Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die graf is 'n deurgang; dit gaan toe op die skemer en maak oop op die dagbreek. Jy gaan nie na die donkerte toe nie want God is lig. Jy sal nie alleen wees nie want God is by jou. Dit is nie 'n onbekende land nie want Jesus is daar.
SO WORD VERBRUIKERS NOU VERNEUK
Verbruikers betaal meer vir minder
Anita Morkel
Bepaalde handelsname se sneespapierverpakkingshet gekrimp van 200 snesies na 160 of 180 en die prys is presies dieselfde as voorheen. In sommige gevalle kos dit selfs meer as vroeër en dit is veral dan wat ‘n verbruiker snuf in die neus kry. Wel, dit is wanneer verbruikersweerstand teen die bepaalde produk begin opbou.
Sogenaamde grysprodukte wat deur kettingwinkels onder hul eie handelsnaam verkoop word se sneesdoekies het minder snesies in, maar die prys het gestyg.
Sneespapier - soos die meeste Suid-Afrikaanse produkte - se pryse het die afgelope jare (en veral sedert verlede jaar) met rande gestyg. ‘n Kartonhouer met 200 snesies het sowat R9,99 gekos en kan nou tot soveel as R19,99 vir 180 snesies kos, afhangende van watter handelsnaam aangekoop word.
‘n Bekende verbruikersjoernalis, Wendy Knowler, noem dit die “sneaky shrinking pack”-verskynsel. In haar berigte sê sy: “Pleks dat die prys van die produk styg, verbloem die vervaardiger die feit dat dit duurder is deur dit in ‘n effens kleiner verpakking te sit.
“Natuurlik vind die afskaling baie subtiel plaas sodat verbruikers dit nie eens sal agterkom nie.
“Ek sal net glo vervaardigers hoop nie heimlik verbruikers kom dit nie agter nie as daar duidelik op hul produkte se etikette staan: “Nou in ‘n kleiner verpakking.”
‘n Bekende handelsnaam rooibostee verskyn skielik in ‘n nuwe verpakking en daar is minder teesakkies daarin. ‘n Bepaalde vervaardiger se sjampoebottel is nie meer 200ml nie, maar 180ml. Die kleiner hoeveelheid kos presies dieselfde as voorheen. Maar min mense kom agter dat die prys eintlik met 10% gestyg het, want die verpakking van die nuwe produk teen ‘n verminderde gewig lyk presies soos altyd.
Wendy Knowler sê dat die nuwe kleiner produk wel meld “NUUT”, en direk daaronder staan geskryf 180ml, maar volgens haar is dit nie ‘n volle onthulling soos in die geval van: “NUUT – 20ml kleiner verpakking” nie.
Dit stel egter diegene wat skerp genoeg is om twee en twee bymekaar te sit op hulle hoede.
Toiletpapier is nog ‘n produk waarmee vervaardigers stilletjies toor om minder te bied vir meer geld. Sogenaamde dubbellaag toiletpapier is blykbaar nie werklik ‘n gegewe nie. Sommige ketingwinkels se eie handelsname neem onbedagte verbruikers op sleeptou met goedkoper pryse, maar die dikte is nie ‘noodwendig’ dubbellaag nie.
Knowler doen al jare navorsing oor die “sneaky shrinking pack” verskynsel en skryf dat die regulasies is gewysig wat vervaardigers wetlik verplig het dat ‘n enkellaag 500 velletjies en dubbellaag 350 velletjies moet hê. Vervaardigers kan nou baie minder velletjies op ‘n rol sit. Hulle het glo ‘n keuse – enkellaag kan óf 500 óf net 300 velletjies hê, en dubbellaag met 250 óf slegs 200 velletjies vervaardig word.
Wel, wie let nou op na die hoeveelheid velletjies op elke rol toiletpapier? Dit sal egter in die vervolg ‘n goeie idee wees om daarna op te let en die pryse te vergelyk.
‘n ‘Goedkoper’ produk is dalk glad nie so goedkoop nie. ‘n Hele 50ml het sommer in die niet verdwyn van ‘n gewilde tamatiesousbottel sonder dat daar enige bohaai daaroor gemaak is. Wie het opgelet dat hierdie vervaardiger tot onlangs steeds daarop aanspraak maak dat 36 tamaties gebruik word om ‘n bottel tamatiesous te vervaardig, hoewel dit van 750ml na 700ml gekrimp het?
Een van Wendy Knowler se lesers het die vervaardiger hieroor aangevat en ‘n klag by die Owerheid vir Advertensie-standaarde aanhangig gemaak. Ondanks die feit dat die instansie opdrag gegee het dat die vervaardiger binne twee weke die advertensie op sy webtuiste moet verwyder, is daar steeds aanspraak op die 36 tamaties gemaak toe Knowler vroeër ‘n berig daaroor geskryf het.
Sy skryf tereg: “Wat die meeste inkrimpers van verpakkings hoop, is dat verbruikers eenvoudig net nie oplet dat hulle minder vir meer kry nie.
“Wanneer hulle (vervaardigers) gevra word om die subtiele inkrimping te regverdig, sê hulle bykans sonder uitsondering dat ‘n kleiner produk ‘meer bekostigbaar’ vir verbruikers is.
“Wat hulle nie toegee nie, is dat hulle die produk per gram duurder gemaak het.
“Wanneer die inkrimping van die verpakking gepaard gaan met ‘n prysverhoging – twee vlieë met een klap – dan argumenteer hulle dat die prysstyging nog hoër sou gewees het as die verpakking nie kleiner gemaak is nie.
“‘n Verdoeseling van ‘n prysverhoging deur minder te gee, is nie ‘n verbruikersvriendelike taktiek nie – dit is onderduims,” meen Knowler.
Kyk gerus maar na die gewig van die volgende produkte: seep (let op na die produkte wat van 200g na 175g gedaal het), plakke sjokolade (bepaalde handelsmerke het van 100g na 90g verminder), kondensmelk (sommige produkte het van 397g na 385g gekrimp), blikkies tuna, koeldrank, tandepasta (‘n bekende handelsnaam se 100ml buisies het tot 75ml gekrimp) en vele ander produkte.
Knowler meen dat verbruikers ‘n groot bohaai in die media moet opskop – elke keer as hulle agterkom dat ‘n produk se gewig minder geword het. “Ons kan nie daarop aandring dat kruidenierspryse nie verhoog nie, maar ons kan daarop aandring dat dit op ‘n deursigtige wyse gedoen word,” meen sy.
Mense is geneig om net na die prys te kyk wanneer hulle inkopies doen en ignoreer die meer relevante eenheidsprys wat die prys per kilogram of 100g weergee, sê Knowler.