Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Gebruik jou tyd reg. Soos Job met groot ontsag aan God sê in Job 14:4: "Die mens se dae is vasgestel, U het die getal van sy jare bepaal, U het dit neergelê, en hy kan dit nie oorskry nie."
'BEURTKRAG' WAS NIE NODIG (7)
WAAR SUID-AFRIKA MET SY KERNPROGRAM VANDAG KON STAAN
Jeanette Koekemoer
Lees reeks by 'Beurtkrag' was nie nodig
Met dank aan dr R.A. Basson vir 'n groot deel van die inligting hierin vervat asook aan
A R Newby-Fraser
Die geheim word onthul
"Hierdie verklaring was die hoogtepunt van byna tien jaar intensiewe geheime navorsing wat aan die begin van die sestigerjare met die besef begin is dat die meerderheid van die toekomstige kernkragreaktore, as gevolg van die laer kapitaalkoste aan die verbruik van verrykte uraan verbonde, in alle waarskynlikheid verrykte brandstof, eerder as natuurlike uraan sou vereis."
Op Maandag 20 Julie 1970 het die ligte binne die Parlementsgebou in Kaapstad helder gebrand en sodoende die somberheid van die middel van die winter verdryf wat die sambreeldraende stadswerkers geteister het. 'n Voelbare stemming van afwagting het die Volksraadsaal deurdring waar die lede van die Parlement saamgekom het. Die gevoel was byna tasbaar, want 'n berig het versprei dat die Eerste Minister op die punt gestaan het om 'n besonder belangrike aankondiging te doen. Die verwagting was soveel sterker omdat slegs 'n handjievol van die aanwesige persone bekend was met die aard van die aankondiging wat gemaak sou word. Die eerste keer sou een van die grootste geheime van die land aan die publiek onthul word. Dit het gegaan oor 'n projek wat as 'n werklik merkwaardige wetenskaplike prestasie vir 'n klein landjie soos Suid-Afrika beskou kon word, en, nog merkwaardiger, dat nie 'n woord oor die geheime werk die ore van enigiemand buite die projek bereik het nie ten spyte daarvan dat talryke wetenskaplike en tegniese personeel sowel as nywerheidsorganisasies daarby betrokke was.
'n Stilte het oor die gewoonlik spraaksame vergadering neergesak toe die Eerste Minister, John Vorster, opgestaan het. Hy het Engels gepraat ter wille van die buitelandse besoekers en persmanne wat teenwoordig was en die nuus bekend gemaak van Suid-Afrika se uitstaande prestasie naamlik die ontwikkeling van 'n eie nuwe proses vir die verryking van uraan. Die verklaring van die Eerste Minister was van die uiterste belang vir die politiek, die wetenskap en die ekonomie en het soos volg gelui:
As gevolg van die felt dat Suid-Afrika oor omvangryke uraanbronne beskik, was een van die vernaamste oogmerke van die Raad op Atoomkrag se navorsings- en ontwikkelingsprogram wat in 1959 met goedkeuring van die regering van stapel gestuur is, om Suid-Afrikaanse uraan na 'n meer verwerkte vorm as uraankonsentraat te prosesseer. Belangrike vordering is in hierdie verband gemaak, wat dan ook van tyd tot tyd deur die Voorsitter van die Raad aangekondig is.
Dit is ook alom bekend dat 'n hele aantal lande navorsing en ontwikkeling op die gebied van uraanverryking doen, d.w.s. om uraan in wat beskou kan word as sy edelste vorm te verkry. In baie gevalle het lande dit gedoen sonder dat hulle die motivering van 'n eie produksie van uraan self, soos Suid-Afrika in 'n buitengewone mate, gehad het. Dit is daarom vanselfsprekend dat die Raad op Atoomkrag hom in die besonder sou interesseer in hierdie onderwerp en veral om twee redes:
(i) As gevolg van die toenemende vraag na uraan in die verrykte vorm is dit vanselfsprekend dat Suid-Afrika, as een van die grootste uraanproduserende lande van die wereld, dit in sy belang geag het om sy uraan in verrykte vorm te bemark;
(ii) Suid-Afrika het aan die vooraand van 'n groot kemkragprogram van sy eie gestaan.
