Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoewel 'n mens in gebed enigiets van God kan vra, benadruk Johannes in 1 Joh 5 dat diegene wat iets in ooreenstemming met God se wil vra, daarop kan reken dat God dit wil en sal gee. Gebed is nie 'n manier om God se gedagtes te verander (en Hom dus te manipuleer om jou wense uit te voer) nie. Om volgens God se wil te bid is ook nie 'n towerformule om te kry wat jy wil hê nie. Gebed is juis om jóú planne en ideale in ooreenstemming te bring met God s'n.
OPENBARING – BOEK VAN DIE HEDE (4)
Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by Openbaring - Boek van die hede
Die agtergrondsituasie
1. Geen maneskyn en rose nie
Openbaring is onder ongunstige toestande geskryf. Christene van Klein-Asië is veronreg en selfs vervolg. Daarbenewens moes hulle fyn trap om deur die mynveld van heidense gebruike, Joodse agterdog en Romeinse onreg te beweeg soos in Openbaring gesien word. Hulle moes in probeer maak van ʼn bykans onuithoudbare daaglikse krisis. Apokaliptiese is dikwels die verslag van ʼn bepaalde krisis. Dink maar aan Daniël wat die optrede van Antiochus Epifanus beskryf. Vervolging het veral in die omgewing van Efese voorgekom. Waar dit op sosiale, politieke, ekonomiese en geestelike terrein beroerd gegaan het. Daarom was Openbaring salwend omdat dit Christene begeester het om te oorleef en te oorwin.
2. Die Jodedom
Klein-Asië was onder Romeinse beheer en enige godsdiens wat buite die grense waar dit ontstaan het, beoefen is, was onwettig. Gevolglik was die Joodse en Christelike godsdiens onwettig in Romeinse gebied. Eersgenoemde is egter wel toegelaat omdat Alexander die Grote dit destyds toegelaat het en hierdie vergunning deur die Romeine voorgesit is.
Christene het destyds hoofsaaklik uit bekeerde Jode bestaan en is deur die Romeine as ʼn Joodse sekte onder die godsdienstige sambreel van die Jode beskou. Die Joodse opstand teen Rome in 66nC het tot ʼn uitgerekte oorlog gelei wat met die vernietiging van Jerusalem en die tempel in 70nC beëindig is. Dit het onderlinge verhoudings tussen Romeine en Jode versuur. Hierdie gebeure was nog vars in die geheue toe Openbaring geskryf is. Johannes ag die vernietiging van Jerusalem as God se straf op die Jode omdat hulle Jesus verwerp het.
Toe 'n brand in 64nC in Rome uitbreek, het die Jode keiser Nero aangehits om die Christene te beskuldig. Die Jode het geglo dat die Christene ʼn goedkoper godsdienstige aanbieding aan heidene gemaak het – hulle was nie verplig om die wet of besnydenis na te kom nie. Dit het 'n breuk met die Christene veroorsaak en hulle is uit die sinagoges verban en kultureel en sosiaal geïsoleer. Jode het Christene teengestaan (Openb.2:9). Dit sê iets van die venyn en agterdog wat in die eerste twee eeue telkens opgevlam het.
3. Versoekings
In ʼn oorwegend Romeinse omgewing was Christene daagliks aan heidense gebruike soos vrugbaarheidskultusse en keiserverering blootgestel. Die versoeking om kompromie daarmee aan te gaan, was groot! Hulle moes of vlug of veg. Die Christene het eersgenoemde gekies en hul van die samelewing onttrek. Heidene het dit as ʼn haat vir die mensdom geag. Die Christene se nagmaalsgebruike is as kannibalisme geïnterpreteer en hul aanbidding van net een God as ʼn ondermyning van staatsgesag.
Sosiale heidense gebruike het Christene se alledaagse lewe beïnvloed. Vleis wat voorgesit is, is deur die afgodstempels voorsien. Dan was daar ook allerlei onsedelike praktyke in heidene se godsdiensbeoefening (Openb.2:14,20). In so ʼn heidense omgewing was Christene nie tuis nie. Dit het tot verwydering tussen mense gelei – sosiale en kulturele ontworteling. Talle het kompromieë met heidene aangegaan en ter wille van oorlewing afgodsvleis geëet en selfs aan sedelose praktyke deelgeneem. Dit het op sinkretisme neergekom – ʼn vermenging van geloof en heidendom.
