Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Almal twyfel soms oor wat geloof werklik is, en daar sal talle definisies daarvoor wees. Maar een wat in die kol is, is die feit dat geloof eintlik beteken om te weet dat God vir jou as sy kosbare en gehoorsame kind die heel beste uiteinde vir elke saak bewerk, ongeag hoe jy graag wou hê dit moes eindig.
'BEURTKRAG' WAS NIE NODIG (1)
WAAR SUID-AFRIKA MET SY KERNPROGRAM VANDAG KON STAAN
Jeanette Koekemoer
Lees reeks by 'Beurtkrag' was nie nodig
Met dank aan dr R.A. Basson vir 'n groot deel van die inligting hierin vervat asook aan A R Newby-Fraser
"Die enigste moontlike goed wat uit die beëindiging van die Suid-Afrikaanse kernprogram voorspruit is dat 'n mens jouself op die stormagtige vaarwaters van internasionale politiek begeef wanneer jy 'n land met moderne kernontwikkeling is, en waar die res van die wêreld tans in 'n kernkookpot besig is om stoom bymekaar te maak, sal Suid-Afrika sonder sy kerntoerusting as die muishond van die wêreld beskou word en hopelik geheel en al met rus gelaat word wanneer die volgende wêreldoorlog met sy kernaangedrewe wapens spoed optel."
Oor die produksie van uraan en die voordele daarvan is daar al veel geskryf en gepraat. Dit is met leedwese dat 'n mens vandag onder die kommunistiese ANC ontbloot staan van alles wat in die vorige eeu in hierdie verband totstand gebring is. As een van die hoof-uraanprodusente van die wêreld was die Republiek van Suid-Afrika ten volle in staat om sy pad vanweë politieke redes sonder internasionale samewerking op die gebied van kernontwikkeling te stap. Ons land onder Blanke beheer sou op kerngebied vandag een van die mees toonaangewende lande ter wêreld wees. Dit is een van die redes waarom ons soveel vyande het wat ons mooi land wou inpalm en waarom die vooruitstrewende Blanke owerheid vir 'n korrupte Swart regime wat alles tot niet sou laat gaan plek moes maak. Waar Suid-Afrika vandag in 'n energiekrisis verkeer dink mens onwillekeurig hoe die vreedsame aanwending van kernenergie aan die steeds stygende vraag daarna kon voldoen het as die kernprogram nie gestaak is nie.
Die Suid-Afrikaanse Kabinet het die voorgestelde kernnavorsings- en ontwikkelingsprogram wat die Raad op Atoomkrag aan hom voorgelê het, op 5 September 1959 formeel goedgekeur. Na 'n kort twintig jaar het die vordering wat gemaak is die Republiek op gelyke voet met die meeste ontwikkelde kernlande geplaas wat betref die vredestoepassings van kernenergie. En in 'n kort twintig jaar onder Swart bewind is daar niks oor van die welslae van destyds nie.
Dat soveel sukses in so 'n kort tydperk behaal is, was 'n uiters voortreflike prestasie vir enige land met min wetenskaplikes tot sy beskikking. Die histerie waarmee die ontwikkeling van kernwapens in Suid-Afrika bejeën is kon afgeweer en aandag aan vreedsame aanwending van kernenergie gegee gewees het indien daar suiwer motiewe met Suid-Afrika was.Die enigste moontlike goed wat uit die beëindiging van die Suid-Afrikaanse kernprogram voorspruit is dat 'n mens jouself op die stormagtige vaarwaters van internasionale politiek begeef wanneer jy 'n land met moderne kernontwikkeling is, en waar die res van die wêreld tans in 'n kernkookpot besig is om stoom op te bou word Suid-Afrika tans sonder sy kerntoerusting as die muishond van die wêreld beskou en hopelik geheel en al met rus gelaat wanneer die volgende wêreldoorlog met sy kernaangedrewe wapens spoed optel.
Gesien die wêreld se behoefte aan energie uit ander brandstowwe as olie, het daar 'n rooskleurige toekoms op die uraanbedryf in Suid-Afrika gewag.
Ná 'n ondersoek wat die mynbedryf met 400 000 uraanertsmonsters uitgevoer het, het die destydse Eerste Minister, Jan Smuts in 1948 aan die Parlement verslag gedoen: "Tot ons grootste verbasing is daar vasgestel dat uraan, hierdie seldsame en ongewone stof, in bykans alle Witwatersrandse goudmyne aangetref word; en dit is later ook in boorgate in die Oranje-Vrystaat gevind."
