Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Elkeen wat die oorwinning behaal, sal sulke wit klere dra. Ek sal nooit sy naam uit die Boek van die lewe uithaal nie en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat hy aan My behoort. (Openbaring 3:5)
KOMMENTAAR SONDER GRENSE (9)
Die SAUK... en die storie daaragter
L J Bothma
1988
Lees reeks by Die SAUK... en die storie daaragter
Sanksies, boikotte en disinvestering
Dit is die gebruik dat die dinge wat die land werklik die seerste kan maak, die minste publisiteit geniet. Een hiervan is die reeds vermelde skuldkrisis. Daarteenoor word dit wat nie juis ’n primêre bedreiging is nie, oorbeklemtoon. Die beste voorbeeld hiervan is sanksies, boikotte en disinvestering.
Die land leef al sedert die sestigerjare met hierdie dreigemente saam. Dit is geensins nuut nie. Reeds in 1968 was disinvestering al ter sprake toe pres Lyndon Johnson alle regstreekse Amerikaanse beleggings in Suid-Afrika bevries het. Dit is ook sedertdaardie tyd gebruiklik dat die WO jaarliks sanksies en boikotteteen die land bepleit ten einde hom te dwing om sy binnelandse beleid te verander.
Die kanse dat die land se vyande enige sukses op hierdie wyse kan behaal, was van meet af aan deur deskundiges bevraagteken. Reeds in 1966 het drie onafhanklike deskundiges op die futiliteit van sanksies teen Suid-Afrika gewys. In 1977 het die redakteurvan die tydskrif Time na 'n lang ondersoek tot dieselfde gevolgtrekking gekom. Hy het veral twee redes hiervoor aangevoer.
Eerstens handhaaf Suid-Afrika ’n groot mate van selfvoorsiening en tweedens is daar te veel lande wat sanksies sal verontagsaam.Om die waarheid te sê, daar is dosyne voorbeelde om te bewys dat sanksieveldtogte nooit geslaagd is nie.
Hierdie realiteite het tot gevolg dat die sanksie- en disinvesteringsveldtog nog altyd op ’n halfhartige wyse gevoer is. Dit gaan eintlik meer daaroor dat die dreigement volgehou moet word, as wat dit gaan oor die praktiese toepassing van dit wat in die vergadersale van die WO besluit word. In die verlede was Suid-Afrika ’n te aantreklike beleggingsveld om te ignoreer. So byvoorbeeld het mnr Stephen Mulholland in 1972 daarop gewys dat Amerikaanse beleggings in Suid-Afrika in die voorafgaande dekade 'n opbrengs van gemiddeld 17 persent getoon het, teenoor die Amerikaanse gemiddelde vir die res van die wêreld van slegs 12.2persent. Op 15 Februarie 1973 was die SAUK se kommentaar:
“Oormatige buitelandse investering in Suid-Afrika.” Solank as wat hul winste gewaarborg is, sal die buitelandse belegger in Suid- Afrika belê." Onder die opskrif. "’n Magneet vir buitelandse geld", het die SAUK op 28 Junie 1979 hierdie feit gestel deur op te merk:
"Die stelsel van vrye onderneming is ’n groot lokaas vir produktiewe geld uit die buiteland. ” In 1982 het die BERI-instituut aan die Delaware-Universiteit in die VSA bevind dat Suid-Afrika die elfde beste beleggingsveld ter wêreld is, bo lande soos Brittanje en Frankryk (in 1979 was die land twintigste). Twee van die vernaamste redes wat hiervoor aangevoer is, is die groeiende swart mark en die regering se sogenaamde klem op ondernemingsvryheid. In 1983 het die BERI-instituut Suid-Afrika agtste geplaas in die wêreld wat ekonomiese potensiaal betref en sewende as buitelandse beleggingsveld.
Die Amerikaanse regering het hom by uitstek bewys as ’n halfhartige wanneer dit by die toepassing van sanksies kom. Reeds gedurende die Rhodesiese kwessie het die Byrd-amendement hom in staat gestel om ondanks die sanksieveldtog voort te gaan om Rhodesiese chroom te koop. Die jongste besluit van die Amerikaanse regering om ’n paar strategiese minerale van sy sanksie-pakket teen Suid-Afrika uit te sluit, was dus geensins verrassend nie.