4. Rome
Die belasting wat Rome op haar Oosterse provinsies gehef het, was buitensporig. Openb.18 meld die uitspattige weelde waarin Rome ten koste van die belastingbetalers geleef het. Rykdom en armoede was ʼn wesentlike probleem. Openb.11,13 en 17 sinspeel op Nero se afskuwelike optrede. Hy het die Christene nie altyd openlik vervolg nie, maar ook subtiel. Uitdrukkings soos verdrukking en volharding dui op die aanslag teen Christene (2:9, 10, 19, 25) en 14:12). Van hulle is ook gedood (6:9). Antipas se dood is deur die Romeinse owerheid opgelê omdat hy getuig het. Johannes se verbanning na Patmos was ʼn lewenslange verbanning wanneer ʼn persoon as ʼn bedreiging vir die staat aanskou is. In Rome was keiserverering aan die orde van die dag. Eers na sy dood kon ʼn keiser sy voorganger per senaatsbesluit tot ʼn godheid laat verklaar.
5. Die Grieks-Romeinse agtergrond
Alexander die Grote was onwetend ʼn kragtige instrument in God se hand omdat hy ʼn ingrypende bydrae tot die latere verspreiding van die Evangelie gemaak het. Hy is in 356vC as die seun van koning Filippus 2 van Macedonië gebore. Na laasgenoemde se skielike dood het Alexander die troon bekom en die hele Oostelike Middellandse See-gebied verower en ʼn stad in die Nul-delta laat oprig – Alexandria. Hy is op 33 aan koors oorlede, maar het egter daarin geslaag om die Griekse kultuur ʼn wêreldkultuur te maak met Grieks as wêreldtaal; die taal van die NT.
6. Twee keisers
Openbaring fokus hoofsaaklik op twee Romeinse keisers – Nero (54-68nC) en Domitianus (81-96nC). Nero was wreed en het selfs sy ma en stiefbroer laat doodmaak. Hy het hom aan genotsug en demoniese optrede oorgegee en mense links en regs laat teregstel. Op 18 Julie 64nC het ʼn groot brand in Rome uitgebreek wat vermoedelik deur homself laat stig is, maar waarvoor Christene verantwoordelik gehou is. Volgens oorlewering het hy Petrus om die lewe laat bring. Nero se wreedheid vind in Openbaring weerklank (13:18; 17:6,13). Hy was 31 jaar oud toe hy selfmoord gepleeg het. Domitianus het sy broer Titus (verwoesting van Jerusalem) wat aan koors dood is in 81nC opgevolg. Hy was baie wreed en het talle teregstellings laat uitvoer asook ʼn bloedige Christenvervolging geloods. Hy het Johannes na Patmos laat verban en homself as ʼn godheid beskou. Domitianus is in 96nC vermoor.
7. Administrasie van Romeinse provinsies
Die administrasie van Rome se provinsies verdien aandag. Daar was twee kategorieë - senatorprovinsies en keiserprovinsies. Eersgenoemde was bestendige provinsies met ʼn prokonsul as hoof en wat onder beheer van die Romeinse senaat gestaan het. Asië en Macedonië het in hierdie kategorie geval. Die keiserprovinsies was onder die keiser se beheer met 'n prokurator as hoof. Hierdie provinsies het op die grense van die Romeinse ryk gelê en was dikwels oproerig en onstabiel soos Judea, Samaria, Sirië en Egipte.
Belasting het uit grond en kopbelasting gekom en was aansienlik hoër in die provinsies. Daarbenewens was daar ook tolgeld en heffings wat deur tollenaars ingesamel is. Regspleging was onder toesig van ʼn prokurator soos wat baie Christene ervaar het (Hand.24:26,27).
8. Denkstrome van die tyd
Die denke van die Grieks-Romeinse wêreld het ook Christene beïnvloed. Sokrates, Plato en Aristoteles sou vir eeue deel van die denkwêreld bly. Epikuris het die Epikureërs in 306vC in Athene begin en geleer dat genot die hoogste ideaal is en slegs behaal kan word indien die mens vry van onrus en pyn is. Dis nie sinlike genot nie, maar om verstandig en regverdig te leef.
Die Stoïsyne is in 332vC deur ene Zeno gestig en het geleer dat die mens in ooreenstemming met die natuur moet leef. Die harmonie van die kosmos moet nie versteur word nie. Wat ook al met jou gebeur, moet met gelatenheid aanvaar word. En dis slegs moontlik deur ʼn innerlike vryheid wat deur niks van buite bedreig mag word nie. Die harmonie met die kosmos het gelei tot die vrysinnige beginsel van die broederskap van alle mense wat kwansuis gelyk aan mekaar is.
Die Christelike berusting verskil baie van die Stoïsynse gelatenheid. Openbaring moedig gelowiges nie aan om, al kry hulle swaar, maar alles gelate te aanvaar nie maar om blymoedig en volhardend aan Jesus vas te hou.
Vervolg...