Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ek mag nooit die lente van my jeug verkwis deur tyd te verspil nie; ek sal ryk saad saai om te blom wanneer ek 'n man is, en vrugte dra wanneer ek oud is – nog is my jeugjare die seisoen vir vreugde en liefde, maar my ryp jare dié van wysheid en insig.
MANDELA EN SY TERRORISTE- BENDE (9)
Lees reeks by Mandela en sy terroriste-bende
DIE UITSPRAAK
Die Rivonia-saak is verby — maar nie sy gevolge en implikasies nie. Nie sy openbarende boodskap nie. Sy weerklank galm reg om die aarde...
"Regter-president De Wet vind Mandela, Sisulu, Goldberg, Mbeki, Mhlaba, Motsoaledi en Mlangeni skuldig aan al vier die aanklagte waaronder hoogverraad, sabotasie en guerrilla-oorlog met die doel om ’n gewelddadige revolusie in Suid-Afrika teweeg te bring... Dit is ook duidelik dat Nelson Mandela by die stigting van Umkhonto We Sizwe die hooffiguur was. ...Nelson Mandela het misbruik gemaak van sy posisie as onder-president van die A.N.C. in soverre hy ’n Kommunis was en het die doel en strewe van die Kommunisteparty daar gepropageer. Nelson Mandela het verslag gedoen dat daar nie onder die gewone lede van die swartes bekend moet laat word dat die Kommuniste inderdaad die A.N.C. help nie".
DR. YUTAR, die Staat se advokaat, lewer ’n striemende slotbetoog. Hierdie rede begin op 20 Mei 1964 en duur sowat vier dae.
Hoe verwaand en vol bedrog is die beskuldigdes nie! roep hy uit.
Teenoor die swart volke van Suid-Afrika — en inderdaad teenoor die hele wêreld — gee die beskuldigdes voor dat hulle Suid-Afrika se sogenaamd miljoene onderdruktes verteenwoordig, dat die stryd gemik is teen wat, volgens hulle, die onderdrukking van die massas sou wees. En tog behoort net meer as een persent van Suid-Afrika se twaalf miljoen swartes (1964) aan die organisasies waarin die beskuldigdes en die mede-samesweerders leiersrolle gevul het.
"Hoe tragies is dit nie,” hamer dr. Yutar, "hoe tragies is dit nie dat die leiers wat nie self die moed gehad het om ’n enkele sabotasiedaad te pleeg nie, tog hul volgelinge aangehits het tot sabotasie, guerrilla-oorlog, gewapende opstand, openlike rebellie en uiteindelik burgeroorlog!
"Daarna sou die leiers in veiligheid en gerief vanuit hul wegkruipplekke by Rivonia, Travallyn en Mountain View die woeste tonele van slagting aan albei kante van die opponerende magte kon gadegeslaan het.
"’n Verswarende gedagte is ook dat ’n man soos Goldberg, wat met ’n selfvoldane en verwaande glimlag op sy gesig getuienis gelewer het, oorsee sou gaan om, nadat hy die Frankenstein-monster geskep en in werking gestel het, by sy dapper bendebroers aan te sluit!”
Die "bendebroers” beskryf dr. Yutar as die "groot en glorieryke guerrilla Goldreich, die heroïese Harmel en Hodgson, Slovo, die soldaat en wyse Wolpe” wat van die veilige afstand van 6,000 myl of meer die tragiese gevolge van hul handewerk sou kon gadeslaan.
Dr. Yutar vervolg:
"Dit is bitter jammer dat die gewone Bantoe van Suid-Afrika, wat vredeliewend, wetsgehoorsaam, getrou en lojaai is, mislei moes word met valse beloftes van gratis brood, vervoer, mediese dienste, behuising en gratis vakansies om tot ’n beleid van geweld oor te gaan en daardeur hul lewens of vryheid opgeoffer het ...”
Oor elke oortreding wat die Staat die beskuldigdes ten laste 1ê, sê dr. Yutar, het meer as twee getuies hul getuienis afgelê. Die dade is deur die beskuldigdes self bevestig.
Die Staat het "om redes wat nie hier genoem hoef te word nie”, verkies om die beskuldigdes van sabotasie aan te kla, hoewel die saak ’n klassieke voorbeeld van hoogverraad is.
Dr. Yutar dien by die hof in vier getikte bundels met opsommings van die getuienis in die saak gelewer. Die bundels (een daarvan dra as opskrif: "’n Kritiese ontleding van sekere dokumentêre bewysstukke van ’n militêre aard en wat handel oor plofstowwe en wapens”) beslaan tesame meer as 500 folio’s.
Hy gee besondere aandag aan die ontkenning van die beskuldigdes dat die dokument "Operation Mayibuye” die dag van die klopjag op Lilliesleaf bespreek sou word en aan die feit dat deur die verdediging aangevoer word dat die leiers die plan in daardie stadium as onuitvoerbaar beskou het.
"Die beskuldigdes was daardie middag op Lilliesleaf om 'Operation Mayibuye’ te bespreek. Daarom is die dokument oop op die tafel gevind!”
Dr. Yutar vestig die hof se aandag daarop dat hy nie, soos in sy openingsbetoog aan die begin van die verhoor in die vooruitsig gestel, deskundiges oor die uitwerking van die saboteurs se plofstowwe as getuienis geroep het nie en ook nie die rolprent oor toetse met daardie plofstowwe vertoon het nie. Dit sou onnodige getuienis gewees het na sekere erkennings van die kant van die beskuldigdes en ook omdat regter-president De Wet geen moeite ondervind het om die getuienis oor die vervaardiging van plofstof en bomme te volg nie. Hy het die onderwerp jare lank as stokperdjie bestudeer, het regter De Wet in die hof gesê.
In die loop van sy slotbetoog verwys dr. Yutar na die "tans nog onbekende leier van die Kommunisteparty in Suid-Afrika”. Die identiteit van hierdie persoon bly ’n geheim. Al die beskuldigdes wat onder eed hieroor gevra is, het geweier om te antwoord.
Dr. Yutar het aan die einde van sy betoog gekom.
As dit nie vir die voortreflike werk van die Suid-Afrikaanse Polisie was nie, sê hy, sou die land hom in hierdie tyd in ’n bloedige revolusie bevind het. Die bevolking van Suid-Afrika, blankes sowel as nie-blankes, is groot dank aan die manne in polisiediens verskuldig.
Nooit in sy ondervinding as staatsaanklaer het die polisie sulke onwrikbare getuienis teen elke beskuldigde aan hom gelewer nie.
