Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Moed is om te doen wat gedoen moet word met die diep, innerlike oortuiging dat, as jy jou plig doen, jy vir die res op God kan vertrou
DIE LEEU VAN WES-TRANSVAAL (1)
Leopold Scholtz
KRYGSMANNE VAN FAAM
Lees reeks by Krygsmanne van faam
“Koos de la Rey, een van die Tweede Vryheidsoorlog se grootste leiers, bly tot aan die einde van die stryd onoorwonne, maar word twaalf jaar later doodgeskiet toe die verraderlike Jan Smuts se polisie kwansuis sy motor vir dié van 'n berugte rampokker aansien”.
KOOS DE LA REY het hom tot pres. Paul Kruger gewend: "Ek sal my plig doen soos die Volksraad verlang, en u sal my nog in die veld aantref lank nadat u en die spul wat met hulle monde oorlog voer, die land uitgevlughet." Hierdie snydende en tragiese ware woorde aan Kruger het De la Rey volgens getuienis gerig op 'n geheime sitting van die Volksraad in die spanningsvolle weke kort voor die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog. Wie was hierdie man wat die alom geëerde en patriargale Staatspresident van die Zuid-Arikaansche Republiek op so 'n vreeslose wyse durf aanspreek het?
Oktober, 'n maand waarin beroemde Boerefigure soos Paul Kruger, M. T. Steyn en Christiaan de Wet gebore is, het ook op die 22ste van dié maand in die jaar 1847 die geboorte opgelewer van Jacobus Herculas de la Rey, op die plaas Doornfontein in die distrik Winburg. Koos was die sesde kind van Adrianus Johannes Gysbertus de la Rey en sy vrou Adriana Wilhelmina, gebore Van Rooyen.
Toe hy maar 'n jaar oud was, verhuis sy ouers na die plaas Welverdiend in die latere distrik Wolmaransstad. As kind van veld groei De la Rey op met weinig formele onderwys, maar die veldskool, sy ouers se hand en sy hoë intelligensie sorg vir ‘n goeie vorming.
1n 1876 trou De la Rey met Jacoba Elizabeth (Nonnie) Greeff, wie se vader, Hendrik Abraham Greeff, die stigter van die dorp Lichtenburg in Wes-Transvaal was.
Reeds vroeg in sy lewe reageer Koos de la Rey met sukses op die militêre eise van sy tyd. Hy neem in 1865 op agtienjarige leeftyd deel aan die Tweede Basoetoe-Boereoorlog, volgens oorlewering reeds as veldkornet. Sy optrede word deur moed ,vernuftige krygsbeleid gekenmerk, eienskappe wat uiteindelik in die Tweede Vryheidsoorlog hul wasdom sou bereik. Dit was in sy aard om Louw Wepener se bestorming van Thaba Bosigo oor en oor in sy gedagtes na te gaan, vas te stel waar gefouteer is en te besluit wat hy persoonlik sou doen. Vir hom was dit 'n genotvolle denkoefening, want oorlogvoering het hom nie juis aangestaan nie, en moes slegs as 'n laaste uitweg geneem word. Wanneer daar egter tot militêre aksie oorgegaan word, het hy gevoel, moes alle krygslis en -vernuf ingespan word.
In 1876 gaan hy die burgers van Makwassie voor as veldkornet in die oorlog teen Sekoenie.
Met die Eerste Vryheidsoorlog van 1880-1881 neem De la Rey onder genl. P.A. Cronjé deel aan die beleg van die Britse fort op Potchefstroom. Nieteenstaande siekte en uithongering hou die Britte op merkwaardige wyse uit tot ná die beslissende slag van Majuba. Die nutteloosheid van so 'n beleg het De la Rey nie ontsnap nie.
Weens sy bekwaamheid as krygsman is De la Rey in 1885 as kommandant vir Lichtenburg verkies. Hierdie betrekking het hy tot 1893 beklee, toe hy lid van die Eerste Volksraad geword het.
Hoewel hy in die Volksraad nie veel gepraat het nie, het hy nie geaarsel om sy mening kort en kragtig, helder en onomwonde te stel nie. Met die reeds genoemde geheime sitting het hy eers aandagtig na al die argumente geluister. Toe hy uiteindelik op die been kom, het hy hom uitgespreek teen 'n oorlogsverklaring teen Brittanje. Hy was nie ten gunste van 'n stryd teen Brittanje nie en het 'n aggressiewe oorlog veroordeel as onwys en onnodig. Dit was in elk geval sy oortuiging dat die Republieke nog aan die opgroei was en dat hulle nog tien of vyftien jaar moes wag alvorens hulle daaraan kon dink om die wapen op te neem.
Nòg pres. Kruger nòg die progressiewe opposisie-groep van kmdt.-genl. Piet Joubert kon egter die Britse imperialisme stuit. Op 27 September 1899 het Joubert as hoof van die Boeremagte vir De la Rey meegedeel dat hy vanweë die sametrekking van Britse troepe aan die ZAR se grense genoodsaak was om die burgers vir die kommandodiens op te roep. Hy het voorts verklaar dat hy Piet Cronjé as generaal vir die westelike dele aangestel het met De la Rey as Cronjé se adviseur.
Met swaarmoedigheid stel De la Rey, die man van vrede, hom op 1 Oktober in Pretoria tot Cronjé se beskikking. Byna onmiddellik verskil hulle oor strategie. De la Rey stel voor dat die westergrensburgers liewer in die rigting van Veertienstrome, en nie soos Cronjé beoog na Mafeking nie, moet opruk. Waarskynlik het De la Rey daarmee beoog om die Vrystaters wat rondom Kimberley sou lê, die hand te reik. Dit is duidelik dat hy uit die staanspoor oor die strategie vir die oorlogspoging besin het.
