Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Waarom leer ons so baie uit ons ellendes en so min uit ons vreugdes? Is dit omdat vreugde iets buitemensliks is, dat ons nie toegerus is daarvoor nie? In die Here is ons egter volkome toegerus om die vreugde wat Hy alleen ons kan gee te ervaar.
KIES JY BEGINSELS OF SENTIMENTE?
Ds AE vd Berg
Die verraad wat teen die Boerevolk gepleeg word, mag nie verder geduld word nie. Dit moet onverwyld aan die kaak gestel word. Ons moet soos visgrate in die keel van die verraaiers vassteek. Sodoende sal die lug aan die suidpunt van Afrika so skoon word dat verraaiers nie langer daarin sal kan asem haal nie. Volksgenote moet baie ernstig besin en besluit wat die swaarste in hul lewe weeg - beginsels of sentimente. As dit beginsels is, moet hulle alle volksvyandige instansies verlaat, veral ontspoorde kerke. Daar kan nie langer saam met die haas hardloop en saam met die jagters gejag word nie!
Verraad is die grootste misdaad teen ʼn volk denkbaar.
Dis selfs erger as moord omdat moordenaars nie noodwendig ʼn volk teiken nie. Verraaiers wel. Daarom is verraaiers dikwels in die verlede deur krygshowe tereg gestel. Die probleem met verraaiers is dat hulle nie altyd geëien kan word nie. Tydens die bosoorlog teen SWAPO was die eiening van terroriste juis een van die verdedigingsmagte se grootste probleme. Die terroriste het net soos die plaaslike bevolking gelyk.
Met verraad is dit eenders. ʼn Vyand wat openlik tot die stryd oorgaan, word makliker beveg as die een wat net soos jy lyk, jou taal praat en jou lewensruimte deel, maar in die geheim uit dieselfde bak as die volksvyand eet.
Verraaiers is slegs wat hul bloedlyn betref deel van ʼn volk en niks meer nie. Hulle verteenwoordig in werklikheid ʼn bose meningsklimaat wat die naam en eer van hul voorsate besmet en waarmee hulle hulself buite die dampkring van hul eie volk plaas. Sommige van hierdie rare politieke voëls kom selfs uit behoudende huise waarna hulle hul dapper vlerkslag by die volksvyand gaan leer het. Swart kuikens wat uit wit eiers broei laat nooit ʼn merk in die volkslewe nie maar eerder ʼn vlek!
Die ergste verraad is egter kerkverraad omdat die verstand van die kerklike publiek baie maklik getiranniseer word. Dit pas verraaiers dat massas nie nugter dink nie maar eerder onnadenkend volg. Die bedenklike optrede van die Roomse Kerk tydens die Middeleeue is ʼn sprekende voorbeeld hiervan.
Geen boosheid word so gelate verrig as dit wat uit godsdienstige oortuigings verrig word nie. Die skepping van die reënboognasie en die vreesaanjaende eer wat die Boerevolk daarna te beurt geval het, was juis die gevolg van verraad wat met behulp van verraderlike kerklui by volksgenote ʼn landingsplek gevind het. Was dit nie vir die kerklui nie, sou hierdie lugspieëling in die woestyn van politieke onkunde nooit aan die suidpunt van Afrika te lande gekom het nie.
Ontspoorde kerke het die verraaiers se drang om ons volkswaardes af te takel, aangevuur en toegelaat dat hulle hul kankerselle deur gesonde liggame versprei. Leraars wat met selfopgelegde skuld besmet was, het hul kansels misbruik om lidmate met ʼn valse skuldgevoel te belas. Hulle was soos heuningbye met heuning in die bek, maar ʼn angel aan die stert!
Die volksvyand wat daarop uit was om die Boerevolk te vernietig, het gerieflik agter die skild wat hierdie kerklui se misplaaste skuldgevoelens hulle gebied het, geskuil. Die kerklui het hul verraad as nuwe insigte in die Woord van God aan onkundiges voorhou wat dit vir soet koek opgeëet het. Dit maak van kerklike verraad die kernhoofstuk in die tragiese verhaal van ʼn volk wat vrywillig ten gronde gegaan het!