Die verdediging se slotbetoog duur ook sowat vier hofdae en begin op 27 Mei 1964. Elkeen van die verdedigingsadvokate kry ’n spreekbeurt; party praat twee keer.
Dit word al gou duidelik watter taktiek die verdediging se advokate volg. Van die aanklagte word erken en baie ander getuienis onbetwis gelaat. Altesaam negentien van die 159 sabotasiedade in die klagstaat genoem, word deur die beskuldigdes toegegee. Ook word erken dat Umkhonto We Sizwe militêre rekrute vir opleiding gewerf en dade van sabotasie gepleeg het. Die beskuldigdes erken die sabotasiedade wat binne die beleid geval het om Staatseiendom aan te val sonder lewensverlies. Hulle ontken aanspreeklikheid vir die sabotasiedade wat glo sonder hul goedkeuring gepleeg is en waarin menselewens in gevaar gestel is.
Die hoofadvokaat vir die beskuldigdes, adv. Bram Fischer, betoog dat die beskuldigdes nie skuldig kan wees aan die plan "Operasie Mayibuye” nie omdat dit nie deur Umkhonto We Sizwe aanvaar is nie.
Die regter: Die voorbereidings in sigself stel die land in gevaar, mnr. Fischer.
Adv. Fischer: "Mayibuye” was niks meer as ’n voorstel vir oorweging ten opsigte waarvan sekere navorsing gedoen is nie.
Die regter: Dit was meer as ’n voorstel, mnr. Fischer.
Adv. Fischer het voorts betoog dat die Staat nie bewys het dat die samesweerders besluit het om die plan uit te voer nie.
Die regter: Dit aanvaar ek. Ek aanvaar egter nie dat hulle die plan nooit in werking sou gestel het nie.
In die lig van hierdie opmerking maak die verdedigingsadvokate die volgende dag verdere toegewinge. Die verdediging ontken egter sterk dat die beskuldigdes wat op die dag van die Rivonia-klopjag in die grasdakkamer op Lilliesleaf byeen was, die dokument "Operation Mayibuye” wou bespreek het.
Die hof is stampvol toe regter De Wet op 11 Junie — presies elf maande na die klopjag op Rivonia — uitspraak lewer. Die hofsitting duur slegs sowat drie minute: so lank as wat dit die regter neem om te se wie hy skuldig of onskuldig vind.
Sy opsomming van die getuienis en sy verdere bevindings word skriftelik ingedien en beslaan 72 folio’s.
Die vonnis word tot die volgende dag uitgestel om die verdediging die kans te gee om die regter se bevindings te bestudeer met die oog op vertoë tot versagting.
Regter-president De Wet vind Mandela, Sisulu, Goldberg, Mbeki, Mhlaba, Motsoaledi en Mlangeni skuldig aan al vier die aanklagte, en Kathrada net aan aanklag 2.
Lionel Bernstein word onskuldig bevind. Ná die uitspraak word hy egter onmiddellik weer in hegtenis geneem ingevolge die Wet op die Onderdrukking van die Kommunisme.
Kortliks kom die uitspraak daarop neer dat die eersgenoemde sewe beskuldigdes daaraan skuldig gevind is dat hulle, deur gemeenskaplike optrede en deur hul volgelinge, persone gewerf het vir binne- en buitelandse opleiding in sabotasie en guerrilla-oorlog met die doel om ’n gewelddadige revolusie in Suid-Afrika te veroorsaak en dat hulle ook ’n aantal sabotasiedade laat pleeg het.
Die tweede aanklag, waaraan ook Kathrada skuldig is, beteken dat hulle saamgesweer het om verdere werwelinge met dieselfde doel as in die vorige aanklag te werf en te laat oplei en gewerf en opgelei het.
Die eersgenoemde sewe beskuldigdes is ook skuldig daaraan dat hulle die doelstellings van die Kommunisme bevorder het en geld ingevorder en bestee het om sabotasie te pleeg.
In sy uitspraak gee die regter onder meer redes waarom James Kantor, die prokureur van Johannesburg asook vennoot en swaer van vlugteling Harold Wolpe, se aansoek om ontslag vroeër in die loop van die verhoor toegestaan is. Kantor was een van die oorspronklike elf wat in die verhoor as samesweerders aangekla gestaan het.
Regter De Wet sê daar word toegegee dat Kantor se vennoot Wolpe ’n gelyste Kommunis was en dat Wolpe as mede-samesweerder deelgeneem het aan die oortredings in die klagstaat genoem. Aan die ander kant het Kantor in ’n eedsverklaring bevestig dat Wolpe teenoor hom onderneem het om nie, solank hy Kantor se vennoot is, aan onwettige politieke optrede deel te neem nie.
’n Gekwalifiseerde assistent in Kantor se regspraktyk, die klerk Makda, het ook getuig dat Kantor nie kon geweet het van die same- sprekinge wat Wolpe soms in sy eie kantoor met ingeperkte persone gehad het nie.
Ook aanvaar die regter die Staat se bewering dat Kantor en die vennootskap baie sake hanteer het vir en namens mense wat lede was van die verbode Kommunisteparty en die verbode A.N.C., en vir kliënte wat in die verhoor as mede-samesweerders genoem word, maar bevind dat geen sinistêre afleiding daarvan gemaak kan word nie.
Sommige van die mense was kliënte van die firma in verband met siviele en kriminele sake.
Ook die feit dat Kantor se regspraktyk betrokke was by die koop van die Rivonia-eiendom Lilliesieaf beskou die regter nie as getuienis wat Kantor se medepligtigheid bewys nie.
Polisiegetuienis as sou Kantor by sy aankoms op Lilliesieaf die dag na die Rivonia-klopjag gesê het hy kom die honde en pluimvee kos gee, lyk vir die regter onwaarskynlik teenoor Kantor se stelling dat hy die oom en ouma van die twee Goldreichkinders en nog ’n vrou die volgende dag in sy hoedanigheid as prokureur na die plaas vergesel het.
"As Kantor inderdaad een van die samesweerders was, sou dit die laaste ding wees wat ek sou verwag: dat hy sy kop in ’n bynes sou steek."
In verband met sy onskuldigbevinding van die argitek Bernstein merk regter De Wet op dat die saak teen hierdie beskuldigde nie afdoende bewys is nie. Een van die Staatsgetuies het gesê Bernstein het gehelp met die oprigting van ’n radiolugdraad op Lilliesieaf. ’n Ander het getuig dat die blanke wat met die taak gehelp het, nie Bernstein was nie.
Regter De Wet bevind onder meer dat:
— Goldreich en Wolpe, "wat saam met die huidige beskuldigdes verhoor sou gewees het”, hul ná hul ontsnapping in die woonstel by Mountain View as priesters vermom en so ontvlug het.