Wetenskaplikes van die Raad op Atoomkrag het daarin geslaag om 'n nuwe proses vir uraanverryking te ontwikkel sowel as die geweldige gepaardgaande tegnologie, en hulle was nou besig met die oprigting van 'n kleinskaalse aanleg vir verryking van uraan wat op hierdie proses gebaseer is. Suid-Afrikaanse wetenskaplikes het hiermee weer eens roem vir Suid-Afrika verwerf.
Om enigsins 'n begrip te vorm van die omvang van hierdie prestasie van die wetenskaplikes van die Raad op Atoomkrag, moet genoem word dat vanweë die geweldige hoe koste van uraanverryking, slegs die V.S.A., die Verenigde Koninkryk en Frankryk in die Westerse wêreld oor sulke aanlegte beskik en dat die aanleg van Frankryk, wat die jongste toevoeging tot verrykingsaanlegte in die Weste is en heelwat kleiner is as die V.S.A.-aanlegte, ongeveer R700 miljoen gekos het (ontwikkelingskoste ingesluit). Die hoë koste lê enersyds in die ontwikkeling en toepassing van die gesofistikeerde tegnologie verbonde aan uraanverryking, wat deur diegene wat daaroor beskik streng geheim gehou word, en andersyds in die feit dat slegs in baie groot aanlegte verrykte uraan teen 'n redelike prys vervaardig kan word.
Die Suid-Afrikaanse proses, wat uniek is in sy konsep, is reeds tot die stadium ontwikkel waar dit na beraming onder Suid-Afrikaanse omstandighede in 'n grootskaalse aanleg mededingend met dié van bestaande aanlegte in die Westerse wêreld toegepas kan word. Wat egter nog belangriker is, is dat die proses nog groot moontlikhede bied vir ontwikkeling tot veel hoër doeltreffendheid. Navorsings- en ontwikkelingswerk om dit te bereik, word onverpoosd voortgesit.
Dit is ongelukkig nie moontlik om die name te noem van al die wetenskaplikes en tegnici wat 'n bydrae tot hierdie belangrike ontwikkeling gelewer het nie. Die twee wat vanaf die begin hierby betrokke was en nou nog aan die voorpunt staan, wil ek egter noem. Hulle is dr. A. J. A. Roux en dr. W. L. Grant. Dr. Roux, tans Voorsitter van die Raad, het die ontwikkeling van stapel gestuur deur sy afdelingshoofde in die vroeë sestigerjare byeen te roep en hulle te versoek om met die oog op die belangrikheid van uraanverryking vir Suid-Afrika as groot uraanprodusent, aan moontlike nuwe prosesse te dink. Een van die destydse hoofde, dr. W. L. Grant, tans Direkteur-generaal van die Raad, het die beginsel vir die nuwe proses voorgestel.
Onder dr. Roux se algemene leiding is die werk voortgesit en in sy huidige hoedanigheid van Voorsitter bestee hy nog 'n groot deel van sy tyd aan die bevordering van die projek, waarvan soveel aspekte sy persoonlike aandag verg. Dr. Grant was vanaf die begin projekleier, 'n taak wat hy met die span wetenskaplikes en tegnici wat daarby betrokke is met die grootste nougesetheid en groot sukses deurgevoer het. Hierdie twee wetenskaplikes wat reeds 22 jaar intiem saamwerk om die wetenskap in Suid-Afrika te dien en mekaar uitstekend aanvul, het deur hulle gesamentlike optrede en leiding beslag gegee aan hierdie belangrike ontwikkeling — 'n ontwikkeling wat afgesien hiervan nie suksesvol deurgevoer kon word nie as dit nie was vir die wesentlike bydrae (in sommige gevalle baie groot), onvermoeide ywer en lojaliteit van elke lid van die personeel wat hierby betrokke was nie.
