Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Kry jou kop reg as jou liggaam uitmekaar wil val. Al is ons aan uiterlike aftakeling onderworpe, kan ons innerlik sterk bly. Jy kan nie die veroudering van jou liggaam keer nie, slegs die veroudering van jou gees.
ADV. JURGENS PRINSLOO EN DR. JANN SCHLEBUSCH...
...MOET VRAE BEANTWOORD
In Deel 7 van die artikelreeks Regse Verraad wat op Gelofteland en daarna op die ANB-webblad verskyn het is onder andere ook die naam genoem van dr. Jann Schlebusch van Bloemfontein, ‘n bekende in kultuur- en godsdienskringe.
Daaroor het mnr. Boeta Erasmus, lid van die ANB-dagbestuur, met dr. Schlebusch in privaat gesprek getree. In die loop van die wisseling van argumente is die verraderlike rol van die topleiding van die Konserwatiewe Party (KP) onder die loep geneem.
Hierteen het dr. Schlebusch sterk geprotesteer, waarna hy besluit het om sy siening van die saak in ‘n plasing op sy Facebook-blad te publiseer.
Daar was ‘n oorweldigende reaksie op sy plasing, met heelwat deelnemers wat dr. Schlebusch laat bontstaan het met die statering van feite rondom die verhouding tussen die KP en HNP voor en na 1994, asook die rol wat die topleiding van die KP en die Volksfront (AFV) gespeel het in die 1994-verraad.
Die leier van die Afrikaner Selbeskikkingsparty, adv. Jurg Prinsloo, het later ter ondersteuning van dr. Schlebusch tot die gesprek toegetree. Maar soos dr. Schlebusch kon ook hy nie hond haaraf maak teen die oorweldigende feitestellings wat deur veral mnr. Boeta Erasmus gelewer is nie.
Mnr. Erasmus het pertinente vrae gestel waarop geen antwoorde verskaf is nie, veral na aanleiding van bedenklike stellings wat deur adv. Prinsloo gemaak is. Hy is by herhaling deur mnr. Erasmus gepols om bewyse daarvoor te lewer, maar steeds swyg hy soos die graf daaroor.
Deur mnr. Erasmus is ‘n kliniese ontleding gelewer van die ontvouing van die verraad van 1994, soos in detail uiteengesit in ‘n studiestuk wat in Desember verlede jaar deur die ANB op hul webwerf gepubliseer is (https://www.anbsa.co.za/die-waarheid-van-ons-geskiedenis/). Die vernietiging van die Afrikanervolk se politieke mag kon alleen bewerkstellig word deur die geheime medewerking van leiers van die KP en AFV wat hulle lede en ons volk op die mees skandelike wyse verraai het. Indringende vrae is deur mnr. Erasmus gestel. Sy aantygings oor die verraderlike rol van hierdie leiers is met deeglike bewysvoering, aan die hand van dokumentêre bewysstukke, gestaaf.
Die stilswye en klaarblyklike onvermoë van diegene wat hierdie verraad aanvanklik heftig ontken het, spreek boekdele.
Adv. Jurg Prinsloo! Ons wag nog stééds vir u terugvoering oor waarom die KP met die oog op die Florida-tussenverkiesing (Augustus ’92) nié ‘n kandidaat teen die NP gestel het nie? Of anders gestel: Waarom het die KP die konstitusionele stryd om die De Klerk-regering se magsoordrag aan 'n kommunistiese Swart-meerderheidsregering ná Maart '92, meer as twee jaar vóór die oorgawe-verkiesing, stopgesit?
Ons wag nog vir u nadere beskrywing van "verskeie optogte met baniere waarin 'n blanke verkiesing geëis is" en die "gesamentlike saamtrek" van leiers met toesprake waarin na u "herinnering" ook 'n verkiesing "geëis" sou wees, ná die Maart ’92 referendum...
- Waarom het die KP-topleiding die KP-kongresbesluit van September '93 nl dat “dringend ‘n Blanke Algemene Verkiesing geëis móét word” verontagsaam?
- Waarom het die KP as amptelike opposisie in die Parlement die ongrondwetlike afskaffing van parlementêre tussenverkiesings deur die De Klerk-regering reeds in September ’92 klakkeloos aanvaar?
- Waarom is die aandrang (van slegs die HNP) op die afdwing van Blanke verkiesings op beide die stigtingsvergaderings van die AVF (20 April en 7 Mei 1993) deur alle “regse” leiers wat op dié vergaderings teenwoordig was in die wind geslaan?
- Wat het genl. Tienie Groenewald bedoel met dié bedenklike stelling, volgens Sunday Times 2 Mei 1993, dat die vergadering van 20 April in die TLU-gebou “the culmination of months of lobying behind the scenes” was?
- Waarom mag op die AVF-Bosberaad van Augustus ’92 selfs “die moontlikheid van Blanke verkiesings nie eens genoem” word nie?
- Wáár het die KP druk op die regering uitgeoefen om 'n Blanke verkiesing te eis op die mees kritieke tydstip toe almal besef het waarop sake afstuur? Onthou dat De Klerk nog in die Maart’92 Referendum “eie skole” en “eie woonbuurtes” gewaarborg het!
Daar is ook talle vrae oor wat in die binnekring van die BKA gebeur het... veral rondom die
Bophuthatswana-operasie van 11 Maart 1994. Daar is talle vrae wat deur dr. Schlebusch, wat volgens eie getuienis in die BKA-leiding betrokke was, geantwoord moet word, maar waarop geen antwoorde gegee word nie.
Indien die aanbieding van die feitlike gebeure soos beskryf in die ANB-studie van Desember 2024 nie betwis of weerlê word nie, moet aanvaar word dat dit die waarheid is en dat die Afrikanervolk op laakbare en bedrogvolle wyse uit die politieke seggenskap oor sy Vaderland deur mis"leiers" uit eie geledere gekul is.
Dit maak van die huidige ANC-regime 'n "politieke bestel" wat slegs deur 'n agteraf verraderlike gekonkel tot stand kon kom en nie wettig is nie.
En nou beoog húlle om op "gewettigde" wyse ons grond te vat en deur BELA ons kinders van ons te vervreem.
WANNEER gaan die Afrikanervolk die WAARHEID in die oë kyk, hierdie bestel verwerp, asook die “leiers” wat ons hierin gelei het en ons steeds hierin wil hou. Die énigste doel agter sogenaamde “Afrikanerverteenwoordiging” in die huidige politieke bestel is om daaraan ligitimiteit te gee.
WANNEER gaan ons volk weer (buite die huidige politieke bestel) EENDRAGTIG NEE sê en terugveg soos ons gelowige voorgeslagte in ons volksverlede so dikwels moes doen?
Laat ons eendragtig VERENIG buite hierdie verraderlike bestel. Die Afrikanervolk het nóóit sy toestemming verleen dat sy regmatige eiendom, die Republiek van Suid-Afrika, van hom vervreem word nie.
Ons oë is nie op Trump nie... maar op die HERE alléén!