Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
HERE, dankie vir 'n gesonde sin vir humor, vir die bevryding van 'n skaterlag en die veerstelsel van blymoedigheid. Dankie dat U die mens gemaak het om te kán lag en dat daardie innerlike vrolikheid 'n lig is in donker tye.
GELD, MAG EN SEKS…
…ONS VOLK SE DRIE-ENIGE AFGOD?
Timothy Keller se publikasie 'Counterfeit Gods: The Empty Promises of Money, Sex and Power, and the Only Hope that Matters' ontbloot die dwaling waar mense die goeie dinge in die lewe neem en dit die heel belangrikste dinge in hulle lewens maak.
Die meeste van ons is op hierdie dwaalpad; en die uiteinde daarvan is presies dít wat ons as volk in 1994 gekry het – die straf op ons afgodediens. En ons kan maar voortgaan om die Swartes en die Kommuniste te skel – die meeste daarvan verdien hulle – maar dit gaan geen snars verander aan ons situasie voordat ons die werklike oorsake van ons knegskap erken, en dit met oortuiging beveg nie.
Waarom sukkel die Afrikanervolk so om na die kern van die waarheid in die Woord van God terug te keer? Natuurlik is herkenning en erkenning van die dwaalpaaie waarop ons stap nooit maklik nie, nog minder die terugkeer na gehoorsaamheid, veral wanneer Satan die waarheid oor ons afgode so versluier dat ons dink ons doen die regte ding; daar is mos niks mee verkeerd nie want ons moet geld hê om van te leef, en ons moet mag uitoefen oor baie dinge in ons lewe, en 'n seksuele verhouding met my huweliksmaat is dan 'n wonderlike geskenk van God self – hoe kan hierdie dinge afgode word?
Dr Alwyn Swanepoel skryf in 'n artikel dat afgode eintlik baie ligsensitief is omdat hulle so graag in die donker kamers van ons harte floreer – daardie kamers wat ons nie volkome aan God oorgee nie. En hierdie afgode is baie skelm, want hulle lyk baie goed en reg en gaan staan nie in die plek van God nie, maar naas God. Dis dan wanneer ons nie besef dat dit reeds 'n afgod vir ons geword het nie – ons dien mos nog ons God, sy plekkie is mos gereserveer. Maar dis die ruimte reg langs Hom wat die probleem geword het. 'n Goeie voorbeeld is die Christelike geloof wat sedert 1994 onder hierdie Godlose regime in ons staatskole gelyk gestel is aan alle ander gelowe, asof ons Drie-enige God durf vergelyk word met al die ander afgode wat deur ander volke aanbid word! En dan praat ons liewer nie in hierdie artikel oor wat sport, wat dan so gesonde tydverdryf is… aan ons volk gedoen het nie!
Daar is ‘n baie lang lys van dinge wat afgode word sonder dat ons dit besef. Vir elkeen van ons is dit moontlik dat dinge soos my kinders, my werk, my huwelik, my voorkoms, my talente, my afkoms, ja sommer enige wonderlike gawe van God, afgode in my lewe kan word. Maar heel voor in hierdie ry as volksafgode is geld, mag en seks. Ons hoor gereeld dat mense sê ons volk moet verootmoedig maar verootmoediging sonder ontbloting en afstanddoen van hierdie afgode is nutteloos.
Die outyd se heidene is ‘n goeie voorbeeld van hoe hulle feitlik enigiets as 'n afgod voorgestel het byvoorbeeld hulle seksgode, geldgode, nasiegode, ensomeer en elkeen 'n naam gegee het. Enigiets kan 'n god wees wat heers en as 'n godheid dien in die hart van 'n persoon of in die lewe van 'n volk. Neem die voorbeeld van fisiese skoonheid wanneer hierdie aantreklikheid vergoddelik word, met ander woorde, wanneer jy dit die allerbelangrikste ding in jou lewe maak. Dan het ons hier nog 'n Afrodite, die skoonheidsgodin, en nie slegs 'n geskenk waaroor ons God dankbaar moet wees en Hom daarmee dien nie. Dit het selfs 'n hele kultuur geword om voortdurend angstig oor voorkoms te wees, en daaraan buitengewoon baie tyd en geld bestee. Mense is selfs so gek om 'n ander se karakter op grond van voorkoms te evalueer. Klink dit bekend in ons samelewing?
