Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Verstommend is die passiewe rol wat Adam by die sondeval gespeel het. Hy was heelwaarskynlik by Eva toe sy mislei is om die verbode vrug te eet. Hy het niks daaraan gedoen nie. Eva het minstens probeer om Satan te antwoord, maar ons hoor niks van Adam nie, net dat hy van die vrug geëet het. Hy het dus ook die keuse tussen sonde en lewe gehad.
'BEURTKRAG' WAS NIE NODIG (14)
WAAR SUID-AFRIKA MET SY KERNPROGRAM VANDAG KON STAAN
Jeanette Koekemoer
Lees reeks by 'Beurtkrag' was nie nodig
Met dank aan dr R.A. Basson vir 'n groot deel van die inligting hierin vervat asook aan
A R Newby-Fraser
"By Koeberg het die Tak ten nouste met EVKOM saamgewerk in verband met die implementering van gehalteversekeringspraktyke oor die hele spektrum van bedrywighede sover dit met veiligheid in verband gestaan het en die Tak het gereeld en nougeset die siviele en struktuuringenieurswerk op die terrein geïnspekteer. Dit is nooit meer gedoen nadat die ANC die land oorgeneem het nie en daarom sit ons vandag met die ineenstorting van ook KOEBERG... ...Dit is ook onder die voormalige blanke regering met dieselfde streng toesig in stand gehou. Hoe bejammeringswaardig is dit nie dat Suid-Afrika oppad na die kruin van Eerstewêreldstandaarde so verinneweer en afgebreek is onder die onvermoë van 'n korrupte swart regering, dat selfs KOEBERG nie in stand gehou is nie. En vandag pluk ons die verrotte vrugte van in 'n Derdewêreldland wat kragloos en kragteloos geword het."
KOEBERG (2)
Reeds voor die einde van die eerste vyf jaar van die RAK se navorsingsprogram, is besef dat wanneer kernkragsentrales en ander kerninstallasies met die vermoë om kemskade aan te rig, in bedryf sou kom, dit noodsaaklik sou wees om die een of ander aard van formele statutere beheer oor hulle uit te oefen om te verseker dat hulle nie 'n gevaar vir gesondheid of veiligheid sou skep nie. Hierdie besef het in Mei 1963 tot die Wet op Kerninstallasies (Lisensiering en Sekerheidstelling) Wet 43 van 1963, aanleiding gegee. Ingevolge die bepalings van hierdie wetgewing is die belangrikste dié wat vereis dat die Raad op Atoomkrag alle terreine met installasies moes lisensieer wat in staat is om kernskade te veroorsaak. Daarbenewens is die aanspreeklikheid van lisensiehouers vir kernskade en die voorsiening van assuransiedekking ook bepaal.
Dit het al waarskynliker geword dat die Republiek 'n kernkragprogram sou aanpak en die Raad het die eerste praktiese stappe ter uitvoering aan sy verantwoordelikhede gedoen deur 'n sending na die buiteland te stuur om die menings van gesaghebbendes in verskeie ander lande in te win; nie slegs die menings van lisensieringsowerhede nie, maar ook van nutsmaatskappye, vervaardigers, wets- en ingenieurskonsultante, ander openbare liggame en nywerheidsverenigings. Die verslag wat deur hierdie sending saamgestel is, het regstreeks tot die stigting van die RAK se Lisensieringstak in 1969 aanleiding gegee.
In die ideale geval behoort die nasionale kernreglementeringsowerheid totaal onafhanklik te wees van organisasies wat die kernnywerheid bevorder, en hierdie onafhanklikheid moes vir almal sigbaar wees. In lande waar kerninstallasies volop is, bestaan daar onafhanklike liggame vir hierdie doel. Gedagtig aan Suid-Afrika se beperkte professioneel gekwalifiseerde en ervare mannekrag, sy noodsaaklike verpligtinge betreffende talryke, groot wetenskaplike en nywerheidsprojekte, en die klein aantal kerninstallasies wat in die vooruitsig gestel is, sou dit onrealisties en verkwistend gewees het om 'n nuwe onafhanklike organisasie as openbare geregsdienaar vir die kernnywerheid te stig.
Om 'nvoorbeeld te noem: om slegs die lisensieringsvereistes van die kernkragsentrale by Koeberg en UKOR se uraanverrykingsaanleg te hanteer, vereis nie minder nie as 'n vyftigtal beamptes waarvan baie tegnies hoogs gekwalifiseerd was. Om hierdie rede is die Lisensieringstak van die Raad op Atoomkrag as 'n deel van die organisasie in die lewe geroep. Dit is nietemin geheel en al van die ander bedrywighede van die Raad geskei en het regstreeks en uitsluitlik aan die President van die Raad verslag gelewer. Dit is op sy beurt deur 'n onafhanklike nasionale liggaam, die Kernveiligheidsadvieskomitee, gelei waarvan die lede uit die akademiese, nywerheids- en openbare dienssektore getrek is en wat in hulle individuele hoedanigheid opgetree het. Hulle het die Raad van aanbevelings oor die beginsels en beleid wat vasgestel word gedien sonder dat hulleself regstreeks by die Lisensieringsproses betrokke was.