Wanneer ek hierdie belangrike aankondiging doen, wil ek weer eens beklemtoon, soos so dikwels vantevore alreeds van regeringsweë gedoen is, dat Suid-Afrika se navorsings- en ontwikkelingsprogram op die gebied van kernenergie uitsluitlik toegespits is op die vreedsame toepassings daarvan. Ek moet dit weer beklemtoon, want soos ons almal weet, sal dit verkeerd vertolk word. Ek moet dus herhaal dat dit uitsluitlik op die vreedsame toepassings daarvan toegespits is.
In hierdie verband wil ek selfs verder gaan. Suid-Afrika is nie van voorneme om die groot voordele wat hierdie ontwikkeling vir die wêreldgemeenskap inhou van hom te weerhou nie. Ons is daarom bereid om met enige nie-kommunistiese land(e) wat daartoe begerig is, saam te werk in die eksploïtasie van die proses, maar onderhewig aan 'n ooreenkoms wat ons belange sal beskerm. Ek moet egter benadruk dat ons in die verdere ontwikkeling en toepassing van die proses alleen die vreedsame aanwending van kernenergie sien en beoog, want alleen dan kan dit tot ons voordeel en tot dié van die wyere gemeenskap strek.
Ek wil dit verder onomwonde stel dat Suid-Afrika bereid is om sy kernaktiwiteite aan 'n waarborgstelsel wat inspeksies insluit, te onderwerp, onderhewig aan die voorwaardes dat:
(i) hy in geen opsig beperk word om die vreedsame toepassing van kernenergie te bevorder nie;
(ii) hy nie gevaar loop dat besonderhede oor sy nuwe proses deur inspeksies kragtens die waarborgstelsel uitlek nie, en;
(iii) die genoemde inspeksiestelsel, hoewel doeltreffend, ten minste ook op 'n redelike grondslag ingestel word sodat dit nie inbreuk maak op die normale doeltreffende bedryf van die betrokke nywerhede nie.
Suid-Afrika het, soos die Raad weet, nog nie tot die kernsperverdrag toegetree nie, en hy het by verskeie geleenthede dit duidelik gestel dat hy deelname daaraan sal oorweeg sodra die waarborgstelsel waaraan dit hom sou onderwerp, bekend is. Die Internasionale Atoomenergieagentskap is tans besig om sy waarborgstelsel te ontwerp en sodra die aard en omvang daarvan bekend is, sal Suid-Afrika sy toetrede ernstig oorweeg in die lig van die voorafgaande uiteensetting.
Ten slotte wil ek noem dat nog gedurende die huidige Parlementsessie wetgewing deur die Minister van Mynwese ingedien sal word om 'n korporasie vir die verryking van uraan in te stel en om voorsiening te maak vir aangeleenthede wat daarmee in verhand staan.
Hierdie verklaring was die hoogtepunt van byna tien jaar intensiewe geheime navorsing wat aan die begin van die sestigerjare met die besef begin is dat die meerderheid van die toekomstige kernkragreaktore, as gevolg van die laer kapitaalkoste aan die verbruik van verrykte uraan verbonde, in alle waarskynlikheid verrykte brandstof, eerder as natuurlike uraan sou vereis. Gesien Suid-Afrika se oorvloedige uraanhulpbronne het die aanvaarding van hierdie voorspelling meegebring dat die moontlikheid om 'n uraanverrykingsnywerheid te vestig ten minste ondersoek moes word omdat sodanige veredeling dit moontlik sou maak om die uraan in sy mees gesofistikeerde vorm te bemark met die gepaardgaande ekonomiese voordele wat op feitlik 'n verdubbeling van die buitelandse valuta-ontvangste uit uraanverkope kon neerkom.
Vervolg...