Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die kosbaarste besitting wat jy ooit sal hê is jou geloof in Christus – alleen dan sal jy waarlik gelukkig wees al besit jy niks anders nie.
1939: REDDINGSDAAD- BOND GESTIG
KULTUURDAGBOEK 8 DESEMBER
Lees volledig by Kultuurdagboek
Daar is rede om te glo dat die verarmde blanke nou nog 'n groter persentasie van die armblanke-vraagstuk beslaan as destyds: volgens die CIA-se nuutste statistiek (dis baie meer betroubare syfers as wat die ANC se sensussirkus kan oplewer) is daar tans nagenoeg twee miljoen blankes in Suid-Afrika oor, waarvan ongeveer een miljoen in sogenaamde klein nedersettings of reguit gestel, blanke plakkerskampe woon - hierdie feite sal nooit deur die swart regime bekend gemaak word nie.
Die ekonomiese terugslag wat die Afrikaner aan die begin van die vorige eeu getref het, hoofsaaklik as nadraai van die verwoestingsbeleid wat die Engelse militêre owerheid in die Tweede Vryheidsoorlog toegepas het, het teen die jare 1930 skrikwekkende gevolge getoon. Die droogte en die groot depressie van die beginjare dertig het die toestand vererger, en 'n armblanke-vraagstuk van enorme omvang het ontstaan: 300 000 Afrikaners uit 'n bietjie meer as 'n miljoen, was ekonomies verarm.
Dr JD Kestell het gepleit om 'n landwye reddingsdaad. Aanvanklik het dit op dowe ore geval maar die Simboliese Ossewatrek van 1938 het die geesdrif gewek vir 'n reddingsdaad wat ongekende afmetings sou bereik.
Teen daardie tyd het die FAK reeds deur sy Afrikaanse Nasionale Kultuurraad besluit om 'n volkskongres byeen te roep met die sentrale tema "Die Toekoms van die Afrikaner", met die klem op die Afrikaner se ekonomiese toekoms.
In 'n persverklaring oor die beoogde volkskongres wat op 24 Januarie 1939 uitgereik is, sê die sekretaris van die FAK onder meer:
"Waar 1938 bekend sal staan as die jaar van geesdriftige en saambindende volksfeeste ter huldiging van die voorgeslag, moet 1939 staan as die jaar van 'n selfreddende volksdaad wat sal getuig van die gesonde ondernemingskrag van ons volk in belang van sy ekonomiese selfstandigheid. Dit moet 'n volksdaad word wat alle vorige pogings van selfredding van ons ekonomiese knegskap, soos dit in die steeds toenemende armblankedom geopenbaar word, sal inlui."
Op die Volkskongres wat op 3, 4 en 5 Oktober 1939 in Bloemfontein deur 757 afgevaardigdes uit alle dele van die land bygewoon is, is die ekonomiese selfreddingskema van die Volkskongreskomitee geesdriftig aanvaar.
As een van die onderdele van die geheelskema, is besluit dat "een groot volksorganisasie, Christelik-nasionaal in sy grondslag," tot stand moet kom om die spaarkrag, koopkrag en die produktiewe vryetydsbesteding van die Arirkaner in eie belang te mobiliseer. Hierdie besluit was as gevolg van die regstreekse leiding tot die stigting van die Reddingsdaadbond (RDB) op 8 Desember.
Dr N Diederichs is as die eerste hoofleier van die RDB aangewys, en ds Jac Conradie as voorsitter van die Uitvoerende Raad, 'n pos wat hy dwarsdeur die bestaan van die RDB beklee het.
Die RDB se doelstellinge was soos volg bepaal in artikel 4 van sy statute:
a. Die bevordering van ekonomiese selfstandigheid.
b. Die organisering van arbeidskrag.
c. Die organisering van die volk se vryetydsbesteding.
d. Boere- en Vroue-organisasies.
e. Vakkundige, tegniese en handelsopleiding.
f. Voorligting op ekonomiese gebied.
g. Die oprigting van 'n eie spreekbuis: Inspan.
h. Kultuurwerk.
i. 'n Algemene gesondheidsraad.
j. Geldinsameling.
Die RDB het met sy landwye takke, waarvan die eerste in Februarie 1940 in Bloemfontein gestig is, die Afrikaner ekonomies-bewus gemaak en sy vooroordeel teen kapitaalbeleggings in sake-ondernemings geleidelik afgebreek.
Na 'n bestaan van vyf jaar het die RDB in 1945 byna 400 takke en 70 000 lede gehad, wat elkeen 5 sent (6d = pennies) per maand aan ledegeld betaal het: 2d vir administrasiedoeleindes, 2d as premie op 'n lewenspolis van 10 pond per lid en 2d as kommissie aan die kollektante van ledegeld.
In die woorde van dr Diederichs was die RDB die "kragtigste beweging van ons tyd" – 1945.Honderde ondernemings is regstreeks of onregstreeks deur die RDB tot stand gebring en honderde het voorligting gekry of is met hul studie gehelp.
Die vernaamste eerste uitvloeisels van die RDB was die Federale Volksbeleggings, waarin 36 050 pond in belê is. Daarby tel die Afrikaanse Handelsinstituut in 1942.
Nadat sy taak en opdrag binne die raamwerk van die Ekonomiese Volkskongres afgehandel was, het die Reddingsdaadbond op sy kongres van 28 Februarie 1957 homself eervol ontbind.