— Dit duidelik is dat Nelson Mandela by die stigting van Umkhonto We Sizwe die hooffiguur was.
— Dit uit die getuienis en dokumente blyk dat die leier van die A.N.C., oud-hoofman Albert Luthuli (Nobel-vredespryswenner) op hoogte gehou is van Umkhonto, van tyd tot tyd geraadpleeg is maar self op die agtergrond gehou is.
— Die dokument "Operation Mayibuye” ’n gedetailleerde plan bevat vir die voer van guerrilla-oorlog en daarna ’n volskaalse rebellie teen die regering van die land.
_ "Baie, as dit nie die meerderheid van die A.N.C. en Umkhonto se lede is nie, ook aan die Kommunisteparty behoort het ".
MNR. ALAN PATON
OM verskillende redes is die soeklig van wêreldbelangstelling brandpuntskerp ingestel op die slotoomblikke van die Rivoniaverhoor, onder meer ook om die dramatiese onthullings in die loop van die hofsaak wat ’n kommunistiese sweer blootgelê het.
Ook om die propagandaveldtog wat na die vier windrigtings toe uitgevoer word, is daar hete belangstelling. Agter die propaganda, agter die pop van sogenaamde onderdrukking en minagting van menseregte, moet die Kommunis en sy strewe versteek bly, mag die hand van die Rooi beer nie gesien word waar dit gryp na die rykdomme van Afrika se rykste land, na die hart van die Weste se trouste vriend en strategiese bondgenoot nie.
In hierdie fokus van wêreldbelangstelling roep die advokate vir die beskuldigdes mnr. Alan Paton om getuienis ter versagting van vonnis te lewer.
Mnr. Paton is ’n leier van die Suid-Afrikaanse Liberale Party. Hy is bekend om sy linkse politieke opvattinge. Sy beroep kan as dié van skrywer aangegee word.
Mnr. Paton is, veral in Amerika, waarskynlik die bekendste persoon uit Suid-Afrika. ’n Ander bekende is oud-hoofman Albert Luthuli, wenner van die Nobelvredesprys.
As iemand wat uit die newelrige onbekendheid van hoof van ’n Bantoe-verbeterskool getree het met ’n boek, "Cry, the Beloved Country”, het Paton se internasionale bekendheid nogal publisiteitswaarde.
As stigterlid en nasionale president van die Liberale Party in Suid-Afrika het hierdie man plaaslik ’n powere aanhang, maar in dieselfde hoedanigheid het hy taamlik dikwels in die buiteland opgetree.
Die spanning van afwagting oor die vonnis lê voelbaar in die hofsaal wat vir die soveelste keer kant en wal vol is. In die juriebanke het verteenwoordigers van buitelandse ambassades en konsulate plekke ingeneem.
Agter die lang beskuldigdebank gaan ’n tiental bewaarders in burgerlike drag staan.
Die verdedigingsadvokate kom aan. Tussen hulle sit mnr. Alan Paton.
Die Staatsadvokate volg dr. Yutar met sy leertas. Hy weet reeds dat mnr. Paton ter strafversagting gaan getuig en hy het horn voorberei. Uit die tas trek hy ’n lêer van die Veiligheidspolisie.
"Stilte in die hof!” Almal kom orent. Regter-president De Wet buig waardig, neem plaas. Die beskuldigdes kom in. Dis dieselfde gesigte — almal is daar, behalwe Bernstein.
Adv. H. J. Hanson, S.A., kom op die been. "Mag dit die hof behaag. Ek is deur die prokureur wat namens die verdediging optree genader om u ter strafversagting toe te spreek. Ek is van plan, voor ek u toespreek, om die getuienis te roep van een getuie. Sy getuienis is nie lank nie, en ek sal graag die getuienis van mnr. Alan Paton wil roep.”
Mnr. Paton, met grys hare, neem in die getuiebank plaas voor die bandopnemer se mikrofoon.
Adv. Hanson: Mnr. Paton, u is 61 jaar oud?—Ja.
Woonagtig in Natal?—Ja.
U het ’n B.Sc.-graad van die Universiteit van Suid-Afrika? —Ja.
Mnr. Paton het ook ’n diploma in onderwys. Hy vertel dat hy jare prinsipaal was van die Bantoe-verbeterskool Diepkloof en in 1948 daardie pos neergelê het. In 1946 het hy "Cry, the Beloved Country” geskryf. Twee ander werke het ook sedert 1948 verskyn.
In 1953 was hy ’n stigterlid van die Liberale Party. Later het hy nasionale voorsitter daarvan geword en nou is hy die nasionale president.
Paton vertel van sy kontak met nie-blankes soos oud-hoofman Luthuli, president van die A.N.C., met Nelson Mandela, Walter Sisulu, Govan Mbeki, Ahmed Kathrada, en andere. Die Liberale Party, sê hy, het dikwels saam met die A.N.C. en die Indian Congress vergaderings gehou.
Mnr. Paton gee ’n uiteensetting van die nie-blankes se beweerde griewe.
Die Liberale Party, sê hy, beskou Mandela, Sisulu en Mbeki as leiers van die swartes. Hy twyfel nie aan die leiers se opregtheid nie "wat ook al die metodes wat hulle sou gebruik het of besluit het om te gebruik, maak nie saak of hy daarmee saamstem of nie.”
Mnr. Paton sê baie swartes het gevoel daar is slegs een keuse — om toestande te aanvaar soos dit is, of dit met geweld teen te staan.
"Ek dink nie ’n mens het die reg om van enige volk te verwag dat hulle ’n situasie passief moet aanvaar nie . . .”
Adv. Hanson: Histories gesien, het mense in so ’n posisie dit ooit aanvaar? — Ek weet van geen voorbeeld nie, U Edele. Ek weet van een treffende voorbeeld van die teenoorgestelde, en dit is die geskiedenis van die Afrikanervolk in hierdie land.
Die regter: Daar is baie, baie voorbeelde, mnr. Paton, van mense wat in opstand gekom het en weens hoogverraad veroordeel is en tereggestel is wanneer hulle gedoen het wat die beskuldigdes in die huidige saak gedoen het. Ek dink aan die bekende "Gun- power Plot” in Engeland. In die lig van latere geskiedenis het die mense geregverdigde griewe gehad, maar hulle is nie geregtig om die reg met geweld te verbreek nie. Wat gebeur met sulke mense, geskiedkundig gesproke, is dat hulle veroordeel word weens hoogverraad en ter dood veroordeel word. Dit is wat gewoonlik gebeur, is dit nie so nie ? — Ja, U Edele.
