Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die meeste mense dink liefde is om besitlik te wees en iemand anders as joune te bestempel, maar liefde beteken juis dat 'n mens iets prysgee; jou voorkeure, gemak, doelwitte, sekuriteit, geld, energie en tyd, tot voordeel van daardie ander persoon. Ware liefde beteken nie 'n ekstatiese euforie nie maar die opoffering van baie dinge tot voordeel van die ander persoon.
KOMMENTAAR SONDER GRENSE (5)
Die SAUK... en die storie daaragter
L J Bothma
1988
Lees reeks by Die SAUK... en die storie daaragter
Magsdeling en die ekonomie
Die vrye mark-beleid
Suid-Afrika se ekonomiese stelsel was nog altyd vry binne ’n bepaalde politieke ruimte. Dit kon op sy beste as ’n gemengde kapitalistiese stelsel beskryf word, soos wat die geval in die meest Westerse lande is.
Sedert die middel-sewentigerjare het daar egter ’n oorbeklemtoning van die sogenaamde vrye mark en sy deugde in die land posgevat. Op die oog af het dit vir die man op straat gelyk na ’n welkome vaslegging en verewiging van ’n bestaande ekonomiese stelsel wat reeds buitengewoon goeie resultate opgelewer het. Dit was egter allermins die geval.
Onder apartheid was die land se ekonomiese ordening die vergestalting van die klem op die onderskeie nasionalismes, daarom dat sommiges daarna verwys het as “ekonomiese nasionalisme".
Die nuwe ekonomiese ordening wat sedertdien ontwikkel het, is in absolute teenstelling daarmee ’n “ekonomiese demokrasie” met die klem op individuele vryhede soos die PFP dit beskryf. Dit kom onder meer ook neer op staatsonttrekking uit die ekonomie, soos inderdaad gesuggereer deur dr A D Wassenaar in sy boek Assault on private enterprise. Die implikasie hiervan is verreikend. Die nuwe arbeidsbedeling het dit reeds uitgewys. Dit is vervolgens nodig om die breë ontplooiing van die vrye mark-beleid met al sy gepaardgaande gevolge na die oppervlak te bring.
Ter aanvang is dit interessant om daarop te wys dat, net soos wat die nuwe arbeidsbedeling vanuit veral Brittanje geïnisieer is, dit ook waarskynlik die geval met die vrye mark en sy gepaardgaande idee van staatsonttrekking was. Op 14 Junie 1979 het die SAUK berig dat Suid-Afrika en Brittanje aan die voorpunt is “om nuwe lewe te blaas in die vrye ondernemingstelsel”. Daar is genoem dat dit ’n “duidelike enersdenkendheid” in die ekonomiese filosofieë van die twee lande is. Dit is betekenisvol dat die Britse Arbeidersparty sterk beswaar teen hierdie nuwe rigting van die Thatcher-regering gemaak het. Hul argument was dat dit die groot sakelui ten goede sou kom.
Dit is ook betekenisvol om daarop te let dat Suid-Afrika nou onder die Botha-regering ook dieselfde politieke filosofie as die Britte het. Toe die vrye mark-beleid aangeneem is, is daar afwysend na Brittanje se binnelandse beleid van rassegelykstelling verwys as die mislukte “smeltpot-teorie". Dit verg min insig om in te sien dat Suid-Afrika besig is om spoedig in dieselfde smeltpot te verander.