As dit waar is dat hierdie veldtog min kanse op sukses het, dan bly die vraag nog steeds hoekom daar soveel publisiteit deur die aan die hele aangeleentheid gegee word. Die redes hiervoor het egter met verloop van tyd stuk-stuk na die oppervlakte gekom.
Daar is reeds vermeld dat dit meer oor die dreigement as die praktiese toepassing van die veldtog self gaan. Dit is in 1978 deur die SAUK self bevestig toe gesê is dat “. . . die dreigement van sanksies sedert 1976 die belangrikste diplomatieke instrument was wat deur die Weste gebruik is in sy pogings om die Republiek se binnelandse en buitelandse beleid te verander’ ’. Die dreigement as sodanig kan egter niks bereik nie. Dit is Suid-Afrika se reaksie op die dreigement wat bepaal in welke mate daar in die doel self geslaag word of nie.
Soos in so baie ander gevalle was die Suid-Afrikaanse regering se diagnose van die aanslag korrek, maar sy reaksie was een van swakheid. Die publiek is gou wysgemaak dat die dreigement sal verdwyn indien die Republiek sy binnelandse beleid verander. In 1977 het die besturende direkteur van Santam-Internasionaal, dr Smit, hierdie standpunt ingeneem. Die SAUK se onmiddellikemreaksie was dat daar binnelands spoedig “gewerk” moes word en as voorbeeld is die beoogde nuwe grondwetlike bedeling genoem. Dit het egter baie gou duidelik geword dat hoe meer toegewings gemaak word, hoe groter die druk word. Die SAUK het op 20 April 1981 hierop gereageer en gesê: ‘ ‘Dit het tyd geword om die sanksie-klug te ontmasker, en om te besef wat dit in werklikheid is: ’n algeheel ontoepaslike kwessie in die Suid-Afrikaanse politiek. Die land kan nie bekostig om geïntimideer te word nie — in watter geringe mate ook al — deur dreigemente van sanksies wat oor die jare die belangrikste instrument was van regerings en instellings wat probeer het om Suid-Afrika te dwing om sekere beleidsrigtings wat hulle voorgeskryf het toe te pas.” Daar is voorts verwys na ’n verslag deur die WO se Ekonomiese Komitee vir Afrika waarin vermeld is dat algehele sanksies teen Suid-Afrika bloot ’n akademiese aangeleentheid is. Internasionale gevestigde belange sal nie so iets toelaat nie, is gesê. Tog het Suid-Afrika voortgegaan om daardie veranderinge aan te bring wat die buiteland wil sien. Die SAUK het net die aksent verander en gesê daar moet voortgegaan word met die hervormings, nie in reaksie op die dreigemente nie, maar glo soos bepaal deur die "binnelandse omstandighede". Daar deur is die publiek gerus gestel dat daar glo nie aan die dreigemente toegegee word nie, en die buiteland is tevrede gestel dat die hervormings voortgaan in die voorgeskrewe rigting. Feit van die saak is dat die dreigemente die verlangde uitwerking het en daarom die volgehoue publisiteit daarna.
In die tweede instansie word die veldtog ook op kundige wyse deur die Suid-Afrikaanse regering self gebruik om sy gewildheid te handhaaf ten spyte van sy hervormingsprogram. Deur die veldtog aanhoudend te beklemtoon en op moontlike gevare te wys, word die idee van ’n internasionale aanslag teen die land en sy regering by die publiek gevestig. In hierdie verband het ’n komitee van die Europese parlement in 1982 by wyse van ’n uitgebreide studie bevind dat mense hulle om hul leiers skaar wanneer hul land die teiken van ’n internasionale aanslag gemaak word. Hierdie verskynsel word deeglik deur die NP-regering gebruik om hom in staat te stel om in die kussings te bly. In die 1977-algemene verkiesing is daar letterlik van die sanksie-kwessie ’n politieke strydpunt gemaak en die Vorster-regering het amptelik aan die kiesers gevra om hom te steun teen die druk vanuit die buiteland. Vandag, tien jaar later, sien ons ’n identiese herhaling van die metodiek van die 77-verkiesing. Dit ly geen twyfel nie, die NP-regering benut die druk tot sy eie voordeel en daarom beklemtoon die regeringsgesinde media die hele aangeleentheid buite verhouding.