Toe adv. Hanson gaan sit, kom dr. Yutar op die been:
"Edele Heer, gewoonlik kruisvra ek nie mense wat ter strafversagting geroep word nie, maar met u toestemming is ek voornemens om hierdie getuie onder kruisverhoor te neem.
"Ek doen dit nie om die vonnis te vererger nie, maar om die meneer te ontmasker en dit heeltemal duidelik te stel dat die enigste rede waarom hy in die getuiebank gegaan het, is om vanuit die getuiebank politieke propaganda te maak.”
Dr. Yutar wend hom tot die getuie: Mnr. Paton, is u ’n Kommunis? — Nee.
Is u ’n "mede-reisiger” ? — Ek verstaan nie heeltemal wat 'n mede-reisiger is nie, maar ek verstaan u implikasie. Ek is nie ’n mede-reisiger nie.
Deel u die doelstellings en strewe van die Kommunisteparty ? — Sommige van die doelstellings sou ek deel.
Soos? — Soos ’n meer eweredige verspreiding van grond en rykdom; beter ekonomiese geleenthede.
Wat keur u nie goed in die Kommunisteparty nie? —Ek sou heeltemal gekant wees teen die totalitêre metodes wat hulle aanvaar het om sulke veranderings teweeg te bring.
Het u die A.N.C. goed geken? — Heeltemal goed.
Het u dit beskou as ’n suiwer Bantoebeweging ?—Ja.
Beskou u dit nog so ? — Ja.
Ten spyte van Sy Edele se uitspraak gister? — Watter besondere uitspraak ?
Het u die uitspraak gelees ? — Ja.
En weet u nie waarna ek nou verwys nie? —Nee, ek weet nie na watter spesifieke saak u verwys nie.
U weet wat Sy Edele gesê het omtrent die A.N.C. wat deur die Kommunisteparty oorheers word ? — Ek het nooit geglo dat die A.N.C. deur die Kommunisteparty gedomineer word nie.
Glo u dit vandag ? — Ek glo dit nie.
U glo dit nie! U aanvaar dus nie Sy Edele se bevinding soos vervat in sy uitspraak van gister nie?
Mnr. Paton: U Edele, ek word in ’n baie moeilike situasie geplaas.
Dr. Yutar: Ek wil net die waarheid hê, dit is al. — Ek glo nie dit is maklik om hierdie dinge in terme van swart en wit uit te druk nie.
Aanvaar u Sy Edele se bevinding op grond van die getuienis, van die dokumente, dat die A.N.C. deur die Kommunisteparty gedomineer is? — Ek sou nie die verklaring in daardie vorm kan aanvaar nie. Wat ek sou aanvaar, sou ’n verklaring wees dat die Kommuniste aktief was in die A.N.C. en hoë posisies beklee het.
Het u geweet dat Nelson Mandela Kommunisties-geneigd is ? — Mag ek vra wat u bedoel met Kommunisties-geneigd?
Wel, laat ons dit onomwonde stel: dat hy in werklikheid ’n volgeling van die Kommunisteparty is?—Nee, ek het nooit geweet nie.
Weet u dit vandag? — Nee.
U weet dat ons dokumente in Mandela se eie handskrif het oor "Hoe om ’n Goeie Kommunis te wees”. Het u dit geweet?—Ja. Ek het dit geweet en het ook sy verduideliking gelees.
Ek sien. En u aanvaar sy verduideliking? —Wel, ek het geen getuienis nie.
En weet u ook dat volgens die getuienis in die saak, Nelson Mandela, na sy terugkeer van sy Afrikatoer, onder meer verslag gedoen het aan die Streekbevel van Durban dat die leiers van die A.N.C. dit nie onder die gewone lede van die Bantoes bekend moet laat word dat die Kommuniste inderdaad die A.N.C. help nie? — Nie voordat ek werklik die verklaring gesien het nie.
U weet natuurlik dat Mandela dit ontken het toe hy sy verklaring gedoen het. Hy het ontken dat hy die verslag gedoen het?—'Ja, ek het dit ook gelees.
Ja! En natuurlik is ’n afskrif van sy verklaring in die hof gemaak en in verskeie tale vertaal en deur die wêreld gepubliseer ? — Ja.
Ek verstaan dat selfs ’n plaatopname daarvan gemaak is en dat dit verkoop word. Is dit korrek? — Ek weet nie.
Weet u dat sy ontkenning nie deur Sy Edele aanvaar is nie ? —Ja.
Is u bereid om te erken dat Nelson Mandela dan misbruik gemaak het van sy posisie as onder-president van die A.N.C. in soverre hy ’n Kommunis was en die doel en strewe van die Kommunisteparty gepropageer het? — Ek vind dit ’n baie moeilike vraag om te beantwoord.
In hierdie stadium moet dr. Yutar uit die regter se bevinding voorlees in verband met die rol van die Kommuniste.
’n Bietjie later gedurende sy kruisverhoor vra mnr. Paton: Mag ek indirek op u vrae antwoord ?
Dr. Yutar: Nee, ek sou ’n direkte, eerlike en ware antwoord verkies. — Ek vind dit byna onmoontlik om met "ja” of "nee” te antwoord. Antwoord soos u wil, maar doen dit direk, nie indirek nie. - Wel ek bedoel, ek het baie besprekings gehad met leiers van die A.N.C. in verband met die hele vraag van hul verhoudings met Kommuniste en Kommunisme. Ek sou graag hier wou herhaal, byvoorbeeld, wat mnr. Luthuli eenmaal aan my gesê het toe ek hom gevra het...
Dr. Yutar: Nee, ek sal nou-nou by mnr. Luthuli kom! My vraag aan u raak Nelson Mandela. Dink u dit is reg om teenoor die gewone Bantoe van hierdie land voor te hou dat die A.N.C. ’n suiwer Bantoe-organisasie is, sonder enige bande met enige ander lande — veral Kommunistiese lande — terwyl Kommuniste in werklikheid die A.N.C. ondersteun? — Ek is nie bewus dat dit ooit gedoen is nie... hm, die bepreking het vir baie jare geduur".
Dr. Yutar: Ek het aan u gelees uit Sy Edele se uitspraak wat skaars 24 uur oud is en u het dit gelees. As u Sy Edele se bevinding aanvaar . . . dink u dat dit korrek was om die gewone Bantoes in hierdie land te mislei? —-As ek Sy Edele se bevinding aanvaar, dan sê ek nee.
Het u geweet dat Raymond Mhlaba ’n Kommunis is ? — Ek weet nie.
