Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
GOD PRAAT DEUR SIEKTE MET JOU
LUISTER NA SY STEM!
Siekte is 'n manier waarop God met sy kinders praat, sê Job in hoofstuk 33:19: "Hy spreek die mens aan met ernstige siekte."
Dit is nie 'n teken van God se onmag as iemand nie gesond word nie, maar die middel tot God se almagswerke, sodat ons vir Hom getuies kan wees; sodat ons weer kan besef, al word ek elke dag afgetakel, daar is niks wat my van God se liefde vir my kan skei nie.
Daar op jou siekbed kyk jy met nuwe oë na jou eie lewe, veral na die dinge wat jy nog so graag wil bereik; na die mense wat jy liefhet en geen waarborg het dat hulle môre nog by jou sal wees of jy by hulle nie. Dan besef jy elke minuut wat jy nog krag en tyd oorhet, moet maksimaal benut word omdat elke oomblik genadetyd is.
Jy besef ook weer dat jou lewe hier op aarde net 'n klein deeltjie van God se plan is, dat jou eintlike lewe nog voorlê, dié lewe wat vir jou by God wag. En dan word jy dankbaar om te lewe al sien jy uit om na Hom te vertrek.
Hierdie verhoog waar jy tydens siekte verkeer is meermale die podium van waar ons geloof aan die wêreld sigbaar word. Hierdie dinge werk soos die swart fluweel-agtergrond waarteen juweliers so graag hulle goud en diamante juweliersware uitstal – ons geloof behoort só te blink teen die donker agtergrond van siekte. God praat met jou deur jou siekte – luister na sy Stem!
1858: AANNAME VAN GRONDWET, VLAG EN WAPEN VAN ZAR
KULTUURDAGBOEK 13 FEBRUARIE
Lees volledig by Kultuurdagboek
Dit was die laaste dag van die sitting van die Kommissieraad wat op 2 Februarie begin het en waar besluit is om besonderhede aangaande 'n grondwet, vlag en wapen vir die ZAR aan die Volksraad voor te lê. Die aanvaarding daarvan deur die Volksraad het op 16 Februarie geskied.
Hierdie grondwet van 1858 is voorafgegaan deur die goedkeuring, by verskeie geleenthede, van die konsepgrondwette wat, met enkele uitsonderinge, dieselfde bepalings gehad het, en dit vertoon groot ooreenkoms met die Bataafse grondwet van 1798. Die laaste goedgekeurde grondwet, op 16 Desember 1856, is egter nie deur al die inwoners van die ZAR aanvaar nie, o.m. Stefanus Schoeman en sy Soutpansbergse volgelinge.
Meer as 'n jaar het verloop voordat pres. M. W. Pretorius en Stefanus Schoeman mekaar gevind het en daar op 1 Februarie 1858 deur 'n krygsraadsvergadering besluit is dat Pretorius en Schoeman, elkeen met ses ondersteuners, 'n kommissieraad sou vorm om uit al die bestaande wette 'n grondwet vir die Republiek op te stel. Hierdie grondwet het in hoofsaak die grondwet van die ZAR tot in 1902 gebly. Die Volksraad het gelyktydig met die aanvaarding van die grondwet ook die aanbevelings van die Kommissieraad met betrekking tot 'n vlag en wapen vir die Republiek aanvaar. Die posisie met die vlag was min of meer dieselfde as dié met die grondwet.
Reeds op 6 Januarie 1857 is die sogenaamde Vierkleur as landsvlag plegtig op Potchefstroom gehys, gevolg deur 'n ewe plegtige hysing in Pretoria op 23 Februarie 1857, maar ook hierdie vlag is deur Stefanus Schoeman en sy ondersteuners verwerp. Ook hierdie vete is uit die weg geruim deur die besluit van die Kommissieraad, goedgekeur deur die Volksraad, dat die vlag van die Republiek bestaan uit die volgende bane: “Rood, Wit en Blaauw, evenbreed boven elkander horizontaal gesteld, en groen perpendiculair langs den stok," met die woorde “Eendragt maak magt" daarop geskryf. So is die Vierkleur weer eens as nasionale vlag amptelik in gebruik geneem toe dit op 3 Maart 1858 op Potchefstroom gehys is.
Die wapen vir die Republiek wat deur die Kommissieraad aanbeveel en deur die Volksraad saam met die grondwet en vlag aanvaar is, is soos volg beskryf: Op 'n silwer-agtergrond staan 'n wa en 'n goue anker en op die wapen is 'n arend. Aan die regterkant van die wapen staan 'n man in die land se kleredrag, gewapen met 'n geweer en toebehore. Aan die linkerkant van die wapen is 'n leeu.
Hierdie besluit van 1858 is, soos ook in die geval van die vlag, die enigste wetsbepaling en beskrywing van die landswapen wat, met 'n kort onderbreking tot aan die einde van die Republiek bestaan het.