Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Christene is nie volmaak nie, hulle is in die proses van ontwikkeling
WATERBOBBEJAAN (10)
Ben Venter
Lees reeks by Waterbobbejaan
Na ontbyt die volgende oggend vat Sakamatlakobata sy verkyker en gaan sit op die stoel in sy sitkamer. Hy maak die houtvenster oop en besluit dat hy die hele dag daar gaan sit en Waterbobbejaan se woonplek dophou. Hy is haastig van geaardheid, te haastig, maar hy het ook die wilskrag om ure lank stil te sit as dit nodig is en ‘n goeie doel dien.
Maar hy het sy hele dag gemors. Soos die Bantoes sê: sy spore is weg. Hulle merk dit op, maar hulle glo dit nie, want hulle bly snags in hulle krale.
Die boer het daardie dag in sy sitkamer baie dinge oorweeg. Daar boer ‘n luiperd op sy plaas. Maar hy het nog nooit van hom las gehad nie. Dit wil natuurlik nie sê dat die luiperd nie een aand kan uitbreek en so iets aanvang nie. Maar dis nie soos die luiperd gewoonlik doen nie. Dis moontlik dat ‘n luiperd wat op trek is na ‘n ander plek toevallig daardie nag daar verbygekom en op die ingewing van die oomblik sy ram gegryp het. As dit die geval is, is dit moontlik dat so iets nie gou weer sal gebeur nie. mens moet verliese in die bosveld af en toe verwag. Miskien is dit per slot van sake nie so erg nie. Die ram was in elk geval ‘n nikswerd ram.
“Hier is koffie, Pa,” sê Nannie sy dogter.
“Dankie, my kind.”
“Het Pa vir Waterbobbejaan al gesien?”
“Nee,” sê hy kortaf. Hy wil nie graag ‘n bobbejaan van homself maak nie.
“Hoekom gaan sit Pa nie bokant sy krans en wag hom daar in nie? As hy uitkom, skiet Pa hom, en as hy kom slaap, het Pa hom ook onder skoot.”
“Gaan speel, Nannie.”
Hy voel jammer toe hy Nannie druipstert sien wegloop. Maar soos dit nou met hom gaan, sien hy nie kans om haar terug te roep vir sy onnodige barsheid nie.
Die boer bespied weer die waterval. Hy hoor van die bure en die Bantoes dat daar tot kort voor sy kom ‘n wolf op die plaas geboer het. Maar hy het skielik een dag verdwyn. Sy spoor en werk is nooit weer gesien nie. die enigste wolf in die omgewing is oom Stoffel Wolf, dink hy met ‘n glimlag. Hy wonder wat die oom sal sê as hy weet wat hy nou net gedink het. Sê nou mens vra oom Stoffel Wolf om kaalvoet in ‘n klam beddinkie te trap: hoe gaan sy spoor lyk? Toe besluit hy om die stryd gewonne te gee. Hy stap na die lande en kyk na sy gesaaides.
Daardie aand tydens aandete sê Piet: “Pa, kan ek en Koos en Willem môre met die perde en die honde oor die plaas ry om te sien of ons nie miskien iets gewaar nie?”
“Dis ’n goeie plan. Maar vat die Steyrgeweer saam en julle bly weg van die waterval af. Miskien kan julle ‘n steenbok of ‘n duiker skiet.”
Die seuns is die ene blydskap oor die toegewing. Hulle pa wou in die verlede altyd self dinge gedoen het. Hy sou dit van tevore nooit toegelaat het nie. en as hy dit toegelaat het, dan wou hy saamgegaan het. Maar hulle het opgemerk dat hy sedert sy malaria-aanval in sommige opsigte verander het.
Sakamatlakobata hét verander. Dit was sy soveelste malaria-aanval. In die toekoms kan hy moontlik swartwaterkoors kry en dit nie oorleef nie. Wat word dan van sy plaas? Hy het gesien hoe dit daar uitsien nadat hy net ‘n paar weke lank siek was. As hy hulle ontval, wat dan? Die kinders moet meer verantwoordelikheid kry. Maar hy wil dit nie opsigtelik maak nie. Hier kom die eerste geleentheid nou na hom aangestap. Hy gryp die geleentheid met albei hande aan.