Terloops, is u ooit deur die A.N.C.-leiers in die saak geraadpleeg voordat hulle begin het met hierdie verraderlike program ? —- Nee.
Nooit geraadpleeg nie ? — Nee.
Maar u het in die A.N.C.-kringe beweeg? —Ja.
U het gesamentlike vergaderings met die A.N.C. gehad? —Ja.
En die Indian Congress ? — Ja.
U het met ’n klomp Kommuniste in hierdie land omgegaan, het u nie ? — ’n Klomp ?
Ja, ’n klomp. Ek sal hul name noem! — Ek moet sê ek het nooit uitgevra na mense sê . . .
Nie! Ken u ’n verraaier genaamd Ronald Segal wat "Africa South” gepubliseer het?—Ja, ek het hom geken.
Ja! Was u nie ook ’n borg daarvoor nie? — Ek glo so, ja.
Ja, natuurlik. En die "African Communist” wat deur die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty gepubliseer word, was u nie ook op die poslys nie? —Ja.
En u ken ’n ander meneer genaamd Roby Arenstein? — Ja.
U was by hom aan huis en het vergaderings daar gehou? — Nee.
Was u by sy huis gewees? — Nee . . . e . . .
Komaan! — Ek dink nie dat. . .
Was u ooit by hom aan huis ? — Ek kan nie onthou dat ek ooit by sy huis was nie.
Ken u hom ? — Ek ken hom.
Waar het u hom ontmoet? — Ek het hom hoofsaaklik deur "Defence and Aid” ontmoet.
Dit is nog ’n organisasie met ’n hoogklinkende naam wat die saboteurs in die land bygestaan het, is dit nie so nie ?—Met sabotasie ?
Ja. — Nee.
Nie ? Wat dink u waarmee het dit gehelp ? — Dit het gehelp met die verdediging van mense wat voor die hof gebring word sodat hulle ’n regverdige verhoor kan kry.
Het u persoonlik toesig gehou oor al die geld wat van "Defence and Aid” van oorsee na die land gekom het? — Nee.
Nou sal ek u die besonderhede gee van Roby Arenstein . . . U weet waar Arenstein woon, dan nie ? — Ek het ’n vae idee.
U was daar op 27 Julie 1962. Majorca No. 7, Esterwoodweg, Durban. Dit is sy adres, is dit nie ? — Ek weet nie. Ek was nie by sy . . . Ek het hom ’n lang tyd nie opgesoek nie. En by die geleentheid waarvan u praat, het ek ’n baie . . . nie ’n perfekte herinnering nie, maar ek het ’n redelik duidelike herinnering dat dit nie sy huis was nie; dat dit die huis was van dr. Meidlinger.
Dr. Yutar: Dis nog ’n goed bekende persoon, goed bekend aan die Veiligheidspolisie.
Mnr. Paton: Hy is nie ’n politieke bondgenoot van my nie.
Ontken u dat hy by Majorca no. 7 gewoon het en dat u ’n geheime vergadering daar bygewoon het ? — Ek kan my dit hoegenaamd nie herinner nie.
Maar dit kan waar wees? — ’n Geheime vergadering?
Sou u dit nie so noem nie ? — Ek gaan in die reël nie na geheime vergaderings nie.
Terloops, u het Albert Luthuli genoem. Laat ons seker maak ons praat van dieselfde meneer. Dis hy wat die Nobelprys vir vrede gekry het? — Dit is korrek.
Het u geweet dat hy geraadpleeg is oor dade van sabotasie in hierdie land ? — Nee.
Weet u dit nou ? — Bedoel u, weet ek dat dit die uitspraak is ?
Ja. — Ja, ek weet.
Kom dit vir u as ’n verrassing?— Ek het net geen . . . Ek bedoel, dit sou my baie verbaas het. Hy was die president van die A.N.C. en ek kon verstaan . . . en ek sou net graag hier wil sê dat ek nie eintlik hier gekom het om enige dade van enigiemand te verdedig nie. Ek het hierheen gekom om ’n oproep om versagting op die hof te doeri.
Dr. Yutar: Ons kom netnou daarby; by hul optrede en u eie beskouings oor geweld, belowe ek u. Maar nou het ek dit oor mnr. Luthuli. Het dit vir u as ’n verrassing gekom dat hy geraadpleeg is en hy sy seën uitgespreek het oor hierdie nuwe beleid van geweld van die A.N.C.?—Dit kom nie as ’n verrassing vir my dat hy geraadpleeg is nie.
Nie? — Dit sou my verras het as hy sy seën daaroor uitgespreek het.
U weet dit natuurlik dat ons daardie getuienis in die handskrif van Nelson Mandela in sy dagboek het? — Ja.
Dat Mandela na Durban gegaan het en die "Chief ’ in goeie luim gevind het en dat hy sy goedkeuring gegee het aan die nuwe optrede. Verras dit u? — Ja.
Is u self teen geweld gekant, mnr. Paton ? — Ja.
Is u, is u? — Ja.
Regtig ? Het u dit nooit bepleit nie ? — Die gebruik van geweld ?
Dr. Yutar: Ja!
Mnr. Paton: Nee.
Het u dit nooit bepleit nie ? — Nee.
U bepleit egter, is dit nie so nie, militêre ingryping in Suidwes-Afrika? — Ek kan dit nie onthou nie. As ek herinner word op watter manier ek dit gedoen het . . .
Ek sal u herinner. Het u dit ooit bepleit? — Militêre ingryping?
Ja.—In Suidwes-Afrika ?
Ja. -— Nie wat ek van weet nie.
Het u ooit gepleit dat die beheer en administrasie van daardie gebied oorgeneem word deur die V.V.O. ? — Ja.
U noem uself ’n ware Suid-Afrikaner ? — Ja.
U weet natuurlik dat wat ek u nou vertel het, sommige van die doelstellings en strewes van die Kommunisteparty is? — Wat, dat die V.V.O. . . .?
Ja. — Nee, ek het dit nie geweet nie.
U het ’n ekonomiese boikot van Suid-Afrika bepleit ? — Vir ’n paar weke.
Slegs ’n paar weke ? — Ja, my beskouings het verander.
Sedert wanneer? — O, al lank gelede.
Laat ons ’n datum kry; dit is nogal belangrik. — Wel, ek sou dink die afgelope twee of drie jaar het ek tot die gevolgtrekking gekom dat ekonomiese boikotte tot nadeel eerder as die voordeel van die volk werk.
Nogal ’n hele paar mense oorsee het ook tot daardie gevolgtrekking gekom. ? —Ja.
Dit sou juis die mense raak wat u sê dat u probeer help ? — Ja.