Dit is nie al rede hoekom dit vir die regering belangrik is omm die debat oor sanksies, boikotte en disinvestering lewendig te hou nie. Noudat sy hervormingsprogram so ver gevorder het dat die volgende stap die opname van swartes in die parlement moet wees, is dit belangrik om na die onderhandelingstafel te gaan met sogenaamde "gematigde swartes". Om geskikte swart leiers wat die nodige internasionale aanvaarbaarheid geniet en terselfdertyd ook vir die blanke bevolking aanvaarbaar is, te identifiseer, is natuurlik ’n groot kopseer. Swart leiers is bykans sonder uitsondering ten gunste van die opheffing van die verbod op die ANC en die vrylating van politieke gevangenes. Daar is van sogenaamde gematigdheid haas geen sprake nie. Daarom moet die regering met behulp van die media en fyn taktiek ’n beeld van "gematigdheid” om sekere uitgesoekte swart leiers bou. Die een leier wat by uitstek in hierdie rol betrek is, is kaptein Buthelezi van die Zoeloes.
Dit is 'n feit dat sanksies en disinvestering die swart bevolking in Suider-Afrika die swaarste sal tref. Dit is ook oorbekend dat kaptein Buthelezi om die rede teen die gebruik daarvan is om Suid-Afrika se binnelandse beleid te verander. Dit op sigself het alreeds aan hom ’n beeld van gematigdheid by die blankes gevestig. Om kaptein Buthelezi verder by die blankes te krediteer, het die media hom opgestel teenoor iemand soos biskop Tutu wat 'n sterk voorstander van sanksies en die onttrekking van beleggings is. Daarin lê natuurlik die verklaring vir die regering se huiwering om biskop Tutu stil te maak. Solank hy vry is om die regering op die grofste moontlike wyse te beledig, kan kaptein Buthelezi se beeld van “gematigdheid” opgebou word.
Voorts is kaptein Buthelezi ook die voorste vegter teen die buitelandse drukgroepe wat sanksies en disinvestering bepleit. Voor die aanvang van sen Edward Kennedy se besoek in Januarie 1985, het die media letterlik uit hul pad gegaan om die publiek bewus te maak van disinvestering. Toe die senator hier opdaag en sy verwagte uitsprake oor disinvestering maak, het die media ingespring en kaptein Buthelezi ingespan om hom toe te takel. Die Kennedy-besoek was blykbaar ’n fyn uitgewerkte set, vandaar die gewilligheid van die Suid-Afrikaanse regering om hom hier toe te laat.
So byvoorbeeld het die SAUK se Kommentaar dit op 14 Januarie 1985 uitgestraal met hierdie opskrif: “Vrugte van die Kennedy-toer”. Die SAUK het al wat linkse is aangehaal om Kennedy te veroordeel. Daar is op die ou end die volgende opmerking toegevoeg: "Van Azapo aan die ver-linkse kant en dwarsoor die politieke spektrum, het die gegriefdheid toegeneem met buitelanders wat inmeng in die land se politieke vraagstukke.”
Die debat word inderdaad met vrug ingespan om sekere linkses tot gematigdheid om te tower, natuurlik omdat die regering se rigting van aanmars links is. Die SAUK het selfs sover gegaan om op 22 Oktober 1984 een van die land se bekendste liberale denkers en kritici van regeringsbeleid, Alan Paton, teenoor biskop Tutu se standpunt op te stel. Daarteenoor is dit opvallend dat geen regse ooit deur die SAUK aangehaal of ondervra word oor sy standpunt oor die aangeleentheid nie. Die vrees bestaan dat die aap dan uit die mou gelaat sal word.
Voorts word die debat natuurlik ook lewendig gehou ten einde die Amerikaanse beleid van "konstruktiewe betrokkenheid" makliker aan die Suid-Afrikaanse publiek te verkoop. Die Reagan-regering is in beginsel teen sanksies en die onttrekking van beleggings uit Suid-Afrika gekant, natuurlik om sakeredes, en nie omdat hy ’n ondersteuner van apartheid is nie. Mnr Frank Wisner het byvoorbeeld in 1983 gesê die Verenigde State het lewensbelangrike belange in Suid- en Suider-Afrika en strafmaatreëls teen Suid-Afrika sal ’n nadelige uitwerking op hierdie belange hê. Daarom dan ook die Amerikaanse Kamer van Koophandel se standpunt teen ekonomiese boikot-aksies waarna reeds verwys is.
