Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die wonder by Bloedrivier het gebeur omdat die Voortrekkers tot God gebid en onwrikbaar geglo het dat Hy hulle sal red. “Welgeluksalig is die nasie wie se God die Here is, die volk wat Hy vir Hom as erfdeel uitgekies het” (Ps.33:12).
'BEURTKRAG' WAS NIE NODIG (17)
WAAR SUID-AFRIKA MET SY KERNPROGRAM VANDAG KON STAAN
Jeanette Koekemoer
Lees reeks by 'Beurtkrag' was nie nodig
Met dank aan dr R.A. Basson vir 'n groot deel van die inligting hierin vervat asook aan
A R Newby-Fraser
OM DIE MENIGTE TE VOED (2)
'n Kritieke punt in die ontwikkeling van die program is nou bereik en die vraag 'waarheen nou?' is deeglik ontleed. Daar is uiteindelik besluit dat die proses uitgebrei en in praktiese omstandighede uitgevoer moes word om tot 'n besluit te kom oor wanneer, waar en of 'n volskaalse bestraler gebou moes word. Die Letaba-koöperasie het ingestem om die terrein te voorsien en om die oprigting van 'n aanvooraanleg te finansier, terwyl die RAK verantwoordelikheid vir die ontwerp- en gesondheidsfisiese vereistes asook vir die voorsiening van die kobalt-60-bron aanvaar het. 'n Produksierooster waarvolgens 50 ton veselperskes gedurende die eerste seisoen kragtens dié bepalings van die tydelike klaring bestraal sou word, is opgetrek en daar is verder gehoop dat ten minste een handelsbesending vir verkoop op die oop mark na Holland gestuur sou kon word. Die aanvooraanleg is in Februarie 1977 amptelik deur dr Roux geopen wat as sy oortuiging uitgespreek het dat `hierdie gerief kondig een van die opwindendste ontwikkelinge in die toepassing van voedselbestraling aan in 'n wereld waar voedseltekorte een van die ernstigste probleme is waarvoor die mensdom vandag te staan gekom het'.
Die aanleg is onmiddellik in gebruik gestel en bestraalde veselperskes is nie slegs oor die hele land versprei nie, maar 'n besending van ongeveer 2 000 kissies is vir verkoop na Holland uitgevoer. Toe hierdie besending die Europese mark bereik was 80 % van die bestraalde veselperskes in 'n bemarkbare toestand, terwyl slegs 20 % van die kontrolevrugte verkoop kon word. Daarbenewens was die tempo van agteruitgang van die bestraalde vrugte, nadat dit vir verkoop uitgestal is, merkbaar kleiner as dié van die kontrolevrugte met die gevolg dat 'n hoë peil van aanvaarbaarheid dwarsdeur die hele bemarkingstydperk gehandhaaf kon word.
Die ondersoeke is na ander subtropiese vrugte uitgebrei en het in die geval van papajas en lietsjies goeie resultate gelewer. Die Departement van Gesondheid is weer eens genader, dié keer met betrekking tot die verkoop van beperkte hoeveelhede bestraalde papajas, avokado's en gedroogde piesangs. Kort nadat die beperkte klaring in 1977 toegestaan is, is 'n besending papajas per spoor na Kaapstad gestuur en weer eens het die uitslae getoon dat die behandelde vrugte 'n veel langer rakleeftyd as die kontrolevrugte gehad bet. Soortgelyke, hoewel minder dramatiese resultate, is ook met avokado's behaal en so is dus aangetoon dat die tegniek algemeen toepaslik was vir subtropiese vrugte wat vir óf die plaaslike óf die buitelandse mark bestem was.
Subtropiese vrugte was ook nie die enigste produk wat met voordeel bestraal kon word nie. Opwindende resultate is met aartappels, aarbeie, vrugtesap, hoendervleis en rooivleis verkry. In die geval van aartappels vertraag bestraling die sogenaamde `groenword'-proses wat plaasvind wanneer aartappels wat in plastiek verpak is aan fluoresserende ligte blootgestel word. Die behandeling vertraag ook uitspruiting, maar dit is waarskynlik met moderne Suid-Afrikaanse bemarkingspraktyk minder belangrik as groenwording.
'n Ietwat verskillende toepassing was die behandeling van hoenders om sodoende die getal bederwende mikroorganismes en patogeniese bakterieë te verminder. Hoenderkarkasse wat in normale verkoelingstoestande met heelwat hoër dosisse bestraal is as dié wat vir die behandeling van vrugte gebruik word, het 'n rakleeftyd van 14 tot 21 dae (afhangende van die dosis) gehad en was uit'n organoleptiese standpunt gesien, heeltemal aanvaarbaar. Dit kan met onbehandelde karkasse vergelyk word wat slegs twee tot vier dae in dieselfde toestande behoue gebly bet. Met 'n soortgelyke toepassing is bemoedigende resultate met rooivleis behaal waar die hoofdoelstelling lintwurmbestryding was.