Na hierdie aankondiging het die Suid-Afrikaanse mynbedryf sonder versuim uraanaanlegte in die Republiek opgerig, en die Kamer en die myngroepe het sedert die aanvang in 1948 ten nouste met die Suid-Afrikaanse Raad op Atoomkrag saamgewerk. Die Verenigde State en Brittanje het ook waardevolle tegniese bystand verleen, en skaars materiaal soos staal is vinnig vir die nuwe aanlegte verskaf. Die eerste uraanaanleg is in Oktober 1952 op die West Rand Consolidated-myn opgerig. Teen Maart 1955 was sestien myne gemagtig om uraan te produseer.
Toe Suid-Afrika aan die einde van die vyftigerjare die gebied van kernenergie betree kon niemand raai dat die vooruitgang wat gemaak sou word deur soveel vyande aangegryp en met kwade bedoelings teen die Republiek gebruik sou word nie. Die ontwikkelde lande van die Weste was egter gretig om advies te gee en opleiding te verskaf en 'n aansienlike getal van die kernwetenskaplikes wat Pelindaba se program gelei het, het noodsaaklike, hoogsgespesialiseerde opleiding aan universiteite en navorsingsinrigtings asook by nywerheidsorganisasies in die VSA, Brittanje, Kanada, Frankryk, Nederland, Wes-Duitsland en Skandinawië ontvang.
Reeds in Julie 1957 is 'n tweeledige tussenregeringsooreenkoms tussen Suid-Afrika en Amerika oor die burgerlike gebruik van kernenergie in Washington onderteken. Kragtens hierdie ooreenkoms het Suid-Afrika die reaktor SAFARI-1 verkry sowel as die hoogsverrykte brandstof wat periodiek op bestelling afgelewer is; in die begin op 'n verhuringsbasis en later op die grondslag van verkoop met 'n krediet vir die oorblywende ongebruikte uraan wat gedurende herprosessering herwin is. Formeel was hierdie ooreenkoms vir die volgende agt-en-twintig jaar van krag. Hierdie toestand was egter slegs akademies van aard aangesien die praktiese uitvoering daarvan teen versperrings vasgeloop het wat 'n regstreekse gevolg van politieke ideologie is.
In dieselfde maand waarin die ooreenkoms tussen Suid-Afrika en die VSA aangegaan is, het 'n tussenagentskap-samewerkingsooreenkoms tussen die Verenigde Koninkryk se Atoomenergie-owerheid en die Raad op Atoomkrag ook tot stand gekom. In hierdie ooreenkoms is 'n reeks van kernonderwerpe aangedui waaroor die Verenigde Koninkryk gewillig was om inligting te voorsien afgesien van 'n algemene uitruiling van inligting oor die vooruitgang in die twee lande se kernenergieprogramme. Die lys het die spesifikasies en eienskappe van reaktormateriale, reaktorkomponente, reaktorfisiese tegnologie, reaktoringenieurstegnologie en omgewingsveiligheidsoorwegings sowel as die produksie van swaarwater ingesluit. Weer eens egter het swaar politieke druk, regeringsveranderings en die indringing van ideologie saamgespan om die twee owerhede op die amptelike vlak van mekaar te vervreem.
Maar gedurende die jare toe hierdie twee ooreenkomste nog aktief in werking was is baie bereik, veral betreffende die basiese opleiding wat so noodsaaklik was vir die uiteindelike verwerkliking van 'n kernnywerheid in die Republiek.