Soos elke ras, klas, kultuur en geslag sy eie stel afgode het wat hom verslaaf, het ons volk sý stel afgode wat hom in hierdie moeras gedompel het. Daar is geen manier waarop ons die slawe van 'n Swart kommunistiese regime sou word as ons nie ons afgode aan God gelyk gestel het nie. En hierdie verslawing beteken nie dat ons letterlik voor hierdie afgode gekniel het nie. Juis as Christen-gelowiges het ons nie hierdie afgode bo God gaan stel en Hom verwerp nie, maar ons het toegelaat dat dit reg langs God gaan staan. In dié proses het ons God nie meer bo alles geag nie al dink ons dat ons Hom nog sy regmatige plek in ons lewe gee. Hy is 'n regverdige God, maar ook 'n jaloerse God, soos die Woord dit stel, en Hy eis ons onverdeelde trou en eerbied. Boweal wil Hy hê dat alles, maar alles wat ons doen, tot eer van sy Naam sal strek.
Dr Keller stel sy eie situasie as voorbeeld van hoe maklik die "regte dinge in die lewe" vir mens 'n afgod kan word: hy beweer dat die persoon wat hy die liefste in die hele wêreld het, sy vrou Cathy is. In hulle lewe, sê hy, weet hulle dat een van die grootste versoekings tot afgodery, hul liefde vir mekaar is. Hy sê:
"Ek moet myself voortdurend daaraan herinner om Jesus meer lief te hê as my vrou. Die enigste manier waarop dit gaan gebeur is as ek die Here verheerlik en aanbid en die envangelie bepeins sodat, so lief as wat ek vir my vrou is, die Here Jesus my eerste liefde bly. Nie dat ek my vrou minder wil liefhê nie maar ek wil Hom meer liefhê. Ons weet daar gaan 'n dag kom wat een van ons twee na die ander een in sy kis gaan kyk. As dit jou verlosser en doel van jou lewe is wat in daardie kis lê, hoe gaan dit jou help as jou hart gebreek is? Daar is net een Verlosser wat jou altyd sal help as jou hart gebreek is: Jesus Christus."
Die rede waarom ons so onwetend geestelik lam en verslaaf raak is oor ons kompromieë met die stryd teen afgode in hulle kamoefleerdrag maak want dit lyk darem tog nie só verkeerd nie? Maar ons mag nie! Ons moet vir onsself duidelike skeidslyne trek. Soos daar met geen volksvyand ooreenkomste gesluit mag word nie om te verhoed dat ons deur hulle oorheers word, mag dit nie met betrekking tot hierdie dinge in ons lewe gedoen word nie. As ons dit toelaat word ons aan ons geestelike rolstoele gekluister en sal die volk ook geen weerstand kan bied teen die gewelddadige, kommunistiese verknegters wat oor ons heers nie.
Is ons gewillig dat God hierdie ligsensitiewe afgode in ons lewens ontbloot? As ons weer vry van slawebande oor ons wil wees, ook dié van die onderdrukkers van ons volk, dan moet ons weet waar om te begin.
Bevryding begin by die punt waar ons van afgodskettings bewus raak, en sal besef dat ons self nie die vermoë het om vry te kom nie, met ander woorde: bevryding begin dáár waar ek erken dat ek nie self los kan kom van hierdie gebondenheid nie. En daar waar my krag en eie pogings eindig, daar begin God te werk.
Die vloei van die geskiedenis deur alle tye heen, ook óns volk s'n, is gewortel in die fontein van menslike gedagtes. 'n Mens se gedrag word grootliks bepaal deur wat hy dink. Daarom leer die Woord ons in Spreuke 4:23 om ons hart, meer as alles wat ons het, te bewaar want die oorspronge van die lewe kom daarvandaan.
Die evangelie leer ons ook dat ons keuses het: òf ons laat ander sterwe wat ons afgode bedreig; òf ons kan sterf aan onsself en ons gewaande afgode waar ons tevore vreugde gesoek het. Met laasgenoemde kan ons waarlik lewendig en sterk word tot eer van sy heilige Naam. In Ps 16 en Lukas 9 vertel die Here hoe ons Hom as die Lewe kan vind. As ons dit doen, sál Hy ons land genees en ons volk herstel, soos Hy in sy Woord beloof.
Wanneer die aanslag van satan telkens weer op jou gerig word en jy in swakheid wil swig in afgodediens, onthou dan slegs dit: Nie een van jou afgode kan jou van jou sonde bevry en in jou plek sterf nie, maar Jesus Christus het dit vir jou gedoen sodat jy vry kan wees van alles wat jou op aarde bind.
Dan kan ons met ons oë omhoog ook sê soos in die gediggie van Pannevis:
In werklikheid...
Al die nasies het één God:
Hy regel ieder volk syn lot;
Hy het vir ieder volk syn taal,
Syn land, syn reg, syn tyd bepaal.
Wie dit verag, sal syn straf dra:
O God, beskerm Suid-Afrika!