Dit is spanningsvolle dae op Polfontein, suidoos van Mafeking, waar Cronjé met sy hooflaer op regeringsinstruksies wag. Sy eerste oogmerk is om die Britse troepe aan die westergrens te isoleer en uit te wis. Die aand van 11 Oktober 1899 ontvang hy van die Regering berig dat die Republieke in 'n staat van oorlog met Brittanje verkeer. Onmiddellik gelas hy De la Rey om met 800 burgers suidwaarts na Kraaipan op te ruk om 'n Britse troepemag van 1 000 man te beveg en die spoorlyn op te breek. De la Rey vertel in sy herinneringe dat dit die pynlikste taak was wat hy ooit moes uitvoer. Hy, wat tot op die laaste oomblik teen oorlog gekant was, is aangesê om die vyandelikhede te begin.
Die aand van 12 Oktober 1899 gebeur dit. Die gepantserde trein wat kol. R. S. S. Baden-Powell onder lt. Nesbitt van Mafeking na Kimberley gestuur het, keer die betrokke aand terug, voorgegaan deur 'n gidslokomotief. Kort voor 22h00 ontspoor die gidslokomotief net suid van Kraaipan op die plek waar De la Rey die spoor laat opbreek het. Tenwyl Nesbitt die spoor laat herstel, neem die Boere onder bevel van vk. J. C. Coetzee weerskante van die spoor stelling in. De la Rey is self 'n entjie daarvandaan. Omstreeks 22h45 vuur Coetzee die eerste skoot van die Tweede Vryheidsoorlog en gee so die teken aan die burgers om die geveg te begin.
Dwarsdeur die nag pen die Boere die Britte met akkurate Mauservuur vas, maar De la Rey se aankoms teen dagbreek met kapt. Van der Merwe en vier kanonne vorm die keerpunt. Reeds met sy derde bom tref Van der Merwe die stoomketel, waarna die wit vlag gehys word. Benewens 26 krygsgevangenes val drie kanonne, sowat dertig gewere en heelwat ammunisie in De la Rey se hande. Mafeking was nou aan die suidekant afgesny.
Die aand van 15 Oktober het Cronje en De la Rey 'n ernstige meningsverskil gehad oor die verdere strategie aan die westergrens. Dit was die ou militêre opvatting teen die nuwe, dinamiese denke. Cronjé het kennelik niks positiefs geleer uit sy vrugtelose beleg van Potchefstroom gedurende die Eerste Vryheidsoorlog nie. Hy was nou vasberade om deur middel van 'n uitgerekte beleg vir Baden-Powell in Mafeking met sy 700 man tot oorgawe te dwing. De la Rey het egter aan hom voorgestel dat alle kommando's weggehou word van Mafeking en dat 'n ligte perdekommando die dorp met 'n stormaanval moet verower. Cronje was nie daartoe bereid nie. Hy het gevoel dat hy te veel man op die wyse sou verloor, aangesien Mafeking goed van forte voorsien was.
De la Rey weer wou nie tyd verspil nie. Die oorlog was nou aan die gang en hy het gevoel dat hulle moet voortgaan in die rigting van Kimberley om die vyand se toevoer of te sny. Hy het Cronjé prontuit afgeraai om soos met die beleg van Potchefstroom twintig jaar tevore op te tree. Toé het Cronje die hele oorlog daar deurgebring en wel groot roem verwerf deurdat hy die Britte met sy burgers vasgekeer het, maar hy wat De la Rey is wil net vir Cronje sê dat die saak omgekeerd was: die Britte het met slegs met 200 tot 300 troepe vir Cronje met sy 600 of 700 burgers uit die gevegsterrein gehou. Dieselfde sou nou by Mafeking gebeur, het De la Rey gevoel.
De la Rey was onteensegli korrek in sy oordeel. Hoewel die getalle van die burgermagte rondom Mafeking spoedig afgeneem het tot 2 000 man, het Baden-Powell nogtans op suksesvolle wyse vir meer as sewe maande uitgehou en burgers vasgepen wat nuttig op die ander ylbewaakte fronte aangewend kon word.
Eers toe dit reeds te laat was, het Cronjé vir De la Rey toestemming gegee om na Kimberley te gaan.
Op 19 Oktober 1899 benoem hy hom tot veggeneraal vir hierdie doel. Onderweg na Kimberley word sy tyd in beslag geneem deur administratiewe reëlings in Vryburg, Taung en Veertienstrome, sodat hy eers in November saam met hoofkmdt. C. J. Wessels, hoof van die Vrystaatse magte aan die wesfront, met die beleg van Kimberley begin het.
Die halfhartige en onvolledige beleëringswyse van die Boere het spoedig De la Rey se argwaan gewek. Hy het besef dat lord Methuen vanuit die suide op pad was om Kimberley te probeer ontset, en het die dringendheid ingesien om hom te gaan stuit. Met die Regering se toestemming arriveer hy op 23 November met 600 burgers by Graspan, enkele ure nadat veggenl. Jacobus Prinsloo in Belmont teen Methuen verplig was om stellings prys te gee.
Met die slag van Graspan (ook bekend as Enslin of Rooilaagte) op 25 November het Methuen en De la Rey vir die eerste keer met mekaar te doen gekry.
Vervolg...