In 'n ander internasionale verband was Suid-Afrika egter nie net aan die ontvangskant nie. Onmiddellik na die beëindiging van vyandelikhede in die Tweede Wêreldoorlog het die VSA 'n voorstel aan die Verenigde Volkere voorgelê. Die doel van die voorstel was die skepping van 'n kernadministrasieliggaam wat 'n wêreldwye kernnywerheid ten behoewe van alle volke sou ontwikkel en bedryf. Ook bekend as die Baruch-plan, het hierdie voorstel vanaf die begin weerstand van die kant van die Oosterse Blok ondervind en uiteindelik is die plan na twee jaar van getwis laat vaar. Vyf jaar later het president Eisenhower die aangeleentheid laat herleef deur voor te stel dat 'n internasionale agentskap totstand gebring word, 'n agentskap wat in wese as 'n kernbrandstofbank sou optree. Hierdie keer het Rusland afgewyk van die houding wat hy teenoor die Baruch-plan ingeneem het en was ten minste bereid om die voorstel te bespreek alhoewel met groot teensinnigheid. Die vordering was nie bemoedigend nie, maar die Verenigde State het volgehou met sy inisiatief en die weerspannigheid van Rusland in so 'n mate verontagsaam dat hy sy eie huishoudelike kernwetgewing verslap het en kernkennis en -materiale vir vredestoepassings aan ander lande beskikbaar gestel het nadat hy met die ander belangrike kernmoondhede en die hoofuraanprodusente, waaronder ook Suid-Afrika, oorleg gepleeg het. Die eerste konferensie van die Verenigde Volkere oor die vreedsame gebruike van kernenergie wat in Augustus 1955 plaasgevind het, het geblyk 'n keerpunt te wees, want kort daarna het Rusland toegestem om deel te neem aan die skepping van die voorgestelde Agentskap. 'n Konferensie van twaalf lande het in die eerste helfte van 1956 vier weke lank byeengekom om beslag aan die organisasie te gee. 'n Kompromisooreenkoms is in April bereik en ses maande later is die konsepstatuut aan 'n vergadering van die VVO, bestaande uit 81 lande, in New York voorgelê.
Eenstemmigheid is inderdaad bereik en kort daarna het die Statute van die Internasionale Atoomenergie-agentskap (IAEA) van krag geword, gevolg deur die eerste konferensie in Geneve. Dwarsdeur die uitgerekte onderhandelings het Suid-Afrika se verteenwoordiger, mnr Donald B Sole, 'n baie belangrike rol gespeel deur kompromisse aan te moedig en 'n noodsaaklike mate van eenheid te bewerkstellig — 'n rol waarvoor hy en Suid-Afrika by latere geleenthede baie hartlik geloof is. Op elkeen van die jaarlikse Algemene Konferensies het hy die Republiek se afvaardiging gelei en die hoë agting waarmee hy deur al die ander goewerneurs bejeën is, het erkenning gekry as 'n baie beduidende inwerking op die ontwikkeling van die IAEA.
Alhoewel die idee dat die Agentskap as 'n kernbrandstofbank sou optree, reeds in die loop van die aanvangsonderhandelings laat vaar is, is die oorspronklike begrip van 'n organisasie wat kernmateriaal sowel as toerusting sou beheer en wat sou toesien dat sodanige materiale en toerusting vir vreedsame doeleiendes aangewend word, in die Statuut opgeneem. Gevolglik was een van die belangrikste bedrywighede van die IAEA die totstandkoming en toepassing van 'n kernwaarborgstelsel. Kragtens hierdie stelsel onderneem 'n lidland om sy kerninstallasies en die kernmateriale wat hulle bevat (bv. reaktorbrandstof) aan 'n deurlopende proses van toesighouding te onderwerp. Hierdie proses behels die voorlegging van bedryfsverslae in besonderhede en van die deurvoering van in situ-inspeksies van die betrokke materiale en toerusting deur lede van die personeel van die IAEA. Langs hierdie weg kon die Agentskap verseker dat enige sodanige installasie slegs vir vredesdoeleindes aangewend word en dat niks van die kernmateriaal heimlik vir die produksie van kernplofstowwe verwerk word nie.
Suid-Afrika het byvoorbeeld sy reaktor SAFARI-1 en die brandstof wat daarin gebruik word, aan IAEA-waarborge onderwerp, die verpligte verslae op'n gereelde grondslag voorsien en etlike kere per jaar inspeksiebesoeke deur IAEA-inspekteurs toegelaat. Suid-Afrika se vrywillige aanvaarding van waarborge is geformaliseer deur die sluiting van 'n drieledige ooreenkoms tussen die Republiek, die Verenigde State van Amerika (as voorsiener van die reaktor en die brandstof) en die Internasionale Atoomenergieagentskap. Hierdie verdrag het oorspronklik in 1965 in werking getree, die jaar waarin SAFARI-1 begin werk het. Hierdie ooreenkoms is twee jaar later vervang deur 'n soortgelyke, bygewerkte weergawe daarvan wat van krag sou bly solank as wat die reaktor bedryf word.