Maar u het dit oorsee bepleit, het u nie ? — ’n Boikot van Suid-Afrika, ’n handelsboikot ? Nooit.
Nooit? — Nooit.
Geen boikot hoegenaamd nie?—-Ek het eenmaal oor die Kanadese beeldradio gepraat . . .
Ja? — Ek is gevra watter soort druk ’n verandering ten gevolge kan hê.
U geheue is heeltemal goed. Onthou u wanneer die televisie ... ? —My geheue is heeltemal goed; ek is ’n eerlike man.
Ekskuus ? — Ek is ’n eerlike man.
Ek het dit vir geen oomblik in twyfel getrek nie. — Nee, maar die insinuasie is dat my geheue by geleentheid heeltemal goed is . . .
Het u handelsboikotte in Kanada bepleit? — Nee. Ek is gevra of hierdie dinge effektief sal wees, en het ’n verklaring gedoen oor die Kanadese radio dat dit ’n baie moeilike vraag is om ’n Suid-Afrikaner te vra.
Die Staatsadvokaat het ’n afskrif van ’n televisie-onderhoud wat mnr. Paton met ene Allan Leiterman gehad het en wat op 6 Desember 1960 in Kanada uitgesaai is. Dit was kort voor die A.N.C. tot ’n beleid van geweld oorgegaan het.
Dr. Yutar (aan mnr. Paton): Het u in 1960 geweet dat daar in 1961 ’n verandering gaan kom in die beleid van die A.N.C. ? — Nee.
U het daar geen aanduiding van gehad nie ? — Nee.
Het u ooit voor 1961 geweet dat die Bantoejeug van hierdie land hul toevlug sou neem tot bloedige stryd? — Nee.
Het u nooit so gedink nie? Laat ek vir u hieruit voorlees. U het ’n onderhoud gevoer met ’n man genaamd mnr. Leiterman, onthou u? — Ja.
Hy het u gevra: "Mnr. Paton, ons is almal baie bewus van die vreeslike probleme waarmee Suid-Afrika te kampe het, en ek dink die vraag wat ons almal u graag sou wou vra, is of daar ’n uitweg is. Kan iets gedoen word om ’n gewelddadige en bloedige opstand van die Bantoebevolking te voorkom?” Herinner u u die vraag? — Ja.
Hier is u antwoord: "Wel, ek dink dat ek nie sou aanvaar dat dit absoluut onvermydelik is nie, omdat ek dink daar is moontlike, nie juis oplossings nie, maar moontlike dinge wat kan gebeur, en een sou wees dat ons natuurlik almal ’n toename in onrus en konflik in die land verwag . . . maar ons sou ook toenemende aggressiwiteit verwag van ander Afrikalande wat vasbeslote is dat hulle die toestand in Suid-Afrika nie sal duld nie. As dit sou gebeur, dan dink ek sal ’n mens ingryping van die Verenigde Volke kry wat ons ’n soort tussentydse regering kan gee. Hulle kan ’n goewerneur aanstel en daardie goewerneur sal lede van die verskillende rasse oproep om deel te neem aan die taak van die regering.” Het u dit gesê? — Ja.
Dr. Yutar: Die volgende bladsy . . . "Wel, ek glo nie dat daar tans van V.V.O.-ingryping sprake is nie. Ek dink egter u moenie die moontlikheid uitsluit dat daaroor gedink is nie.” Deur wie, mnr. Paton?
Mnr. Paton: Deur baie mense.
Deur baie mense . . . ook uself ? — Dit was ’n poging om ’n objektiewe weergawe te gee van wat die situasie in Suid-Afrika was . . .
Dr. Yutar: Ek lees verder. "Ek dink ook nie dat ’n mens die moontlikheid moet uitsluit dat sommige van die nasies sou beplan om saboteurs of terroriste in Suid-Afrika te steun nie.” Wat het u in 1960 van saboteurs en terroriste laat praat? — Dit was beslis nie kennis van planne gemaak deur enige organisasie in die land nie; dit was eenvoudig die studie van die geskiedenis, die wete dat hierdie dinge in ander lande gebeur het . . .
Ons weet dat sabotasie in die laaste helfte van 1961 uitgebreek het? — Ja.
Ek vra u weer wat u in September 1960 (toe die onderhoud opgeneem is) laat praat het van saboteurs en terroriste in Suid-Afrika. — Ek sal herhaal dat dit geen kennis was van planne gemaak deur enige organisasie nie. Dit was my opsomming van die situasie.
Dr. Yutar: Was dit ’n profetiese uitlating?
Mnr. Paton: Ek is iemand wat probeer om die waarheid te profeteer.
Ja ? — Ek maak nie daarop aanspraak dat ek altyd die waarheid kan profeteer nie.
U profesie het baie akkuraat geblyk te wees ? — Wel, hier is ’n saak waar ek duidelik die waarheid moes geprofeteer het.
Dr. Yutar: Ek het nog nie die gedeelte van u 'profesie' klaar gelees nie: ". . . sou beplan om saboteurs en terroriste in Suid-Afrika te steun nie. Dit is harde feite, maar ek dink dit sal onder die oë gesien moet word.” U stel dit nogal definitief, mnr. Paton. U word deur mnr. Leiterman gevra: "Watter besondere Afrikalande dink u sal betrokke raak in Suid-Afrika?” en u antwoord: "Wel, ek dink waarskynlik die vyandigste land teen Suid-Afrika sal Ghana wees. Of Nigerië vyandig sal word, kan ek u nie sê nie, maar Nigerië is ewe gekant teen apartheid. Ek dink dat die nuwe Kenia, wanneer hy sy onafhanklikheid kry, baie vyandig sal wees.” Is dit steeds profesieë, mnr. Paton ? — Ja.
En besonder akkuraat ? — Ek dank u vir die kompliment.
Ek probeer nie om u te komplimenteer nie . . . ek sou dit nie durf doen nie! Mnr. Paton, weet u dat hierdie state die lande is wat die saboteurs en terroriste in Suid-Afrika finansieël sowel as militêr gehelp het? — Ja.
U het dit geweet? — Ja.
Het u ooit met die leiers van hierdie lande gepraat ? — Nee.
Nooit? — Nooit.
Dr. Yutar: Nou kom ons by die boikotte. Mnr. Leiterman sê: "Dis ’n vraag van aansienlike belang vir Kanadese, en baie Kanadese vra: sou dit help indien ’n land soos Kanada Suid-Afrikaanse goedere boikot? Sou dit help in die stryd van die Bantoe?” Dan volg u antwoord: "Tensy dit met regeringsteun uitgevoer word, sal die boikotte nie eintlik ’n groot uitwerking hê nie. Die drie terreine waarop ons baie kwesbaar is, sou wees die verkoop van goud, die koop van olie en die hantering van skeepsvrag."