Tot op hierdie stadium was die algemene publiek nog van die groot vooruitgang wat gemaak is nog van die implikasies daarvan, vir sowel die produsente as die verbruikers, bewus. Daar het wel van tyd tot tyd artikels in die tydskrifbladsye van die dagbladpers en in een of twee vaktydskrifte verskyn, maar geen huisvrou het nog enige bestraalde produk gesien, geproe of gekoop nie en dit sou nie eienaardig gewees het as baie van hulle verwag het dat die behandelde produkte 'n spookagtige gloed sou uitstraal nie! Om 'n wyer spektrum van die publiek met die voordele van voedselbestraling vertroud te maak, is toe 'n intensiewe bemarkings- en inligtingsveldtog aangepak. Die katalisator wat tot hierdie veldtog aanleiding gegee het, was die toestaan van onvoorwaardelike klarings vir ses verdere bestraalde produkte wat deur die Departement van Gesondheid toegestaan is, naamlik vir papajas, veselperskes, aarbeie, uie, knoffel en hoendervleis.
Ná 'n geselligheid waarop verteenwoordigers van die voedselbedryf, die landboubeheerrade, die verbruikersunies en die inligtingsmedia verskeie smaakvolle, bestraalde produkte kon proe, is die bemarking daarvan in vier supermarkte in die gebiede Pretoria en Johannesburg begin. Die Itadura'-stempel, op 'n embleem gegrond wat in Holland ontwikkel is om tussen bestraalde en onbestraalde voedsel te onderskei, is op 100 t aartappels, 7 t aarbeie en 5 t papajas aangebring en die bestraalde vrugte is oor 'n tydperk van drie maande verkoop. 'n Opname is van die reaksies van 'n groot hoeveelheid verbruikers gemaak. Dit het getoon dat tussen 88 % en 95 % van diegene wat een van die drie produkte geëet het, gunstig beïndruk was en in gevalle waar die produkte langer as die normale tyd gehou moes word, was die kommentaar besonder gunstig. Afgesien van die verbruikers, was die voorafverpakkers en die supermarke sigbaar beïndruk en hulle het gevra dat die bemarkingsproeflope verleng en uitgebrei moes word.
Ondertussen het belangrike internasionale ontwikkelinge die grootskaalse bemarking van Suid-Afrikaanse, bestraalde produkte binne 'n paar jaar in Europa in die vooruitsig gestel. Die gunstige klimaat was in die eerste plek te danke aan 'n besluit van 'n gesamentlike deskundige komitee van die Wêreldgesondheidorganisasie (WG0) en die Voedsel- en Landbou-organisasie (VLO) om aan te beveel dat bestraalde aartappels, koring, hoender, papajas en aarbeie as veilig vir menslike verbruik erken moet word. Vervolgens het die Codex Alimentarius-komitee oor Voedselbyvoegsels 'n konsep van 'n `Algemene Standaard vir Bestraalde Voedsel' aan die volle Codex-kommissie gestuur wat dit in April 1978 aanvaar het.
Dit het meegebring dat die 114 lidstate van Codex dan met nasionale wetgewing sou begin om die verkoop en menslike verbruik van sekere bestraalde voedselsoorte te magtig, terwyl verwag kon word dat die reeks bestraalde voedsels wat Codex toelaat, in die laaste gedeelte van 1980 vergroot sou word wanneer 'n verdere deskundige komitee van die WGO getuienis sou oorweeg oor die veiligheid van alle bestraalde voedselsoorte wat met 'n maksimum dosis van 10 kGy behandel is. As hierdie komitee in 1980 aanbeveel dat alle voedselsoorte wat met dosisse kleiner as 10 kGy behandel is, as veilig vir menslike gebruik beskou kon word, sou die kommersialisering van die proses aansienlik versnel. In die latere omstandighede waar toe slegs 'n beperkte getal kommoditeite uitgeklaar is, en waar die onderling verskillende wette van verskeie lande nie ondernemers aangemoedig het om hulleself tot die proses te verbind nie, was daar gevolglik 'n verstaanbare weifeling by handelsondernemings om die aansienlike kapitaal wat vir 'n bestralingsgerief nodig is te belê sonder dat hulle versekerings gehad het dat hulle hul bestraalde voedsel na enige geskikte buitelandse mark sou kon verskeep.
Die handelsbelangstelling het nietemin bestaan, en voorafverpakkers en supermarke het 'n sentrale gerief in die Witwatersrand-Pretoriagebied verlang waarin 'n wye verskeidenheid voedselsoorte behandel kon word, al sou dit dan slegs vir die binnelandse mark wees. 'n Aantal Suid-Afrikaanse ondernemings het gevolglik in spanning op die uitslag van die vergadering in 1980 gewag met die verwagting dat hulle hierdie opwindende en lewensbelangrike nuwe gebied sou kon betree.
Vervolg...