'n Soortgelyke drieledige ooreenkoms tussen Frankryk, Suid-Afrika en die IAEA het byna tien jaar later noodsaaklik geword toe EVKOM die besluit geneem het om sy eerste kernkragsentrale te bou en om die kontrak daarvoor aan 'n Franse konsortium toegeken het. Dit is voorafgegaan deur die ondertekening van 'n tweeledige tussenregeringsooreenkoms tussen Frankryk en die RSA. Die ooreenkoms wat spesifiek op die eenhede Koeberg I en II betrekking gehad het, bevat een bepaling van besondere belang wat ook in die drieledige ooreenkoms beliggaam is. Kragtens hierdie besondere artikel moes die herprosessering van bestraalde brandstofelemente, enige verandering in vorm of inhoud van die elemente en die opberging van enige herwonne plutonium, buite Suid-Afrika onderneem word.
Hierdie twee ooreenkomste weerspreek die bewerings van opsetlik onkundige politieke woordvoerders dwarsoor die aardbol wat valslik beweer het dat die voorsiening van die Koebergkernkragsentrale aan Suid-Afrika sou bydra tot die verkryging van 'n kernwapenvermoë deur die Republiek. Soos een van die berugte individue uit die Tweede Wêreldoorlog ontdek het, is dit ongelukkig so dat hoe groter 'n leuen is, hoe makliker dit geglo word en as dit genoeg herhaal word, word dit later as die waarheid aanvaar. Dit is ook so dat die twyfelagtige moraliteit van daardie dae onder die huidige regime tans nog veel verder agteruitgegaan het en meer leuens as ooit verkondig is om die kernprogram te veroordeel.
Diplomatieke verteenwoordigers van Suid-Afrika het die voordeel gehad dat hulle ten nouste met Suid-Afrika se kernleier, dr A J A Roux, kon saamwerk. Dit was dan ook dr Roux wat in 'n groot mate die rigting en intensiteit van Suid-Afrika se internasionale kernoptrede beïnvloed het. Deur die konsekwente leiding wat hy jaar na jaar aan sy land se afvaardigings na die algemene konferensies van die IAEA verskaf het, het hy'n persoon geword wat aan al die afgevaardigdes bekend was. Deur sy persoonlike vriendskap met baie van die leiers het onderhandelings wat as onmoontlik voorgekom het, gerealiseer. Sy intuïsie en aangename persoonlikheid was vir veel van Suid-Afrika se internasionale aanvaarbaarheid op kerngebied verantwoordelik.
Die IAEA was waarskynlik die enigste wetenskaplike en tegniese liggaam van die Verenigde Volkere wat die indringing van politiek 'n lang tyd met sukses weerstaan het. 'n Aantal jare lank was daar aanduidings dat politiek sy weg na die IAEA sou vind, maar dit was eers in die vroeë sewentigerjare dat hierdie onheilspellende voortekens beduidende afmetings aangeneem het tot groot bekommernis van agentskapsbeamptes wat maar te duidelik geweet het watter rampspoedige gevolge politieke inmenging in die organisasie se aktiwiteite sou hê. Die gety het egter te sterk gevloei om gekeer te word. Gedurende die vergadering van die Raad van Goewerneurs van Junie 1976 is Suid-Afrika uitgestem uit sy setel op die Raad van Goewerneurs, 'n setel wat hy met reg byna twintig jaar gehad het op grond daarvan dat die Republiek die lidstaat was wat die gevorderdste in die tegnologie van kernenergie, insluitende die produksie van bronmateriaal, in Afrika was. Hierdie stap was geheel en al strydig met die Statuut van die Agentskap en niemand het gedink aan die nasleep wat dit vir die IAEA self sou meebring nie. In die Republiek se plek is 'n land gekies wat aanspraak op 'n mate van kernontwikkeling kon maak, maar sonder 'n inhoud wat enigsins vergelykbaar met Suid-Afrika se prestasies was.
