bittere, ontnugterende voorgevoel dat die stryd verby is en dat geen aardse mag meer die dierbare vryheid van sy volk sou kon red nie; maar in De la Rey se woorde het hy ’n belofte verneem, uit die verre jare wat voorlê, van ’n ander stryd wat sal kom, wat die juk van die verdrukker vergoed sal afwerp...
Ons mag nie in kleinmoedigheid vandag die toekoms met moedelose, donker harte tegemoet sien nie, het De la Rey gesê: Daar is ’n ander stryd wat groter is as selfs die verskriklike stryd van oorlog; en dit is die stryd van ’n nasie om sy siel te behou, om te sorg dat sy kultuur staande bly; dit is die mistieke, van God ingegewe groepsgevoel, die volksbewustheid wat die diepste en ewigste blyk is van nasieskap. Dit is die stryd wat sy broers en susters sal moet stry, het die Generaal voortgegaan, daardie stryd wat op hande is. Dit sal ’n bitter stryd wees en baie sal kleinmoedig word, soos baie kleinmoedig geword het in hierdie oorlog wat verby is; en in hul kleinmoedigheid sal hulle gemene saak met die vyand maak; sy taal, sy sedes, sy gewoontes aanneem en hul eie tradisies verwerp; hulle sal skimp op die eerbare tradisies van hul vadere, die Voortrekkers, van die manne wat so dapper en so lank in hierdie oorlog geveg het; en wanneer dit die dag gebeur dat die dinge, die tradisies van hul volk, sy sedes, sy taal, verdwyn het, dan sal ook daardie groepsgevoel verdwyn en sal die Afrikanervolk nie meer bestaan nie. Ons moet teruggaan, met hoe moed en onkreukbare vertroue, net soos ons hierdie stryd aangepak het, soos ons horn nou beëindig. Op ons skouers, die skouers van hierdie geslag wat hierdie bitter, ongelyke maar onsterflike stryd moes voer, sal die plig op ons rus om daardie stryd voort te sit vir die behoud van ons volk se tradisies, sy taal en sy sedes...
Rudolf het na die woorde geluister en voor sy geestesoog het 'n panorama verby geflits wat ’n stroom van herinneringe na hom teruggeroep het. ’n Beklemmende ontroering het na sy keel gestyg, onderwyl die beelde verbygerol het. Hoeveel nagte het hy nie aan die sy van sy Generaal gejaag nie, onder die koeëls deur, met die bomme wat die aarde om hulle omhoog geploeg het...
Hoeveel nagte het hy nie onder die onbewoë straling van die sterre na daardie stem geluister nie, wat hom altyd vermaan het om te vertrou, om te hoop, om te glo dat God hul volk nie vergeet het in sy eensame wanhoopstryd nie?
Hoeveel keer het hy nie daardie gestalte gesien nie, regop en fier op die slagveld omring deur die verslae vyandelike laers; altyd hoflik, maar onverbiddelik; altyd menslik, maar vasberade...
En nou sou hulle uitmekaar gaan, De la Rey en sy ou strydmakkers. Miskien sal hulle mekaar weer ontmoet, in ’n ander tyd, in ander omstandighede; maar sou daar dan tussen hulle ook hierdie band wees: Van kameraadskap, omdat hulle soveel saam deurgemaak het; hierdie selfde, hartstogtelike hoop dat die stryd uiteindelik tog nie verlore is nie en dat hulle eendag weer die herrysenis sal sien van hierdie republiek wat hulle saam verdedig het?
Nee, dink hy driftig, De la Rey sal nooit verander nie.
Hy sal aanhou om te veg, soos hy geveg het in hierdie oorlog; altyd met die onweerstaanbare krag van die stormende leeu, met die durf, die heldemoed ...
Wat ook al mag gebeur in die jare wat voorlê, De la Rey sal altyd bly die leeu, die trotse veldheer van Nooitgedacht, Ysterspruit en Tweebosch ...
So sal ek hom altyd onthou...
“Ons moet teruggaan om die stryd voort te sit,” hoor hy sy Generaal se stem, “en daarvoor sal nodig wees, geloof in die God van ons vadere, vertroue in ons eie krag om te oorwin en hoop op die toekoms...”
***
DIE vredeskonferensie van Vereeniging was verby.
Rudolf het Johanna ontmoet op ’n Boereplaas naby Lichtenburg waarheen hy haar geneem het die dag toe die vredesonderhandelinge aangeknoop is. Hy het nog sy perd en sy saal gehad en nou het hulle, sy voor hom op die saal, langsaam gery in die rigting van die oorlogskerkhof waar tant Hannie begrawe is.
Die middag was ver gevorder en op die ver bulte om hulle het reeds die dynserigheid van die aand gelê.
Die kerkhof was byna onsigbaar tussen die lang gras; die sandhope byna weggewas deur die reëns wat daaroor heen getrek het.
Hier, met ’n enkele ysterklip aan die bo-ent daarvan, het tant Hannie se laaste rusplek aan hul voete gelê.
Rudolf het sy arm vertroostend om die meisie se skouers geplaas toe sy sag begin snik.
Lank het hulle so gestaan, in die dynserigheid van die aand wat oor die bulte na hulle aangekom het.
“Hier begin ’n nuwe lewe,” het Rudolf gedink, “vandag tree ons die toekoms binne; maar julle, wat vir ons dierbaar was, ons sal jul gedagtenis in ere hou: In ons vreugde of smart, in ons oorwinning of nederlaag, sal ons jul liefde onthou en ons sal onthou hoedat julle gesterwe het...”
Sy blik skeer die wye, glooiende vlakte om hom; langs die stofpad aan sy voete, wat by die kerkhof verbyslinger, gaan dit, tot waar die pad in die verte daal na ’n onbekende bestemming.
En toe kom die gedagte tot hom, dat dit die pad van Suid-Afrika is, hierdie pad wat vlakby die kerkhof verbygaan; dit gaan by baie ander kerkhowe soos hierdie verby; en hierdie kerkhowe is die mylpale langs daardie pad: maar dit is eindeloos, die pad; uit die dale van Kaapland kom dit, deur die heuwels van Natal, deur die vlakveld van die Vrystaat, hier deur Wes-Transvaal, noordwaarts, na ’n onbekende bestemming...
En toe, skielik, soos ’n boodskap uit die stil dag om hom, hoor hy generaal De la Rey se woorde, asof die beminde leier digby hom staan:
“Hier is die pad, ou seun, ons moet dit bewandel. Ons mag nie vra wat die bestemming is en waarom dit so 'n swaar pad is om te bewandel nie. God alleen weet wat die bestemming is en wat Hy besluit, is goed.”
SLOT