Toe kerklui saam met die volksvyand begin plunder het, was die dood vir die Boerevolk in die pot. Kerke se jammerlike gebrek aan profetiese visie het daartoe gelei dat hulle met volksvreemde instansies begin onderhandel het; mense wie se bose doelstellings ’n ope boek was. En daarvoor het hierdie kerklui internasionale applous ontvang en selfs met mekaar in die afwaartse spiraal begin wedywer.
Die volksvyandige media het meesterlik daarin geslaag om die ego van die verraaiers te streel totdat hulle soos bedorwe katte op die skoot van die volksvyand gespin het. Die internasionale kalklig wat hulle ontvang het, het egter nie lank geduur nie. Daarna het hulle in die dryfsand van hul eie onverskilligheid weggesink en van die toneel verdwyn.
As daar eers met vyande onderhandel word, bly ʼn burg soos ʼn maagd nie vir lank ongeskonde nie. Ook nie ʼn volk nie. Die kraak wat hierdie volksvreemde vennootskappe in volksgeledere laat ontstaan het, het ʼn breuk in die Boerevolk se lewe veroorsaak en verraad aansteeklik gemaak.
Omdat die verraaiers meer op eiebelang as op volksbelang ingestel was, het die stormwind wat hulle in die volkslewe veroorsaak het Suid-Afrika op die rand van ʼn skrikbewind laat beland. Dit het spore van verbittering in die volksiel gelaat en goeie rasseverhoudings vernietig. Die reënboognasie het nie die verlangde lig vir Afrika gebring soos voorsien is nie. Dit het eerder ʼn verstikkende duisternis op ontgogelde mense laat toesak.
Toe die poppe begin dans, het sommige van die verraaiers hakskene gewys en uit vrees vir hul eie handewerk iewers in die buiteland gaan skuil. Ander het hulself weer met versigtige voetwerk van die oorblyfsels van ʼn Christelike beskawing aan die suidpunt van Afrika probeer verskoon en uit die oog verdwyn. Die meeste het egter die prooi van hul eie onverskilligheid geword.
Die Boerevolk se geskiedenis is met verraad deurspek. Ook die meer onlangse geskiedenis. Die Boerevolk is nie deur ʼn vyandige buitelandse mag verslaan nie, maar eerder deur die enorme masjien van volksverraad verpletter. En die hartseerste feit van alles is dat kerke dit van brandstof voorsien het!
Die reënboognasie is die tragiese grafskrif van ʼn eens trotse volk wat gewillig ten gronde gegaan het. Laat dit ʼn waarskuwing wees aan volke wat nie betyds met hul verraaiers afreken en moeg word om vir eerbare dinge te stry!
Waar laat dit die Boerevolk? Wat moet of kan ons doen? Ons is soos ’n vis tussen twee katte wat van twee kante af bedreig word. Aan die een kant is daar die plaaslike swart volke met hul nimmereindigende internasionale steun. Aan die ander kant is daar die verloopte volksgenote wat in die linie van die volksvyand tuis is. Van eersgenoemdes kan ons uiteraard niks positief verwag nie. Al wat gered kan word, is laasgenoemdes.
Die Boerevolk het ʼn nood aan nuwe helde; manne en vroue wat Jesus Christus as hul Verlosser ken en vir hul vryheid sal stry. Die geskiedenis getuig van mense wat weens hul geloof en volksliefde uitsonderlike instrumente in God se hand was. Daar is niks met die Boerevolk verkeerd wat nie met dit wat reg is herstel kan word nie!
Siener van Rensburg het gesien dat daar ʼn tyd aanbreek dat verraad soos ʼn stofwolk gaan oprys waarna volksverraaiers verantwoording sal moet doen. Die geskiedenis oordeel self sy verraaiers waarna hulle slegs herinneringe in ou geskiedenisboeke sal wees wat niemand sal wil lees nie. Dié tyd kom nader...