Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar sál weer 'n Nuwe-nuwe Suid-Afrika met 'n Christen-regering kom; hou vas aan hierdie belofte: "Hulle kom in die skande, omdat hulle gruwel bedryf het, tog skaam hulle hul nie in die minste nie en weet nie om te bloos nie. Daarom sal hulle val onder dié wat val; in die tyd van hulle besoeking sal hulle struikel, sê die HERE" – Jeremia 8:12.
DIE WAARHEID MAAK VRY
HISTORIESE ERFENISPROJEK
VERSLAG OOR PRETORIA-BESOEK
Dit is vir ons aangenaam om aan al ons ondersteuners en ander belangstellendes in ons historiese erfenisprojek verslag te doen oor die bekendstellingsaksie wat Suidland Media aan die begin van September in Pretoria geloods het.
Die doel van ons besoek was om die projek, wat die oorsetting van historiese films en klankbande op DVD en CD behels, aan volksgenote in die Transvaal bekend te stel. Gedurende die besoek van drie dae aan Pretoria is gesprekke gevoer met ‘n groot aantal instansies en individue wat op verskeie terreine by die bewaring en uitbouing van ons volk se historiese erfenis betrokke is. Die doel van die besoek was om die projek aan hulle te verduidelik en die materiaal te vertoon. Daar was deurgaans groot ingenomenheid daarmee en opgewondenheid daaroor en verskeie instansies en individue het hulle verbind tot die bevordering en verdere bekendstelling van die projek.
HOOGTEPUNT
Die hoogtepunt van die besoek was ‘n vergadering in Pretoria waartydens grepe uit verskillende films wat deel van die projek vorm aan die publiek vertoon en te koop aangebied is. Terselftertyd is ‘n geleentheid aan ander verskaffers van historiese materiaal gebied om dit aan die aanwesiges te toon. Verskeie uitgewers, filmvervaardigers en skrywers het die geleentheid benut en etlike honderde waardevolle boeke, DVD’s en CD’s was te sien en te koop, sommige waarvan baie skaars is.
Tydens die geleentheid het mnr Meinhard Peters van die Instituut van Kultuur en Geskiedenis ‘n voordrag oor die rol wat deeglike kennis van ons geskiedenis en die doeltreffende aanwending daarvan kan speel in ons volk se huidige voortbestaans- krisis en die skepping van ‘n toekoms vir ons kinders. Hieronder volg ‘n kort opsomming van sy voordrag.
WANVOORSTELLING VAN ONS GESKIEDENIS
Een van die belangrikste uitdagings waarmee die Afrikanervolk vandag te doen het is die doelbewuste wanvoorstelling van ons geskiedenis en die noodsaaklikheid daarvan om inligting oor ons verlede meer doeltreffend binne volksgeledere te versprei. Ons het ‘n heldegeskiedenis waarop ons trots kan wees en dit is nodig om trots te kweek op dit wat ons volk in die verlede bereik het.
Daar is al gesê dat die huidige geslag se probleem is dat hulle nie die notule van die vorige geslag gelees het nie. Verder het ‘n bekende Britse skrywer, kolonel Liddell Hart, verklaar dat Westerse leiers geensins kan bekostig om ‘n korter historiese geheue te hê as minstens drie duisend jaar nie!
Geskiedenis bied perspektief aan mense om hul lewensuitdagings te verstaan en sinvol daarop te reageer. Dit is dan ook die rede waarom die Afrikaners se geskiedenisbeeld so knaend deur ons vyande aangeval word, en waarom ons geskiedenis as iets boos en verwerplik voorgestel word. Daarmee wil ons vyande ‘n permanente skuldgevoel by ons volk ingrif. Dié proses van vervreemding van ons verlede sal met krag en mening teengestaan moet word.
Die veldtog van ons vyande is so suksesvol dat ‘n bekende historikus teen die jaar 2000 verklaar het dat die Afrikaners se verbondenheid aan hul godsdiens en geskiedenis iets van die verlede is; daar sal, volgens hom, geen nut daarvoor in die 21ste eeu wees nie. Met ander woorde, die Afrikanervolk moet sy toekoms probeer uitwerk sonder verwysing na sy geloof, sonder verwysing na sy geskiedenis en sonder die ideaal om homself te regeer.
Wanneer die volk eenmaal afgesny is van sy geskiedenis kan sy vyande met hom maak wat hulle wil. Kommunistiese en rewolusionêre leiers het al verklaar dat dit slegs nodig is om een geslag van sy geskiedenis te vervreem om sodoende die weerstandsvermoë van ‘n volk te vernietig. Die verwoesting van ‘n ryk geskiedenisbeeld laat egter nie ‘n neutrale ruimte nie; dit word spoedig gevul met ‘n valse geskiedenisbeeld, soos die nuwe heersers van Suid-Afrika dit verkies.
TERUGKEER NA GESKIEDENISBRONNE
Om hierdie rede is dit uiters noodsaaklik vir die Afrikanervolk om weer na sy geskiedenisbronne terug te keer. President Kruger se oproep in 1904 is in hierdie verband steeds belangrik: ons moet die verlede ondersoek, daaruit neem wat goed en reg en edel was, en daarop moet ons ons toekoms bou. Só kan die Afrikanervolk weer saamstaan om inhoud aan sy vryheidstrewe te gee.
Uit kennis van ons geskiedenis en ons heldeverlede kom altyd nuwe inspirasie. Daaruit leer ons die grondbeginsels ken wat koers en vastigheid aan ons volk gegee het in onsekere tye.
NUWE BASIS GEVESTIG
Die bestuur van Suidland Media wil graag sy opregte dank uitspreek teenoor elke persoon wat ons met groot hartlikheid in Pretoria ontvang het en ook aan almal wat ‘n bydrae tot die sukses van ons geskiedenisaand gelewer het. Die bestuur het ook waardering vir dit wat reeds deur verskeie instansies in Pretoria vir die bewaring en uitbouing van ons historiese erfenis gedoen word.
Die besoek het ‘n nuwe basis gevestig vanwaar die erfenisprojek verder uitgebou en kennis van ons geskiedenis in die algemeen bevorder kan word. Die vordering wat ons tot dusver gemaak het is te danke aan die seën van ons Hemelse Vader maar ook aan alle volksgenote wat die projek deur aankope van DVD’s en CD’s en op ander wyses ondersteun het.
Meer inligting oor Suidland Media en die reeks van 72 historiese DVD’s en CD’s wat versprei word, kan verkry word op ons webtuiste by www.suidland.com . Persone wat meer wil weet oor die werksaamhede van die Instituut van Kultuur en Geskiedenis kan vir Meinhard Peters kontak by 012 – 921 9706 of Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
FRIKKIE STRAUSS
SUIDLAND MEDIA
28 SEPTEMBER 2012