Daar is maar alte goed besef dat die vrye mark Suid-Afrika op die pad van uiteindelike swart oorheersing sou plaas. Daarom is dit nie snaaks dat die internasionale gemeenskap 1 Julie tot “Vrye mark-dag” verklaar het nie. Die ondervinding het lankal geleer dat al hierdie internasionaal geinisieerde “dae” en “jare” daarop gemik is om die aandag op Suid-Afrika se binnelandse beleid te fokus. Sommige is openlik en die vyandigheid daarvan is duidelik sigbaar, soos byvoorbeeld die geval met Menseregtedag is. Ander, soos Vryemark-dag, is een van die subtielste en onsigbaarste aanslae teen die land. Dit was skokkend dat die SAUK dit op 2 Julie 1982 aan die publiek as ’n seen vir die Suid-Afrikaanse samelewing voorgestel het. Kommentaar is met die volgende opmerking afgesluit: “Dit is die gees waarin Vryemarkdag herdenk moet word; en dit is nerens nodiger as in Suid-Afrika nie, waar die stelsel van vrye onderneming die onmisbare agent moet wees vir die skepping van ’n nuwe ekonomiese en maatskaplike toekoms. " Daar kon net sowel "politieke toekoms" ook bygevoeg gewees het. Die SAUK het egter ’n paar jaar later op 14 Mei 1985 die aap uit die mou gelaat toe die uiteindelike gevolge van die vryemark-beheptheid soos volg uitgelig is: “Suid-Afrika het in die afgelope jare ingrypende sosio-ekonomiese ontwikkelinge ondergaan. Dit het verreikende veranderinge veroorsaak in tradisionele verhoudinge tussen verskillende groepe van die bevolking. En dit veroorsaak dat die land te make het met ’n besondere grondwetlike uitdaging.” Dit beteken eenvoudig dat die politiek hom nou ook by die vrye mark moet aanpas en swartes volgens dieselfde grondslag as in die ekonomie moet akkommodeer. Daarom dat Suid-Afrika eers ’n nuwe ekonomiese bedeling gekry het en toe daarna ’n nuwe politieke bedeling (1983-grondwet). Nou het die eise vanuit die ekonomie so groot geword dat daar al weer ’n nuwe politieke bedeling moet kom.
Die aandrang op die vrye mark was van meet af aan vanuit die geledere van die linkse politici en sakelui. Ten einde hulle aanslag te konsolideer, is in 1975 kragte saamgesnoer met die totstandkoming van die Vryemarkstigting. Die ondervinding het ewe-neens geleer dat organisasies met die woord “stigting” in hul name feitlik deur die bank linkse organisasies is. Dink maar aan die Suid-Afrika-stigting, die Stedelike Stigting en die Landelike Stigting. Die Vryemarkstigting is geen uitsondering nie. Onder die beskermhere is dr Anton Rupert, dr Fred du Plessis, mnr Harry Oppenheimer, mnr Mike Rosholt, mnr Dick Goss en dr Frans Cronje. Bekendes in die direksie is mnr Colin Adcock, dr Chris van Wyk, dr Andreas Wassenaar, prof Jan Lombard en prof Geert de Wet . Dit is ook betekenisvol dat dr Gerhard de Kock, dr Simon rand en die Broederbond-baas, prof J P de Lange, ook onder die beskermhere tel.
Die Vryemarkstigting is aangele om as ’n uiters subtiele en onopsigtelike kanaal te dien om die linkse politiek tot in die parlement in te dra. Op 7 April 1985 het Sake-Rapport die volgende betekenisvolle opmerkings oor die stigting gemaak: “Die stigting het geleidelik en stilweg dalk een van die invloedrykste ekonomiese drukgroepe in die land geword. Die bedrywighede van die Vryemarkstigting is in groot mate onbekend weens die lae openbare profiel wat gehandhaaf word. Van die stigting se belangrikste prestasies is waarskynlik nooit regstreeks aan hom toegedig nie. Toe werksaamhede in 1975 begin is, is heelparty van die sake wat die stigting bepleit het, as radikaal beskou. Die afskaffing van valutabeheer op nie-inwoners is een so ’n saak. Die stigting is nie pro- of anti-regering nie, maar teen inmenging van die regering in die ekonomie.” Die laaste opmerking is natuurlik maar net om die sluier so dig as moontlik oor die stigting se oogmerke te hou.
Feit van die saak is dat die meeste lede van die Vryemarkstigting ook lede is van die ander stigtings waarna reeds verwys is. Soos die betrokke uitgawe van Sake-Rapport dit inderdaad gestel het: "Die Vryemarkstigting se lede en beskermhere lees nou soos ’n Who’s Who in Suid-Afrika." Bykans al die groot maatskappye en groepe is lede van die stigting. Verskeie verteenwoordigende liggame soos die Vakbondraad van Suid-Afrika, Assocom, die AHI, NAFCOC en die Verbruikerstigting is almal in die direksie verteenwoordig. Hierdie groepe se politieke sentimente is oorbekend. Indien hulle ’n greep op die Suid-Afrikaanse ekonomie kon kry, sou hulle ook die gang van die politiek kon beïnvloed.
Die Carlton-beraad – vervolg...