Ambassadeur Von Schirnding het die Goewerneurs wat hierdie noodlottige vergadering bygewoon het in 'n verbitterde toespraak gestriem en die voorstanders van die voorstel daarvan beskuldig dat hulle 'n bekrompe politieke vendetta teen Suid-Afrika voer en die hele optrede as 'n lae en groteske maskerade bestempel. Dit staan bo alle twyfel verhewe dat die stemming 'n verregaande verkragting van die Statuut van die IAEA was en persone wat nog 'n waardering vir reg en regskapenheid het, sou erken dat dit 'n smet op die naam van 'n uitstaande organisasie was. Deur hierdie onwettige ontneming van sy setel, het Suid-Afrika enige geleentheid van deelname in die vorming van die beleid van die IAEA verbeur en slegs die Republiek se vyande het enige bevrediging hieruit gekry. Deur baie is leedwese uitgespreek oor die feit dat die Agentskap nie langer die voordeel van die Republiek se objektiewe, gebalanseerde en kalm standpunte sou hê nie en daar was bedenkinge oor die organisasie se toekomstige onpartydigheid, met byvoorbeeld, die toepassing van waarborge. Hierdie uitdrukking van leedwese en bedenkinge kon egter nie die harde waarheid dat die verteenwoordigers van die lande van die Vrye Wêreld op 'n lafhartige wyse voor politieke opportunisme geswig het, versag nie.
Hierdie gebeure het nietemin geen uitwerking op die Republiek se gewone lidmaatskap van die Agentskap gehad nie en aktiewe deelname in die IAEA se wetenskaplike en tegniese bedrywighede is voortgesit. Daar het selfs 'n hoër waardering vir die land se stand van vordering en 'n verskerpte drang om sy kernwetenskaplikes tot 'n groter hoogte op die professionele vlak te betrek, ontstaan. Hierdie indruk was so sterk dat die Suid-Afrikaanse residentverteenwoordiger met 'n senior Agentskapsbeampte daaroor gepraat het — 'n beampte onder wie se beheer die organisasie van gespesialiseerde tegniese vergaderings geressorteer het en 'n man wat toevallig van agter die ystergordyn gekom het. Sy verklaring was dat hy 'n gretige leser van die Raad op Atoomkrag se prestigepublikasie, Kernaktief, is wat internasionaal wyd versprei was. Hy het besef hoeveel potensiële voordeel daaruit sou spruit indien die kennis en deskundigheid van Suid-Afrikaners meer benut sou word. Dit mag nie die enigste rede wees nie, maar as in gedagte gehou word dat kerndeskundiges uit al die ontwikkelde ledestate ter beskikking van die IAEA was, is dit 'n pluimpie vir Suid-Afrika dat, klein land wat dit was, daar in die loop van een jaar nege spesifieke uitnodigings aan Suid-Afrikaanse deskundiges gestuur is om adviesgroepvergaderings by te woon. Hierdie adviesgroepe was groepe deskundiges of werkgroepe of tegniese komitees waarvan die meerderheid met uraanopsporing, -produksie en -prosessering gehandel het.
Daar is aan die vermoë van die Suid-Afrikaanse universiteitswetenskaplikes erkenning gegee deur die toekenning van 'n beduidende getal IAEA-navorsingskontrakte. Die meeste van hierdie kontrakte was op geneeskundige gebied en baie van hulle is hernu. Dit dui daarop dat die navorsing wat uitgevoer is, en waaroor verslag gedoen is, duidelik van waarde was.
As een van die hoofleweransiers van uraan en ander dienste, was Suid-Afrika in 'n sterk posisie om 'n positiewe bydrae tot twee van die werkgroepe te lewer wat oor die beskikbaarheid en die langtermynversekering van reaktorbrandstowwe gehandel het.
Later het die Raad op Atoomkrag 'n nasionale werkgroep oor afvalbestuur in die lewe geroep. Dit het ook pertinente belang gehad by gevorderde brandstofsikluskonsepte in verband met kernreaktore vir navorsing terwyl UKOR ten seerste gemoeid was met die beskikbaarheid van verryking. Die Republiek het gevolglik deelgeneem aan die bedrywighede van vyf werkgroepe wat hierdie aspekte bestudeer het.
Die Kernsperverdrag het Suid-Afrika nie onderteken nie alhoewel die Republiek as 'n verantwoordelike land dit duidelik gestel het dat hy niks sou doen wat die vermenigvuldiging van kernwapens kon aanmoedig nie.
Vervolg...