Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wanneer ons die herfstyd van ons lewensduur binnegaan is ons geneig om depressief en vol neuroses te raak. Die oorgang van somer waar ons in die fleur van ons lewens was, sterk, vol moed, dapper, gesond, is so dramaties dat ons moet waak teen donker in die gemoed. Herfstyd het self die opwinding van manjifieke kleure: rooi, pers, geel, goud, brons, pragtig! So het die herfs van ons lewe die moontlikheid om wonderlik kleurvol te wees: vol wysheid, humor, deernis, geduld en baie ander vreugdes wat ryklik bot in hierdie tyd.
VROUEDAE IN ONS GESKIEDENIS
Die Boerevroue het destyds hulle eie Vrouedae gehou.
Die eerste Vroue-optog oppad na 'n regering in Suid-Afrika was op 9 Augustus 1843. (vandag presies 179 jaar gelede)
Die Voortrekkers het Natal ingetrek nadat hulle grond van Dingaan gekoop het. Ná die Trekkers hulle in Natal gevestig het, het die Engelse 'n garnisoen soldate gestuur en Natal as Britse Kolonie verklaar. Die Trekkers se onafhanklikheid is toe tot niet.
Susanna Smith, vrou van Eerw. Erasmus Smit, die ‘predikant’ van die Trekkers en ander vroue het die Britse bevelvoerder gaan spreek. Hulle maak beswaar dat die grond wat die Trekkers met bloed gekoop het deur Brittanje as eiendom gevat is. Tydens hierdie gesprek het een van die vroue verklaar: "Ons sal eerder kaalvoet terug oor die Drakensberg loop as om onder Britse gesag te bly” . Die onderduimse Engelse het verklaar dat hulle die gebied beset het tot beskerming van die Trekkers. Die meeste Trekkers het weggetrek na die Vrystaat en Transvaal.
*EERSTE VROUE-OPTOG NA DIE UNIEGEBOUE*
Tydens die Eerste Wêreldoorlog 1914 word Gen. De la Rey by ‘n padblokkade in Johannesburg doodgeskiet. Dit sou die begin van die Rebellie inlui. Van die leiers, oa genl. De Wet, is later gevang en tronkstraf opgelê. Hulle is in die Fort in Johannesburg aangehou. Dit het gelei tot ʼn optog in Pretoria.
Die optog is deur mev, Drienie Joubert, vrou van genl. Piet Joubert ea vir 4 Augustus 1915 gereël. Daardie oggend het 6,000 vroue byeen gekom. ‘n Biduur is in die NG Kerk in Pretoria gehou. Die vroue kom in die straat in Provinsies byeen. Vooraan stap die Vrystaat met wit en oranje rosette, die Kaap met wit en blou rosette, Natal met wit en rooi en die Transvaal met wit en groen. Hulle stap in stilte na die Uniegebou.
Mev Joubert en Elsie Eloff, dogter van Paul Kruger gaan per motor na die Goewerneurs woning en oorhandig die versoekskrif aan Burggraaf Buxton. Generaal Botha het gesorg dat hy nie in Pretoria is nie. Buxton het onderneem om dit aan die Kabinet voor te lê. Botha was nie te vinde om sy oudkamerade vry te laat nie. Genl Jan Smuts het hom ondersteun. Dit het gemaak dat Botha by ‘n groot deel van die Afrikaners ‘n baie ongewilde persoon geword het.
Die Rebelle is eers een jaar later vrygelaat.
*DIE TWEEDE VROUE OPTOG*
Tydens die Tweede Wêreldoorlog het die vroue weer ‘n optog na die Uniegebou gereël. Hulle het veral openlik hulle misnoeë getoon oor die regering se behandeling van die manne.
Op Saterdag 22 Junie 1940 het bykans 10,000 Afrikanervroue op Kerkplein in Pretoria byeengekom vir ‘n protesoptog oor die regering se optrede teen die Afrikaners. Dit was die grootste demonstrasie teen die regering gedurende die oorlog. Dr. P.J.S. de Klerk van die Gereformeerde Kerk Pretoria-Oos het die verrigtinge met Skriflesing en gebed begin. Daarna is die petisie aan die regering en die skare voorgelees wat soos volg lui:
“Namens die Boeremoeders, vroue en dogters en tienduisende wat in die gees aanwesig is en ons versoekskrif steun, wens ons die Hoogedele Regering in alle beskeidenheid met die diepste erns waaroor ons beskik om eerstens, nie langer toe te laat dat met dreigemente van ontslag, verplasing of watter vorm van benadeling ook al, druk uitgeoefen word op die burgers van ons staat ten einde hulleself beskikbaar te stel vir militêre diens buite die Unie nie hetsy deur privaat werkgewers of deur die staat, en tweedens, onmiddellik ‘n eerbare en regverdige vrede met die lande met wie ons in oorlog verkeer, te sluit.”
Nadat die skare Ps 146: 8 gesing het, het die optog in stilte begin beweeg. Die manlike toeskouers het spontaan gesing: “Dat’s Heren zegen op u daal” en “Kom treën wij dan gemoedig voort” terwyl die optog voortbeweeg het.
Omdat die Engelsgesinde Stadsraad bevrees was vir die emosionele impak van die gebeure is die optog nie toegelaat om in Kerkstraat te stap nie maar moes in ‘n systraat, Vermeulenstraat, beweeg. Hulle is ook nie toegelaat om die amfiteater by die Uniegebou te gebruik nie.
Op die vroue se versoek om ‘n petisie aan genl. Smuts te oorhandig het sy sekretaris, J.D. Pohl, soos volg geantwoord:
“In opdrag van die Edelagbare, die Eerste Minister, erken ek ontvangs van u brief van 17 deser, en in antwoord daarop moet ek u meedeel dat die Generaal nie bereid is om die afvaardiging te ontvang nie, daar hul versoek in stryd is met die beleid van die Regering en die besluite van die Parlement. Die Eerste Minister het geen tyd vir partypolitieke propaganda in stryd met die aangenome landsbeleid nie.”
Mevv. Sannie Broers, Annatjie Stofberg en Nata Eloff het die petisie aan die adjunk-Eerste Minister oorhandig. Smuts het, volgens verteling, in die kop agter die Uniegebou gaan wegkruip tot die Vroue vertrek het.
Ná die oorhandiging is ‘n bidstond gehou wat deur ds. B. Swart van die Nederduits Hervormde of Gereformeerde Kerk en prof. H Wolmarans van die Nederduitsch Hervormde Kerk gelei is.