Mnr. Paton: Dit is heeltemal waar. Dit was my objektiewe antwoord op daardie vraag.
En u is patrioties; u noem uself ’n patriot van Suid-Afrika? U sê aan lande oorsee: "Kry jul regering se goedkeuring vir die dinge, en Suid-Afrika sal op sy knieë gebring word.” — Dis algemene kennis . . .
Dr. Yutar: Dit verbaas my net, as ek so mag sê, dat ’n Suid-Afrikaner oorsee durf gaan en dit bepleit. Nou, steeds oor die kwessie van boikotte, sê u: "Veronderstel die oliemaatskappye van die wêreld sou weier om olie aan Suid-Afrika te verkoop, dink ek dit sal die hele Suid-Afrika in ’n paar weke tot stilstand bring.” U het gehoop, mnr. Paton, dat dit sal gebeur ? — Ek het nie so gehoop nie. Dit was my objektiewe antwoord op die vrae . . .
U het gehoop, nie waar nie, dat as al die oliemaatskappye in die wêreld weier om olie aan Suid-Afrika te voorsien, Suid-Afrika binne enkele weke tot stilstand sou kom? Het u ooit daaraan gedink wat met die Bantoe in die land sal gebeur as dit sou plaasvind? — Ja.
En wat sal gebeur ? — Ek dink ek het u gesê my beskouings oor die sake het verander.
Ja, maar ek verwys na 1960, die jaar voor die A.N.C. sy nuwe beleid van geweld aanvaar het. Wat het u gedink sou gebeur met die arme Bantoes van hierdie land ? — Hulle sou heelwat gely het.
Miskien die meeste van almal? — Ja.
Dan vra mnr. Leiterman u: "Dis nou nie te sê dat u in die nag met plofstowwe sal kom om die staat ornver te werp nie” en u antwoord: "Nee, ek is nie in die uiterste posisie gedwing nie.” Onthou u dit?
Mnr. Paton: Ek aanvaar u woord.
Dr. Yutar: Moenie. Ek lees dit vir u voor.
Dr. Yutar toets die getuie oor sy antwoord op ’n ander vraag van die Kanadese omroeper. Die het gevra of mnr. Paton dit sien kom dat daar opgetree sal moet word om bloedvergieting in Suid-Afrika te voorkom. Daarop het mnr. Paton oor die beeldradio geantwoord: "Ek dink dit sal heeltemal moontlik wees in die geval van jongmense ...”
Onder dr. Yutar se kruisverhoor gee mnr. Paton toe dat jong swartes later snags uit hul huise "gesteel” en oor die landsgrense gesmokkel is om militêre opleiding te ontvang.
Dr. Yutar: Nog ’n profesie van u is bewaarheid? — Dis heeltemal reg.
Mnr. Paton getuig dat toe hy oor die Kanadese beeldradio gepraat het, hy nie sy uitlatings beskou het as subtiele aanmoediging vir die swartes van Suid-Afrika nie. Hy erken dat hy ook gesê het hy het sy geloof in die mag van oorreding verloor.
Die alternatief sou dan wees ’n beleid van geweld? wil dr. Yutar weet.
Mnr. Paton: "Dit is moontlik. Daar is ook ’n logiese alternatief, en dit is om ’n mens se hoof te buig en die situasie te aanvaar soos dit is”.
U het dit nie gedoen nie ? — Ek het dit nie gedoen nie. Ek sal nooit nie, hoop ek.
Dr. Yutar: Ek voel om dit te doen na wat u oorsee gesê het. .. mnr. Leiterman vra u ’n ander vraag: "Watter soort druk kan teweeggebring word deur diegene wat gekant is teen apartheid as beleid in Suid-Afrika?” Onthou u die vraag?—Ja.
Herinner u u antwoord ? — Nee, maar ek sal dit graag wil hoor.
Ek sal dit aan u lees. Vyf woorde: "Wel, u onthou Sharpeville.” Wat het u daarmee bedoel ?
Mnr. Paton, nadat hy self die sinsnede gelees het: Ja, ek onthou dit.
Wat het u daarmee bedoel? — Eee ... dit vervolg.
Wat het u bedoel toe u gesê het . . . — Ek het aangehaal, ek het gesê: "U onthou Sharpeville?” En dan gaan ek aan om te sê . . .
Wat het u daarmee bedoel ? — Ek het bedoel dit is ’n gebeurtenis van geweldige belang.
Wat het by Sharpeville gebeur ? — Baie mense is gedood.
Gee ons ’n bietjie meer besonderhede. — Ek weet baie mense het die polisiestasie omsingel ... Ek gee u wat . . . wat my weergawe is; dit is natuurlik op ander weergawes gegrond.
Ja? — Die mense het gedruk. Ek dink die polisie het bang geword; ek dink hulle het paniekerig geword. Ek dink hulle het begin vuur en baie mense is gedood . . .
Dr. Yutar: Weet u van dokumente in die saak voorgelê waar die beskuldigdes opstande voorstaan wat die indruk van spontaniëteit moet gee ? Hulle moes deur die land situasies skep wat tot opstande lei en wat die indruk hier en oorsee moes laat dat dit iets spontaans is, terwyl dit in werklikheid gemanipuleer is? Het u dit geweet? — Ek weet nie daarvan nie, maar ek kan dit glo.
Dit is wat deur die beskuldigdes in hierdie saak bepleit is ? — Ek wil net graag herhaal dat ek nie hierheen gekom het om die optrede van die beskuldigdes goed of af te keur nie. Ek het hierheen gekom om met die hof te praat oor genade . . .
Dr. Yutar: Ja, ek weet. Nou gaan ons voort: U sê dat u geweld nie goedkeur nie. Ek kom daarby. Mnr. Leiterman vra u: "Nou wil ek graag weet hoe naby dit is, en wanneer dit tot geweld kan oorhel?” Onthou u die vraag?—Ja.
U het gesê: "Ek sou baie verbaas wees as die Regering in 1970 aan die bewind is. Dit sou my werklik verbaas.” — Ek onthou dit.
Nou kom ek tot die laaste twee belangrike paragrawe. Mnr. Leiterman vra u: "Maar nou, u het self gesê dat die huidige regering waarskynlik nooit langs parlementêre (konstitusionele) weg ontsetel kan word nie; is so sterk dat julle hom nie uit die kussings kan lig nie. En tog sê u dit kan slegs tien jaar duur . . . Nou, dit laat my dink dat u voorsien die Suid-Afrikaanse Regering sal met onkonstitusionele middele uitgewerp word?” Onthou u hierdie vraag ? — Ja.
