Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Bid saam in die gesin en lees saam uit die Bybel want niks maak 'n huwelik en 'n gesin sterker nie. Niks is 'n beter verdedigingsmeganisme teen die duiwel nie.
IVAN LOMBARD
KULTUURDAGBOEK 2 AUGUSTUS
Lees volledig by Kultuurdagboek
Ivanhoe Makepeace Lombard is op hierdie dag in die Kimberley-distrik gebore. As kind het hy die smaad en ellende van 'n Britse Konsentrasiekamp deurleef. As jong man en jong onderwyser (wat hom in Heidelberg as onderwyser bekwaam het) het hy die vernedering van Afrikaner-wees – in daardie jare aan die Rand – deurworstel toe hy die werkerstryd van 1913 en 1922 beleef het, die Afrikaner-armblankedom van die dertigerjare meegemaak het, die minagting van sy taal en kultuur ondervind het, die politieke verdeeldheid en onmag gesien het.
Alles saam het daartoe bygedra dat hy en ander Afrikaners die voortou geneem het om saam te bind wat uit eie oortuiging bymekaar hoort, om daardeur die knegskap van die Afrikaner te oorwin.
Hieruit het voortgespruit die stigting van die FAK en vele ander noodsaaklike organisasies.
Met die stigting van die FAK het hy die eerste hoofsekretaris geword, ondanks die feit dat hy toe reeds dieselfde amp by die Afrikaner-Broederbond beklee het – 'n tyd toe die AB nog 'n suiwer Afrikanerorganisasie met edele ideale was. Toe die verpligtinge wat hiermee dubbele hoedanigheid meegebring het, vir oom Ivan soos hy algemeen bekend was, te veel geword het en daar 'n assistent aangestel moes word, het hy uit eie wil aangebied om die helfte van sy salaris van 20 pond af te staan om die salaris van 'n assistent-sekretaris te bekostig. Dit is die stille getuienis van die onbaatsugte volksdiens wat hy dwarsdeur sy lewe gelewer het, waarvoor die FAK aan hom erkenning verleen het met die toekenning van sy eksklusiewe Erepenning vir Volksdiens in 1966.
Ander eretoekenings wat hierdie toegewyde kultuurleier te beurt geval het, was onder meer die eerste eredotoraat van die Randse Afrikaanse Universiteit in 1969 en erelidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Hy het ook 'n sleutelrol in baie volksake gespeel. Hy was stigterslid van die Sentrale Volksmonumentekomitee, wat die Voortrekkermonument opgerig het; hy het 'n groot aandeel gehad in die restourasie van Paul Kruger se sterfhuis in Clarens en die herstel van Boeregrafte en van talle ander ondernemings.
Ook in die sakewêreld was hy aktief as direkteur van Voortrekkerpers, Uniewinkels en Voorbrand-Tabbakkorporasie (Rembrandt).
Op politieke gebied het hy en dr Piet Meyer hulle met daadkrag beywer om dr DF Malan en genl JBM Hertzog in 1939 versoen te kry en was hy een van die leiers van die Eenheidskomitee.
Nadat hy in 1937 as hoofsekretaris van die FAK uitgetree het, is hy in dieselfde jaar tot die Hoofbestuur (destyds die Uitvoerende Komitee genoem) verkies.
Hy was jare lank ondervoorsitter van die FAK en het by twee geleenthede as voorsitter waargeneem van 1940 tot 1941, nadat dr NJ van der Merwe oorlede is, en weer van 1951 tot 1952 toe prof JC van Rooy as gevolg van ander verpligtinge as voorsitter uitgetree het.
Kort voor sy dood op 20 Februarie 1971 het dr PJ Meyer aan hom gesê: "Solank u in ons midde is, herinner u lewe ons aan die eise wat Afrikanerskap aan ons stel."
Na oom Ivan se dood het dr Meyer in 'n huldeblyk bygevoeg: "Ook in die dood stel die lewe van Ivan Lombard – 'n lewe gewy aan diens vir sy volk – aan elkeen van ons se Afrikanerskap eise wat ons nie ligtelik sal en mag vergeet nie. Die taak om ons volk te dien sonder om ooit eer of vergoeding te soek, het hy in en deur sy lewe uitgevoer."