Ná die totstandkoming van die Lisensieringstak, was sy eerste taak om sy basiese benadering vas te lê wat tot die erkenning teruggevoer kon word dat geen menslike maaksel, en stellig niks so ingewikkeld soos 'n kernkragsentrale, ooit absoluut veilig gemaak kan word nie. Die ampsplig van die reglementeringsowerheid was gevolglik om te verseker dat die installasie tot 'n aanvaarbare peil veilig moet wees. Hierdie vooropstelling het gevolglik die formulering van kwantitatiewe veiligheidstandaarde, aanvaarbaar vir die samelewing ten behoewe van wie die owerheid optree, geverg sowel as die waardebepaling van installasies, gegrond op die risiko's wat hulle vir daardie samelewing meebring. So is verseker dat aan die aanvaarbare veiligheidstandaarde voldoen word.
Die besluit om hierdie benadering te aanvaar en die gevolglike omskrywing van aanvaarbare veiligheidstandaarde, was uniek in die sin dat die RAK die eerste Lisensieringsowerheid was wat hierdie weg gevolg het. Die Afdeling Standaarde van die Raad het hierdie standaarde in die vorm van 'n aanvaarbare omvang van die vrystelling van kerngevaarlike materiaal deur installasies en van die waarskynlikheid van sodanige vrystellings omskryf. Dit bevat ook die beginsels dat die risiko's deur 'n kerninstallasie veroorsaak nie die totale risiko's waaraan die publiek blootgestel is, beduidend moet verhoog nie, dat hulle gunstig met die risiko's verbonde aan ander belangrike nywerheidsondernemings moet vergelyk en dat daar vir 'n moontlike verbetering in die veiligheidstandaarde toegelaat moet word waarop die samelewing gedurende die werklewe (gewoonlik etlike dekades) van die installasie mag aandring. Om te verseker dat die installasies aan die standaarde voldoen, moet hulle aan deeglike en omvattende betroubaarheidsbepalings onderwerp word. Vir hierdie doel is die tegnieke benut wat deur die Afdeling Evaluering vasgelê is.
Installasies is ook aan 'n omvangryke gehalteversekeringsprogram onderwerp wat ontwerp, konstruksie, toekomstige bemanning, bedryf en instandhouding omvat en waarvoor die Afdeling Inspeksie verantwoordelik is. Die aard en omvang van noodprosedures wat deur alle gelisensieerdes voorgelê moet word, is 'n lisensieringsvereiste waaraan al drie afdelings besondere aandag verleen.
'n Kernterreinlisensie is ook in 1974 vir UKOR se aanvooruraanverrykingsaanleg te Valindaba uitgereik en hierdie lisensie is daarna by verskeie geleenthede gewysig om voorsiening vir ontwikkeling te maak na gelang dit plaasgevind het. By Koeberg het die Tak ten nouste met EVKOM saamgewerk in verband met die implementering van gehalteversekeringspraktyke oor die hele spektrum van bedrywighede sover dit met veiligheid in verband gestaan het en die Tak het gereeld en nougeset die siviele en struktuuringenieurswerk op die terrein geïnspekteer. Dit is nooit meer gedoen nadat die ANC die land oorgeneem het nie en daarom sit ons vandag met die ineenstorting van ook KOEBERG.
Die gehalte van die swaar onderdele soos die reaktorvate wat in Frankryk vervaardig is, is ook in besonderhede nagegaan en hierdie studie het die inspekteurs tevrede gestel dat 'n baie hoë vervaardigingstandaard gehandhaaf is. Dinamiese aanleggedrag, in geval van seismiese aktiwiteit, is ook ondersoek om sodoende die uitwerking van oppervlakgolwe, nie slegs vir seismiese aktiwiteit van die omvang wat as basis vir die ontwerp gedien het nie, maar ook vir sterker aktiwiteite, te voorspel. Hierdie studies het aangetoon dat die maksimum skade wat aan die inperking van die Koeberg-reaktore aangerig sou kon word, van 'n beperkte aard sou wees. In die geheel gesien, het die Lisensieringstak tot die gevolgtrekking gekom dat dit voorgekom het asof die Koeberg-sentrale, met die oog op lisensieerbaarheid, 'n aanvaarbare installasie sou wees.
Deur die jare het hierdie gevolgtrekking geblyk in die kol te wees en was KOEBERG-sentrale vir die Republiek 'n groot aanwins. Dit is ook onder die voormalige blanke regering met dieselfde streng toesig in stand gehou. Hoe bejammeringswaardig is dit nie dat Suid-Afrika oppad na die kruin van Eerstewêreldstandaarde so verinneweer en afgebreek is onder die onvermoë van 'n korrupte swart regering, dat selfs KOEBERG nie in stand gehou is nie. En vandag pluk ons die verrotte vrugte van in 'n Derdewêreldland wat kragloos en kragteloos geword het.
Vervolg...