Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Almal wonder een of ander tyd wat beteken die begrip liefde tussen mense werklik. 1 Kor 13 vertel dit vir ons en in alledaagse idioom beteken dit: toe ek waardeloos gevoel het, het jy tyd gehad om na my te luister; toe ek nie kon bid nie, het jy saam met my gebid; toe ek bang was, was jy teer met my; toe ek suksesvol was, het jy jou verheug in my prestasies; omdat jy jou eie beperkinge kon aanvaar, het ek geleer om myne te aanvaar; toe ek 'n klankbord nodig gehad het, was jy objektief; toe ek fouteer het, het jy gewag en gehoop ek kom tot myself; toe ek jou seergemaak het, het jy my vergewe; toe ek eensaam was, het jou geloof my ondersteun.
Slotsom: Vanweë jou teenwoordigheid in my lewe, het ek gegroei in my liefde vir Christus: hierin is jou liefde onsterflik.
NASIONALISME - WAT BEHELS DIT?
Almal praat van Nasionalisme, party daarvoor, meeste daarteen ... Maar wat beteken die woord nou eintlik? Mnr. Marthinus Erasmus van die Afrikaner Nasionalistiese Beweging (ANB) wys ons op die doel, die krag van die woord 'Nasionalisme'.
Miskien staan die begrip NASIONALIS vir baie vandag nog in noue verband met die Nasionale Party van die jare voor 1994. Die "nasionaliste", so het ons hulle genoem, het bestaan uit die misleiers en die misleides wat ons land en ons volk uitverkoop het aan goddelose gewetenlose geweldenaars, wat sedert hulle aan bewind gekom het, afgebreek en geplunder het en hulself op ongekende wyses verryk het.
Aan die destydse "nasionaliste" , wat op onnoembare slinkse wyses al van vóór die moord op Dr. Verwoerd af te werk gegaan het, het ons die tragiese haglike toestand, waarin ons vaderland vandag verkeer, te danke. Dit was die verloopte voorloper "nasionaliste" van die Nasionale Party (1966-1994), wat doelbewus ons land op 'n gewisse afgrond afgestuur het, terwyl hulle vir hulself in die buiteland 'n weelderige lewe voorsien het.
Die geskiedenis sal hierdie volksverraaier-"nasionaliste", soos die verraaiers in die Tweede Vryheidsoorlog wat hulself openlik of heimlik aan die kant van die vyand gaan skaar het, uitwys as die skandvlekke van ons volk. Hierdie "nasionaliste" bemerk ons vandag steeds in diegene wat ter wille van tydelike en kortstondige wins, geneë is om bakhand, minderwaardig en bedelagtig saam op die "Nuwe Suid-Afrika"-wa te ry. Met hierdie "nasionaliste" wil ons niks te doen hê nie!
Maar, wat beteken dit om 'n ware Nasionalis te wees? Die Woordeboek (HAT) gee die kragtige definisie: Nasionalisme beteken: Sterk, vurige Vaderlandsliefde.
'n Ware Nasionalis, en daarom ook 'n ware Boere-Afrikaner-Nasionalis, is iemand wat hom/haarself nie maar beskou as blote individu wat leef ter wille van eie behoud en voortbestaan nie, maar, saam met sy huisgesin en familie, deel is van die Volk waarin hy/sy gebore is, in die Vaderland wat die Almagtige God (Hand.17:26) in sy soewereine liefdesguns en vrye welbehae aan hul toegeken het, en ook die Moedertaal koester en praat soos aan moedersknie aan hom/haar oorgedra. Vaderland en moedertaal is die allerskoonste gawes uit die hand van die Allerhoogste!
'n Afrikaner-nasionalis is iemand wat nie homself voorop stel nie, maar altyd die belange van sy volk, vaderland, moedertaal, wordingsgeskiedenis en geloofserfenis. Vir ons as Afrikanervolk is laasgenoemde, naamlik ons Geloofserfenis, ons mees kosbare Kultuurskat. Die rede: daarsonder het ons, nie in die oë van die wêreld nie, maar voor die Almagtige God van hemel en aarde, voor Wie ons gelowige voorgeslagte meer as eenmaal heilige Geloftes afgele het, geen bestaansdoel of bestaansreg nie.
'n Afrikaner-nasionalis is iemand wat bereid is, om uit dankbaarheid vir die genadige verlossing deur ons Heiland en Saligmaker, onse Here Jesus Christus, en uit liefde vir al die kosbare kultuurgoedere wat Hy oor ons beskik en aan ons toevertrou het, sy/haar lewe volledig op te offer.
Hoeveel van ons mense se ganse lewensgang weerspieël vandag hierdie edele en Godsvererende Volksidentiteit, soos dit, deur die genade, eie aan ons volk was, en weer moet word?