Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die beste ding wat Jonathan vir Dawid kon doen, was om doodeenvoudig net sy vriend te wees. Dawid het geweet dat Jonathan vir hom omgee en dit was voldoende beloning. Hy wou geen verdere beloning hê nie. Dis mos wat ’n vriendskap goddelik maak.
DIE SONDE VAN TROTSHEID
Hannes Ollewagen
Spr. 6:1-19
“Hierdie ses dinge haat die HERE, en sewe is vir sy siel ’n gruwel: trotse oë, ’n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet, ’n hart wat onheilsplanne beraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop, een wat as valse getuie leuens uitstrooi en tussen broers tweedrag saai.” (:16-19).
Wanneer die Here vir ons hier pertinent sewe dinge uitlig wat vir Hom ’n gruwel is, is die eerste op die lys die gruwel van trotsheid. Hierdie is beslis ’n onkruid wat Satan graag in ons lewens wil saai en waarteen gelowige kinders van God gedurig moet waak. Hierdie onkruid wat bo-oor die goeie vrugte in ons lewens sal groei en dit sal verstik.
Trotsheid is veel erger as net ’n slegte karaktereienskap. Trotsheid is iets wat ons verhouding met God ernstig vertroebel. ’n Man wat dit baie goed verstaan het, was koning Dawid. Hierdie man was nie sondeloos nie, maar hy het in ’n baie besondere verhouding met God geleef. “En nadat Hy hom afgesit het, het Hy Dawid vir hulle verhef as koning, van wie Hy ook gesê en getuig het: Ek het Dawid, die seun van Ísai, gevind, ’n man na my hart, wat al my welbehae sal doen.” (Hand. 13:22). Dawid was ook nie trots nie. “...o HERE, my hart is nie hoog en my oë nie trots nie; ook wandel ek nie in dinge wat vir my te groot en te wonderbaar is nie. Waarlik, ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak; soos ’n gespeende kind by sy moeder, soos ’n gespeende kind is my siel in my.” (Ps. 131:1&2). En daarom het hy nie alleen sy vertroue op God gestel nie, maar kon hy ook sy eie sonde insien en dit met opregtheid bely wanneer hy daaroor aangespreek is. Hy het besef hoe afhanklik hy van God se genade was. Luister na die woorde uit Ps. 51. “Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid. Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde. Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my. Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou.” (Ps. 51:3-6).
Ons sien ook uit Ps. 101 dat Dawid self ’n groot afkeur aan trotsheid gehad het, natuurlik in die wete van hoe verwerplik dit in God se oë is. “’n Verkeerde van hart moet ver van my af bly; wat kwaad is, wil ek nie ken nie. Hy wat heimlik van sy naaste kwaad spreek, hom sal ek vernietig; hy wat hoog van oë is en trots van hart, hom verdra ek nie.” (Ps. 101:4&5). En by meer as een geleentheid bid hy tot God om die goddelose, trotse mense te vernietig. “Sonde van hulle mond is die woord van hulle lippe; laat hulle dan gevang word in hul trots, en vanweë die vloek en die leuen wat hulle vertel. Vernietig hulle in grimmigheid, vernietig hulle, sodat hulle daar nie meer is nie; en laat hulle weet dat God heers in Jakob, tot by die eindes van die aarde! Sela.” (Ps. 59:13&14).
Die dodelike angel van trots is seker nie alleen dat dit ons tot verwaandheid bring om te glo dat ons na hartelus kan handel en God se gebooie oortree en Hom daardeur beledig nie, maar dat dit ons daarvan weerhou om ons verkeerde optrede te erken en voor God te bely. Dit weerhou ons daarvan om ons afhanklikheid van sy genade te besef en te bely. En dit is waarom dit die mens se verhouding met God so ernstig vertroebel. Ons neem as ’n voorbeeld koning Agab wat in sy trotsheid homself ontsettend erg teen God misgaan het. En tog het God aan hierdie man ook barmhartigheid bewys omdat hy hom nie in trotsheid teen God versit het toe Elia God se oordeel oor hom uitgespreek het nie. “Waarlik, daar was niemand soos Agab wat homself verkoop het om te doen wat verkeerd is in die oë van die HERE nie, omdat sy vrou Isébel hom verlei het. En hy het baie afskuwelik gehandel deur agter die drekgode aan te loop net soos die Amoriete gedoen het wat die HERE voor die kinders van Israel uit verdrywe het. En toe Agab hierdie woorde hoor, het hy sy klere geskeur en ’n roukleed om sy lyf gebind en gevas; hy het ook met die roukleed geslaap en stadig rondgeloop. Toe kom die woord van die HERE tot Elía, die Tisbiet, en sê: Het jy gesien dat Agab hom voor my aangesig verneder het? Omdat hy hom voor my aangesig verneder het, sal Ek die onheil in sy dae nie bring nie; in die dae van sy seun sal Ek die onheil oor sy huis bring.” (1 Kon. 21:25-29). Ek dink nie dat die Fariseërs so verskriklik soos Agab te kere gegaan het in hul goddelose optrede nie, maar tog was daar nie vriendskap tussen hulle en God nie. In hul trotsheid kon hulle nie sien dat hulle van sy genade afhanklik is nie, want hulle was in hul eie oë reeds regverdig. En daarom het hulle onversoend met God gebly. “Jesus antwoord hulle: As julle blind was, sou julle geen sonde hê nie; maar nou sê julle: Ons sien! Daarom bly julle sonde.” (Joh. 9:41). Hulle trots was die rede dat daar nie tussen hulle en God versoening kon wees nie en hul in vyandskap met Hom gebly het.
Laat ons onsself met die rein kleed van ootmoed beklee en gedurig waak teen die onkruid van trotsheid wat die bose in ons lewe sal wil saai om ons verhouding met God te vertroebel.
“Net so moet julle, jongeres, aan die oueres onderdanig wees; en wees almal met ootmoed bekleed in onderdanigheid aan mekaar, want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” (1 Pet. 5:5).