Mnr. Paton se antwoord op die vraag, lees dr. Yutar voor, was: "Ja, o ja. Ek dink nie daar is ’n moontlikheid dat die regering langs konstitusionele weg gelig sal word nie . . . Maar ons het reeds, dink ek, aan die begin van hierdie bespreking aan die hand gedoen dat daar twee moontlikhede is. Die een sou wees dat die V.V. ingryp en ons ’n tussentydse regering sal hê; mense van alle rasse sal genooi word om deel te neem aan die regering. Die ander moontlikheid is die een waarna u aanhou verwys, die moontlikheid van geweld en chaos.”
Dr. Yutar: Dit is ’n feit dat die V.V. tot dusver nog nie in Suid-Afrika ingegryp het nie ?
Mnr. Paton: Dit is waar.
Hulle het tot dusver nog nie ingegryp nie, selfs nie in Suidwes-Afrika nie? — Dit is so.
En ek beweer dat, in u eie woorde aan die Kanadese volk, die alternatief die moontlikheid van geweld en chaos was. — Dis heeltemal moontlik dat ’n mens so ’n mening kan hê en tegelyk nie aan geweld glo nie. Ek kan sê dat my menings nie dieselfde is as wat dit in 1960 was nie.
Sal u teruggaan en dit aan die wêreld vertel? —As ek toestemming gegee word, kan ek probeer.
U kan dit probeer. U kan dit nou sê, vanuit die getuiebank. Dit sal gepubliseer word. Ek verstaan u getuienis gaan deur die wêreld gestuur word. Dit is waarom ek u ondervra, sodat die wêreld die ware omstandighede voorgelê kan word. — Ja. Ek sou sê dat ek minder pessimisties voel as wat ek in 1960 gevoel het oor die toekoms van die land.
Hoekom sê u so ? — Wel, ek glo daar is tekens van ’n groeiende . . . ’n verandering van gesindheid in ons regeerders teenoor die Engelssprekende en nie-blankes. Ek dink dat selfs iets soos die ontwikkeling in die Transkei (hoewel ek dink dit bedrog is) ’n teken van verandering is . . .
"U het openlik teen die Regering gepraat?” vra dr. Yutar vervolgens.
Mnr. Paton: Ja, ek het.
Dit is nie verraad nie, is dit? —Ek hoop van harte nie.
Natuurlik is dit nie! —Ja, natuurlik, ek weet dit.
U het ook teen apartheid gepraat? — Ek het.
En ook dit is nie verraad nie? —Nog nie.
U dink dit sal wees? — Ek dink dit kan dit word.
U het in volkome vryheid gepraat teen die beleid wat in hierdie land gevolg word ?
"Nie volkome vryheid nie,” antwoord mnr. Paton. Hy sê dis byvoorbeeld moeilik om ’n saal te kry vir vergaderings.
Dr. Yutar: Wat noem u hierdie dade van sabotasie wat uitgevoer is in opdrag van die beskuldigdes ?
Mnr. Paton: Hulle is duidelik dade van sabotasie.
Natuurlik! En, behalwe deur die genade van God, kon u betrokke gewees het toe hulle besluit het om in ’n gebou in u provinsie Natal ’n bom te gooi ? — Ek kon betrokke gewees het.
Onskuldige kinders kon ook daar gewees het? —Ek gee dit toe.
En dit is wat die beskuldigdes beveel het, weet u, die bomgooiery in geboue ? —Ja.
Het u die bomgooiery in die Ou Sinagoge goedgekeur net omdat dit as ’n spesiale strafhof gebruik was? — Ek keur dit nie goed nie.
Keur u die bomgooiery goed op . . . ? — Ek keur geen bomgooiery goed nie.
Maar dit is gedoen ? — Dit is gedoen.
U het dit nie in 1960 voorsien nie? —Ja, ek het.
En, snaaks genoeg, die A.N.C. het in 1961 tot die nuwe beleid oorgegaan ? — U bedoel daar is ’n verband ?
Ek vra u. — Ek sou sê daar is hoegenaamd geen verband nie.
U was slegs ’n ware profeet? — Ek sou so sê.
Aan die einde van hierdie dramatiese kruisverhoor word die Staatsadvokaat gul die hand geskud. Dr. Yutar verdien die gelukwense — hy het die getuienis van iemand wie se prestige en bekendheid in buitelandse liberale kringe vir die Rivonia-beskuldigdes van groot (propaganda) waarde kan wees, totaal omgekeer.
’n Koerantkommentator het na hierdie kruisverhoor so verwys: "It was a duel between a man of law and a man of letters and it soon became obvious who was going to win. He went into the box to plead for mercy and found himself on the defensive. He left the witness box flushed and obviously angry ...”
"Ek het in die saak baie gehoor van die griewe van die nie-blanke bevolking,” begin regter Quartus de Wet sy vonnis. "Die beskuldigdes en hul advokate het aan my gesê dat die beskuldigdes almal erkende leiers van die nie-blanke bevolking is en alleen aangedryf is deur ’n begeerte om die griewe te verlig.
"Ek is geensins oortuig dat die motiewe van die beskuldigdes so onbaatsugtig was as wat hulle die hof wou laat glo nie.
"Die funksie van die hof, soos dit die funksie is van die hof in enige land, is om wet en orde te handhaaf en die wette van die land waarin dit fungeer, toe te pas.
"Die misdaad waaraan die beskuldigdes skuldig bevind is — dit is die hoofaanklag, die misdaad van sameswering — is in wese een van hoogverraad. Die Staat het besluit om die misdaad nie in daardie vorm te omskrywe nie . . .
"Met dié feit in die gedagte, en deur die saak baie ernstig te oordink, het ek besluit om nie die hoogste straf op te lê wat in ’n saak soos hierdie gewoonlik die behoorlike straf vir die misdaad sal wees nie.
"In nakoming van my plig — en dis die enigste versagting wat ek kon gee — is die vonnis in die geval van al die beskuldigdes lewenslange gevangenisstraf. In die geval van diegene wat skuldig bevind is aan meer as een aanklag, sal dit vir die doel van vonnis as een geneem word ...”
Die Rivonia-verhoor is verby!
Die Rivonia-saak is verby — maar nie sy gevolge en implikasies nie. Nie sy openbarende boodskap nie. Sy weerklank galm reg om die aarde...
En natuurlik, waar die stam uitgekap is, het baie wortels oorgebly. Die volgende paar maande lê die polisie hul daarop toe om die wortels na te speur en uit te roei.