Teenoor die Reagan-regering se standpunt is die Demokrate onder leiding van mense soos mnr Stephen Solarz, wat sanksies en disinvestering propageer ten einde Suid-Afrika te dwing om sy beleid te verander. Die pro-regeringsmedia in Suid-Afrika skep die indruk dat die twee groepe twee teenpole van mekaar is. Pres Reagan is tot ’n martelaarsfiguur in die Amerikaanse Kongres verhef vir sy pogings om sanksie-wetgewing teen Suid-Afrika te keer. Tog is hy ’n uitgesproke teenstander van apartheid en sy beleid van “konstruktiewe betrokkenheid’’ spel dit in die duidelikste terme uit. Daar is geen verskil tussen die uiteindelike doelwitte van pres Reagan en die Demokrate nie. Hulle metodes om die gemeenskaplike doel te bereik, verskil net. Pres Reagan wil die doel sonder sanksies bereik en sy opposisie wil dit met sanksies bereik. Na jare van blootstelling aan die sanksiedebat word alles en almal wat anti-sanksie is egter met ope arms deur die Suid-Afrikaanse publiek ontvang. Derhalwe die gewildheid van pres Reagan. Inderwaarheid het die sanksie-aangeleentheid vir hom en sy administrasie die nodige ruimte geskep om op die mees subtiele manier denkbaar Suid-Afrika se beleid voor te skryf. Die media het in werklikheid die aksent vanaf die slegste deel van konstruktiewe betrokkenheid, naamlik die aandrang op swart meerderheidsregering, na die beste deel van konstruktiewe betrokkenheid, naamlik die teenkanting teen strafmaatreëls, verplaas.
Die debat het vroeg in 1984 ’n nuwe dimensie gekry toe 'n voorstel vanuit linkse kringe gekom het dat Suid-Afrikaners ons saak by die Amerikaanse publiek moet tuisbring ten einde die druk te verlig. Daar is gesê ons moet ons vriende in die buiteland die nodige skietgoed gee om Suid-Afrika se saak te verdedig. Dit sal naïef wees om te dink dat enige van ons sogenaamde vriende apartheid in die internasionale gemeenskap sal verdedig. Die skietgoed wat hulle inderdaad wil hê om mee te veg is nog toegewings en nog wette wat geskrap word. Die SAUK het dit op 21 Mei 1985 baie mooi verduidelik deur te sê: "Daar kan geen verslapping wees van die pas waarteen op die ingeslane weg beweeg word nie . . . vordering sal die hand aansienlik versterk van diegene wat Suid-Afrika goedgesind is en bereid is om namens hom op te tree teen die radikale magte. " Per implikasie beteken hierdie soort van argument eintlik dat die blankes verder moet kapituleer en dan in die buiteland gaan rapporteer hoe ver die kapitulasie gevorder het.
Al hierdie pogings het net eenvoudig die druk op die land verder verhoog en ons sogenaamde vriende het nou die kanale geword waarlangs die buiteland sy saak in Suid-Afrika kom stel. Die land se huishoudelike sake is nou ’n internasionale aangeleentheid, in plaas van ’n interne saak. Op die koop toe het die Amerikaanse regering nou amptelik selektiewe strafmaatreëls teen die land ingestel.
Die NP-regering moet die skuld hiervoor kry. Deur sy onderdeurdagte optrede is die dreigemente van ons vyande nou in sukses omskep. Deur van meet af aan te doen soos die buiteland gevra het, het hierdie regering die groen lig vir verdere druk gegee. Die veldtog was heeltemal tereg bloot van akademiese belang. Nou het dit so ’n momentum opgebou dat die einste Botha-regering dit as ’n hulpmiddel moet aanwend om sy beloofde hervormings vol te hou.
Dit is nader aan die waarheid om te se dat die grootste sanksie wat die Suid-Afrikaanse ekonomie ooit kon tref die Vorster- en Botha-regerings was. Onder leiding en toesig van hierdie twee regerings is die grootste disinvesteringsveldtog denkbaar aangepak, naamlik die uitskakeling van die loongaping en die gevolglike beleid om gelyke geleenthede te skep.
Quo vadis? – vervolg...